• No results found

Semi-gestruktureerde onderhoude oor die toepassing van besigheids vaardighede

BESPREKING EN INTERPRETASIE VAN RESULTATE

5.5.6 Semi-gestruktureerde onderhoude oor die toepassing van besigheids vaardighede

duidelik geblyk uit die voortdurende leiding van die navorser wat nodig was om die produkte te voltooi. Die gebrek aan die deeglike inoefening van nuwe tegnieke kan waargeneem word in die kwaliteit van die voltooide produk wat amateuragtig voorkom. Dit blyk van groot belang te wees dat genoegsame tyd vir die vervaardiging van produkte gegee word ten einde te verseker dat vaardighede bemeester is en die produkte van kwaliteit en noukeurigheid getuig.

5.5.5.1 Tweede kontrole van naaldwerkvaardighede

Tydens die tweede kontrole vir die toepassing van naaldwerkvaardighede is dit waargeneem dat daar groter samewerking binne die groep plaasgevind. Dit blyk dat die groeplede wel oor die nodige basiese vaardighede beskik, maar dat hierdie vaardighede nie voldoende toegepas word nie. Die noukeurigheid waarmee produkte gemaak moet word, word nie nagekom nie. Sodoende word die algemene netheid en kwaliteit van die artikels ingeboet en is dit nie aanvaarbaar vir verkope aan die mark nie. Volgens Trollip (1997: 7) is dit een van die faktore wat die suksesvolle werking van inkomstegenereringsgroepe verhoed. Die groeplede beskik volgens Trollip (1997: 7) óf nie oor die vaardighede om die toerusting te hanteer nie, óf hul konstruksievaardighede is nie op standaard nie. Daar is ook ’n tekort aan die nodige produkontwikkeling en kwaliteitskontrole.

5.5.6 Semi-gestruktureerde onderhoude oor die toepassing van besigheids- vaardighede

Die semi-gestruktureerde onderhoude waardeur die toepassing van besigheidsvaardighede getoets is, wys dat die groep nie dié vaardighede toepas nie. In hierdie opname het nege uit veertien respondente aangedui dat produkte gemaak en dan verkoop word, maar dit is teenstrydig met die bevindinge uit die belangstellingsopname (5.3) waar die sewe respondente genoem het dat hulle produkte op bestelling maak en die vereistes van die kliënt in ag neem. Alhoewel die respondente op ’n klein skaal gebruik maak van die afsetgebiede, word die meeste

van die produkte uit die hand verkoop. Hulle steun dus meer op verkope binne hul eie gemeenskap en maak min gebruik van afsetgebiede wat op toeriste gemik is. Die studiegroep het genoegsame toegang tot die plekke waar materiale vir die maak van artikels aangekoop word. Die studiegroep het beperkte toegang tot patrone en die meeste van die tyd net die beskikbare patrone en materiale van die Darling Fokus Gemeenskapsentrum. Dit lei tot produkte wat nie vir die mark aanvaarbaar is nie as gevolg van die kwaliteit en aanvaarbaarheid van die materiaal in terme van mode en styl. Die meerderheid van die lede van die studiegroep is bewus van verskeie maniere waarop produkte verander of verbeter kan word om dit meer aanvaarbaar vir die kliënte te maak.

Die studiegroep het in meeste gevalle ʼn begrip van die faktore wat bydra tot die berekening van die koste van produkte en die samestelling van ʼn prys vir die verkoop daarvan. Die studiegroep maak egter nie van ʼn formele kosteberekeningsmetode gebruik nie omdat materiale vir die vervaardiging van produkte deur Darling Fokus geskenk word en die fasiliteite en toerusting vir vervaardiging teen twee Rand per maand aan die studiegroep beskikbaar gestel word. Die prys word willekeurig vasgestel volgens die vervaardiger se behoefte met die ooreenkoms dat die vervaardiger 20% van die verkoopprys aan Darling Fokus betaal.

Die invloed wat die verpakking en versiering van produkte op verkope het is aan die studiegroep bekend maar dit word nie in alle gevalle deur die studiegroep toegepas nie. Dit blyk dat die bruikbaarheid van produkte volgens die studiegroep belangrik is wanneer dit die aandag van potensiële kliënte moet trek en dat netheid en die styl van die produk ook belangrik is. Die laasgenoemde word egter nie met sorg in die vervaardiging van produkte toegepas nie. Die lede van die studiegroep is bewus daarvan dat die aandag van kliënte op die aktiwiteite van Darling Fokus gevestig moet word asook die metode waardeur dit gedoen word. Dit word in meeste gevalle deur die studiegroep toegepas deur die oordra van inligting deur etikette.

Daar is nie ’n tekort aan finansiële hulpbronne vir die groep nie. Daar word gebruik gemaak van skenkings deur die Darling Fokus Gemeenskapsentrum. Skuld word ook op ’n aanvaarbare manier deur die groeplede hanteer.

5.6 Die sukseskriteria vir samewerking in groepverband

Die funksionering van die groep gemeet teen die sukseskriteria (subdoelwit 1.3.5) word vervolgens bespreek.

Dit kan nie nagespeur word dat die studiegroep vasgestelde doelwitte gedokumenteer het waarvolgens aktiwiteite beplan word nie. Die navorser kon ook nie deur waarneming of opname vasstel watter doelwitte die studiegroep vir hul projekte gestel het nie. Napier en Gerschenfeld (1993: 83) stel ’n voorwaarde vir die formulering van groepdoelwitte as dat die groep as ’n samewerkende eenheid gesien word. In teenstelling met hierdie mening is dit deur waarneming bevestig dat die studiegroep nie as ’n samewerkende eenheid funksioneer nie en dit kan die rede wees vir die tekort aan identifiseerbare doelwitte. Dit het uit die ongestruktureerde onderhoud met die maatskaplike werker duidelik geword dat daar ’n gebrek is aan kontinuïteit in die projekte wat die studiegroep aanpak. Dit stem ooreen met Vernelle (1994: 17) wat aanvoer dat die afwesigheid van ’n spesifieke doel binne ’n groep veroorsaak dat meer as een doelwit op dieselfde tyd nagejaag word. Aangesien die doelwitte nie duidelik identifiseerbaar is nie, is dit moontlik dat die doelwitte informeel en onbewustelik binne die groep ontwikkel deur interaksie tussen groeplede en die omliggende omgewing. Hierdie neiging is deur Vernelle (1994: 11, 12) en Napier en Gerschenfeld (1993: 186) bespreek.

Die studiegroep blyk onbewus te wees van enige probleme binne die groep. Deur waarneming het dit duidelik geword dat die groeplede redelik goed oor die weg kom. Volgens Vernelle (1994: 23, 24) ontstaan probleme binne groepe dikwels as individue se behoeftes deur die ander groeplede geïgnoreer word. Sy maak dit ook duidelik dat groepe wat goed funksioneer se groeplede onderling gerespekteer word en dat daar ’n vertrouensverhouding bestaan. In die onderhawige studie probeer die groep meestal dat al die groeplede dieselfde vaardigheidsvlak bereik. Douglas (1991: 30) noem dat die uitsondering van groeplede vir taakverdelings na aanleiding van vaardighede, probleme veroorsaak. Dit gebeur veral wanneer mense se bevoegdhede ontdek moet word om tot voordeel van die groep te gebruik. Dit wil voorkom asof die onderhawige studiegroep hierdie tipe uitsondering vermy. Die probleem van die behoefte aan vaardigheidsopleiding is deur middel van selfdiagnose identifiseer. Die groep het egter ook leiding van die navorser ontvang in die toepassing van selfdiagnose van behoeftes vir vaardigheidsopleiding.

Die studiegroep ervaar geen probleme binne die groep nie en hieruit kan afgelei word dat strategieë om probleme te identifiseer, te analiseer en op te los onnodig is. Beebe en Masterson (2000: 106) beklemtoon egter dat ’n probleemoriëntasie in groepverband bydra tot ’n ondersteunende klimaat, groter groepskohesie, hoër produktiwiteit en die gewilligheid tot deelnemende beplanning. Hieruit blyk dit dat dit tot voordeel van die bestaande groep se funksionering sal wees om die bogenoemde strategieë wel in plek te stel, veral as hulle ’n inkomste sou wou genereer.

Die terugvoer wat die studiegroep van rolspelers soos die koördineerders van afsetgebiede en die bestuur van die Darling Fokus Gemeenskapsentrum asook van mekaar ontvang, blyk ’n leemte te wees. Alhoewel die groeplede oop en spontaan met mekaar kommunikeer soos Vernelle (1994: 16) voorstel, is daar nie goeie wederkerige terugvoer waargeneem nie. Volgens Johnson en Johnson (1997: 25, 26) word bevorderende interaksie gekenmerk deur terugvoer ten opsigte van die bereik van doelwitte en maniere om prestasie te verbeter. Die studiegroep poog om almal op dieselfde vaardigheidsvlak te kry en terugvoer wat uitsonderings maak ten opsigte van prestasie is nie aanvaarbaar binne die groep nie. Hierdie uitgangspunt belemmer volgens Johnson en Johnson (1997: 25, 26) groepprosessering.

Die respondente se bydrae van hulpbronne tot die groep vind slegs gedeeltelik plaas om dat dit voorkom asof die groeplede slegs vir persoonlike voordeel werk. Volgens Johnson en Johnson (1997: 25) word interaksie in die groep bevorder deur effektiewe hulp en bystand en die uitruil van hulpbronne. Die onderhawige studiegroep bied wel individuele hulp aan sodat almal dieselfde vaardigheidsvlak bereik, maar in terme van samewerking in groepverband is daar geen uitruiling van hulpbronne nie.

Die studiegroep maak wel gebruik van beskikbare hulpbronne deur Darling Fokus daargestel. Die verskeidenheid is egter beperk en dit wil voorkom asof die studiegroep nie ondersoek instel na alternatiewe hulpbronne nie. Die gebrekkige beskikbare hulpbronne van die studiegroep blyk volgens die groep genoegsaam te wees om die behoeftes aan te spreek. Douglas (1991: 29, 30, 32) noem dat hulpbronne meestal eers ontdek word as die behoefte daarvoor ontstaan.

Die studiegroep blyk goed aanpasbaar te wees by verandering soos die aanleer van nuwe vaardighede. Waar dit egter verandering in die groep aangaan, naamlik die inname van nuwe groeplede blyk dit asof die studiegroep nie goed aanpas nie. Die

feit dat die studiegroep minstens die laaste drie jaar geen nuwe groeplede ingeneem het nie is ’n aanduiding dat die groep van hierdie verandering wegskram. Douglas (1978: 38) noem dat die groep as eenheid gedurig verander as gevolg van die interaksie tussen groeplede wat verander soos wat die groeplede verander.

In hierdie hoofstuk is die resultate wat in hoofstuk vier weergegee is, geïnterpreteer. Die volgende hoofstuk dien as samevatting van die studie waarin gevolgtrekkings op grond van die interpretasies gemaak word.

HOOFSTUK 6