• No results found

Die omgewingsverkenning en situasie-analise het ’n dokumentanalise asook opnames ingesluit. Die opnames is met behulp van vraelyste en ongestruktureerde onderhoude vir die inwin van inligting, gedoen.

3.2.1 Dokumentanalise

’n Dokumentanalise is gebruik as tegniek vir data-insameling gedurende die situasie- analise om inligting oor die ontstaan, doelwit en aktiwiteite van Darling Fokus Gemeenskapsentrum in te win. Hierdie inligting is gebruik om ’n oorsig te gee van die konteks waarbinne die naaldwerkgroepe funksioneer. Die dokumente wat geanaliseer is, is die Darling Fokus Inligtingstuk (2002) oor die aktiwiteite wat by die

gemeenskapsentrum aangebied word en Die Grondwet van Darling Fokus (1998). Weens die breedvoerige bespreking van geografiese en demografiese inligting van Darling en die Swartland in vorige navorsing deur Bester (2002: 69-71) en Le Roux (2003: 88), wat deel uitmaak van die oorkoepelende navorsingsprogram, is dit nie nodig geag om dit in hierdie studie weer te gee nie.

Volgens Swanepoel (1997: 73) het die kontakmaakfase van ’n gemeenskapsontwikkelingsprojek drie hoofdoelwitte. Die mense van die gemeenskap moet die gemeenskapswerker leer ken en aanvaar, die gemeenskaps- werker moet die mense en hul omstandighede leer ken en die mense van die gemeenskap en die gemeenskapswerker moet sekere behoeftes identifiseer en beskryf wat deur die gemeenskapsontwikkeling aangespreek kan word. As deel van die omgewingsverkenning en situasie-analise is ongestruktureerde onderhoude en groepbesprekings gevoer en opnames gemaak tydens die eerste twee skakelings met die naaldwerkgroepe. Twee belangrike rolspelers is vir die onderhoude genader, naamlik die gemeenskap se maatskaplike werker (wat ’n kantoor op die perseel van die Darling Fokus Gemeenskapsentrum het en in die bestuur van die sentrum dien) asook die koördineerder van ’n bestaande afsetgebied in Darling (sy is al etlike jare met die naaldwerkgroepe se werkswyse bekend en ken die meeste van die lede persoonlik). Die rolspelers is betrek ter wille van die triangulasie van data. Die groepbesprekings is met die naaldwerkgroepe gevoer. Hiervoor is die vrae wat hulle as individue in die opname ingevul het as riglyn gebruik sodat enige onduidelikhede opgeklaar kon word.

3.2.2 Opname

’n Opname is tydens die eerste ontmoeting met beide die naaldwerkgroepe op 26 April 2002 met behulp van ’n self-geadministreerde vraelys (sien Addendum 1.1) gedoen. Die tydperk wat die groeplede by die aktiwiteite van die naaldwerkgroepe betrokke is, is bepaal (vraag 1). Die doel is om vas te stel hoe gevestig die groep reeds is. Daarna word vasgestel watter artikels al deur die lede van die naaldwerkgroepe gemaak is (vraag 2) om sodoende ’n idee te kry van die vaardighede waaroor die groeplede reeds beskik. Die belangstelling van die lede van die naaldwerkgroepe word vasgestel (vraag 3 en 4) en hierdeur kan die navorser leemtes of behoeftes identifiseer wat aangespreek moet word. Die lede van die

naaldwerkgroep se belangstelling in die bywoon van ’n vaardigheidswerkswinkel, in die geval spesifiek ’n kwiltwerkswinkel, word bepaal (vraag 5 en 6).

Gemeenskapswerk kan nie plaasvind sonder die bepaling van ’n behoefte nie. Die identifiseer van behoefte is ’n voorvereiste vir aksie (Swanepoel, 1997: 13). Die behoeftes rakende naaldwerkvaardighede is in dié kort vraelys op twee maniere identifiseer: eerstens deur uit te vind wat die groeplid graag wil leer maak en tweedens deur vas te stel met watter aspekte van naaldwerk die groeplid probleme ervaar. Die doel van die opname kan vergelyk word met die doelwitte van ’n gemeenskapswerker wat vir die eerste keer met die gemeenskap waarbinne ’n gemeenskapsontwikkelingsprojek sal plaasvind, skakel.

Op dieselfde dag as wat die vraelys ingevul is, is inligting ingewin deur ongestruktureerde onderhoude met die maatskaplike werker en ’n ander rolspeler, die koördineerder van ’n plaaslike afsetgebied, wat vertroud is met die sentrum en die groepe se normale aktiwiteite. Dit verskaf die bykomende inligting rakende die behoeftes en probleme wat ten opsigte van die funksionering van die naaldwerkgroepe waargeneem word. ’n Informele gesprek is gevoer met die lede van die naaldwerkgroep oor hulle behoeftes om meer ingewikkelde vaardighede aan te leer en oor die maak van spesifieke items.

Die tweede ontmoeting met die lede van die naaldwerkgroepe het plaasgevind op 10 en 11 Junie 2002 tydens ’n kwiltwerkswinkel wat by die Departement Verbruikerswetenskap, Universiteit van Stellenbosch aangebied is. ’n Kenner op die gebied van kwilts het die kwiltwerkswinkel aangebied. Die kwiltwerkswinkel is spesifiek beplan en deurgevoer om groeplede bloot te stel daaraan om in groepverband ’n goeie kwaliteit handwerkproduk te beplan, te vervaardig en te koop aan te bied. Die onderliggende beginsels om ’n produksielyn te vorm en kosteberekening te doen, is aangespreek. Kreatiwiteit en oorspronklikheid vir die ontwerp van die produk is aangemoedig.

Na afloop van die werkswinkel is weer ’n opname gedoen deur middel van ’n kort gestruktureerde, self-geadministreerde vraelys (sien Addendum 1.2) wat terugvoer van die lede van die naaldwerkgroepe vra ten opsigte van die werkswinkel asook hul ervaring van die samewerking in groepverband. Hierdeur kan die navorser bepaal of die respondente ’n positiewe of negatiewe gesindheid teenoor die opset en funksionering van groepwerk openbaar en op grond hiervan besluit om ’n

intervensieprogram saam te stel. Terugvoer oor die waarde van die kwiltwerkswinkel vir die groeplede word gevra (vraag 1 en 2) en die groeplede se ervaring van saamwerk in groepe word bepaal (vraag 3 tot 6).

Na aanleiding van die bestaande groep se behoefte aan vaardigheidsopleiding en positiewe ervaring ten opsigte van samewerking in groepverband is besluit om die naaldwerkgroepe van die Darling Fokus Gemeenskapsentrum as studiegroep te gebruik.