• No results found

Die oorkoepelende doelwit van die studie is om nadat belangstelling geïdentifiseer is, ’n opleidingsprogram te ontwikkel wat persone in ’n plattelandse omgewing toerus

om in groepverband ’n inkomstegenereringsprojek te vestig. Vanuit hierdie oorkoepelende doelwit volg ’n subdoelwit (subdoelwit 1.3.2), naamlik om aan die naaldwerkgroepe van die Darling Fokus Gemeenskapsentrum die nodige vaardighede te leer om die vervaardiging, bemarking en verkoop van goedere te bestuur. Ten einde ’n program saam te stel waardeur die ander subdoelwitte aangespreek word, is literatuur bestudeer. Volgens Boyle (1981: 42) is die kern van die ontwikkeling van ’n program om ’n reeks aksies te beplan en te implementeer om ’n effektiewe opleidingsprogram daar te stel.

Uit vorige navorsing (Bester, 2002; Le Roux, 2003) asook uit die agt kontaksessies tydens omgewingsverkenning is dit duidelik dat die studiegroep nie oor die kundigheid beskik om as ’n groep ’n inkomstegenereringsprojek te vestig nie. ’n Leemte wat geïdentifiseer is ten opsigte van die studiegroep is dat daar nie duidelike doelwitte vir projekte geformuleer word nie.

Malick (1985) het ’n handleiding opgestel met inligting oor die beplanning en implementering van projekte wat ten doel het om die inkomste van vroue in ’n landelike area te verbeter. Die handleiding is in die studie as vertrekpunt gebruik vir die keuse van aktiwiteite wat uitgevoer is om die subdoelwitte (1.3.2-1.3.4) aan te spreek. Malick (1985: 13) bespreek verskeie aspekte wat ’n belangrike rol in die sukses van ’n inkomstegenereringsprojek speel. Dit behels die tipe produk, rou materiale, afsetgebied en vasstel van pryse vir produkte. Hierdie uitgangspunt is as riglyn in die beplanning van die program gebruik. Eerstens moet vasgestel word wat die deelnemers se vaardigheidsvlak is en of daar produkte is wat hulle op daardie vlak sal kan maak. Dit word deur middel van waarneming bepaal. Tweedens moet vasgestel word of die vaardigheidsvlak van so ’n aard is dat goeie kwaliteit produkte daargestel kan word. Ten einde hierdie vaardigheidsvlak te bereik en die behoefte aan opleiding vas te stel, is van selfdiagnose van behoeftes gebruik gemaak (sien Addendum 4).

Die toepassing van selfdiagnose is belangrik aangesien volwassenes se selfkonsep en selfgerigtheid in direkte kontras is met die tradisionele onderwyser-leerder opset (Knowles 1980: 47, 48). Daarom word daar klem geplaas op die betrokkenheid van die volwassene in selfdiagnose van opleidingsbehoeftes. Die proses van selfdiagnose bestaan uit drie fases, naamlik i) die saamstel van ’n model van bevoegdhede of eienskappe om ’n gegewe ideale model te bereik, ii) die verskaffing van identifiseerbare ervarings waardeur die groeplede hul huidige vlak van

bevoegdhede in die lig van dit wat deur die model uitgewys word, kan bepaal en iii) hulp aan groeplede om die verskil te meet tussen huidige bevoegdhede en dit wat deur die model voorgestel word. Deur selfdiagnose sal bepaal kan word of die geskikte vaardigheidsvlak vir die maak van kwaliteit produkte bestaan. Die program sal dus aktiwiteite insluit waardeur die studiegroep blootgestel word aan goeie kwaliteit produkte, verskillende afsetgebiede en ook aan vereistes wat deur die kliënte gestel word.

Voorts moet daar bepaal word of die vaardigheid bestaan om produkte by die eise van die mark aan te pas. Die vaardighede vir die verandering van produkte word deur opleiding aangeleer. Malick (1985: 15) stel spesifieke vrae oor die vaardigheidsvlak van die vervaardigers. Dié outeur dui aan dat as die vaardigheidsvlak nie voldoende is vir die vervaardiging van ’n kwaliteit produk wat die behoeftes van die bepaalde mark aanspreek nie, daar vasgestel moet word hoeveel opleiding nodig is om die deelnemers op die geskikte vlak te kry en of daar persone beskikbaar is wat die opleiding kan behartig.

In hierdie studie is verskeie werksessies vir die lede van die studiegroep aangebied met die doel om by te dra tot die verhoging van hul vaardigheidsvlak en kennis. ’n Sisteembenadering soos voorgestel deur Murk en Galbraith (1986: 22) is gevolg met die deurvoering van die volgende aktiwiteite: besoeke aan afsetgebiede, ’n dinkskrum en die aanbieding van werkswinkels. Die prosedure wat by elkeen gevolg is, word vervolgens bespreek.

Die sisteembenaderingsmodel van Murk en Galbraith (1986: 22) is buigbaar, meer prakties en kreatief wanneer dit kom by die beplanning en deurvoering van opleidingsprogramme. Om die sisteembenadering te volg, moet ’n deeglike behoeftebepaling gedoen word. Dit word opgevolg deur die formulering van doelwitte en die ontwerp van ’n program. Daarna word die program geïmplementeer en geëvalueer. Dié benadering laat toe dat daar op enige stadium van die program gelyktydig meer as een van hierdie genoemde komponente aangespreek kan word. Na aanleiding van Malick (1985: 15) se riglyne word die opleidingsprogram soos volg saamgestel. Eerstens word werksessies aangebied waartydens die vaardigheids- vlakke van die lede van die studiegroep bepaal word. Na afloop van die werksessies word besoeke gebring aan afsetgebiede in en buite Darling met die doel om die studiegroep selfdiagnose van opleidingsbehoeftes te laat doen, hul bekend te stel

aan potensiële markte en vir blootstelling aan produkte en verpakking. Na afloop van die besoeke volg ’n dinkskrum waarin die studiegroep die geleentheid kry om idees te genereer vir artikels wat gemaak kan word ten einde ’n inkomste te genereer. Die idees wat tydens dié dinkskrum gegenereer en geprioritiseer word, word omskep in werksessies waartydens die produksie van ’n seleksie van die produkte beplan en deurgevoer word. ’n Besigheidsvaardigheidswerkswinkel word aangebied om teoretiese aspekte rakende die bedryf van ’n suksesvolle inkomstegenereringsprojek te behandel.

Subdoelwitte (1.3.2-1.3.4) word tydens die implementering van die intervensie- program aangespreek. Die behoeftes aan nuwe inligting en die bepaling van die suksesvolle toepassing van aangeleerde tegnieke word met spesiaal saamgestelde meetinstrumente vasgestel. Die samestelling van dié meetinstrumente en data- insameling tydens die verloop van die program word vervolgens uiteengesit.