• No results found

2.6 Ontwikkeling van kreatiwiteit

2.6.1 Kreatiwiteit in groepkonteks

Kreatiwiteit kan ontwikkel en verbeter word. Alle individue is tot ’n sekere mate kreatief, maar sommiges het ’n groter natuurlike aanleg vir kreatiwiteit as ander. Sommige mense het ook opgegroei en is onderrig in ’n omgewing wat hulle aangemoedig het om hul kreatiwiteit te ontwikkel. Vir ander is die proses moeiliker omdat hulle nie positief versterk is nie. As hulle dus kreatief wil wees, moet hulle leer hoe om die kreatiewe proses te implementeer (Kuratko & Hodgetts, 1989: 37-38). Dit kan geredeneer word dat daar in die groepkonteks dus positiewe versterking behoort te wees wat individue tot kreatiwiteit aanmoedig. Daar kan ook sekere fasette in die beplanning van ’n opleidingsprogram ingesluit word wat die kreatiwiteit van die groeplede ontwikkel, verbeter en stimuleer. Die aanbieding van verskillende programme en aktiwiteite binne ’n gemeenskapsentrum is ’n poging om die mense van daardie gemeenskap betrokke te kry en hulle te bemagtig tot sinvolle ontwikkeling en gebruik van hul vaardighede.

Hierdie aanname stem ooreen met August (1999: 24) wat van mening is dat deelname aan opleidingsaktiwiteite een manier is om mense te bemagtig. Die ontwikkeling van vaardighede en vermoëns stel mense in staat om te onderhandel met sisteme wat ontwikkelingsprogramme aanbied om die beste daaruit te kry en/of hulself toe te rus om hul eie keuses te maak in terme van hul ontwikkelings- behoeftes en die realiteit waarmee hulle te kampe het.

Volgens Arieti (1976: 345) is die voorwaardes van kreatiewe denke soos volg beskryf:

Eerstens is kreatiwiteit ontvanklikheid. Mens kry nie kreatiewe idees deur daarvoor te soek nie, maar as daar ook nie ontvanklikheid daarvoor is nie, sal dit ook nie gekry word nie. In kort kan uit bogenoemde afgelei word dat daar die wil moet bestaan om uitdagings te sien en dit te ontgin en grense te verbreed deur verder as die alledaagse te kyk.

Die tweede voorwaarde waarna Arieti (1976: 346) verwys is die bestudering van die onderwerpe waarin kreatiwiteit bereik wil word. Dit gee nie net die agtergrond vir denke nie, maar maak die moeilikheidsgraad van ’n probleem bekend.

’n Laaste voorwaarde is die vermoë om die regte vrae te vra en om vorige foute positief te gebruik.

Die afleiding kan dus gemaak word dat sekere kennis verwerf moet word aangaande die omvang van die probleem en al die moontlike oplossings wat vir die probleem bestaan. Elke aspek van wat dit behels om die probleem op te los, moet volledig verstaan word.

Dit is duidelik dat kreatiwiteit ’n belangrike konsep is in die ontwikkeling van nuwe idees en produkte. In hierdie studie word die generering van inkomste ondersoek. Die aanbied van opleidingsprogramme is een van die hoofmetodes wat gevolg sal word om mense die vaardighede te leer wat sal bydra tot die generering van inkomste. Die programme behoort ’n positiewe bydrae te lewer tot die stimulering van kreatiwiteit. Die generering van inkomste kan ’n bydra lewer tot die bemagtiging van individue wat hul selfvertroue en behoefte aan selfaktualisering sal verhoog. Dit kan lei tot beter uitlewing van kreatiwiteit. Kreatiwiteit behoort uiteindelik ook ’n bydrae te lewer in die volhoubaarheid van inkomstegenereringsprojekte deurdat nuwe idees voortdurend ontgin kan word om tred te hou met die toerismemark van die omgewing en ou idees voortdurend met nuwe idees vervang kan word.

2.7 Bemagtiging

Bemagtiging word gedefinieer as die manier waarop individue, groepe en/of gemeenskappe in staat gestel word om beheer te neem van hulle omstandighede en eie doelwitte te bereik. Daardeur word hulle in staat gestel om hulself en ander te help om die kwaliteit van hul lewens te verhoog (Adams, 1997: 5).

Oakley (1991: 9) het twee benaderings tot die konsep van bemagtiging geïdentifiseer. Die eerste definieer bemagtiging as die ontwikkeling van vaardighede en vermoëns wat mense in staat stel om beter bestuur en onderhandeling ten opsigte van ontwikkelingsisteme toe te pas. Die tweede definieer bemagtiging as die proses wat gemoeid is daarmee om mense toe te rus om besluite te neem en op te tree binne die konteks van hul eie ontwikkelingsbehoeftes.

Volgens Albertyn (2000: 33) word bemagtiging gedefinieer as ʼn proses waardeur ʼn persoon die gevoel van sy eie werksaamheid bevorder deur omstandighede te identifiseer wat onbemagtiging onderhou. Bemagtiging word beskryf as die manier waarop mense leer om magtiger te word, waar mense leer om meer selfbewustelik en met meer selfvertroue op te tree asook om meer selfgeldend, effektief en dinamies te wees om beter op te tree binne die sisteem eerder as om dit te verander. Die Woordeboek van Maatskaplike Werk (Thomas & Pierson, 1995: 134, 135) definieer bemagtiging as die manier waarop mense kollektiewe beheer oor hul lewens verkry om sodoende die belange van die groep te verwesenlik. Dit koppel bemagtiging aan selfhelp. Dit verwys dus na die deelname aan dienste en die selfhelpbeweging in die algemeen waarin groepe vir hulself, in samewerking of onafhanklik van regeringsdienste, aksie neem (Adams, 1997: 4).

Albertyn (2000: 33) beskryf bemagtiging as die mag wat verkry word van nuwe kennis en vaardighede, aksies wat uitgevoer is en innerlike sterkte wat vloei uit die ervaring van onderrig en opleiding. Hierdie mag behels ook die voortdurende proses van wederkerige respek, kritiese refleksie, sorg en groepdeelname wat sentraal behoort te wees tot die plaaslike gemeenskap. Deur hierdie proses kan mense wat tekort het aan die gelyke verdeling van hulpbronne groter toegang en beheer oor daardie hulpbronne bekom.

Daar kan aanvaar word dat bemagtiging een van die hoofuitkomste van enige onderrig- en opleidingsprogram is. Die deelname aan hierdie programme en die prestasie wat individue en groepe bereik deur eie inset, bou selfvertroue en selfbeeld. Dit moedig mense aan om oplossings vir hul probleme te soek en nie die slagoffers daarvan te wees nie.

Verandering vind plaas wanneer mense bemagtig word deur ’n verhoogde bewustheid om ander alternatiewe raak te sien. Die proses van bemagtiging kan nie

met sukses uitgevoer word as die bewustheidsvlak van mense nie verhoog word nie. Kritiese verhoging van bewustheid en gesprekvoering is die sleutelmetodes tot bemagtiging. Hierdie metodes help mense om vir hulself te dink en op te tree (Lee, 1994: 14, 15).

Die tekort aan bemagtiging onder individue is gebaseer op verskeie faktore wat ekonomiese onsekerheid, die afwesigheid van ondervinding, die afwesigheid van toegang tot inligting, die tekort aan opleiding in kritiese en abstrakte denke, fisieke en emosionele spanning en die aspekte van ’n persoon se emosionele of intellektuele wese wat verhoed dat die moontlikhede wat bestaan aktualiseer, insluit (Lee, 1994: 12).

Mag is onbeperk, gegrond op energie, sterkte en kommunikasie. Dit is kollektief en insluitend en nie individualisties en uitsluitend nie (Lee, 1994: 113). Volgens Swanepoel (1997: 6) gaan mag en deelname hand aan hand. Swanepoel (1997: 6) voer aan dat Arnstein reeds in 1969 gestel het dat deelname sonder mag ’n leë en frustrerende proses is vir dié wat nie-bemagtig is.

Volgens ’n aanhaling van Hayakawa (1962) en Lee (1991) waarna Lee (1994: 11) verwys, het die woord bemagtiging algemene taal geword in populêre en maatskaplike werkkringe. Bemagtiging word gebruik om alles te beskryf wat in maatskaplike werk en ander bydraende professies gedoen word, alhoewel alles wat gedoen word nie bemagtiging is nie. Presiese definisies kan die denke en praktyke rondom bemagtiging rig.

Die woord bemagtiging word beskryf as die gee of oordra van mag om iets te kan doen; om iemand die vermoë te gee, in staat te stel of toe te laat om iets te doen (Marckwardt, Cassidy & McMillan, 1976: 415; Allen, 1990: 384). Hierdie definisies impliseer dat mag aan ’n ander gegee kan word. Dit is egter selde die geval. Volgens Lee (1994: 13) word die weergawe dat bemagtiging die proses is van mag bekom, mag ontwikkel, mag oorwin of mag fasiliteer of toelaat, deur Parsons (1991) ondersteun. Bemagtiging is ’n proses wat slegs geïnisieer en onderhou kan word deur die mense wat na mag streef of vasberadenheid toon. Die bemagtigingsproses berus dus by die individu en nie by die helper nie. Albertyn (2000: 34) stel dit dat alle mense bemagtig is. Bemagtiging kan nie aan mense gegee word nie. Dit is nie om aan mense verantwoordelikheid te gee sonder die bykomende ondersteuning of

hulpbronne nie. Dit is nie net dat ʼn persoon sal goed voel oor homself nie en dit word nie beperk tot persoonlike verandering nie.

Die definisie van Mancoske en Hunzeker (1989: 14, 15) verwys daarna dat bemagtiging die gebruik is van intervensies om die mense met wie gewerk word, meer in beheer te plaas van interaksies en uitruilings en in staat te stel om dit wat die persoon se lewensruimte beïnvloed, vir eie voordeel te gebruik (Lee, 1994: 13). Selfhelp is die aktiwiteit waarop bemagtiging gebou word. Die definisie van selfhelp is die proses, groep of organisasie wat mense bymekaar bind, of ’n ervaring of probleem deel met die siening dat individuele en/of wederkerige voordeel bereik kan word. Dit kan dus as ’n soort bemagtiging gesien word (Adams, 2003: 19). Vanuit die definiëring van bemagtiging kan die konsep van selfhelp beter begryp en toegepas word (Singh & Titi, 1995: 6).

Die konsep van bemagtiging is sentraal tot die herkonseptualisering van ontwikkeling asook die ontwikkeling van strategieë vir die verligting van armoede, veral in landelike areas (Singh & Titi, 1995: 6). Binne die ontwikkelingspraktyk beteken bemagtiging ’n ineengeskakelde dubbele proses van organisasie en leer (Tandon, 1998: 85).

Die bemagtigingskonsep moet gedurig herdefinieer en herskep word deur die professionele persone wat daarby betrokke is, maar ook deur die optrede van mense wat meer beheer wil hê oor die dienste wat hulle kry. Die egtheid van bemagtiging moet gevestig wees in die omstandighede van die mense wat die dienste gebruik en nie die mense wat die dienste lewer nie (Adams, 2003: 3).

Bemagtiging is die proses waardeur volgehoue verbetering in die prestasie van ’n organisasie of groep bereik word deur die ontwikkeling en uitbreiding van die bekwaamheid van individue oor al die areas wat hul prestasie en die prestasie van die totale organisasie of groep kan beïnvloed. Die definisie van bemagtiging wat gegee word deur Kinlaw (1995: 69) fokus op die uiteindelike doel van bemagtiging en dit is om die prestasie van ’n individu te verbeter. Bemagtigingswerk het volgens Lee (1994: 9) ten doel om saam te span met mense, die sogenaamde kliënte, om hulle te help om toegang te kry tot die mag binne hulself, binne en onderling tot mekaar en in die sosiale, ekonomiese en politieke omgewing.

Volgens Adams (2003: 9) het bemagtigingswerk ten doel om, soos die eise van die mense wat bedien word, verandering te soek deur mag te kry sodat mense wat magteloos is beheer kry oor dit wat met hulle gebeur, maar ook om mag te transformeer. Die doel wat volgens Kinlaw (1995: 59) gestel word vir bemagtiging is van belang om die dimensies van bemagtiging tot volle reg te laat kom. Die beste moontlike verstandelike hulpbronne moet ontwikkel word om elke gebied waarin iets bereik kan word, te verbeter.

Die drie dimensies van bemagtiging is die ontwikkeling van ’n meer positiewe sin van die self; die bou van kennis en kapasiteit vir ’n meer kritiese begrip van die sosiale en politieke realiteite van die omgewing; en die ontwikkeling van hulpbronne en strategieë of bevoegdhede om persoonlike en kollektiewe doelwitte te bereik (Lee, 1994: 13). Voorts vereis bemagtiging volgens Gran (1983: 146) drie belangrike aksies deur individue: om te beweeg van ’n posisie van afhanklikheid na een van optrede wat doelwitte definieer, hulpbronne beheer en die prosesse beheer wat ’n impak het op die individu.

Die konsep van bemagtiging gaan verder as die idee van demokrasie, menseregte en deelname om die bemagtiging van mense in te sluit om die realiteit van hul omgewing te begryp, na te dink oor die faktore wat hul omgewing vorm en die nodige stappe te neem wat die situasie kan verbeter (Singh & Titi, 1995: 13). Die konsep van bemagtiging dui aan dat deelname ’n manier is om ’n demokratiese reg uit te leef. Hiervolgens is deelname die natuurlike uitvloeisel van bemagtiging. Dit is nie die middel tot die doel nie, maar die doelwit van ontwikkeling. Bemagtiging omvat dus meer as die mag om besluite te neem. Dit vereis die kennis en begrip om die regte keuses te maak. Die fasiliteerder moet aan individue die nodige inligting gee om die regte keuses te kan uitvoer. Mense moet uiteindelik ingeligte keuses kan maak (Swanepoel, 1997: 6).

Die term bemagtiging kan ook misleidend wees. Bemagtiging beteken nie dat mense fasiliteite moet kry wat hulle voorheen geweier is óf nie vir hulle beskikbaar was nie óf om aan hulle vaardighede te leer wat hulle nie het nie. Bemagtiging beteken die verkryging van mag en die vermoë om dit te gebruik. Hierdie mag is nie ’n vormlose of ondefinieerbare entiteit nie. Dit manifesteer in groepe mense wat saamwerk (Swanepoel, 1997: 7).

Bemagtiging kan ’n instrument wees vir ontwikkeling indien dit as ’n strategie dien vir die verligting van armoede. Dit moet die mobilisering van hulpbronne en mense se kapasiteite om die oorgang na volhoubare ontwikkeling binne te gaan, insluit. Op hierdie manier word bemagtiging ’n instrument vir ontwikkeling (Singh & Titi, 1995: 14).