• No results found

HOOFSTUK 4: CALVYN OORWEEG VERSKILLENDE VERKLARINGINGS MAAR GEE

4.1 Tekste waar Calvyn verskeie verskillende, ongewensde verklarings

4.1.1 Romeine 1:1

(2) Calvyn skryf:

“Sommiges meen dat die apostel hierdie naam aangeneem het as ’n soort oorwinningsteken omdat hy die goewerneur Sergius (Paulus), aan Christus onderwerp het, maar wat deur Lukas self weerspreek word, omdat hy aantoon dat hy voor daardie tyd so genoem is. En dit lyk nie vir my waarskynlik dat dit aan hom gegee is toe hy hom aan Christus oorgegee het nie. Ek meen dat Augustinus deur hierdie naam behaag is, sodat hy ʼn geleentheid tot vernuftige bespiegeling kon aangryp, wanneer hy betoog dat uit ʼn hoogmoedige Saulus ʼn geringe dissipel gemaak is. (Die latynse woord Paulus beteken klein of gering.)” ( Postma, 2008:37, voetnota 1)”Meer waarskynlik is die uitspraak van Origenes, wat aandui dat daar twee name was; dit is waarskynlik waar dat die geslagsnaam Saulus aan hom deur sy ouers gegee is om sy godsdiens en geslag aan te dui. Die ander naam Paulus, is bygevoeg om te getuig van die reg van die Romeinse burgerskap; hulle wou naamlik nie dat hierdie eer, wat toe hoog geskat was, by hom verborge sou wees nie; tog het hulle dit nie so hoog geag dat die merkteken van die Israelitiese geslag verskuil sou gaan nie. In sy briewe het hy veelvuldig gebruik gemaak van die naam Paulus, omdat by die gemeentes aan wie hy geskryf het, dit meer bekend en gebruiklik was, en in die Romeinse ryk meer geliefd, en in sy eie volk minder bekend.” (Postma, 2008:37- 38, vgl. MacKenzie, 1961:13; Owen, 1979:40)

(3) Samevatting;

Die verskillende verklarings vir die gebruik van die naam “Paulus” wat Calvyn hier uitwys, is:

1. Sommige onvermelde verklaarders is van mening dat Paulus so genoem is omdat hy Sergius, die ekwivalent van Paulus, tot die Christelike geloof gelei het.

2. Augustinus se allegoriese verklaring is dat die naam Paulus aanvaar is omdat die Latynse betekenis daarvan “klein of gering” is. Met die gebruik van die naam dui Paulus dan aan dat hy, die eens hoogmoedige Saulus, na sy bekering ʼn geringe dissipel geword het.

3. Origenes se verklaring is dat Paulus inderdaad oor twee name beskik het, naamlik “Saulus” wat deur sy ouers aan hom gegee is om sy godsdiens en geslag aan te dui, en “Paulus” wat aan hom gegee as ʼn aanduiding van sy Romeinse burgerskap. In die briewe wat hy aan die gemeentes skryf, maak Paulus eerder van sy tweede naam gebruik omdat dié naam by hulle meer bekend, gebruiklik en geliefd was.

4. ʼn Derde verklaring is dat die naam aan Paulus gegee is na sy oorgawe aan Christus. Hierdie verklaring lyk vir Calvyn onwaarskynlik.

5. Calvyn verkies Origenes se verklaring.

(4) Gronde vir sy keuse

1. Hy aanvaar nie die onvermelde verklaarders se mening dat Paulus die naam as ʼn oorwinningsteken aanvaar het ná Sergius se bekering nie, want volgens Lukas is Paulus al voor Sergius se bekering so genoem. Hy dui egter nie aan waar Lukas dit meld nie, waarskynlik omdat hy veronderstel dat sy lesers weet dat Lukas in Handelinge 13:7 na die goewerneur Sergius Paulus verwys. Dit blyk dus dat Paulus vereis dat ’n verklaring, ten einde aanvaarbaar te wees, in harmonie moet wees met die historiese gegewens wat in die Skrif voorgehou word.

2. Augustinus se verklaring word deur Calvyn as “vernuftige bespiegeling” afgemaak, waarskynlik omdat sy verklaring bloot op eie insig berus en nêrens deur die teks self of deur enige ander Skifgetuienis of selfs net kultuurhistoriese oorwegings gerugsteun word nie.

3. Calvyn gee voorkeur aan Origenes se verklaring op grond van bekende kultuurhistoriese inligting oor destydse praktyke van naamgewing by die ontvangs van Romeinse burgerskap. Dit blyk dus dat Calvyn verklarings verkies wat die beste met kultuurhistoriese gegewens ooreenstem. Dit lyk verder of vir Calvyn belangrik is dat sodanige kultuurhistoriese oorwegings nie met die Skrifgegewens self in botsing moet wees nie. Daarom verwys hy spesifiek na die apostel se gebruik om in sy briewe na homself as “Paulus” te verwys, omdat die benaming “in die Romeinse Ryk meer geliefd” was.

4.1.2 Romeine 1:5:

(1) Teks: “deur wie ons genade en die apostelskap ontvang het om geloofsgehoorsaamheid te verkry onder al die heidene ter wille van sy Naam”

(2) Calvyn skryf:

“Ambrosius het ter wille van sy Naam uitgelê om te beteken dat hy in die plek van Christus ingestel was om die evangelie bekend te maak, ooreenkomstig met wat elders gesê word: ‘Ons

tree dan op as gesante om Christus wil -….’ (II Korintiërs 5:20). Tog lyk die mening van hulle

wat onder Naam kennis verstaan gesonder, omdat die evangelie gepredik word vir die doel dat ons mag glo in die Naam van die Seun van God (I Joh. 3:23). En Paulus self word ʼn uitverkore werktuig om die Naam van Christus uit te dra onder die heidene (Hand. 9:15) …. Ter wille van

sy Naam, het dieselfde waarde asof hy wou sê: sodat ek mag openbaar hoedanig Christus is.”

(Postma, 2008:41, vgl. MacKenzie, 1961:17; Owen, 1979:47)

(3) Samevatting:

Die verskillende verklarings van “ter wille van sy Naam” wat Calvyn hier uitwys, is:

1. Ambrosius verstaan dit as: in die plek van Christus.

2. Ander onvermelde verklaarders verstaan dit as met die doel om Christus (“sy Naam”) bekend te maak.

Calvyn verwerp nie Ambrosius se verstaan nie, maar verkies die tweede verklaring.

(4) Gronde vir sy keuse:

1. Ambrosius se verklaring berus wel op Skrif-met-Skrif vergelyking, want hy verbind Romeine 1:5 aan II Korintiërs 5:20.

2. Dit lyk of Calvyn die tweede verklaring verkies óók op grond van Skrif-met-Skrif vergelyking, naamlik in die lig van I Johannes 3:23 en Handeling 9:15. Hoewel Calvyn dit nie uitdruklik stel nie, lyk dit of hy die tweede verkaring se Skrif-met-Skrif vergelyking verkies omdat die lig wat daaruit verkry word, die beste by die onmiddellike ko-teks van die mededeling in Romeine 1:5 pas.

3. Hy noem die tweede verklaring “gesonder”. Dit is egter nie duidelik wat hy daarmee bedoel nie.

4.1.3 Romeine 1:7:

(1) Teks: “Genade vir julle en vrede…. “

“Niks moet verkiesliker wees as dat ons ’n gunstig gesinde God het nie; dit word met genade aangedui. Vervolgens, dat die voorspoed en verloop van alle dinge uit Hom voortvloei, word met die woord vrede aangedui. Want hoe ook al alles ons skyn toe te lag, as God vertoornd is, word ook die seën self verander in ‘n vloek. Daarom is die enigste grondslag van ons geluk die welwillendheid van God, waardeur ons ware en blywende geluk geniet en ons saligheid selfs ook deur teenspoede bevorder word. Daaruit dan, dat hy die vrede van die Here afbid, verstaan ons dat alle goeie dinge wat tot ons kom, vrug is van goddelike weldadigheid. Daaruit dan, dat hy die vrede van die Here afbid, verstaan ons dat alle goeie dinge wat tot ons kom, vrug is van goddelike weldadigheid. En dit moet nie uit die oog verloor word nie dat hy terselfdertyd hierdie weldade ook van die Here Jesus afbid. Want hierdie eer word aan Hom volgens verdienste gegee omdat Hy nie alleen die bedienaar en uitdeler van die vaderlike goedgunstigheid jeens ons is nie, maar ook in die algemeen saam met Hom alle dinge bewerk. In die besonder wou die apostel noteer dat alle weldade van God deur Hom tot ons kom. Daar is diegene wat onder die woord vrede die rus van die gewete wil verstaan. Ek ontken nie dat hierdie betekenis soms gepas is nie. Maar aangesien dit seker is dat die apostel hier ʼn kort samevatting van weldade wou gee, is die eerste verklaring wat deur Bucer voorgestel is, veel meer paslik. 1 Terwyl hy dan

aan die vromes die hoogste geluk toewens, wend hy hom soos voorheen, tot die oorsprong self, naamlik die genade van God, wat nie alleen vir ons net die ewige geluksaligheid bring nie, maar ook die oorsaak is van alle goeie dinge in hierdie lewe.” (Postma, 2008:43, vgl. MacKenzie, 1961:19; Owen, 1979:50)

(3) Samevatting:

Die verskillende verklarings wat Calvyn van Paulus se bedoeling met “vrede” in hierdie vers uitwys, is:

1. Onvermelde verklaarders verstaan onder die woord vrede, rus van die gewete.

2. Bucer se verklaring. Calvyn verwys na “die eerste verklaring wat deur Bucer voorgestel is, ….”. Daar is nêrens ʼn direkte aanduiding van presies wat Bucer se verklaring is nie, maar uit voorafgaande en daaropvolgende sinne blyk dit dat “vrede” volgens Bucer verwys na die voorspoed en alle goeie dinge wat God aan ons in hierdie lewe skenk. Dit is ’n vrede waarvan God self die bron is.

3. Alhoewel Calvyn nie die verklaring van die onvermelde verklaarders as onvanpas beskou nie, verkies hy die alternatiewe verklaring van Bucer.

(4) Gronde vir Keuse:

1. Geen duidelike rede vir Calvyn se voorkeur word verstrek nie, maar sy opmerking dat die verklaring van Bucer “veel meer paslik” is, dui daarop dat Calvyn waarskynlik die verklaring verkies wat die duidelikste met die bedoeling van die skrywer in die betrokke ko-teks ooreenstem, of dan daarby “inpas”.

4.1.4 Romeine 1:9:

(1) Teks: “ …. wat ek in my gees dien in die evangelie van sy Seun ….”

(2) Calvyn skryf:

“Want dit was die oorvloedigste bewys dat hy ʼn man was wat toegewy was aan die eer van God, toe hy homself nie gespaar het en nie geweifel het om elke moontlike beproewing soos beskimping, armoede, die dood en vyandelikhede te trotseer vir die bevordering van Gods koninkryk nie. Sommige neem hierdie deel op asof Paulus daardie diens waarmee hy vantevore gesê het hy God vereer, wou aanbeveel omdat dit aan die voorskrif van die evangelie beantwoord. Dit is wel seker dat dit die evangelie aan ons ʼn geestelike diens van God voorgeskryf word. Maar die vroeëre uitleg pas veel beter, naamlik dat hy sy gehoorsaamheid aan God bewys in die verkondiging van die evangelie.” (Postma,2008:46, vgl. MacKenzie, 1961:22; Owen, 1979:55)

(3) Samevatting:

Calvyn maak hier melding van twee verskillende verklarings van die sinsnede, “wat ek in my gees dien in die evangelie van sy Seun”:

1. Op grond van ’n vroeëre opmerking deur Paulus (waarskynlik in Romeine 1:5 – Calvyn verskaf nie die spesifieke verwysing nie), verstaan sommige verklaarders dat Paulus deur sy stelling die lesers van die brief wil aanspoor dat húlle God moet dien, aangesien dit ’n voorskrif van die evangelie is en God daardeur vereer word. Calvyn gee toe dat die evangelie aan al die gelowiges ’n geestelike diens van God voorskryf, maar hy verkies ’n ander verklaring.

2. Die verklaring waaraan Calvyn voorkeur gee is dié van vroeëre onvermelde verklaarders. Hulle verstaan dat die diens waarna Paulus hier verwys Paulus se eie apostoliese diens is waarin hy geroep was om die evangelie te verkondig.

3. Alhoewel God deur gehoorsame diens van alle gelowiges vereer word, wys Paulus na Calvyn se oortuiging in hierdie vers op sy eie dienswerk van die verkondiging van die evangelie.

(4) Gronde vir die keuse:

1. Alhoewel Calvyn die eerste verklaring nie as onvanpas beskou nie, verkies hy die tweede, vroeëre verklaring. Hy skryf dat die vroeëre uitleg “pas veel beter”. Hy verduidelik nie presies wat hy met hierdie stelling bedoel nie, maar deur gebruik te maak van die woord “pas” kan daar afgelei word dat sy verklaring binne die ko-teks van die Skrifgedeelte meer sinvol.

4.1.5 Romeine 2:24:

(1) Teks: “….die Naam van God word om julle ontwil onder die heidene gelaster.”

(2) Calvyn skryf:

“Ek dink dat hierdie getuienis eerder uit Esegiël 36:23 as uit Jesaja geneem is, want by Jesaja is daar geen verwyte teen die volk nie, terwyl die hele hoofstuk van Esegiël daarvan vol is. Maar sommige meen dat hier ʼn beredenering van die mindere na die meerdere is, in hierdie sin: Indien die profeet in sy tyd nie sonder rede die Jode geroskam het nie, omdat weens hul ballingskap die roem en mag van God onder die heidene bespot is, so asof hy nie in staat was om die volk wat Hy in sy beskerming geneem het, te bewaar nie, dan is julle te meer tot smaad en ontering van God, wie se diens, geoordeel na julle uiters verdorwe sedes, ʼn slegte naam verkry. Hoewel ek hierdie uitspraak nie verwerp nie, verkies ek tog ʼn eenvoudiger verklaring, asof gesê is: Ons sien dat alles wat tot afkeur van die volk Israel strek, terugval op die Naam van God; omdat hulle gehou word as die volk van God en so genoem word, dra (die volk) as’t ware die Naam van God ingegrif in sy voorhoof. Hieruit volg noodwendig dat God, met wie se Naam hulle te koop loop, deur hul skandalige gedrag belaster word. Maar dit is hoogs onwaardig wanneer hulle wat hul roem aan God ontleen, die merkteken van skande op sy heilige Naam spat, want dit betaam hulle om Hom ten minste met ʼn ander loon te betaal.” (Postma, 2008:78, MacKenzie, 1961:54; Owen, 1979:107)

(3) Samevatting:

1. In sy verklaring van die gedeelte verwys Calvyn na Skrifgedeeltes uit Esegiël 36:23 en Jesaja, maar is van mening dat Eségiël meer van toepassing is omdat die verwyt teen die volk dat die heidene God om hulle ontwil laster beter by die konteks van Esegiël 36 inpas.

2. Onvermelde verklaarders meen dat hierdie woorde na Jesaja teruggevoer kan word, omdat Paulus na hulle oortuiging van die mindere na die meerdere redeneer2, in dié sin dat die

profeet die volk geroskam het omdat die heidene hulle (die volk) vanweë hul ballingskap gespot het – tot oneer van God, omdat die heidene beweer het dat God nie sy volk kon beskerm nie. Des te meer word God se naam by die heidene onteer wanneer hulle die volk se verdorwe sedes sien.

3. Calvyn verwerp nie die genoemde verklaring nie, maar verkies die verklaring dat Paulus met hierdie aanhaling bloot verwys na Israel wat deur hul skandalige gedrag God se naam by die heidene oneer aangedoen het, ’n saak waaroor die profeet Esegiël die volk vermaan het.

(4) Gronde vir keuse:

Calvyn verkies ʼn “eenvoudiger verklaring” alhoewel hy die ander verklaring nie afkeur nie. Geen duidelike norm vir die eenvoud word verskaf nie. Nogtans lyk dit of Calvyn hier twee maatstawwe vir sy keuse aanlê:

1. Dat by Skrif-met-Skrif-vergelyking die kultuurhistoriese konteks een oorspronklike van die ander Skrifdeel (in hierdie geval Jesaja en Esegiël) deeglik in aanmerking geneem moet word;

2. Dat die verklaring wat ’n eenvoudigste is, m.a.w. wat die minste ingewikkelde verduidelikings vereis, verkieslik is.

[Nogtans is eenvoud, d.w.s. die verklaring wat die minste komplekse verduideliking verg, die norm.]

4.1.6 Romeine 3:21:

(1) Teks: “ Maar nou is die geregtigheid van God openbaar sonder die wet, ….”

(2) Calvyn skryf:

“Hierdie geregtigheid dan, wat God ook aan die mens meedeel en as enigste aanvaar en tot geregtigheid reken, sê hy, is sonder die wet geopenbaar. Dit beteken sonder die hulp van die wet: en die wet moet verstaan word as die werke (van die wet). En dit is immers nie van pas om dit te betrek op die leer (van die wet) nie, aangesien hy spoedig dit as ʼn getuie van die onverdiende genade aanvoer. Sommige beperk dit tot die seremonies, maar ek sal ʼn weinig

2 “Van die mindere na die meerdere” is ’n verklaringstegniek wat die skrywers in die Nuwe Testament

waarskynlik ontleen het aan die Rabbynse midrasj-verklaringstegnieke (vgl. Kaiser & Silva, 1994:212).

later aantoon dat dit ydel en sonder vuur is. Daar bly derhalwe oor dat ons verstaan dat die verdienste van die werke uitgesluit word. Vandaar sien ons ook dat hy nie die werke vermeng met die barmhartigheid van God nie, maar nadat elke vertroue op werke weggeneem en uitgeroei is, stel hy barmhartigheid alleen. En dit is waarlik nie aan my onbekend nie dat Augustinus dit anders uiteensit, want hy dink dat die geregtigheid van God die genade van wedergeboorte is, en hy openbaar hierdie genade as vrygegewe aangesien die Here ons wat niks verdien nie, met sy Gees vernuwe. Maar van hierdie genade sluit hy die werke van die wet uit; dit is die werke waarmee die mense uit hulleself buite om die vernuwing probeer om hul voor God verdienstelik te maak. Dit is ook aan my goed bekend dat sommige nuwe spekuleerders op trotse wyse hierdie leer voordra asof dit vandag aan hulle geopenbaar is. Maar dat die apostel alle werke sonder uitsondering insluit, ook dit wat die Here in sy eie (volk) teweeg gebring het, blyk duidelik uit die verband. Abraham was immers sekerlik weergebore en gelei deur die Gees van God in die tyd waarin hy (Paulus) ontken dat hy (Abraham) deur die werke geregverdig was. Derhalwe sluit hy van die regverdigmaking van die mens nie alleen die werke uit, wat sedelikerwys goed is (soos hulle dit gewoonlik noem) en wat uit ingebore natuur voortkom nie, maar ook alle werke wat gelowiges kan bedryf. Vervolgens, as dit die omskrywing van die geregtigheid van die geloof is, naamlik: Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede

vergewe is (Ps. 32:1), kan nie geredeneer word oor hierdie of daardie soort van werke nie, maar

word die vergewing van sondes as die enigste oorsaak van geregtigheid gestel, nadat met die verdienste van werke weggedoen is. Hulle dink dat hierdie twee dinge goed ooreenstem, dat die mens deur geloof deur die genade van Christus geregverdig word en tog deur die werke geregverdig word, wat uit die geestelike wedergeboorte voortkom omdat God ons onverdiend vernuwe en ons sy gawe deur die geloof aanneem. Maar Paulus neem ʼn heeltemal ander beginsel in, naamlik dat ons gewetens nimmer gerus sal wees totdat dit steun op die barmhartigheid van God alleen nie. Daarom, nadat hy op ʼn ander plek geleer het dat God in Christus is om mense te regverdig, sit hy die manier uiteen, naamlik deur die sondes nie aan hulle toe te reken nie. Op soortgelyke wyse plaas hy in Galasiërs (Gal. 2:12) die wet teenoor die geloof met betrekking tot regverdigmaking, aangesien die wet die lewe beloof aan hulle wat uitvoer wat hy beveel. En die wet beveel nie net die letterlike vorm van die werke nie maar die opregte liefde tot God. Derhalwe volg dit dat in die geregtigheid van die geloof geen verdienste van die werke toegelaat word nie.” (Postma, 2008:95-96, vgl. MacKenzie, 1961:70- 71; Owen, 1979:134-135)

(3) Samevatting:

In hierdie gedeelte bied Calvyn ’n uitleg van wat met die woorde “geregtigheid van God ... sonder die wet” in Romeine 3:21 bedoel word.

1. Calvyn onderskei dit (die werke) van die “leer van die wet” en dit is vir hom duidelik dat die skrywer verklaar dat die geregtigheid van God SONDER die werke van die wet plaasvind aangesien “ons gewetens nimmer gerus sal wees totdat dit steun op die barmhartigheid van God alleen nie.”

2. Die beskouing (van sommige onvermelde verklaarders) dat die “werke van die wet” slegs op die onderhouding van die seremonies dui, word deur Calvyn verwerp. In sy verdere verduideliking wys hy op die skrywer (Paulus) se bedoeling naamlik dat “die apostel alle werke sonder uitsondering insluit, ook die wat die Here in sy eie (volk) teweeggebring het...”

3. Hy aanvaar ook nie Augustinus se verklaring naamlik dat die geregtigheid van God sy vrygewende genade van die wedergeboorte is nie. Volgens Augustinus is die werke van die wet waarna Paulus verwys werke wat hulle sonder die vernuwing van die Gees doen en