• No results found

HOOFSTUK 2: ’N BESKRYWING VAN CALVYN SE HERMENEUTIEK –’N OORSIG

2.5 Hermeneutiese beginsels by Calvyn

2.5.8 Epistomologiese Beskouing

Calvyn se antropologiese beskouing en sy beskouing oor die rol van die Heilige Gees vir die verstaan van die Skrif, het sy epistomologiese beskouing beïnvloed: die mens se natuurlike rede is met agterdog en krities beskou. Calvyn se heftige kritiek teen die filosowe was soms so polemies gedrewe dat dit nie goed deurdag was nie. Calvyn was daarvan oortuig dat die wysste filosofiese werke nie met die Heilige Skrif vergelyk kan word nie. In sy Opera Selecta 3. 72. 29- 40. ICR .I VII.I I, soos aangehaal deur Holder (2006:36-37), skryf Calvyn dat alhoewel die filosowe se geskrifte ʼn mens verstom sal laat, vreugde sal verskaf, jou diep sal tref, jou sal aangryp en roer, is dit die lees van die Heilige Skrif wat jou ten diepste sal aanraak: dit sal jou hart deurdring, dit sny deur murg en been en dit sal die indrukke wat die orators en filosowe gemaak het heeltemal oortref. Uit sy kommentaar op 1 Korintiërs 2.7 (Calvyn, 1573:103 -104) lyk dit duidelik dat die Heilige Skrif iets goddeliks adem wat alle gawes en genades van die mens se werksaamhede oortref. Selfs diegene met die hoogste intelligensie kan nie die uitnemendheid bereik wat daar in die natuurlike evangelie geleë is nie.

Om egter te beweer dat Calvyn heeltemal teen filosofie, filosowe en filosofiese geskrifte gekant was, is onwaar. Hy het dan juis daarop aangedring dat Logika aan die Geneefse Akademie onderrig moes word en, soos daar vroeër opgemerk is, word gemeen dat hy ten opsigte van sy antropologie deur Plato se siening beïnvloed is. Voorts wys Ayers (1980:285) daarop dat Calvyn, net soos Augustinus en Aquinas, ʼn hoë agting vir die rede gehad het. Die soeke na wysheid en kennis in die filosofie moes egter duidelik op gehoorsaamheid aan Christus gebonde wees. Hy skryf in sy kommentaar op 1 Korintiërs 1:20 dat alle kennis en begrip waaroor die mens beskik, nutteloos is tensy dit onderskryf word en gefundeer is op die ware wysheid (vgl. Calvyn, 1573:80). Hierdie (natuurlike) kennis en wysheid is net so waardeloos vir

die verstaan van geestelike leringe as wat die oog van ʼn blinde persoon is in die onderskeid tussen kleure. Alle wetenskaplike kennis is net ʼn damp die oomblik as dit van die hemelse wetenskap van Christus afwyk. “Die mens met sy slimmigheid is net so min instaat om deur sy eie kragte die geheimenisse van God te ken as wat in esel in staat is om ʼn konsert te verstaan” (vgl. Calvyn, 1573:8).

Dit blyk dus dat Calvyn nie die filosofie en rede van die mens genegeer het nie, maar hy het daarop gewys het dat die oorsprong en ware doel van kennis en insig in die “Ware en Vaste Wysheid” (vera ac solida sapientia) gegrondves moet wees. Rede en die vrug daarvan het ʼn bestaansreg, maar mag nie voorkeur bo die geopenbaarde wysheid geniet nie.

Hy onderskei voorts tussen kennis en begrip van die aardse dinge en kennis oor die hemel. Laasgenoemde hou verband met God en sy koninkryk, ware geregtigheid en die toekoms. Eersgenoemde hou weer verband met die rede en die verhouding daarvan tot die huidige lewe en is dus in ʼn sekere sin beperk en begrens deur die huidige aardse bestaan (Opera Selecta 3 256. 21-27 ICR, II ii.13, soos aangehaal deur Holder, 2006:39). In sy kommentaar op 1 Korintiërs 3:19 (vgl. Calvyn, 1573:145) gebruik Calvyn ʼn metafoor deur te sê dat ons die kunste en die wetenskap waardeur wysheid verwerf word, en ook natuurlike skranderheid as gawes van God moet beskou. Hierdie kennis en wysheid is egter slavinne van die meesteres (God se Woord en Wysheid) en moet as sodanig hanteer word en inderdaad as leeg en waardeloos beskou word totdat dit geheel en al onderdanig en ondergeskik aan die Woord en Gees van God is. Dit is slegs in die Skrif waar ons die grens vir ons nadenke oor God en sy heil vind. Uit talle uitsprake van Calvyn blyk dit dat dit vir hom steeds gaan om die grens wat geleë is in die Openbaring self en om die nut van Skrifkennis (vgl. Van der Walt, 1972:37).

Hierdie hermeneutiese beginsels van antropologie en epistomologie blyk ʼn beduidende rol te gespeel het in Calvyn se Skrifverklaring en in die keuses wat hy in die geval van meervoudige verklarings gemaak het, asook in sy aanbieding van eie verklarings. Sy opleiding in die humanistiese metodologie van antieke regsteksverklarings, sy Rooms-Katolieke agtergrond, blootstelling aan die werke van die kerkvaders en die Reformatore, en die invloed van die Renaissance was alles faktore wat bygedra het tot die vorming van hierdie hermeneutiese beginsel. Die toepassing daarvan blyk duidelik uit die feit dat Calvyn in sy kommentaar op Romeine die Sofiste, Anabaptiste, Kathare, Papiste en die filosowe op dieselfde wyse as Plato weerlê. Sy kennis in die antieke tale en grammatikale insig speel dikwels ʼn beduidende rol in die keuses wat hy in sy verklaring van ʼn gedeelte maak. Sy kommentaar op Romeine is deurspek met verwysings na grammatikale analises en verwysings na die vertalings van gedeeltes, waarvan hy sommiges onderskryf en ander afmaak.

Dit blyk egter dat, volgens Calvyn, die nut van die epistomologie en antropologie vir die verklaring van die Skrif totaal afhanklik is van God se genade en openbaring. Dit bring ons tot die volgende aspek van sy hermeneutiese beginsels, naamlik God se algemene genade.