• No results found

HOOFSTUK 4: CALVYN OORWEEG VERSKILLENDE VERKLARINGINGS MAAR GEE

4.1 Tekste waar Calvyn verskeie verskillende, ongewensde verklarings

4.1.11 Romeine 7:14:

(1) Teks: “Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde.”

(2) Calvyn skryf:

“Nou begin hy om die wet en die natuur van die mens nader met mekaar te vergelyk sodat dit duideliker verstaan kan word waar die gebrek van die dood vandaan kom. Vervolgens stel hy ʼn voorbeeld van ʼn wedergebore mens voor oë, in wie die oorblyfsels van die vlees so met die wet van die Here in stryd is dat die gees met graagte daaraan gehoorsaam is. Maar aanvanklik (soos ons gesê het ) stel hy ʼn blote vergelyking van die natuur en die wet. Aangesien daar in menslike aangeleenthede geen groter wanverhouding is as tussen gees en vlees nie, en die wet geestelik en die mens vleeslik is, watter ooreenkoms kan daar tog tussen die aard van die mens en die wet wees? Dieselfde immers as tussen lig en duisternis. Dat hy verder die wet

geestelik noem, dui nie alleen daarop dat dit die innerlike toegeneentheid van die hart op eis,

soos sommige dit verklaar nie, maar na die aard van die teenstelling het dit die teenoorgestelde betekenis van vleeslik. Vroeëre verklaarders lê dit so uit: Die wet is geestelik; dit is, dit bind nie alleen die hande en voete ten opsigte van die uitwendige werke nie, maar verplig tot toegeneenthede van die hart, en eis die opregte vrees van God. Maar hier word ʼn teenstelling tussen gees en vlees uitgedruk. Dit sal verder genoegsaam uit die verband duidelik word, en dit

was reeds vantevore gedeeltelik aangetoon dat onder vlees verstaan moet word: alles wat mense uit die moederskoot meebring. Die mense word vlees genoem na die staat waarin hulle gebore is, en solank hulle hul aangebore aard behou, omdat hulle so verdorwe is dat hulle in niks anders smaak het en niks anders adem as dit wat grof en aards is nie. Daarteenoor word die herstel van die verdorwe natuur gees genoem wanneer God ons na sy beeltenis hervorm. Maar hierdie wyse van spreke kom daarvandaan dat dit die genadegawe van die Gees is wat in ons die nuutheid weer tot stand bring. Daarom word die suiwerheid van die leer van die wet gestel teenoor die verdorwe natuur van die mens. Die betekenis is derhalwe: Die wet vereis ʼn sekere hemelse geregtigheid – soos van engele – waarin geen vlek verskyn nie, en aan wie se reinheid niks ontbreek nie. Maar ek as ʼn vleeslike mens, kan niks anders doen as om my daarteen te verset nie. Die uiteensetting van Origenes egter, wat tog voor die huidige tyd baie mense behaag het, is nie werd om weerlê te word nie. Hy sê dat die wet deur Paulus geestelik genoem word, omdat die Skrif nie letterlik verstaan moet word nie. Maar wat het dit met die huidige onderwerp te doen?” (Postma, 2008:175-176, vgl. MacKenzie, 1961:146-147; Owen, 1979:259-260)

(3) Samevatting:

Die verskillende verklarings vir Paulus se gebruik van die uitdrukkings wet (geestelik) en natuur (vleeslike) word hier deur Calvyn oorweeg.

1. Vroeëre onvermelde verklaarders verduidelik dat die geestelike aard van die wet daarop dui dat God nie net uiterlike gehoorsaamheid aan die wet eis nie, maar ook ’n innerlike gehoorsaamheid wat geleë is ʼn toegeneentheid van die hart en ʼn opregte vrees vir God.

2. Calvyn voeg by hierdie verklaring ʼn verdure verduideliking: dit is vir hom vanuit die tekstuele verband duidelik dat Paulus hier die teenstelling tussen die gees en die vlees wil aandui. Die

vlees is die verdorwe, natuurlike aard waarmee die mens gebore word. Die gees

daarenteen is die herstel van die mens na die beeltenis van God deur die werking van die Heilige Gees.

3. Origenes verklaar dat die wet geestelik genoem word omdat die Skrif nie letterlik verstaan moet word nie. Hy verskaf geen gronde vir die allegoriese verklaring nie. Hierdie siening word met minagting deur Calvyn verwerp – dit pas hoegenaamd nie binne die verband van die Skrifgedeelte nie.

1. Calvyn skryf dat dit “verder genoegsaam uit die verband duidelik sal word, ....” – ’n duidelike aanduiding van die grond waarop hy sy verklaring bou, naamlik die tekstuele konteks van die Skrifgedeelte wat verklaar word.

2. Calvyn se verwysing na “alles wat mense uit die moederskoot meebring” en “solank hulle hul aangebore aard behou, omdat hulle so verdorwe is dat hulle in niks anders smaak het en niks anders adem as dit wat grof en aards is nie,” is ’n aanduiding dat hy in sy verklaring Paulus se verlossingsleer en die leer oor die erfsonde ook in sy verklaring in ag neem.

3. Origenes se allegoriese verklaring word deur Calvyn verwerp, juis omdat dit die teks sonder inagneming van die verband waarbinne dit staan, wil verstaan.

4.1.12 Romeine 8:17:

(1) Teks: “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik met Hom ly, sodat ons naamlik met Hom verheerlik kan word.”

(2) Calvyn skryf:

“Daar is verskillende verklaringe van hierdie woorde, maar die opvatting wat bo al die ander my goedkeuring wegdra, is die volgende: Ons is mede-erfgename van Christus, mits ons in die aanvaarding van die erfenis, dieselfde weg volg as waarop Hy voorgegaan het. En hy het so melding gemaak van Christus omdat hy daarmee as’t ware trapsgewys ʼn oorgang wou maak na hierdie aanmoediging: die erfenis van God is ons s’n, aangesien ons deur sy genade tot sy kinders aangeneem is. En dat dit nie aan twyfel onderhewig mag wees nie, is die besit daarvan reeds aan Christus verleen, wie se deelgenote ons gemaak is. Maar Christus het dit deur die kruis verkry; derhalwe kan dit ook op daardie manier tot ons kom. En daar moet nie besorgdheid wees dat Paulus, soos sommige vrees, op hierdie manier die oorsaak van die ewige heerlikheid toeskryf aan ons werke nie; want hierdie manier van praat is nie ongewoon aan die Skrif nie. Hy dui egter die volgorde aan wat die Here volg in die toedeling van die saligheid aan ons, eerder as die oorsaak daarvan. Hy het immers voorheen die onverdiende barmhartigheid van God voldoende verdedig teenoor die verdienste van die werke.” (Postma, 2008:201, vgl. MacKenzie, 1961:171; Owen, 1979:301-302)

(3) Samevatting:

4. Hy wys daarop dat daar verskillende verklarings van die gedeelte is. Hy teken slegs twee van die verklarings aan: die een wat sy goedkeuring wegdra en ’n ander een wat hy verwerp.

5. Hy verwerp die verklaring dat ons heerlikheid toegeskryf kan word aan en die gevolg is van ons werke. Hierdie afleiding word waarskynlik gemaak omdat Paulus skryf dat ons saam met Christus ly “sodat ons dan ook met Hom verheerlik kan word” – so asof die lyding die oorsaak van die heerlikheid is.

6. Calvyn aanvaar nie al die verklarings nie, maar gee sy goedkeuring aan die verklaring dat ons mede-erfgename van Christus is in beide sy lyding en heerlikheid. Hy verstaan dat Paulus eerder die volgorde in die verkryging van die saligheid hier aandui en dat God ons daardeur wil aanspoor tot lydsaamheid.

7. Hy wys ook daarop dat Paulus in die voorafgaande gedeeltes oor sy verlossingsleer duidelik aangetoon het dat die regverdigmaking en die verkryging van die saligheid alleenlik op die barmhartigheid en genade van God berus.

(4) Gronde vir keuse:

1. Calvyn motiveer sy keuse vir die verklaring aan die hand van Paulus se verlossingsleer. Die eerste deurslaggewende norm wat dus in ag geneem word, is die bedoeling van die skrywer – verdere lering oor die verkryging van die regverdigmaking. Dit blyk duidelik uit sy opmerking dat, “Hy (Paulus) dui die volgorde aan wat die Here volg in die toebedeling van die saligheid aan ons ....”

2. Calvyn se redenasie geskied binne die openbaringslyne van die Skrif en dan in die besonder ten opsigte van die verlossingsleer soos dit deur die skrywer voorgehou word. Hy wys daarop dat Paulus al voorheen die onverdiende barmhartigheid teenoor die verdienste van die werke verdedig het. Enige verklaring wat wil voorhou dat die verlossing op grond van die werke verkry kan word, hetsy dit deur lyding is, word deur hom verwerp.

3. Hy neem ook die tekstuele konteks, spesifiek die gedagte-opbou van die perikoop, in ag as hy daarop wys dat Paulus ons “trapsgewys” na die betekenis wil lei, naamlik dat ons in Christus deelgenote van sy lyding en sy heerlikheid is.

4.1.13 Romeine 8:18:

(1) Teks: “ Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.”

(2) Calvyn skryf:

“Alhoewel hulle wat dit aanvaar in die sin van ’n verbetering, nie heeltemal onvanpas handel nie, verkies ek tog om dit te beskou as ʼn antisipasie om die aansporing te versterk, sodat dit die volgende betekenis het: En dit behoort inderdaad vir ons nie ʼn kwelling te wees as daar langs die weg van verskeie beproewinge heen na die hemelse heerlikheid voortgegaan moet word nie, omdat die beproewinge van baie weinig belang is as dit met die grootsheid van hierdie heerlikheid vergelyk word. Hy het die toekomende heerlikheid vermeld in die plek van die ewige heerlikheid, om so aan te dui dat die beproewinge van die wêreld spoedig verbygaan. Hieruit blyk dit dat hierdie deel uiters sleg deur die skolastici verstaan is, want hulle het hieruit hul eie oppervlakkige onderskeid onttrek, naamlik tussen verdienste wat berus op ʼn verdrag van God met die mens, en die verdienste wat voortspruit uit die werke. En die apostel vergelyk immers nie die waardigheid van albei (soorte verdienste) nie, maar hy verlig slegs die sware gewig van die kruis deur ʼn vergelyking met die grootsheid van die heerlikheid, en hy doen dit om die harte van die gelowiges tot lydsaamheid te bevestig.” (Postma, 2008:201, vgl. MacKenzie, 1961:171- 172; Owen, 1979:302-303)

(3) Samevatting:

Calvyn verwys na twee ander verklarings van hierdie teks, waarvan hy die een as aanvaarbaar (“nie heeltemal onvanpas nie”) beskou, maar die ander verwerp.

1. Onvermelde verklaarders verstaan dat Paulus hier slegs na die verbeterde omstandighede verwys wat in die toekoms openbaar sal word , met ander woorde, die verklaring dui op ʼn “verbetering” van die gelowiges se omstandighede in die toekoms. Calvyn aanvaar hierdie verklaring as geoorloof, maar verkies ’n alternatiewe verklaring.

2. Calvyn verkies om hierdie teks so te verstaan dat Paulus daarmee die gelowiges te midde van beproewinge wil aanspoor en bemoedig. Calvyn verduidelik sy verklaring deur Pauluse se woorde te parafraseer: die verwagting van ʼn toekomstige heerlikheid, wat baie meer weeg as die huidige beproewinge en swaarkry, behoort vir almal van ons ’n bemoediging en aansporing te wees.

3. Skolastici tref in hul verklaring van hierdie teks ʼn onderskeid tussen die verdienste wat berus op ’n verdrag van God met die mens, en die verdienste wat voortspruit uit die werke. Die uiteindelike heerlikheid is dan die beloning op die lyding wat die gelowige ervaar het. MacKenzie (1961:172) se vertaling lei soos volg: “It is clear that this passage was misunderstood by the schoolmen, who have derived from it their frivolous distinction between congruity [from Latin congruent- ‘agreeing’](Oxford Dictionary, 1998:177) and

condignity [ from Latin condignus – ‘wholly worthy’ severe and well-deserved] (Oxford Dictionary, 1998:175). The apostle is not comparing the worth of each, but simply lightens the weight of the cross by comparing it with the greatness of glory, in order to confirm the mins of believers in patience”.

4. Calvyn verwerp die skolastici se verklaring - hy skryf dat dit “sleg” deur hulle verstaan is en dat hulle ʼn “oppervlakkige” onderskeid tref.

(4) Gronde vir keuse:

1. Weer eens blyk dit dat Calvyn se keuse berus op die kontekstuele verband waarbinne die teks verklaar moet word. Hy beskou die woorde van vers 18 as ’n manier van Paulus “om die aansporing te versterk”. Hiermee verwys hy, sonder om dit uitdruklik hoef te sê, terug na die aansporing waarna hy pas in sy verklaring van die voorafgaande vers verwys het, naamlik dat deur die gelykvormigheid aan sy dood, Paulus in hierdie teks besig is om die gelowiges te midde van swaarkry en beproewing aan te spoor en te bemoedig. Hieruit blyk die noodsaaklikheid van die inagneming van die kontekstuele verband waarbinne ’n verklaring moet geskied.

2. As Calvyn daarop wys dat “ .... die apostel vergelyk immers nie die waardigheid van albei (soorte verdienste) nie, maar hy verlig slegs die sware gewig van die kruis deur ’n vergelyking met die grootsheid van die heerlikheid,” is dit duidelik dat hy in sy verklaring die bedoeling van die skrywer volgens die verloop van sy argument in die perikoop in verrekening bring. Daaruit blyk dat Calvyn weer eens die kontekstuele verband van die teks as verklaringsgrond neem.

4.1.14 Romeine 8:26:

(1) Teks: “ …. want ons weet nie reg wat ons moet bid nie ….”

(2) Calvyn skryf:

“Maar alhoewel ek weet dat daar verskillende verklarings van hierdie deel gegee word, lyk dit tog vir my of Paulus hier eenvoudig wil aandui dat ons blind is in ons aanroeping van God, want hoewel ons die euwels in ons aanvoel tog is ons gemoedere te verontrus en te verward om reg te kies wat paslik of nuttig is. As iemand so teenwerp dat die reël daarvoor in die Woord van God voorgeskryf word, antwoord ek dat ons neiginge desondanks in duisternis opgesluit bly totdat die Gees dit deur sy lig voortlei.” (Postma, 2008:208, vgl. MacKenzie, 1961:177-178; Owen, 1979:312)

1. Calvyn wys daarop dat daar verskillende verklarings vir hierdie teks is, maar hy gee geen aanduidingvan wat die aard daarvan is nie.

2. Hy wys op sommige verklaarders wat redeneer dat, aangesien voorskrifte vir gebed in die Skrif gegee word, vers 26 nie verstaan moet word as dat daar by ons onsekerheid is oor wat om te bid nie.

3. Calvyn se teenargument is dat ons oorleggings (“neiginge”) ten spyte van die duidelike gebedsvoorskrifte wat God in sy Woord gee, steeds “in duisternis opgesluit bly totdatdie Gees dit deur sy lig voortlei.” Uit hierdie opmerking kan daar afgelei word hoe belangrik Calvyn die rol van die Heilige Gees ag, nie net by Skrifuitleg nie, maar ook in gebed – een van Calvyn se hermeneutiese beginsels (Hoofstuk 2, 4.2.3).

4. Calvyn verklaar dat die gedeelte eenvoudig daarop wil wys dat ons blind is in ons aanroeping van God en dat sy Heilige Gees ons lei in ons gebede.

(4) Gronde vir keuse:

1. Uit Calvyn se opmerking dat “Paulus hier eenvoudig wil aandui ....”, kan daar twee afleidings gemaak word:

 in sy keuse van ’n verklaring gee hy voorkeur aan die eenvoudiger, heldere verklaring;

 hy neem die bedoeling van die skrywer in ag.

2. Calvyn verdedig sy verklaring deur te wys op die mens se oorleggings wat “in duisternis opgesluit bly totdat die Gees dit deur sy lig voortlei.” Daaruit blyk dat hy die Skrifleer van die Heilige Gees asook die verdorwenheid van die mens gebruik as grond vir die verklaring wat hy volg.

4.1.15 Romeine 9:18:

(1) Teks: “So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.”

(2) Calvyn skryf:

“Uit albei dele (wat behandel is) volg nou die gevolgtrekking wat op geen manier aanvaar kan word dat dit van iemand anders as die apostel afkomstig is nie, omdat hy terstond gesprek met ʼn teenstander aanknoop, wanneer hy begin om die sake na vore te bring wat vanuit die teenoorgestelde standpunt teengewerk kan word. Dus is daar nie die minste twyfel nie dat Paulus hier, soos ons kort gelede vermeld het, sy mening uitspreek, naamlik dat God ooreenkomstig sy oordeel hulle wat hy aangesien het, met barmhartigheid verwerdig en aan wie

Hy ook wil die gestrengheid van sy oordeel voltrek. Sodat ons verstand tevrede sal wees met die verskil wat na vore tree tussen die uitverkorenes en die verworpenes, en sodat ons verstand na geen hoër oorsaak as sy wil sal vra nie, wil hy by ons tuisbring dat dit deur God voorsien was om sommige te verlig tot saligheid en ander te verblind tot die dood. Ons moet naamlik aandring op hierdie woorde oor wie Hy wil en wie Hy wil – om verder as dit te gaan, laat Hy ons nie toe nie. Verder, die woord verhard, wanneer dit in die Skrif aan God toegeskryf word, beteken nie alleen toelating (soos sommige redenaars dit wil versag), maar ook die uitvoering van die goddelike toorn; want al die uiterlike sake wat die verblinding van die verworpenes veroorsaak, is werktuie van sy toorn. Maar Satan self, wat inwendig kragtig werksaam is, is in so ʼn mate sy dienskneg dat hy niks doen behalwe op God se bevel nie. Daarom stort daardie ydele uitvlug wat die skolastici oor die voorsienigheid handhaaf, terneer. En Paulus sê immers nie dat die ondergang van die goddelose deur die Here vooruit gesien is nie, maar dat dit deur sy Raad en wil verorden is. Ook Salomo leer dieselfde, naamlik dat die verderf van die goddelose nie alleen voorsien was nie, maar dat hulle self geskape is met die doel om ten onder te gaan” (Postma, 2008:239, 240). MacKenzie (1961:207) vertaal die gedeelte soos volg: “The consequence in regard both to the elect and the reprobate is here given. We are to understand this as being the conclusion of the apostle alone, for he promptly enters into discussion with his opponent, and begins to bring forward the objections which might have been offered on the other side.” (Vgl. Owen, 1979:361-362)

(3) Samevatting:

1. Hierdie teks vorm deel van Paulus se uiteensetting van die uitverkiesing. Onvermelde redenaars wil die felheid van die uitspraak versag deur te verduidelik dat die woord verhard eintlik toelating beteken.

2. As Calvyn skryf dat die woord verhard “nie alleen toelating beteken nie, maar ook die uitvoering van die goddelike toorn”, is dit duidelik dat hy hierdie verklaring verwerp en bestempel hy die verklaring van die skolastici as ’n “ydele uitvlug” wat “terneerstort”.

3. Uit sy verdere bespreking lyk dit of hierdie verklaring van die skolastici iets van die latere Remonstrantse beskouings bevat het , deur te leer dat die uitverkiesing op grond van God se voorsienigheid geskied, so asof die verwerping plaasvind op grond daarvan - dat God vooruit weet wie goddeloos sal word.

4. Calvyn verklaar dat Paulus in hierdie teks daarop wil wys dat die uitverkiesing en verwerping deur God se Raad en wil verorden is. Ter motivering verwys hy na Paulus se woorde: oor

(4) Gronde vir Keuse:

1. In sy bespreking van die woord verhard verwys Calvyn na wat “in die Skrif aan God toegeskryf word”. Met ander woorde, hy neem die openbaring oor God soos wat dit in die Skrif (in die Ou - sowel as die Nuwe Testament) gevind word, in ag. So verwys hy byvoorbeeld na Salomo se lering oor die uiteindelike lot van die goddeloses. Hy verskaf egter nie ’n spesifieke Skrifverwysing nie, waarskynlik omdat hy veronderstel dat sy lesers kennis daarvan sal dra. Calvyn verkies daarmee die verklaring wat ten beste in die breë openbaringslyne van die Skrif inpas, wat ook deur Skrif-met-Skrif-vergelyking bevestig kan