• No results found

HOOFSTUK 3: CALVYN SE VERMELDING EN HANTERING VAN MEERVOUDIGE

3.5 Aanvaar verskillende verklarings onvoorwaardelik

3.5.1 Romeine 3:21:

(1) Teks: “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet …. “

(2) Calvyn skryf:

“Dit is onseker om watter rede hy dit wat ons deur die geloof verkry, die geregtigheid van God noem. Is dit omdat alleen dit voor God kan bestaan of omdat die Here in sy barmhartigheid ons (daarmee) begiftig het? Aangesien albei interpretasies goed pas, stry ons met geen van beide nie.” (Postma, 2008:95; vgl. MacKenzie, 1961:70; Owen, 1979:134)

(3) Samevatting:

Calvyn noem twee moontlike maniere waarop “die geregtigheid van God” in hierdie vers verstaan kan word:

1. Dit kan verstaan word as die geregtigheid wat alleen aan die mens bestaansreg voor God gee.

2. Dit kan opgeneem word as die geregtigheid wat God as genadegawe aan ons gee.

Calvyn is onseker watter een van die twee Paulus hier in gedagte gehad het, en aangesien albei verklarings ewe goed pas, vind hy beide ewe aanvaarbaar.

(4) Gronde vir onvoorwaardelike aanvaarding:

1. Calvyn skryf dat albei interpretasies goed pas. Geen verduideliking word verskaf van waarby dit pas nie. Waarskynlik bedoel hy dat dit ewe goed by Paulus se bedoeling soos dit uit die konteks afgelei kan word, pas.

3.5.2 Romeine 3:25:

(1) Teks: “Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof …. “

(2) Calvyn skryf:

“Die Griekse werkwoord proetheto beteken soms om vooraf te bepaal, en soms om aan die lig

te bring. As die eerste betekenis aanvaar word, verwys Paulus na die onverdiende

barmhartigheid van God, dat Christus aangestel is as Middelaar wat deur die offerande van sy dood ons met die Vader versoen. En dit is immers geen gewone lof van die genade nie, naamlik dat God uit sy eie ʼn rede gevind het waardeur ons vervloeking weggeneem sal word. En hierdie plek skyn sekerlik in ooreenstemming te wees met Johannes 3:16: Want so lief het God die

werêld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het …. Nietemin, as ons die ander betekenis

aanvaar, sal die redenering dieselfde bly, dat God op sy tyd Hom wat Hy self vantevore aangestel het, te voorskyn gebring het. In die woord hilastêrion, soos ek gesê het, is daar ʼn sinspeling op die ou soenoffer. Want hy leer dat dieselfde saak, wat in die soenoffer geteken word, in Christus vertoon word. (Aangesien tog die ander mening nie verkeerd bewys kan word nie, indien iemand dit eenvoudiger wil opvat, laat ek dit in die midde.) Dit wat Paulus hier besonderlik wil beklemtoon, is, soos uit sy woorde blyk, dat God sonder Christus altyd toornig teenoor ons is en dat ons deur Hom versoen word wanneer ons deur sy geregtigheid aanvaar word.” (Postma, 2008:100, 101, MacKenzie, 1961:75-76; Owen, 1979:142-143)

(3) Samevatting:

Twee moontlike betekenisse van die woord proetheto word aangebied:

1. Die eerste moontlike betekenis, naamlik “om vooraf te bepaal”, beskou Calvyn as verwysing na die barmhartigheid van God om Christus as Middelaar tot versoening met Hom aan te stel. Hierdie betekenis word volgens Calvyn onderskryf deur Skrifverwysing in Johannes 3:16.

2. Die tweede moontlike vertaling, naamlik “om aan die lig te bring”, sou volgens Calvyn daarop dui dat Christus deur God as soenoffer te voorskyn gebring en vertoon is..

3. Calvyn aanvaar albei verklarings en laat die keuse “in die midde”.

(4) Gronde vir onvoorwaardelike aanvaarding:

1. Dit blyk dat Calvyn se primêre oorweging waarom hy bereid is om beide verklarings te aanvaar, is omdat beide ooreenstem met dit wat daar in die Grieks geskryf staan. Die werkwoord proetheto kan meer as een betekenis hê, wat nie net tot meer as een vertaling nie maar ook tot meer as een verklaring kan lei. Hiervolgens is Calvyn se eerste maatstaf vir aanvaarding van ’n verklaring dat dit moet ooreenstem met wat in die Griekse teks geskryf staan.

2. Die een verklaring word gerugsteun deur ʼn Skrifverwysing na Johannes 3:16. Weereens vergelyk Calvyn hierdie Skrifwoord met ’n ander Skrifgedeelte wat bevestiging gee dat hierdie verklaring houdbaar is. Die maatstaf wat hy dus hier aanlê is dat die verklaring ook aanklank moet vind by ander uitsprake elders in die Skrif.

3. Die tweede verklaring beskou hy as aanvaarbaar omdat dit ’n sinspeling bevat op die ou soenoffer. In die Ou-Testamentiese soenoffers is Christus vooruit afgeteken, en in die Nuwe Testament is Christus sigbaar as die beloofde soenoffer vertoon. In hierdie geval verwys

Calvyn nie na ’n spesifieke teks elders in die Skrif nie, maar redeneer volgens die breë openbaringslyne Skrif, wat skaduagtig by die soenoffers in die Ou Testament begin, en wat deurloop na Christus, in wie God se finale soenoffer tot openbaring gekom het. Die maatstaf vir aanvaarding is dus in hierdie geval dat die verklaring met die breë openbaringslyne van die Skrif in ooreenstemming moet wees.

4. ’n Laaste maatstaf waarvolgens Calvyn besluit om albei verklarings te aanvaar, is die skrywer se bedoeling “soos uit sy woorde blyk”. Waarskynlik bedoel hy dat dit ewe goed by Paulus se bedoeling soos dit uit die konteks afgelei kan word, pas. Indien dit die geval is, is die maatstaf soos by Romeine 3:21 (vergelyk 3.3.2.1) ook in hierdie geval dat die verklaring by die skrywer se bedoeling soos dit uit die ko-teks blyk moet pas.

3.5.3 Romeine 4:4:

(1) Teks: “Maar aan hom wat werk …. “

(2) Calvyn skryf:

“ Ons het ook reeds daaraan herinner dat hier nie gehandel word oor hoe ons ons lewe behoort in te rig nie, maar hier word gevra na die oorsaak van die saligheid. Hy redeneer egter uit ʼn teenstelling, naamlik dat God nie aan ons die geregtigheid verleen as synde verskuldig nie, maar inteendeel as ʼn geskenk. Ek stem saam met Bucer, wat aandui dat hierdie vorm van argumentasie nie ontleen is aan een woord nie, maar aan die hele uitspraak, op hierdie manier: “As daar iemand is wat enigiets deur sy werk verdien, word dit wat hy verdien het nie vrylik aan hom toegereken nie, maar omdat dit verskuldig is. Die geloof word tot geregtigheid toegereken, nie omdat dit enige verdienste van ons kant meebring nie, maar omdat dit die goedheid van God aangryp. Gevolglik is die geregtigheid nie aan ons verskuldig nie, maar word onverdiend geskenk.” Omdat Christus ons immers by wyse van guns deur die geloof regverdig, sien Paulus altyd die leegheid in dit wat van ons is. Wat glo ons dan anders as dat Christus ʼn soenoffer is, sodat Hy ons met God mag versoen? Dieselfde word in ander woorde gevind by Galásiërs 3:11: En dat niemand deur die wet geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe. Maar die wet is nie uit die geloof nie, maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.” (Postma, 2008:110, 111, vgl. MacKenzie, 1961:84,85 en Owen, 1979:158)

(3) Samevatting:

In sy kommentaar van hierdie gedeelte besin Calvyn daaroor of die gedeelte handel oor die oorsaak van die saligheid of oor hoe ons ons lewens moet inrig.

1. Beide Bucer en Calvyn is dit eens dat die gedeelte die oorsaak van die saligheid behandel en dat die saligheid ʼn geskenk van God is.

(4) Gronde vir aanvaarding:

1. Calvyn ondersteun Bucer in sy redenasie dat die gedeelte nie aan die hand van een woord nie maar vanuit die konteks van Paulus se teologie verklaar moet word (“Omdat Christus ons immers by wyse van guns deur die geloof regverdig, sien Paulus altyd die leegheid in dit wat van ons is.”) .

2. Calvyn begrond sy ondersteuning van Bucer vanuit die geheelopenbaring van die Skrif oor Christus se versoeningswerk. Dit kom neer op ’n analogia fidei-argument, wat hy by wyse van ’n retoriese vraag stel: “Wat glo ons dan anders as dat Christus ʼn soenoffer is, sodat Hy ons met God mag versoen?”

3. Verder motiveer Calvyn sy eie uitleg – en daarmee saam ook Bucer se verklaring – deur Skrif met Skrif te vergelyk. Hy verwys naamlik na Galasiërs 3:11, waarin dieselfde gedagte “in ander woorde gevind” word.

3.5.4 Romeine 5:15:

(1) Teks: “Maar dit is met die misdaad nie soos met die genadegawe nie; want as deur die misdaad van die één baie gesterf het, veel meer het die genade van God en die gawe deur die genade van een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword.”

(2) Calvyn skryf:

Hier volg nou ’n epanorthoseis, dit is ’n verbetering van die vergelyking wat vroeër gemaak is. .... Hy sit hier egter nog nie die rede vir daardie verbetering met name uiteen nie, maar leer eenvoudig dat daar ’n groter mate van genade deur Christus verkry is as wat daar veroordeling deur die eerste mens teweeggebring is. Ek weet hoegenaamd nie of dit by almal voldoende sal vasstaan dat die apostel hier, soos sommige dink, ’n bewys wil lewer nie. Daar kan seker nie onvanpas afgelei word dat, as die val van Adam soveel krag gehad het om baie in die verderf te stort, die genade veel meer die goeie vir baie teweeggebring het, aangesien dit erken word dat Christus ver meer die goeie teweeggebring het as wat Adam gehad het om te verderf. Maar aangesien hulle nie weerlê kan word nie, wat hierdie deel anders wil opvat, laat ek vry om enigeen van die twee uitsprake te kies. Hoewel dit wat direk hierop volg nie as ʼn bewysvoering aanvaar kan word nie, is dit tog deel van dieselfde oorweging. Vandaar is dit waarskynlik dat Paulus eenvoudig dit wat hy gesê het oor die gelykenis tussen Christus en Adam, verbeter het of met ’n uitsondering gematig het. Maar let daarop dat hier nie baie met baie vergelyk word nie

(want daar word nie oor ’n menigte van mense gehandel nie), maar hy redeneer dat as die sonde van Adam baie in die verderf gestort het, die geregtigheid van Christus nie minder betekenis sal hê om baie te bewaar nie.” (Postma, 2008:141,142, vgl. MacKenzie, 1961:114, 115 en Owen, 1979:206)

(3) Samevatting:

1. Calvyn verstaan onder die gedeelte dat daar deur Christus meer genade te verkry is as wat daar veroordeling deur die eerste mens teweeg gebring is. Dus, die omvang oftewel “mate” van die genade is groter as die veroordeling oor die sonde.

2. Sommige onvermelde verklaarders verstaan uit hierdie gedeelte dat Christus vir baie meer mense bewaringgebring het as wat daar vir Adam was om te verderf. Dit gaan dus volgens hierdie verklaring eerder oor die getal wat gered word.

3. Calvyn aanvaar beide die verklarings en laat dit aan die leser oor om ʼn verklaring te kies.

(4) Gronde vir aanvaarding:

4. Calvyn skryf dat Paulus “ .... hier egter nog nie die rede vir daardie verbetering met name uiteensit nie,” Omdat die skrywer Paulus nie ’n rede voorsien nie, weerhou Calvyn hom daarvan om self in sy verklaring ’n rede te voorsien. Hieruit blyk dit dat hy respek vir die teks betoon in dié opsig dat die verklaarder versigtig moet wees om nie meer te sê as wat die teks sê nie. Om hierdie rede vind Paulus geen rede om die tweede verklaring te weerlê nie en laat hy die leser vry om enigeen van die twee te kies. Hiervolgens blyk dit weer eens dat Calvyn se maatstaf vir aanvaarding al dan nie dit is wat in die teks geskrywe staan – in hierdie geval dit wat nie in die teks geskrywe staan nie.

5. In aansluiting by sy respek vir dit wat daar geskryf staan of nie geskryf staan nie, neem Calvyn “dit wat direk hierop volg” (d.w.s. verse 26 e.v.) in oorweging. Sy maatstaf is dus nie net wat daar geskryf staan nie maar ook die tekstuele konteks, of ko-teks waarbinne dit geskryf staan. Ook in die ko-teks vind Calvyn geen direkte gronde om die alternatiewe verklaring te weerlê nie.

3.5.5 Romeine 7:12:

(1) Teks: “Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed.”

“Sommige meen dat daar in die woord wet en gebod ʼn verdubbeling is; ek stem dit in soverre toe dat ek dink dat daar heelwat krag daaraan onderliggend is. Dit wil sê, die wet self en wat ook al deur die wet voorgeskryf word, is volkome heilig, en moet daarom met die hoogste eerbied bejeën word; dit is regverdig, gevolglik is dit rein en vry van enige gebrek. So bevry hy die wet van alle beskuldiging, sodat niemand sal waag om daaraan iets toe te dig wat strydig is met goedheid, geregtigheid en heiligheid nie.” (Postma, 2008:174, vgl. MacKenzie, 1961:145 en Owen, 1979:257)

(3) Samevatting

1. Sommige onvermelde verklaarders verklaar dat die gebruik van die woorde wet en gebod in dieselfde sin as verdubbeling aangewend is.

2. Calvyn verklaar dat hy saamstem met die verklaring omdat dit meer krag aan die woorde van Paulus verleen.

(4) Gronde vir aanvaarding:

Verdubbeling (herhaling van sinonieme) “wet en gebod” verleen onderliggende (implisiete) krag aan die woorde van Paulus. Wat die krag is, verduidelik hy dan in die daaropvolgende “Dit wil sê”-sin: Nie net die wet self nie maar ook dit wat deur die wet voorgeskryf word (die inhoud van die wet) is heilig, regverdig en goed. Hy verstaan die woorde dus so (en dit is die grond waarop hy “in soverre toestem” met die anonieme verklaarders) dat dit nie ’n betekenislose verdubbeling bevat nie, maar na twee baie nabygeleë sake verwys: enersyds die wet self; andersyds die inhoud van die wet.

’n Mens kan dus sê Calvyn begrond sy instemming hier enersyds op intrinsieke oorwegings (vanuit die teks self), en andersyds vanuit die Skrif se breë openbaringslyne aangaande die wet. Hoewel hy die breë openbaringslyne nie uitdruklik noem nie, kan uit sy beredenering afgelei word dat dit behels dat (a) die wet as sodanig heilig, regverdig en goed is, waarskynlik bloot omdat dit van God af kom, en (b) dat ook die inhoud van die wet (die gebod) inherent heilig, regverdig en goed is.

3.5.6 Romeine 8:28:

(1) Teks: “En ons weet dat vir hulle vir wie God liefhet, alles ten goede meewerk, …. “

(2) Calvyn skryf:

“…. Die mening van die vlees roep immers uit dat dit allermins blyk dat God ons gebede verhoor as ons beproewinge altyd met dieselfde gang voortduur. Derhalwe antisipeer die

apostel dit (en sê): Hoewel God nie dadelik sy kinders te hulp kom nie, verlaat Hy hulle tog nie omdat Hy deur ʼn wonderbaarlike kunsgreep dit wat skadelike dinge skyn te wees, omskep tot hul saligheid. Indien iemand verkies om hierdie uitspraak op sigself te lees, naamlik dat Paulus met ʼn nuwe argument aanvoer dat die teenspoed wat ons saligheid bevorder, nie met gedagtes en teensin gedra moet word nie, staan ek dit nie teen nie. Intussen is die bedoeling van Paulus nie onduidelik nie: Die uitverkorenes en die verworpenes is weliswaar in gelyke mate aan dieselfde euwels onderworpe, maar tog is daar ʼn groot verskil omdat God, terwyl hy die gelowiges deur die aanvegtinge onderrig, hulle saligheid bevorder.” (Postma, 2008:210, vgl. MacKenzie, 1961:179; Owen, 1979:314-315)

(3) Samevatting:

1. Volgens Calvyn vind Romeine 8:28 aansluiting by wat Paulus in verse 26 en 27 oor die gebed van gelowiges in hierdie gebroke wêreld gesê het. Hier in vers 28 leer hy die gelowiges om nie moedeloos te word oor gebede wat hulle as onverhoord ervaar nie. Hierdie leer grond Paulus dan op die feit dat God alles vir die gelowiges ten goede laat meewerk, waarmee hy duidelik bedoel dat die God se doel met beproewinge is om die gelowiges daardeur te onderrig en hul sodoende hulle saligheid te bevorder.

2. ’n Ander moontlike verklaring, wat deur onvermelde verklaarders aangehang mag word, handhaaf steeds dieselfde duidelike bedoeling van die apostel met hierdie vers. Dit verskil egter daarin dat dit die vers nie as ’n verlengstuk van Paulus se lering oor die gebed beskou nie, maar dit so verstaan dat die apostel in hierdie gedeelte met ʼn nuwe argument begin. Onafhanklik van wat hy oor die gebed gesê het, wil hy dan in vers 28 leer dat die gelowiges nie hul teenspoed “met pynvolle gedagtes en teensin” moet verduur nie. Hulle moet immers God se doel met beproewinge in gedagte hou.

3. Albei verklarings is vir Calvyn aanvaarbaar.

(4) Gronde vir aanvaarding:

1. Hoewel Calvyn dit nie uitdruklik stel nie, wil dit tog voorkom of hy die kwessie waaroor die verskil in verklaring handel, naamlik of vers 28 ’n voortsetting van die lering oor die gebed is en of dit ’n nuwe saak begin, as van nie deurslaggewende belang beskou nie en albei verklarings daarom as houdbaar beskou.

2. Die belangrike grond waarom Calvyn albei die verklarings aanvaarbaar vind, is omdat beide reg laat geskied aan die apostel se bedoeling met die vers.