• No results found

HOOFSTUK 2: ’N BESKRYWING VAN CALVYN SE HERMENEUTIEK –’N OORSIG

2.3 Die doel van eksegese, aldus Calvyn

Waarom sou Calvyn dit nodig geag het om, ten spyte van die reeds bestaande Skrifverklarings en kommentare, nóg kommentare te skryf? Uit 'n literatuurstudie, sy kommentaar op Romeine en enkele opmerkings uit sy Institusie kan die doel van Calvyn se eksegese eksplisiet en implisiet soos volg aangedui word:

1. In sy brief aan Grynaeus oor sy kommentaar op Romeine identifiseer Calvyn enkele van die redes vir sy Skrifverklaring. Die eerste hiervan is om die helder, bondige, suiwere, eenvoudige en diepe betekenis van die teks te ontdek. Dit blyk dat beide van hulle (Calvyn en Grynaeus) " immers gevoel (het) dat die vernaamste deug van 'n verklaarder geleë is in helder bondigheid." (Postma, 2008:26; vgl. MacKenzie, 1961:1) So noem Calvyn byvoorbeeld dat Brucer te "uitvoerig" was en dat Melanchton "nie alles behandel het nie." (Postma, 2008:28)

2. Vir Calvyn was die Skrif met die diversiteit van sy menslike skrywers in die eerste plek ʼn produk van die Heilige Gees (vgl. Armstrong, 1998:134). Die Skrif is "God se Openbaringswoord waarvoor Hy deur sy Gees as eerste Outeur verantwoordelikheid neem.” (Postma, 2008:6) Een van Calvyn se beroemde stellings in sy Inst.1.9.3 is juis dat die Gees met 'n onverbreekbare band aan die Woord verbind is (vgl. Calvyn, 1536:60). Die doel van die eksegeet was dus om dit wat die Heilige Gees deur die Woord aan die kerk van die eerste eeu gesê het, aan die kerk van die sestiende eeu oor te dra. Die bedoeling van die Skrywer, beide die Heilige Gees en die menslike outeur, moes bepaal word (vgl. Postma, 2008:13). Hierdie doel, naamlik die inagneming van die oorspronklike outeur se denkrigting en doelstelling, hou verband met die sestiende eeuse humanistiese retoriek waarin Calvyn geskool is. Calvyn verduidelik dikwels in sy kommentare op Paulus (die menslike outeur) se briewe dat die motiewe en redes vir sommige opmerkings in sy (Paulus) se skrywes, pastoraal- en konteks-gedrewe is (vgl. Holder, 2006:60-61; Armstrong, 1998:133). In sy uitleg van Romeine 2:2 wys Calvyn daarop dat, “Die bedoeling van Paulus is om die selfvleiery van die skynheiliges af te skud sodat hulle nie mag dink dat hulle iets groots verkry het nie, as hulle deur die wêreld geprys word of hulleself vryspreek nie, aangesien daar in die hemel ʼn heeltemal ander ondersoek vir hulle oorbly.” (Postma, 2008:64) In sy kommentaar op Romeine 3:5 tref Calvyn onderskeid tussen die menslike outeur en die Heilige Gees as Outeur as hy verduidelik dat Paulus sê, "Ek spreek menslikerwys” sodat niemand sal dink dat hy (Paulus) die idee het dat God onregverdig is deur sy toorn oor die mens te bring nie, maar dat hy die opmerking maak met die verstandhouding dat hy homself in die plek (persoon) van die goddelose stel (vgl. Postma, 2008:86).

3. Die “diepe” betekenis of sin waarna Calvyn in sy Skrifverklaring gesoek het moet onderskei word van die “diepere” betekenis waarna die vorige kerkvaders van veral die middeleeue gesoek het en wat aanleiding gegee het tot die viervoudige sin in die teks naamlik, die letterlike, die allegoriese, die morele en die anagogiese betekenis (vgl. Grosheide, 1929:64).

4. In sy brief aan Grynaeus dui Calvyn sy doel met die uitleg van die boek Romeine eksplisiet aan: “Ek kon waarlik my nie daarvan weerhou het om op hierdie manier deur my arbeid iets te onderneem om die kerk van God te dien nie” en verder dat “ ... ek geoordeel het dat hierdie werk nie sonder nut sal wees nie en dat geen ander oorweging my ooit daartoe sou gelei het om dit te onderneem nie behalwe die openbare heil van die kerk.” (Postma, 2008:26-28) In sy artikel oor die betekenis van Calvyn se hermeneutiek vir ons tyd, wys Floor daarop dat in aansluiting met Calvyn se skrywe aan Grynaeus, die eksegeet as leraar dus altyd gerig moet wees op die praktyk van die geloofslewe en wel sodanig dat die gelowige gehelp word as lidmaat van die kerk (Floor, 1970:12). Hierdie ideaal het daartoe

gelei dat die kerkregering en die eneefseGeneefse gemeenskap volgens Bybelse beginsels regeer is (vgl. d’Assonville, 1992:119).

Hierdie doelstelling van Calvyn, naamlik dat sy “eksegese tot die openbare heil van die kerk sal lei” en dat “die eksegese gerig moet wees op die praktyk van die geloofslewe en dat die gelowige gehelp moet word as lidmaat van die kerk”, het die volgende praktiese implikasies vir die Geneefse gemeenskap van Calvyn ingehou: enige iemand kon gedagvaar word om rekenskap oor sy geloof te gee. Kerkbywoning was verpligtend. Daar was onder andere wetgewing oor hoeveel disse by ʼn maaltyd voorgesit mag word en watter kleure geskik was vir klere. Verder was die volgende aktiwiteite verbied: om fees te vier, om te dans, onvanpaste of ongodsdienstige sang, standbeelde, relikke, kerkklokke, orrels, altaarkerse, die aanbieding en/of bywoning van toneelopvoerings, die dra van grimering, juwele of kant of verleidelike kleredrag. Voorts is buitensporige onthale, vloek, kaartspel, dobbel, jag, dronkenskap, om sonder respek oor jou meerderes te praat en om immorele en/of ongodsdienstige boeke te lees verbied. Almal was verplig om hulle kinders na Ou Testamentiese figure te vernoem en ʼn vader wat sy seun “Claude” genoem het, het vier dae in die tronk deurgebring; so ook ʼn vrou wie se hare té hoog op haar kop gestileer was. Die konsistorie het ʼn kind onthoof wat sy ouer geklap het, en ʼn vrou wat buite die eg swanger was, verdrink. In onderskeidelike insidente is Calvyn se stiefseun en skoonseun tereggestel nadat hulle owerspel gepleeg het (vgl. Manchester, 1996:190-193).

Hierdie ekstreme voorskrifte deur die kerk, wat waarskynlik in alle opregtheid en goedertrou op die eksegese van die Skrif gefundeer is, is vir die navorser weereens ʼn aanduiding van die implikasies van die verskillende uitlegte en verstaan van die Skrif en die uiteindelike gevolge wat dit vir die kerk en die praktiese leefwyse van die gelowiges inhou.

5. In die gees van die Hervorming het Calvyn geargumenteer dat die doel of scopus van die Skrif Christus is (vgl. Diesel, 1956:27). Die doel van die eksegeet was dus om kennis oor Christus uit die Skrif te verkry en om Christus as lewensdoel en as model van die christelike leefwyse voor te hou. Die Skrif moet dus gelees en verklaar word met die oog daarop om Christus daarin te vind en dan nie net met betrekking tot sy verlossingswerk nie, maar met die geheel van sy wese en werk (vgl. Jordaan, 2009:19; Fick, 2009:10). Dit was vir Calvyn belangrik dat die gelowige gehelp word as lidmaat van die kerk (vgl. Fick, 1970:12). In sy vertaling van Calvyn se kommentaar op Romeine is Postma van mening dat die inhoudelike samehang, die tersaaklikheid en die aktualiteit van die brief, vir Calvyn die lewende Christus is ( Postma, 2008:15).

6. Waarskynlik in die lig van die Hervorming, die vervolging en die polemiek van die tyd, het al hoe meer mense Calvyn om sy mening oor teologiese vraagstukke en die betekenis van

Skrifgedeeltes begin vra. Die feit dat hy hul vrae uit die Skrif wou beantwoord en veral ook sy apologetiek teen die Roomse Kerk en die Anabaptiste uit die Skrif wou motiveer, het hom tot intensiewe Bybelstudie genoodsaak. Dit het hom in ʼn bekwame teoloog laat ontwikkel (vgl. Fick, 2009:14). In sy kommentaar op Romeine verwys, kritiseer en weerlê Calvyn ses maal die Rooms-Katolieke Kerk (Rom.8:9; Rom.10:5; Rom.10:17; Rom.12:1; Rom.15:16; Rom.16:16) en een maal die Anabaptiste (Rom.1:9) (Vgl. Postma, 2008:194,256, 265, 298, 349, 362).

7. ʼn Verdere doel van Calvyn se eksegese kan gevind word in die innige samehang tussen sy eksegese en die dogmatiek (vgl. Floor, 1970:13). Van Genderen (1965:228) het tereg opgemerk dat ons die dogmatikus Calvyn in sy kommentare kan ontmoet en die eksegeet Calvyn in sy Institusie. Die dogma en eksegese staan by Calvyn in ʼn verhouding van wederkerigheid. Aan die eenkant het Calvyn geen dogma erken wat nie in die Skrif gegrond is nie, maar hy kon ook nie Skrifverklarings wat in stryd was met die dogma van die kerk as korrek aanvaar nie. Alle leerstellings moes eers aan die Skrif getoets word en is dus nie kritiekloos aanvaar nie. Andersyds was die dogma juis die toetssteen vir sy eksegese.

In die bestudering en ontleding van die keuses wat Calvyn gemaak het tussen die verskillende Skrifverklarings wat aangebied is, kan daar besin word oor die moontlike rol wat die doel van sy eksegese gespeel het.

2.4 Hermeneutiese beginsels