• No results found

HOOFSTUK 2: ’N BESKRYWING VAN CALVYN SE HERMENEUTIEK –’N OORSIG

2.4 Hermeneutiese beginsels

Voordat daar oorgegaan kan word na die bespreking van Calvyn se hermeneutiese beginsels en eksegetiese reëls, is dit nodig dat die navorser verduidelik watter betekenis daar aan asook die onderskeid wat daar tussen die begrippe hermeneutiese beginsels en eksegetiese reëls geheg en getref word.

Deist (1989:113) definieer hermeneutiese beginsels as die voorveronderstellende sleutel van die interpreteerder vir die uitleg van die teks – “an interpretive key presupposed by the

interpreter when interpreting an text.”

Silva (Kaiser & Silva, 1994:15) definieer hermeneutiek op ʼn eenvoudige wyse as die dissipline wat te doen het met die beginsels van interpretasie. Hy wys daarop dat sommige skrywers dit as die “wetenskap” van interpretasie beskou en ander dit eerder as die “kuns” van interpretasie sien. Hy wys voorts daarop dat wanneer skrywers na hermeneutiek verwys, hulle gewoonlik die interpretasie van die Bybel in gedagte het. Hierdie definisie is volgens die navorser se mening te vaag en omvangryk. Dit is ook nie die doel van hierdie studie om te besin of dit ʼn wetenskap

of ʼn kuns is nie. Die navorser ondersteun eerder Deist (1989:113) en Froelich (1984:37) se definisies dat die hermeneutiek te doen het met die voorveronderstellende beginsels wat gebruik word vir die daarstelling van die eksegetiese reëls vir die Skrifverklaring. Oor die vraag of dit ʼn wetenskap of kuns is, is dit die mening van die navorser dat dit beide is: ʼn wetenskap in die sin dat daar van literêr-wetenskaplike metodes gebruik gemaak word en ʼn kuns in die sin dat daar gawes ter sprake is, met besondere verwysing na die gawe van die Heilige Gees.

Waar Deist se definisie hoofsaaklik op hermeneutiese beginsels fokus, maak Holder (2006:14) in sy studie oor Calvyn se hermeneuse en sy interpretasie van die Skrif, gebruik van die onderskeid wat Froelich (1984:37) tussen hermeneutiek en die reëls vir eksegese tref. Kerkvaders se hermeneutiek (afgelei van die Griekse woord hermeneuen, om te verduidelik, te interpreteer) is gemoeid met die ontwikkeling van die beginsels en reëls vir die regte verstaan van die Bybel in die vroeër christelike kerk. Die beginsels reflekteer die teologiese voorveronderstellings waarbinne die Bybelse geskrifte deur verskillende groepe en indiwidue op verskillende tye geïnterpreteer is. Die eksegetiese reëls op hul beurt, reflekteer weer die metodes wat gebruik is en waarvolgens die taal (vertalings en grammatika) en inhoud van die Bybel ontleed en geanaliseer is met die oog daarop om insig in God se oikonomia te verkry. Die reëls was aanvanklik oorgeneem vanuit die literêre gemeenskappe van die omliggende wêrelddele, maar mettertyd is dit ook uit ʼn bepaalde eksegetiese en hermeneutiese tradisie oorgeneem, byvoorbeeld die Aleksandrynse en Antiocheense skole. Dit is dan in ʼn nuwe skeppende paradigma van literêre analise omskep. Die navorser waardeer Froelich se verwysing na die “kerkvaders se hermeneutiek” omdat die definisie verskil van die van die sogenaamde Nuwere Hermeneutiek wat bykans die hele teologie wil insluk onder “Hermeneutiek” as die hele proses van verstaan van die Skrif (vgl. Coetzee et al., 1980:12).

Coetzee et al. (1980:12) definieer hermeneutiek as die “wetenskaplike dissipline wat beginsels en reëls vir die praktiese eksegese teoreties ondersoek, toets en vasstel”. Volgens hulle moet die hermeneutiek stelselmatig die beginsels en metodes van Skrifverklaring bestudeer en die basiese reëls daarvoor neerlê. ʼn Beginsel kan as ʼn fundamentele waarheid of wet omskryf word wat as die basis vir beredenering of aksie dien. Volgens die navorser se mening is dit dieselfde as die voorveronderstelling waarna Deist en Froelich in hul definisies verwys.

In aansluiting by Froehlich se stelling dat die hermeneutiese beginsels die teoretiese raamwerk bepaal waarbinne verskillende groepe of indiwidue die Skrif interpreteer het, wys Coetzee et al. (1980:13) dat wat ʼn mens van ʼn bron dink, bepaal hoe jy met die bron omgaan. Geen eksegeet is onbevooroordeeld nie. ʼn Mens se Skrifbeskouing bepaal dus ten diepste ook jou Skrifverklaring.

Alhoewel die begrippe “hermeneutiese beginsels” en “eksegese” vir Calvyn vreemd sou gewees het, en hy volgens Floor nie ʼn uitgewerkte hermeneutiek nagelaat het nie, kan ons wel uit sy werke duidelike hermeneutiese beginsels en reëls opspoor (vgl. Floor, 1980:13). So het Kraus (1968:329-341) agt besondere eienskappe wat Calvyn se eksegese gekenmerk het, onderskei. (vgl. 2.6 par. 3)

2.4.2 Agtergrond

In die besinning oor Calvyn se hermeneutiese beginsels en eksegetiese reëls is dit nodig dat in gedagte gehou word dat sy Skrifuitleg nie geïsoleerd plaasgevind het nie, maar wel vooraf gegaan is deur ʼn geskiedenis van Skrifuitleg en interpretasie. Vanweë sy akademiese agtergrond het Calvyn waarskynlik blootstelling hieraan gehad.

Alreeds na die Babiloniese ballingskap is daar van Targums gebruik gemaak in die uitleg en interpretasie van die Geskrifte. Met die aanbreek van die christelike era het die rabbis in hul uitlegte en interpretasie onderskei tussen die pesaf (duidelike, eenvoudige, letterlike betekenis), die remaz (die diepere betekenis van die Wet en Halkah), die derush (die allegoriese betekenis) en die sôd (die mistieke betekenis). ʼn Rabbynse tydgenoot van Jesus, Hillel, het sewe reëls vir die uitleg van die Skrif geformuleer (vgl. Kaiser, 1994:213).

Die Nuwe Testamentiese skrywers het deur die verwysings na en aanhalings uit die Ou Testament, Skrifuitleg en interpretasie beoefen. Ook in die Nuwe Testament verwys Paulus byvoorbeeld in sy skrywe aan die gemeente van Efese in Efesiërs 5:21-33 na die voorskrifte aan die kerk wat hy aan die gemeente in Kolosense 3:18-19 en 1 Petrus 3:1-7 voorgehou het.

Clemens van Rome, in sy brief aan die gemeente in Korinte, interpreteer Paulus se skrywes aan hulle (vgl. Bruce, 1977:22). Hy word as die eerste groot leermeester van die Aleksandrynse skool beskou en het, onder die invloed van Philo, van die allegoriese Skrifuitleg gebruik gemaak.

In teenstelling met die allegoriese Skrifuitleg is daar in die Antiogieense Skool gefokus op en daarna gestreef om die historiese en letterlike betekenis van die teks te verstaan. Theodore van Mopsuestia en Chrysostomus was van die voorgangers in hierdie uitlegmetode. Ander voorstanders en beoefenaars van hierdie uitlegmetode was Hilarius, Ambriosius, Hiëronimus en Augustinus (vgl. Bruce, 1979:26). Calvyn se hermeneutiek het teruggegryp op die eksegetiese benadering van die Antiogeense Skool. Augustinus was daarvoor bekend dat hy, alhoewel hy die Antiogeense model onderskryf het, ook ʼn viervoudige betekenis aan die teks gevoeg het: die letterlike, allegoriese, tipologiese en anagogiese. In die Middeleeue is hierdie viervoudige betekenis verabsoluteer deurdat die soeke daarna die hoofsaak van eksegese geword het.

Alhoewel Calvyn hoë agting en waardering vir Augustinus se teologie gehad het, het hy egter die allegoriese aspek van sy uitlegsmetode verwerp.

Gedurende die Middeleeue is daar van die standpunt uitgegaan dat alle Skrifuitleg aan die hand van die kerk se tradisie en dogma moet geskied. Die probleem hiermee was egter dat die kerk se tradisie en dogma vir die Rooms-Katolisisme ʼn gesagsbron naas die Skrif geword het. Hierteenoor het Calvyn ʼn sola Scriptua-gesagsbeskouing gehad. Hoewel hy ook ʼn hoë premie op tradisie en dogma geplaas het, was tradisie vir hom niks meer nie as hoe die Skrif deur die Kerkvaders verklaar is, en dogma niks anders nie as ʼn omskrywing van die Skrifopenbaring nie.

Die ongeldige hantering van kerlike tradisie en dogma deur die Rooms-Katolisisme, asook die nadraai van die Renaissance waartydens daar klem op rasionalisme geplaas is, was die groot stimuli wat tot die Hervorming gelei het. Teen die agtergrond van ʼn meer grammaties-historiese benadering soos dié van die ou Antiogeense Skool het geleerdes soos Reuchlin en Erasmus die belangrikheid van die kennis van die grammatika van Hebreeus en Grieks beklemtoon vir die verstaan en uitleg van die Skrif.

Al hierdie ontwikkelinge het uiteindelik gelei tot die grammaties-historiese Skrifuitleg waarvan Calvyn gebruik gemaak het (vgl. Kaiser & Silva, 1994:211-225; Bruce, 1979:33; Kraus, 1986).

Uit die literatuurstudie kon enkele hermeneutiese beginsels wat deur Calvyn nagevolg is, geïdentifiseer word. Dit is egter nie die doel van hierdie studie om elkeen van hierdie beginsels en eksegetiese metodes ten volle te ondersoek en te analiseer nie en daarom sal dit op ʼn bondige wyse benoem en bespreek word. Aan die hand van die voorafgaande bespreking gaan die navorser van die standpunt uit dat die hermeneutiese beginsels die fundamentele beginsels en voorveronderstellings is van waaruit die eksegeet die interpretasie van die Skrif benader en dat die eksegetiese reëls die metodologiese werkswyse is waarvolgens die proses van eksegese plaasvind.

2.5 Hermeneutiese beginsels by Calvyn