• No results found

HOOFSTUK 2: ’N BESKRYWING VAN CALVYN SE HERMENEUTIEK –’N OORSIG

2.2 Moontlike faktore wat ʼn rol kon gespeel het in die vorming van Calvyn

2.2.6 Die kerkvaders

Calvyn het groot respek vir die kerkvaders gehad. Calvyn se werke is letterlik met verwysings na die kerkvaders deurweek (vgl. Torrance, 2005:112; Han, 2008:8). Die frekwensie waarmee hy hulle aanhaal en na hulle verwys word slegs deur die frekwensie van sy Skrifverwysing oorheers. Getrou aan die humanistiese beginsel van deeglike studie van die eerste bronne, het hy homself deeglik onderlê in die werke van die kerkvaders. Alhoewel daar reeds heelwat navorsing gedoen is oor Calvyn se kennis van en gebruik van die kerkvaders se geskrifte en kommentare, is daar nog heelwat ruimte vir verdere navorsing oor hierdie onderwerp (vgl. Van Oort, 1997:661; Backus, 2009:128-130).

Aangesien hierdie navorsing Calvyn se gebruik en hantering van die kerkvaders se eksegese insluit, sal daar in hierdie besondere afdeling wat handel oor hul invloed op Calvyn, ter verwysing aandag gegee word aan die navorsing wat daar oor hierdie onderwerp verskyn het in Van Oort se artikel “John Calvin and the Church Fathers” (Van Oort, 1997:661-700):

Calvyn se ruim gebruikmaking van die werk van Augustinus (van die nagenoeg 800 aanhalings en verwysings na die kerkvaders in sy werke, is ongeveer 400 daarvan verwysings na Augustinus) is reeds wetenskaplik bestudeer en beskryf deur L. Smits (1956 -1958) en J.M.J.Lange van Ravenswaaij (1990).

ʼn Doktorale studie oor Calvyn se kennis oor en beoordeling van al die kerkvaders is in 1965 deur R.J.Mooi gepubliseer. By die publikasie van hierdie studie het die werk van W.N. Todd (2008) ook die lig gesien.

Die eerste tematiese navorsing vind in 1974 plaas: Calvyn se gebruik van Chrysostomus deur J.R.Walchenbach (1974) en A.Ganoczy & K.Müller se werk “Calvins handschriftliche

Annotationen zu Chrysostomus.” (1974)

In 1981 sien twee publikasies die lig: ʼn Oorsig oor Calvyn se gebruik van die kerkvaders en die middeleeuse voorgangers (Lane, 1981:149-205), asook ʼn deeglike studie oor Calvyn se gebruik van Bernard van Clairvoux (Raitt,1981:98-121). In 2009 word dit opgevolg deur die bydrae van Irena Backus in The Calvin Handbook (ed. Selderhuis, 2009:125-136).

Al hierdie studies fokus hoofsaaklik op watter kerkvaders Calvyn aangehaal en na verwys het, hoe hy hulle beoordeel het, op watter wyse hy van hulle gebruik gemaak het en hoe hul teologie die formulering van sy eie teologie beïnvloed het. Die gebruik van en die verwysings na hulle was dus hoofsaaklik gerig op die formulering van sy teologie, vir die skrywe van sy Institusie, historiese doeleindes, polemiek, retoriek, filosofie en eksegese (vgl. Han, 2008:76).

Die navorsings dui daarop dat die doel van Calvyn se aanhalings dikwels apologeties-teologies van aard was (vgl. Van Oort, 1997:666). In sy stryd teen die Rooms-Katolieke kerk maak Calvyn veral van Augustinus se werke gebruik omdat hy (Augustinus) ook deur die Kerk as teologiese kerkvader erken is en sy werke hoog aangeskrewe was. Die kerkvaders se werke word ook aangehaal in Calvyn se polemiek met die Lutherane, Anabaptiste, in die vraagstuk oor die Drie- Eenheid, die doop en die libertinisme.

Tydens die Lausanne Afvaardiging van 1536, is die Protestante daarvan beskuldig dat hulle nie die “heilige doktore van die antieke tye eer nie”. Dit het Calvyn vurig laat reageer. Hy het in sy diskoers, wat hy impromptu gelewer het en waartydens hy Bybelse verwysings en verwysings na die Kerkvaders suiwer op sy geheue beroep het, gesê: “Ons doen moeite om die Kerkvaders te bestudeer en maak gebruik van hul leringe waar dit van toepassing is en soos die geleenthede hul voordoen.” Hy het egter onmiddellik bygevoeg dat die vaders nie dieselfde gesag dra as die Woord van God nie en het ter ondersteuning verskeie Skrifgedeeltes aangehaal (vgl. Van Oort, 1997:672). Hierdie insident asook die frekwensie waarmee Calvyn die kerkvaders aanhaal, gee 'n aanduiding van die omvangrykheid en intieme kennis van die kerkvaders waaroor Calvyn beskik het (vgl. Van Oort, 1997:678-679), in die besonder dan ook oor Augustinus wat deur die eeue heen as teoloog par exellence geag is.

Benewens Augustinus, is die ander Kerkvaders waarna hy verwys en wat hy aanhaal, Cyprianus, Lactantius, Hiëronimus, Ambrosius, Acacius van Amida, Tremithas in Ciprus, Epiphanius, Eusebius, Origenes, Gregorius die Grote, Tertullianus, Cassiodorus en Chrysostomus (vgl. Van Oort, 1997: 878-879, Postma, 2008:368). Tog volg Calvyn die kerkvaders nie klakkeloos na nie. Inteendeel, in sy verwysings na en beoordeling van hulle is hy krities. In sy kommentare oor Jesaja en Genesis byvoorbeeld, aanvaar hy die argeologiese en geologiese inligting wat iHiëronimus voorsien, maar keur sy allegoriese interpretasie ten sterkste af. Alhoewel hy dus soms van die Kerkvaders verskil het oor die wyses waarop hulle hul eksegese toegepas het en die allegoriese eksegese van onder andere Augustinus verwerp het, het Calvyn in die breë met hul leringe en die dogma saamgestem.

Origens het Calvyn die werke van die kerkvaders vir verskillende doeleindes gebruik. Hy wend hom na Augustinus grootliks vir ʼn dogma-teologiese klankbord, terwyl hy Chrysostomus hoofsaaklik vir die metodiek in die uitleg van die Skrif raadpleeg. Dit blyk voorts dat hy die Kerkvaders vir die skepping van sy Spätwerk gelees en gebruik het. Vir Calvyn, net soos vir die ander hervormers, het die Kerkvaders se werke slegs ondersteunende en aanvullende gesag gebied. Die Skrif is ten alle tye as die hoogste gesag aanvaar.

Uit bogenoemde bespreking word bevestig dat Calvyn onderlê was in die geskiedenis en tradisies van die kerk en ’n deeglike kennis gehad het van die werke van die Kerkvaders.

Hierdie kennis het ʼn daadwerklike invloed op sy denke en sy menswees gehad. Dit het hom egter nie daarvan weerhou om krities met die tradisies, die kerk en die werke van die kerkvaders om te gaan nie.

Die publikasies en navorsing waarna verwys is, het hoofsaaklik gefokus op die invloed van die kerkvaders op Calvyn, watter kerkvaders hy in sy werke vermeld het, hoe hy hulle beoordeel het en hoeveel keer hy in sy werke na hulle verwys het. Die doel van hierdie navorsing fokus op sy hantering van die meervoudige verklarings in onder andere die kerkvaders se Skrifuitleg.