• No results found

HOOFSTUK 2: ’N BESKRYWING VAN CALVYN SE HERMENEUTIEK –’N OORSIG

2.5 Hermeneutiese beginsels by Calvyn

2.5.10 Hermeneutiese sirkel

Soos reeds hierbo vermeld is, het Calvyn nie beoog om ʼn volledig uitgewerkte, algemene teorie oor Skrifverklaring en -interpretasie te skryf nie. Nietemin is dit duidelik dat Calvyn sy eksegese vanuit baie besliste teoretiese voorveronderstellings en beginsels beoefen het. Hierdie onomskrewe voorveronderstellings en beginsels, soos hierbo geformuleer is, kan nagespeur en afgelei word uit Calvyn se geskrifte: uit sy kommentaar op die klassieke werk van Seneca, uit sy

Institusie en uit sy kommentare op die Skrif. Calvyn het hermeneutici van later tye, soos

Schleiermacher, voorafgegaan met sy insigte in en kennis van die uitlegkunde en interpretasie. In die besonder was sy insig dat die doel van interpretasie is om die bedoeling van die skrywer/Skrywer te ken, sy eksegetiese tydgenote eeue vooruit (vgl. Holder, 2006:68).

In sy bespreking van die voor-verstaan(Vorverständnis) by die verklaring van ʼn teks, wys Stanton (1979:66-67) daarop dat, benewens Schleiermacher, Barth en veral Bultmann daarop gewys het dat enige interpretasie geskied binne die verwysingsraamwerk van die interpreteerder of eksegeet . Die eksegetiese proses geskied dus binne ʼn reeds bestaande kennis- en agtergrondsraamwerk. Ter stawing van hierdie stelling, haal Stanton Bultmann se verduideliking aan dat mens nie ekonomiese geskiedenis kan verstaan indien daar nie alreeds ʼn kennis oor die ekonomie en die gemeenskap bestaan nie (vgl. Stanton, 1997:67). Die interpretasieproses geskied dus aan die hand van ʼn hermeneutiese sirkel waarvan hierdie voorkennis die eerste sirkel vorm. Calvyn het reeds van hierdie sogenaamde hermeneutiese sirkel gebruik gemaak, en dit het hom ʼn onwetende voorloper gemaak .

Aan die hand van Deist se definisie (1989:113), kan die hermeneutiese sirkel beskryf word as (1) die sirkulêre proses waarvolgens literatuur geïnterpreteer word deurdat gedeeltes van ʼn teks aan die hand van die geheel geïnterpreteer word en die geheel aan die hand van die dele; (2) die dialoog wat plaasvind tussen die persoon se aanvanklike verstaan van ʼn litêre werk en die begrip wat ná die lees daarvan ontwikkel; (3) die dialoog tussen die persoon se eie verwysingsraamwerk en die inhoud van ʼn teks (ʼn dialoog waarin die teks die geldigheid van die verwysingsraamwerk óf bevraagteken óf bevestig).

Die volgende vyf hermeneutiese sirkels word deur Holder (2006:70) onderskei:

(i) Die ortodokse Christelike dogma en die Skrif

(ii) Die besondere Skrifgedeelte en die hele Bybelboek

(iii) Die besondere Bybelboek en die corpus van die skrywer daarvan

(v) Die boodskap van die besondere gedeelte en die geloofslewe van die Geneefse gemeenskap en uiteindelik die wêreld

Sirkels twee tot vier is net verskillende vlakke binne ’n gedeelte of geheel van die sirkel. Die verskeie sirkels verryk mekaar, vul mekaar aan en help om die betekenis van die betrokke Skrifgedeelte te verstaan.

 Christelike dogma na die Skrif en terug

Calvyn noem sy Institusie die sleutel vir die deur wat vir al die kinders van God toegang tot die korrekte verstaan van die Skrif verleen. In sy Opera Selecta 3.8.5-6 , soos aangehaal deur Holder (2006:71), skryf Calvyn dat die christen die Skrif moet lees nadat hy alreeds in die Christelike dogma onderrig ontvang het. Dogma wat vanuit die Skrif geformuleer is, is die gids vir verdere studie van die Skrif. Vir Calvyn is die dogma en Skrif in ʼn voortdurende wisselwerking en vind daar in die proses wedersydse verheldering plaas – ʼn hermeneutiese sirkel wat vir hom natuurlik en noodsaaklik is.

 Die tweede tot vierde sirkels: van die deel na die geheel en terug

Calvyn het ook inherente hermeneutiese sirkels in die Skrif self uitgelig: die gedeelte van ʼn boek tot die geheel daarvan; die verhouding van die boek tot die corpus van die skrywer; en die plasing van die besondere gedeelte binne die konteks van die hele Skrif (vgl. Holder, 2006:75).

Calvyn het geglo dat elke boek ʼn samehangende eenheid van uitdrukking van die skrywer/Skrywer is. Calvyn het by die aanvang van elk van sy kommentare ʼn argumentum geskryf waarin hy die omstandighede tydens die skryf van die boek gerekonstrueer het: beide die omstandighede wat aanleiding gegee het tot die skrywe van die boek en die sin daarvan vir die besondere tyd. Hy het ook aandag gegee aan die aard van die oorspronklike ontvangers van die boodskap. Die ontvanger van die boodskap en die konteks waarin dit geskryf en ontvang is, moes vir die verstaan van ʼn teks in berekening gebring word.

In ʼn ander faset van hierdie hermeneutiese sirkel, gebruik Calvyn die boek as geheel en gedeeltes daarvan om ʼn besondere eenheid binne dieselfde boek te verduidelik. In sy kommentaar op Romeine 3:18, verwys hy lesers byvoorbeeld terug na die argument wat hy by sy kommentaar op Romeine 1:26 gebruik het (Postma, 2008:92).

Hy verbreed hierdie sirkel (van gedeelte na geheel in ʼn boek) na die volgende vlak, naamlik vanaf die deel/geheel na die corpus van die skrywer, byvoorbeeld na al Paulus se geskrifte. Enkele voorbeelde hiervan is waar Calvyn 1 Tessalonisense 4:7 aanhaal om Romeine 1:7 te

verduidelik; Efesiërs 4:13 om Romeine 1:12 te verduidelik, en 1 Tessalonisense 5:3 om Romeine 1:17 te verduidelik (Holder, 2006:78-79).

Voordat die volgende hermeneutiese sirkel bespreek word, is dit belangrik dat daar aandag gegee word aan Calvyn se beskouing oor die skrywer/Skrywer van die Skrif. Vir Calvyn is daar ʼn tweeledige aard: die Heilige Gees is die Inspireerder en Skrywer van die Bybel en in die proses maak hy van mense gebruik – die skrywers. Die Heilige Gees is die Skrywer van die Bybel in sy geheel - soms kan die indruk bestaan dat Calvyn na ʼn meganiese inspirasie verwys, maar hy gee tog duidelik aandag aan die beginsels dat die Heilige Gees verskillende mense binne verskillende omstandighede gebruik. Die Inspireerder is die een Skrywer, die Heilige Gees, met een boodskap en daarom is dit moontlik en nodig om verskillende gedeeltes van die Skrif in die lig en konteks van die Skrif as ʼn geheel te sien en te verstaan. Makliker gedeeltes moet en kan gebruik word om moeiliker gedeeltes te verduidelik en te verstaan. As voorbeeld hiervan kan verwys word na hoe Calvyn die Evangelie van Johannes gebruik om Romeine 1:4 te verduidelik (vgl. Postma, 2008:410) en hoe hy Hebreërs 13:15 gebruik om inhoud aan Romeine 1:5 te gee (vgl. Postma, 2008:45).

Hierdie laaste sirkel, gedeelte/geheel van ʼn boek na die Skrif as geheel, dui op Calvyn se beskouing dat die Skrif één boodskap het, naamlik die Drie-Enige God en dat daar een toepassing/doel is naamlik die opbouing van die gelowiges en die Kerk en om Christus daarin te vind. In sy kommentaar op Romeine alleen is daar ongeveer twee honderd en sewe Skrifverwysings wat beide die Ou en Nuwe Testament insluit.

 Die laaste hermeneutiese sirkel

Calvyn maak dit duidelik dat sy kommentare daarop gerig is om die getuienis van die Skrif in die lewens van die christen en die christelike gemeenskap neerslag te laat vind en dat dit in hul alledaagse lewenswandel uitgeleef sal word (vgl. Holder, 2006:80).

Die laaste sirkel is dus gerig op die konteks van die oorspronklike lesers en ook op die konteks van die huidige lesers. By hierdie saak het die eksegeet nie meer met uitleg te doen nie, maar spesifiek met die interpretasie.

In sy kommentaar op Romeine 11:11 bespreek Calvyn die interpretasie van die teks binne die konteks van lesers van Paulus se brief en sê hy voorts wat die toepassing daarvan in sy lesers se konteks aanbetref, “Verder is daar geen rede waarom lesers hulle grootliks hoef moeg te maak met die toepassing van die getuienis nie. Paulus dring immers nie aan op die eintlike betekenis van die woord nie, maar sinspeel slegs op ʼn algemene en welbekende gewoonte” (Postma, 2008:278-279). Aan die hand hiervan is Holder van mening dat die konteks van

Calvyn se kommentaar, met ander woorde die lesers tot wie hy dit gerig het, die plaaslike Geneefse gemeente is (vgl. Holder, 2006:80-81).

ʼn Tematiese en funksionele analise van Calvyn se laaste uitgawe van sy Institusie deur Han ( 2008:76) dui daarop dat 10% van die Augustiniese aanhalings apologeties van aard is. In die lig daarvan dat sy skrywes dikwels daarop gerig was om die Rooms-Katolieke en Anabaptiste se dwaalleringe te weerlê, is die navorser van mening dat Calvyn se skrywes nie net tot die plaaslike gemeenskap van Geneva gerig was nie, maar tot die kerk in sy geheel (en dalk onwetend tot die kerk deur die eeue heen) asook tot sy geleerde tydgenote – hy verwys telkens in sy kommentaar op Romeine na die skolastici.

Die tweede saak is die van die konteks van die interpreterende gemeenskap. Vir Calvyn is dit noodsaaklik dat interpretasie in alle nederigheid moet geskied en in kongenialiteit met die Heilige Gees (vgl. Postma, 2008:29). Hy ag die communis sensus van die interpreterende gemeenskap noodsaaklik ten einde ʼn uiteindelike beslissing oor die betekenis van die Skrif te maak. Dit is deur hierdie wisselwerking van gelowiges se gedagtes, in soverre hul genadiglik verlig is deur die Heilige Gees, dat die Kerk van Christus versterk en opgebou word.

In sy bepreking van die hermeneutiese sirkel, wys Stanton daarop dat die sirkel nie noodwendig “sleg” hoef te wees nie, in die sin dat dit beperkend en geslote is nie, maar dat ʼn meer geskikte analoog vir die sirkel ʼn dialoog sal wees waar die geheel en onderdele in der waarheid mekaar bevraagteken en op so ʼn wyse groter insig en begrip skep (vgl. Stanton, 1979:68).

Die moontlike impak van die hermeneutiese sirkels in Calvyn se eksegetiese keuses sal waarskynlik aan die lig kom in die bestudering, identifisering en toepassing van sy dogmatiek en kerklik-tradisionele agtergrond, die wyse waarop hy van Skrifverwysings gebruik maak en die toepassing daarvan binne die konteks van sy lesers.