• No results found

HOOFSTUK 3: UITDAGINGS VAN LIGGAAMLIKE OPVOEDING IN SKOLE

3.7 Ondersteunende Verklarings

Die volgende bronne en beleidsdokumente kan Ministers en senior amptenare verantwoordelik vir Liggaamlike Opvoeding en sport in skole ondersteun om ʼn sterk saak uit te maak vir die aanbied van die vak.

UNESCO: “The International Charter of Physical Education and Sport”

ʼn Basiese reg van alle mense is dat elke individu sy of haar eie fisieke, intellektuele en morele kragte moet kan ondersteun en bevorder en dus die reg van toegang moet hê tot kwaliteit Liggaamlike Opvoeding en sport, en dat die voorsiening daarvan vir alle mense gewaarborg moet word (UNESCO, 1978; Doll-Tepper, soos aangehaal deur ICSSPE,1999:124).

Artikel 1: Beoefening van Liggaamlike Opvoeding en sport is ʼn fundamentele reg vir almal.

Artikel 2: Liggaamlike Opvoeding en sport is ʼn noodsaaklike komponent van lewenslange opvoeding.

Artikel 3: Liggaamlike Opvoeding en sportprogramme moet voldoen aan persoonlike en sosiale behoeftes.

Artikel 4: Onderrig, afrigting sowel as die administrasie van Liggaamlike Opvoeding en sport moet voldoen aan persoonlike en sosiale behoeftes. Artikel 5: Voldoende fasiliteite en toerusting is noodsaaklik vir Liggaamlike

Opvoeding en sport.

Artikel 6: Evaluering, assessering en navorsing is ʼn onlosmaaklike deel van die bevordering van Liggaamlike Opvoeding en sport.

Artikel 7: Die beskerming van die morele en etiese waardes in Liggaamlike Opvoeding en sport is van uiterste belang vir alle betrokkenes.

Artikel 8: Inligting en bronne moet gedokumenteer word ter bevordering van Liggaamlike Opvoeding en sport.

Artikel 9: Die massamedia moet ingespan word om ʼn positiewe invloed op Liggaamlike Opvoeding en sport uit te oefen.

Artikel 10: Belangrike nasionale instellings speel ʼn belangrike rol in Liggaamlike Opvoeding en sport.

Artikel 11: Internasionale sameweking is ʼn voorvereiste vir universele en gebalanseerde bevordering van Liggaamlike Opvoeding en sport.

“World Forum on Physical Activity and Sport”, Québec 1995:

Die aanmoediging van kinders en jongmense gedurende adolessensie om aan fisieke aktiwiteite deel te neem, help hulle om gesonde gewoontes aan te leer en risikogedrag soos dwelmgebruik en rook te voorkom. Die verbetering van kinders en jongmense se selfbeeld en die voorkoming van verveeldheid deur deelname aan fisieke aktiwiteit kan baie moontlik klaskamerdeelname en prestasie verbeter (Doll-Tepper, soos aangehaal deur ICSSPE,1999:124).

“World Health Organization”:

Die gestelde uitkomste van Liggaamlike Opvoeding in skole is (Doll-Tepper soos aangehaal deur ICSSPE,1999:125):

Om die grondslag te lê vir ʼn lewenslange aktiewe lewenstyl;

Die bevordering en ontwikkeling van gesondheid en welstand van kinders en jongmense;

Om genot, pret en sosiale interaksie te bevorder;

Om toekomstige gesondheidsprobleme te verminder en te voorkom.

Die oorgrote meerderheid skole in talle lande regoor die wêreld sukkel om hierdie gestelde uitkomste te bereik as gevolg van onvoldoende tydstoedeling asook ʼn ernstige tekort aan fasiliteite, apparaat en toerusting vir die aanbied van kwaliteit Liggaamlike Opvoeding (Doll-Tepper soos aangehaal deur ICSSPE,1999:125).

Die rede vir hierdie situasie is omdat die belangrikheid van Liggaamlike Opvoeding vir kinders en jongmense net eenvoudig geïgnoreer word. Beleidsmakers, onderwysers, ander professionele persone, ouers asook ander belangegroepe het onvoldoende of selfs geen kennis van die noodsaaklikheid asook gesondheidsvoordele van Liggaamlike

Opvoeding vir die toekomstige gesondheid en welstand van kinders en jongmense nie (Doll-Tepper, soos aangehaal deur ICSSPE,1999:125).

Skole moet:

Alle kinders en jongmense toelaat om aan ʼn gestruktureerde Liggaamlike Opvoeding-kurrikulum deel te neem en verskeie kere per week aan matige tot strawwe fisieke aktiwiteitsessies deel te neem; en

Buitekurrikulêre fisieke aktiwiteite in die gemeenskap in samewerking met ouers, gemeenskapsleiers, sport en sosiale organisasies aanbied.

Daar moet ook professionele ontwikkelings- en opleidingsgeleenthede aangebied word vir almal wat by Liggaamlike Opvoeding betrokke is en belang het. Die doel daarmee is om hul vermoë in Liggaamlike Opvoeding-programbeplanning, onderrig, motivering, leiding en ontwikkeling van selfvertroue by kinders en jongmense te verbreed (Doll-Tepper, soos aangehaal deur ICSSPE,1999:125).

ʼn “Aktiewe” skool is meer gesond, presteer beter en is ʼn baie beter plek om by te werk (WGO, soos aangehaal deur ICSSPE,1999).

“Global Vision for Physical Education” 1996 (Verklaring deur CAAPHERD & AAHHERD):

Alle kinders en jongmense in alle grade van alle skole regoor die wêreld het die reg en moet die geleentheid gegun word om volhoubaar aan strawwe fisieke aktiwiteit deel te neem. Skole moet op ʼn daaglikse basis kwaliteit Liggaamlike Opvoedings-programme aan kinders en jongmense voorsien.

“Commonwealth Heads of Government Meeting – Committee on Co-operation Through Sport and Physical Education”:

Liggaamlike Opvoeding behoort (Commonwealth Ministers of Education, soos aangehaal deur ICSSPE,1999):

ʼn verpligte komponent van alle onderwysersopleiding te wees; ʼn prioriteitsvak vir opleiding te wees;

ʼn prioriteit te wees vir finansiële toekennings vir aankoop van toerusting.

“3rd International Olympic Forum for Development” 1998, Malaysia:

Bevestig en versterk die noodsaaklikheid vir die internasionale ondersteuning en belegging in Liggaamlike Opvoeding en sport as gevolg van die kritieke rol wat sport en fisieke aktiwiteit in ontwikkeling vertolk.

“All Africa Pre-Games Scientific Congress” September 1999:

Tydens die vestiging van die “Supreme Council for Sport in Africa” (SCSA), is die volgende aksieplan en verklaring opgestel:

Liggaamlike Opvoeding moet erken word as die basis van die fisieke aktiwiteitsdeelname- kontinuum, en waar fisieke aktiwiteit voorkeur kry is die kanse baie positief dat kinders en jongmense sal volhou met fisieke aktiwiteit nadat hulle die skool verlaat het. Liggaamlike Opvoeding word beskou as die belangrikste aspek in die ontwikkeling van sport.

Die kongres het alle regerings en organisasies betrokke by onderwys aangemoedig om die swak situasie rondom Liggaamlike Opvoeding in skole reg te stel en die vak baie prominent en aktief in hul lande te bemark (Doll-Tepper, soos aangehaal deur ICSSPE,1999:125).

“3rd International Conference for Women and Sport (Association for Arab Women

and Sport)” October 1999:

Die volgende verklaring is aanvaar:

Arabiese meisies se Liggaamlike Opvoeding en fisieke aktiwiteit gaan gebuk onder negatiewe gesindhede omdat hierdie meisies voordeel trek uit Liggaamlike Opvoeding op skool. Liggaamlike Opvoeding, fisieke aktiwiteit en sport is hul basiese reg en vorm ʼn integrale deel van hul lewens en toekoms. As gevolg van onvoldoende menslike en materiële hulpbronne en kundigheid word hierdie meisies benadeel in Liggaamlike Opvoeding en sport en daarom is die volgende verklaring hier uitgereik:

Verbeter en verhoog die standaarde van Liggaamlike Opvoeding vir Arabiese meisies (Doll-Tepper, soos aangehaal deur ICSSPE,1999:126).

“National Children’s Agenda” Canada, 1999:

As ʼn nasie streef ons daarna om gesonde kinders te hê, emosioneel en fisiek, veilig en geborge, suksesvol in hul onderrig en leer, sosiaal betrokke en verantwoordelik.

3.8

Samevatting

Die wêreldwye ondersoek na die stand en status van Liggaamlike Opvoeding het dit baie duidelik gemaak dat dit ʼn groot uitdaging is om die probleem rondom die status en hulpbronne vir die vak op te los. Regerings en Onderwysdepartemente in talle lande van die wêreld sukkel om hul verpligtinge na te kom as gevolg van voortdurend krimpende begrotings en al hoe minder fondse beskikbaar om in al die behoeftes en versoeke te voorsien. Indien Liggaamlike Opvoeding nie volledig en voldoende ingesluit is as deel van die nasionale skoolkurrikulum nie, kan dit verreikende gevolge vir die land en sy bevolking inhou.

Liggaamlike Opvoeding kan bydra tot ʼn groot verskeidenheid gesondheids-, sosiale sowel as ekonomiese voordele vir lande en hul mense. Liggaamlike Opvoeding is ʼn groot belegging, veral op die terrein van gesondheid. Die Wêreldberaad oor Liggaamlike Opvoeding het ʼn ernstige beroep op die MINEPS III-vergadering gedoen om hierdie “Berlin Agenda” en “Action Plan” vir Liggaamlike Opvoeding te aanvaar.

Indien die wêreld saamwerk kan ons ʼn reuse verskil maak aan die toekoms van ons kosbaarste besittings, ons kinders. Die kwessie oor Liggaamlike Opvoeding is ʼn internasionale probleem en vereis optrede op internasionale, streeks- en nasionale vlak (Doll-Tepper, soos aangehaal deur ICSSPE,1999:126).

Soos reeds aangedui, is dit vir die navorser van groot belang om die uitkomste en aanbevelings van die Wêreldberaad deeglik in ag te neem in hierdie studie rakende die evaluering van die herimplementering van Liggaamlike Opvoeding in Suid-Afrikaanse skole. Voldoen die Liggaamlike Opvoeding-uitkoms van Lewensoriëntering in Suid-Afrika aan die Berlynse “Call for Action” soos opgestel by die Wêreldberaad waar Suid-Afrika ook verteenwoordig was? Die “Call for Action” is gerig aan die MINEPS III-vergadering om Liggaamlike Opvoeding as basiese reg van kinders en jongmense te implementeer. Voldoende tydstoedeling, toerusting, fasiliteite, befondsing en goed opgeleide onderwysers vir die aanbied van kwaliteit Liggaamlike Opvoeding moet voorsien word. Voorts moet erkenning gegee word aan die belangrike rol van Liggaamlike Opvoeding in gesondheidsbevordering en totale ontwikkeling van kinders en jongmense.

Die Verenigde Nasies (VN) het 2005 verklaar tot die jaar vir Liggaamlike Opvoeding en sport (Pühse & Gerber, 2005). Tydens haar openingstoespraak by die Nasionale Skole- Atletiek-Kampioenskapsbyeenkoms te Dal Josafat in 2005, het die toenmalige Minister van Onderwys, Naledi Pandor, aangekondig dat die Nasionale Onderwysdepartement ʼn ooreenkoms onderteken het met die Minister van Sport vir die koördinering en bestuur van skoolsport in alle openbare skole (Pandor, 2005). Die minister het verder aangedui dat sport vir almal is, ook vir gestremdes en meisies, en verder ook dat sport obesiteit onder kinders en jongmense kan voorkom. Voorts het sy verklaar dat dit die regering en Nasionale Departement van Onderwys se verantwoordelikheid is om voldoende fasiliteite, toerusting en goed opgeleide onderwysers te voorsien vir die suksesvolle implementering van skoolsport en Liggaamlike Opvoeding.

Hierdie toespraak van die Minister lyk op die oog af amper soos ʼn samevatting van die “Call for Action” van die Wêreldberaad. Het alles gerealiseer in Suid-Afrika?