• No results found

HOOFSTUK 2: LITERATUUROORSIG

2.6 Bedryf van Liggaamlike Opvoeding in skole in enkele

2.8.1 Ghana

Status van Liggaamlike Opvoeding

Liggaamlike Opvoeding in Ghana maak ʼn uiters belangrike deel uit van die skoolkurrikulum. Die Ghanese regering onderskryf die UNESCO-manifes wat handel oor Liggaamlike Opvoeding, wat onder andere aantoon dat elke kind en jongmens ʼn basiese reg het tot Liggaamlike Opvoeding, fisieke aktiwiteit en sport, wat onontbeerlik is vir die volle ontwikkeling elke mens se persoonlikheid (UNESCO, 1978). Die oorgrote meerderheid van die Ghanese publiek besef wat die fiksheids- en gesondheidswaarde van Liggaamlike Opvoeding is, maar talle mense verwar Liggaamlike Opvoeding met sport (UNESCO, 1978). Hierdie persepsie is nie ongegrond nie, aangesien daar oor die volle duur van die akademiese jaar sportkompetisies op verskillende vlakke en vir verskeie sportsoorte gereël word. Die gees van ten-alle-koste-wen wat by hierdie sportfeeste heers, veroorsaak dat Liggaamlike Opvoeding-onderwysers elite atlete afrig in die Liggaamlike Opvoeding-periodes in plaas daarvan dat hulle Liggaamlike Opvoeding en fisieke aktiwiteite aanbied wat alle kinders en jongmense kan bevoordeel (Ammah & Kwaw, 2005:320).

Die bevolking van Ghana is groot sportliefhebbers en sokker is die nommer-een sport in die land. As gevolg van hierdie groot aanhang van sport het Liggaamlike Opvoeding en sport ʼn hoë status in Ghana omdat die mense deeglik daarvan bewus is dat deelname aan Liggaamlike Opvoeding en sport nie net alle kinders en jongmense se gesondheid kan bevoordeel nie, maar ook sportmanne en -vroue ontwikkel wat die land op internasionale vlak kan verteenwoordig (Ammah & Kwaw, 2005:320). Daar word nie groot akademiese waarde aan Liggaamlike Opvoeding geheg nie, alhoewel heelwat kinders en jongmense baie toegeneë is tot die vak omdat hulle goed presteer tydens interne assesserings in Liggaamlike Opvoeding. Die hoë aansien en status wat die vak in Ghana beleef, is nie ʼn waarborg dat alles net maanskyn en rose is nie; inteendeel. Liggaamlike Opvoeding ervaar groot uitdagings, onder andere met die opleiding van onderwysers, en dan ook met skoolhoofde en personeel wat die Liggaamlike Opvoeding-periodes vir ander skoolaktiwiteite gebruik en die werksomgewing van die Liggaamlike Opvoeding- onderwysers onaangenaam maak (Placek, 1993). Laasgenoemde aspek oor die misbruik van Liggaamlike Opvoeding-periodes deur senior personeel bring soortgelyke herinneringe by die navorser na vore uit die bykans 17 jaar wat hy die vak in Suid-Afrikaanse skole aangebied het.

ʼn Groot aantal professionele Liggaamlike Opvoeders het met ʼn ernstige bewusmakingsveldtog onder die algemene publiek in die media in Ghana begin om almal opnuut bewus te maak van die voordele van Liggaamlike Opvoeding – nie net vir kinders en jongmense nie, maar ook vir volwassenes. Hierdie veldtog het ʼn groot hupstoot gekry met die instelling van wetgewing wat Liggaamlike Opvoedings-programme en grade aan hoër onderwysinstellings heringestel het (Ammah & Kwaw, 2005:320; Agbeko, 2007). Die feit van die saak is egter dat Liggaamlike Opvoeding in Ghana op die oomblik ʼn baie hoë aansien en status beleef.

Onderrigtyd

Daar is spesifieke tydstoekenning en periodes in al die verskillende grade vir Liggaamlike Opvoeding in Ghana – alles as deel van die poging om te sorg dat die vak sy regmatige plek binne die skoolkurrikulum inneem en handhaaf. Vir Graad 1 tot Graad 3 is daar vier 35-minuutperiodes per week toegeken, en Grade 4 tot 6 het drie 35-minuutperiodes per week. In die junior sekondêre fase, Graad 7 tot Graad 9, is daar twee 35-minuutperiodes vir die vak, en die senior sekondêre fase, Grade 10 tot 12, het twee 40-minuutperiodes per week vir Liggaamlike Opvoeding (DoE, 2005).

Hierdie periodes is in baie gevalle net tydgleuwe op die rooster. Aangesien daar nie ʼn duidelike regeringsbeleid hieroor is nie, bepaal die plaaslike omgewing en behoeftes van elke skool hoeveel periodes aan Liggaamlike Opvoeding toegeken word. Hierdie toedrag van sake het al telkemale daartoe bygedra dat pogings aangewend is om die aantal periodes vir Liggaamlike Opvoeding in die skoolkurrikulum te verminder. Heelwat skole benut nie die Liggaamlike Opvoeding-periodes nie of wend die periodes vir ander skoolaktiwiteite aan, en by die skole waar die periodes wel gebruik word vir die vak gebeur dit heel dikwels dat die gesindheid is om kinders en jongmense bloot besig te hou. Placek (1993) verwys daarna as “busy, happy and good”. Dit is ʼn uiters ongewenste situasie om Liggaamlike Opvoeding as sogenaamde “free-play”-periodes te bedryf. Die bestaande program met spesifieke uitkomste en vaardighede wat bereik moet word, is veronderstel om in die skole aangebied te word. Ongelukkig is daar ʼn hele aantal skole in Ghana wat om verskeie redes omtrent geen Liggaamlike Opvoeding aanbied nie.

Befondsing

Soos reeds aangetoon, is Liggaamlike Opvoeding ʼn integrale deel in alle skoolfases van die skoolkurrikulum in Ghana. Die vak is by verskeie geleenthede deur wetgewing as deel van die skoolkurrikulum ingestel, waaronder die sogenaamde sestien-puntplan, wat die belangrikheid van karakterontwikkeling asook die organisasie van sport en spele as deel

van Liggaamlike Opvoeding beklemtoon het. Die regering het bepaal dat sport en spele deel van die skoolkurrikulum moet wees en dat sportfasiliteite aan alle skole voorsien moes word. Liggaamlike Opvoeding en georganiseerde sport in skole is geweldig hierdeur versterk, wat weer aanleiding gegee het tot die interskool-sportkompetisies op alle vlakke (Baba et al., 1993).

Die politieke geskiedenis in Ghana het egter ʼn negatiewe invloed op Liggaamlike Opvoeding, omdat verskeie regerings van die dag as gevolg van ʼn gebrek aan fondse die vak net eenvoudig op die agtergrond geskuif en verwaarloos het (Ammah & Kwaw, 2005:320). Die befondsing vir Liggaamlike Opvoeding is dus onvoldoende, en die vak word verder benadeel deur die amper onbekostigbare hoë pryse van apparaat en fasiliteite. As gevolg van ʼn tekort aan fondse is daar dus onvoldoende apparaat en fasiliteite vir effektiewe onderrig in Liggaamlike Opvoeding in Ghana. Kinders en jongmense word verplig om sportgelde te betaal, maar hierdie klein bydrae het nie ʼn groot impak op die dringende tekort aan die broodnodige maar baie duur apparaat en fasiliteite nie. Die kleiner skole trek veral baie swaar en onderwysers probeer die probleem hanteer deur die improvisering van veral apparaat, maar ook fasiliteite (Addo-Adeku et al., 2003). Liggaamlike Opvoeding in Suid-Afrika sukkel met soortgelyke probleme ten opsigte van ʼn tekort aan apparaat en fasiliteite, en daar word aandag gegee aan improvisering van veral apparaat en toerusting.

Daar is wel fondse beskikbaar vir die oplei van Liggaamlike Opvoeding-onderwysers, en die Hoër Onderwysinstellings bied ook Liggaamlike Opvoeding-kursusse en -programme aan, maar om vir hulself beter geleenthede te skep om poste te kry, neem hierdie vakonderwysers ook ander vakke wat hulle in die skool kan aanbied (Ammah & Kwaw, 2005:320). Hierdie onderwysers is dikwels nie baie effektief in die aanbied van Liggaamlike Opvoeding nie, as gevolg van hul gebrek aan belangstelling in die vak. Nog ʼn probleem wat die befondsing van Liggaamlike Opvoeding negatief beïnvloed, is onderwyswetgewing wat skole toelaat om net ʼn sekere aantal onderwysers te mag aanstel, bekend as die kwota-stelsel. Dit veroorsaak dat skoolhoofde eerder onderwysers aanstel wat meer as een vak kan aanbied, eerder as om ʼn spesialis-Liggaamlike Opvoeding-onderwyser aan te stel (Agbeko, 2007).

Ten spyte van die gebrek aan befondsing beleef Liggaamlike Opvoeding-onderwysers dieselfde status as hul eweknie-kollegas in die ander sogenaamd belangriker vakke soos Wiskunde en Wetenskap, en verdien hulle ook dieselfde salaris (Ammah & Kwaw, 2005:320). Omdat die Ghanese bevolking sulke groot sportaanhangers is en die land

graag goed wil presteer in die internasionale sport-arena, sal Liggaamlike Opvoeding en sport altyd befondsing kry met die oog op prestasie, al is dit nie voldoende fondse nie.

Assessering

Evaluerings- en assesseringspraktyke binne die skoolkurrikulum in Ghana is slegs aanbevelings, en daar word nie baie streng vereistes gestel of die gestelde uitkomste bereik word al dan nie. Omdat die assesseringsprogram nie definitiewe riglyne stel vir evaluerings nie, gebruik individuele onderwysers baie verskillende assesseringspraktyke en -vorme in hul onderrig van die vak. Die verantwoordelikheid om toe te sien dat Liggaamlike Opvoeding in Ghana effektief onderrig word, berus by distriks-, streeks- en nasionale vakinspekteurs, maar ongelukkig veroorsaak logistieke probleme soos ʼn gebrek aan vervoer dat hierdie inspekteurs nie baie gereeld by die skole uitkom nie. Daarom doen baie van hierdie swak opgeleide Liggaamlike Opvoeding-onderwysers baie swak of selfs geen voorbereiding of lesbeplanning nie (Ammah & Kwaw, 2005:318). Soortgelyke probleme van Leerareabestuurders wat skole nie kan besoek nie as gevolg van ʼn gebrek aan fondse steek sy kop uit in die Suid-Afrikaanse onderwysopset.

Ten spyte van die hoë status en belangrikheid van Liggaamlike Opvoeding in Ghana word die assesseringspunt wat aan die vak toegeken word nie as baie belangrik geag nie (Ammah & Kwaw, 2005:318). Die rede hiervoor is dat Liggaamlike Opvoeding nie ekstern geëksamineer word nie en die punt wat aan die vak toegeken word nie tel vir universiteitstoelatingsdoeleindes nie. Liggaamlike Opvoeding as deel van Lewensoriëntering verkeer in ʼn soortgelyke situasie in Suid-Afrika. Een van die uitkomste van Liggaamlike Opvoeding in laerskole in Ghana is massa-deelname eerder as ʼn fokus op kompetisiesport, waar slegs enkele individue gekies en afgerig word om hulle skole op sportkompetisies te verteenwoordig (Ammah & Kwaw, 2005:322).

Daar word groot waarde geheg aan assesseringspunte, veral gedurende Basiese Onderwys, omdat hierdie punte die basis vorm vir toelating tot senior sekondêre skole. Gedurende Basiese Onderwys in Ghana word deurlopende assessering deur onderwysers en skoolhoofde gedoen, wat saamgestel is uit 40% interne en 60% eksterne assessering, behartig deur die “West African Examination Council” (WAEC) Ongelukkig is Liggaamlike Opvoeding nie deel van die vakke wat deel uitmaak van die 60% eksterne assessering deur die WAEC nie, en tel assesseringspunte van ander sogenaamd belangriker vakke soos Wiskunde en Wetenskap baie meer tydens hierdie eksterne evaluering (Keteku, 1999). Bo en behalwe vaardigheidstoetse gebruik heelwat Liggaamlike Opvoeding- onderwysers ook assesseringspunte vir klasbywoning, kleredrag, gesindheid en poging tot

deelname. Liggaamlike Opvoeding-assesseringspunte word dus as minderwaardig beskou teenoor ander belangriker vakke, en boonop ken swak opgeleide Liggaamlike Opvoeding- onderwysers hoë punte toe wat veroorsaak dat kinders en jongmense die vak as nikswerd beskou (Ammah & Kwaw, 2005:318). Onderwysers betrokke by Basiese Onderwys in Ghana spesialiseer nie in een spesifieke vak nie, wat veroorsaak dat reeds swak opgeleide nie-spesialis Liggaamlike Opvoeding-onderwysers baie moeilik kwaliteit assessering in hierdie spesialisarea kan toepas.

Uitkomste en inhoude

Die algemene oorkoepelende doel en uitkoms van Liggaamlike Opvoeding in Ghana is die verbetering van die fisieke gesondheid van individue asook van die gemeenskap. Psigo- motoriese ontwikkeling dra by tot effektiewe spierbeheer en -beweging asook liggaamsbewustheid, wat alles aangespreek word deur skop, gooi, vang, tuimel en soortgelyke vaardighede wat deur skole aangebied word. Die kognitiewe uitkoms van Liggaamlike Opvoeding word aangespreek deur die aanleer van basiese vaardighede en tegnieke asook reëls en regulasies met die oog op maksimum prestasie. Kinders en jongmense word blootgestel aan die affektiewe uitkoms van Liggaamlike Opvoeding deur deelname aan ʼn groot aantal tradisionele spele wat samewerking en spanwerk bevorder (Curriculum Research and Development Division, 2001).

Die kern-ontwikkelingsuitkomste vir kinders en jongmense binne Liggaamlike Opvoeding in Ghana kan soos volg saamgevat word (Ammah & Kwaw, 2005:317-318):

Basiese motoriese vaardighede, fisieke fiksheid, liggaamsorg en selfkonsep Ontwikkeling deur fisieke aktiwiteit en beweging

Morele waardes en waardering vir kultuur-erfenis Selfwerksaamheid op alle vlakke

Burgerskap as deel van landsontwikkeling

Kennis en begrip van sportbeginsels, waardes en reëls

Maksimale fisieke, geestelike, emosionele asook sosiale ontwikkeling deur middel van fisieke aktiwiteite

Gesonde kompetisie en belangstelling in sport en spele

Bo en behalwe die uitkomste en inhoud wat gemik is op gesondheidsbevordering en die ontwikkeling van sport en spele, is daar ook opvoedkundige uitkomste en inhoud gerig op wat kinders en jongmense graag wil bereik in en deur Liggaamlike Opvoeding. Kinders en jongmense wil Liggaamlike Opvoeding en fisieke aktiwiteit geniet deur deelname aan en aanleer van nuwe sportsoorte asook deur die ontwikkeling van selfvertroue, leierskap en fisieke fiksheid deur aan individuele sportsoorte en ook spansport deel te neem. Liggaamlike Opvoeding-onderwysers is verantwoordelik vir die aanbied van die inhoude en ook die bereiking van hierdie gestelde uitkomste.

Ondersteuning

Liggaamlike Opvoeding in Ghana word sterk ondersteun as integrale deel van die nasionale skoolkurrikulum. Groot klem word geplaas op karakterontwikkeling asook op die organisering en deelname aan sport en spele as deel van Liggaamlike Opvoeding (Ammah & Kwaw, 2005:318). Wetgewing bepaal dat georganiseerde sport en spele deel moet wees van die skoolkurrikulum, en ook dat alle skole voorsien moet word van sportfasiliteite. In Ghana is sport ʼn hoë prioriteit, veral sokker, en daarom ondersteun die bevolking Liggaamlike Opvoeding omdat hulle besef dat blootstelling aan sport en spele binne hierdie vak potensiële sportsterre vir die toekoms kan oplewer wat die land op internasionale vlak kan verteenwoordig. Die vak word verder ondersteun omdat mense bewus is van die feit dat Liggaamlike Opvoeding en fisieke aktiwiteit individue asook die gemeenskap se gesondheid kan bevorder (Ammah & Kwaw, 2005:318). In Liggaamlike Opvoeding in Ghana word daar sterk gefokus op gesondheidsvoordele, deelname en bevordering van sport en spele, asook die ontwikkeling van ʼn hele rits sosiale vaardighede. Liggaamlike Opvoeding-onderwysers in Ghana het presies dieselfde status en voordele as al die ander onderwysers in ander sogenaamd belangriker vakke soos Wiskunde en Wetenskap, wat beslis ook ʼn aanduiding is van die positiewe ondersteuning wat die vak geniet (Agbeku, 2007).

Hierdie ondersteuning wat die vak kry beteken egter nie dat Liggaamlike Opvoeding in Ghana geen probleme ervaar nie. Inteendeel, navorsers (Agbeku, 2007) vind dat die vak besig is om ʼn stadige dood te sterf indien daar nie drasties opgetree word om die vak se toekoms te verseker nie. Hierdie probleme wissel van ʼn tekort aan onderwysers, apparaat en fasiliteite, onbekostigbaarheid van toerusting asook die misbruik van Liggaamlike Opvoeding-periodes vir ander skoolaktiwiteite. Die mense van Ghana besef deeglik wat die waarde van Liggaamlike Opvoeding vir die gemeenskap en die land inhou, maar daar sal drasties en vinnig opgetree moet word op hoë vlak om toekoms en voortbestaan van die vak, met al sy gepaardgaande voordele, te verseker (Ammah & Kwaw, 2005).

Die toekoms

Die onlangse swak vertonings van sportmanne en -vroue asook sportspanne van Ghana het nie net by die sportmal publiek ʼn bron van groot kommer geword nie, maar ook by die Minister van Onderwys en Jeugsport (Ammah & Kwaw, 2005:318). Alle belanghebbendes sal dringend bymekaar moet kom en ʼn versoek aan die regering rig dat Liggaamlike Opvoeding ʼn verpligte vak op alle vlakke van onderwys moet wees. Om die vak in ere te herstel as ʼn integrale deel van kinders en jongmense se totale opvoeding, sal daar ʼn bewusmakingsveldtog (Anon, 2009b), soortgelyk aan die veldtog oor MIV/VIGS, landwyd geloods moet word om alle mense opnuut in te lig oor die belangrikheid van Liggaamlike Opvoeding in die totale opvoeding en gesondheid van alle mense, maar in besonder ook onder kinders en jongmense.

Alle skole sal moet verseker dat effektiewe Liggaamlike Opvoedings-programme aangebied word; voldoende fasiliteite, toerusting asook Liggaamlike Opvoeding- onderwysers moet beskikbaar gestel word; alle universiteite moet die vak tot op nagraadse vlak aanbied; en die vak moet geëksamineer word, om te sorg dat die vak die publieke ondersteuning kry wat dit verdien. Die regering kan groter finansiële ondersteuning aan die vak gee, en kinders en jongmense wat goed presteer in Liggaamlike Opvoeding en sport, behoort groter erkenning en ondersteuning te kry in die vorm van beurse en ander aansporings. Kinders en jongmense met leergestremdhede moet baie beslis ook geakkommodeer word binne Liggaamlike Opvoeding in Ghana (Ammah & Kwaw, 2005). Liggaamlike Opvoeding en sport is ʼn integrale en uiters belangrike deel van die skoolkurrikulum in Ghana, en kan met die regte ondersteuning bydra dat op gesondheidsgebied, sportgebied asook sosiale terrein Ghana weer onder die toppresteerders in die sportwêreld, veral in sokker, sal wees (Ammah & Kwaw, 2005).