• No results found

FASE 1: Wetgewing en beleid ten opsigte van die

HOOFSTUK 4: EMPIRIESE ONDERSOEK EN METODOLOGIE

4.2 FASE 1: Wetgewing en beleid ten opsigte van die

Vir etlike dekades was Liggaamlike Opvoeding ʼn integrale deel van die Suid-Afrikaanse skoolkurrikulum. As gevolg van die apartheidsbeleid wat in Suid-Afrika gevolg is, is die vak nie in alle skole aangebied nie. Weens die feit dat Liggaamlike Opvoeding nooit ʼn eksamenvak in die Suid-Afrikaanse skoolkurrikulum was nie en nooit formeel geassesseer is nie, is hierdie periodes baie maklik en gereeld vir ander aktiwiteite soos toneelopvoerings, voorbereiding vir ander aktiwiteite soos sport- of kultuurgeleenthede, of selfs bloot vir studieperiodes aangewend. Verskeie pogings is aangewend om assessering in die vak toe te pas, onder andere deur Van der Walt (1980) gedurende die tagtigerjare in die Wes-Transvaal, asook die destydse Kaapse Onderwysdepartement (KOD) in die laat tagtigs, en vroeë negentigerjare se evaluering vir seuns. Die Liggaamlike Opvoeding- onderwysers is so oorlaai met ander take dat hulle nie altyd goed voorberei het vir die Liggaamlike Opvoeding-periodes nie, en die leerders bloot ongestruktureerde speletjies laat speel het tydens die Liggaamlike Opvoeding-periodes. Al hierdie faktore het daartoe bygedra dat die vak Liggaamlike Opvoeding se status en aansien feitlik nul was, en dit was dan ook geen groot verrassing toe die vak in die vroeë negentigerjare in baie skole uit die kurrikulum verdwyn het nie. Heelwat skole het nog voortgegaan om die vak Liggaamlike Opvoeding aan te bied, maar die skrif was letterlik aan die muur vir die vak. Met die radikale veranderinge in die Suid-Afrikaanse politieke landskap het die finale spreekwoordelike doodsklok vir Liggaamlike Opvoeding as skoolvlak gelui na die 1994- verkiesing, toe die nuwe ANC-regering feitlik onmiddellik aan die werk gespring het vir die daarstel van ʼn nuwe skoolkurrikulum vir Suid-Afrikaanse onderwys. Hierdie proses word breedvoerig beskryf in ʼn artikel “The making of South Africa‟s National Curriculum Statement” deur Linda Chisholm (Chisholm, 2005).

Volgens Chisholm (2005) was daar ʼn geweldige toutrekkery oor hoe hierdie kurrikulum saamgestel moes word. Name, terminologieë, die fokus van die kurrikulum asook watter leerareas ingesluit moes en nog vele ander kwessies was aan die orde van die dag. Kort na die 1994-verkiesing is alle ou sillabusse skoongemaak van rassistiese taal asook kontroversiële en verouderde inhoude. In 1997 loods die nuwe Nasionale

Onderwysdepartement (DoE) die Kurrikulum 2005 (C2005), gebaseer op uitkomsgerigte beginsels – ʼn stelsel wat die basis moes vorm vir ʼn post-apartheid-skoolkurrikulum in Suid- Afrika. (Chisholm, 2005:193). In 2000 is C2005 volledig hersien en aangepas. Na breë gesprekvoering met alle sektore van die samelewing, word ʼn nuwe vaartbelynde weergawe van C2005, bekend as die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring (HNKV) in April 2002 as amptelike beleid aanvaar vir implementering vanaf 2004 (Chisholm, 2005:193). Hierdie HNKV bestaan uit agt leerareas wat onder andere Lewensoriëntering insluit, met Liggaamlike Opvoeding as een van die uitkomste (Chisholm, 2005:196). Na heelwat verdere aanpassings word die HNKV aanvaar as die Nasionale Kurrikulumverklaring (NKV) en word dit vanaf 2008 regoor die skoolkurrikulum geïmplementeer. Liggaamlike Opvoeding is dus amptelik sedert Januarie 2008 terug in die Suid-Afrikaanse skoolkurrikulum as deel van Lewensoriëntering (DoE, 2008).

Die voorskrif in die NKV is dat Liggaamlike Opvoeding 25% van die totale Lewensoriënteringpunt van 100 moet uitmaak. Wat onderrigtyd betref is die voorskrif dat elke skool minstens twee Lewensoriëntering-periodes per week vir elke graad op die skoolrooster moet aanbied en een van hierdie twee periodes moet ʼn Liggaamlike Opvoeding-periode wees (DoE, 2008). Liggaamlike Opvoeding is dus geregtig op 50% van die onderrigtyd wat aan Lewensoriëntering toegestaan word. Die erns wat met Liggaamlike Opvoeding gemaak word, is geensins vreemd nie, aangesien daar groot bekommernis heers by die Verenigde Nasies se Kultuur en Onderwys-Organisasie (UNESCO) oor die stand van fisieke aktiwiteit en Liggaamlike Opvoeding in skole in die wêreld (UNESCO, 1978). Nog ʼn belangrike rede vir die erns rakende die aanbied van Liggaamlike Opvoeding is dat dit dié uitkoms van Lewensoriëntering is waar onderwysers die grootste risiko loop van regstappe teen hulle, indien hulle leerders aan praktiese komponente sou blootstel sonder die nodige veiligheidsmaatreëls en ondersteuning, en iemand sou seerkry (Rossouw, 2004). Die vraag bly egter of die Liggaamlike Opvoeding-uitkoms van Lewensoriëntering in alle skole aangebied word, en indien nie, waarom nie? Is dit moontlik omdat die Lewensoriëntering-onderwysers nie voldoende of selfs glad nie opgelei is in Liggaamlike Opvoeding nie, en dus bang is om dit aan te bied en moontlike hofsake op die hals te haal, of is dit moontlik die gebrek aan fasiliteite en apparaat wat hierin ʼn rol speel? Om hierdie moontlike probleme aan te spreek en toe te sien dat Liggaamlike Opvoeding wel op ʼn goed georganiseerde manier in skole aangebied word, soos uiteengesit in die Nasionale Kurrikulumdokumente vir Lewensoriëntering (DoE, 2008), het die vakgroep Onderwysbewegingskunde van die Noordwes-Universiteit (NWU) (Potchefstroomkampus) op ʼn versoek in 2007 van die Direkteur-Generaal van Onderwys, Duncan Hindle, ʼn Liggaamlike Opvoeding-werkswinkel vir 277 Lewensoriëntering-vakadviseurs in al nege

provinsies gekoördineer en beplan, wat in Januarie 2008 aangebied moes word. Nadine Pote, Adjunk-direkteur, Skoolveiligheid, van die Nasionale Departement van Onderwys, sou in samewerking met die NWU die projek koördineer. Daar is besluit om eers die Lewensoriëntering-vakadviseurs op te lei in die Liggaamlike Opvoeding-uitkoms van Lewensoriëntering, voordat die Lewensoriëntering-onderwysers opgelei sou word (Pote, 2008). Die gevoel was dat hierdie vakadviseurs wat die onderwysers moet ondersteun in die aanbieding van hierdie uitkoms, self eers die opleiding moet deurloop sodat hulle beter toegerus is en ook beter begrip kan hê vir die spesifieke uitdagings, probleme en vrese wat die onderwysers mag ervaar. Indien hierdie groep lynbestuurders nie praktiese ervaring en kennis van Liggaamlike Opvoeding het nie, kan die onderwysers geen begrip, hulp en ondersteuning van hul vakadviseurs verwag nie. Die opdrag was dat die NWU drie of vier ander Hoër Onderwysinstellings (HOI‟s) moes kontrakteer en koördineer om die opleiding in al nege provinsies te fasiliteer.