• No results found

Hedendaagse internasionale stand van Liggaamlike Opvoeding

HOOFSTUK 2: LITERATUUROORSIG

2.4 Hedendaagse internasionale stand van Liggaamlike Opvoeding

gesondheid te bevorder en dus nie uitsluitlik vir talent-identifisering gebruik kan word nie. Spamer (2008) beskryf die Australiese Sportkommissie se Talent-identifiseringsprogram waar skole uitgenooi word om die Talent-identifiseringstoetse te gebruik en dan die toetsresultate in te stuur na die Sportkommissie se Talent-identifiseringseenheid. Hierdie Talent-identifiseringstoese word regdeur Australië deur Liggaamlike Opvoeding- onderwysers behartig (Spamer, 2008:12). Australië se sportsuksesse op talle sportterreine is wêreldwyd wel bekend aan ʼn ieder en ʼn elk in die wêreld-sportgemeenskap. Opsommend blyk dit dat fisieke aktiwiteit en oefening, wat die kern uitmaak van Liggaamlike Opvoeding en sport, uiters belangrike waardes soos gesondheidsvoordele, ontwikkeling van motoriese vermoëns, talent-identifisering en ontwikkeling van sportvaardighede vir kinders en jongmense inhou.

ʼn Kort oorsig oor die hedendaagse internasionale stand van Liggaamlike Opvoeding volg in die volgende gedeelte. Om ʼn sinvolle evaluering van die status en stand van Liggaamlike Opvoeding in Suid-Afrika te kan doen, is dit noodsaaklik om kennis te neem van die vak se status en stand op internasionale vlak.

2.4

Hedendaagse internasionale stand van

Liggaamlike Opvoeding

Adolf Ogi (2005), spesiale raadgewer oor sport aan die voormalige Sekretaris-Generaal van die VVO, Kofi Anan, stel dit baie duidelik dat dit ʼn fundamentele reg is van elke individu en in besonder elke kind en jongmens om te mag speel en aan sport te mag deelneem. Hierdie standpunt is ʼn voortsetting van die Internasionale Handves vir Liggaamlike Opvoeding en Sport van die Verenigde Nasies se Onderwys- en Kultuur- organisasie (UNESCO), asook die oproep tot aksie ten opsigte van Liggaamlike

Opvoeding en Sport deur regerings en ministeries verantwoordelik vir opvoeding en sport tydens die Wêreldberaad vir Liggaamlike Opvoeding in Berlyn in 1999, waar die Berlynse Agenda opgestel en aanvaar is. Die Berlynse Agenda spel dit duidelik uit dat skole vir elke kind en jongmens die geleentheid kan en moet bied om meer as een keer per week aan gestruktureerde Liggaamlike Opvoeding en fisieke aktiwiteit van matige tot hoë vlakke van intensiteit deel te neem (ICSSPE, 1999; DoE, 2000). Ogi (2005:8) toon verder aan dat Liggaamlike Opvoeding by uitstek die belangrikste instrument is om ʼn sportkultuur binne gemeenskappe te vestig en sodoende die reg tot sport, spele en rekreasie vir elke individu te waarborg. Hierdie reg tot spele impliseer volgens Ogi (2005:8) ook die reg om deur ʼn kundige, gekwalifiseerde Liggaamlike Opvoeder onderrig te word sowel as die reg tot kwaliteit Liggaamlike Opvoeding. Liggaamlike Opvoeding in skole is wêreldwyd ʼn prioriteit wat ʼn uiters belangrike bydrae lewer tot oefening en fisieke aktiwiteit vir alle leerders (Ogi, 2005:8). Die vak word egter nie oral in die wêreld met die nodige erns hanteer nie – vandaar die bekommernis van UNESCO oor die stand van Liggaamlike Opvoeding in skole wêreldwyd (DoE, 2008). As gevolg van hierdie wydverspreide bekommernis oor Liggaamlike Opvoeding het die “International Council of Sport Science and Physical Education” (ICSSPE) ʼn wêreldwye ondersoek geloods na die toestand en status van Liggaamlike Opvoeding (Hardman, 2005:12). Ken Hardman en Joe Marshall (2000) het gevind dat daar goeie praktyk ten opsigte van Liggaamlike Opvoeding in talle lande voorkom, veral waar die regerings hulleself deur middel van wetgewing verbind het tot die vak, maar dat in baie ander lande groot tekortkominge soos ʼn gebrek aan finansies, fasiliteite asook materiële en menslike hulpbronne in die vak voorkom. Ogi (Hardman, 2005:8) is dus realisties in sy siening dat Liggaamlike Opvoeding wêreldwyd voortdurend agteruitgaan in die formele onderwyssektor. Talle kinders en jongmense het nie die geleentheid om te kan speel nie of word nie toegelaat om te kan speel nie omdat daar nie voldoende fasiliteite beskikbaar is nie. Dit is dus van kardinale belang dat Liggaamlike Opvoeding en sport in formele sowel as informele onderwys versterk en beskerm moet word om vir kinders en jongmense die geleentheid te gee om te kan deelneem en tot hulle volle fisieke potensiaal te kan ontwikkel.

Volgens Ogi (Pühse & Gerber, 2005:8) moet Liggaamlike Opvoeding wêreldwyd baie sterk wetenskaplike ondersteuning kry om sy regmatige plek in die skoolkurrikulum te kan inneem en behou. Ogi verwys in sy voorwoord in “International Comparison of Physical Education” van Pühse en Gerber (2005) dat Liggaamlike Opvoeders van oor die hele wêreld deel moet wees van hierdie proses van vergelykende Liggaamlike Opvoeding. Sodoende kan daar ʼn internasionale taal vir Liggaamlike Opvoeding geskep word waarmee al die nuutste tendense en neigings in die vak met mekaar gedeel kan word, en

ook hoe die krisisse wat in verskillende wêreldlande in die vak ondervind word, hanteer kan word. Die Verenigde Nasies (VN) en in besonder UNESCO moedig navorsers in Liggaamlike Opvoeding aan om wêreldwye begrip vir die noodsaaklikheid van Liggaamlike Opvoeding toe te lig en te verbeter. Liggaamlike Opvoeding en Sport is van die belangrikste instrumente in die lewens van kinders en jongmense in die proses van volwasse-wording (Pühse & Gerber, 2005).

Gudrun Doll-Tepper, president van die “International Council of Sport Science and Physical Education” (ICSSPE), en Koïchiro Matsuura, Direkteur-Generaal van UNESCO, ondersteun hierdie argumente van Ogi ten volle (Pühse & Gerber, 2005:9-11). ICSSPE is reeds sedert die jare sewentig, tydens die eerste Internasionale Konferensie van Ministers en Senior Amptenare verantwoordelik vir Liggaamlike Opvoeding en Sport (MINEPS I), gehou in April 1976 in Parys, bekommerd oor die afname in die teenwoordigheid van Liggaamlike Opvoeding in skole (Pühse & Gerber, 2005). MINEPS II is 12 jaar later in November 1988 in Moskou gehou, met soortgelyke sentimente as tydens MINEPS I. Vandaar die verskillende wêreldwye inisiatiewe om Liggaamlike Opvoeding te versterk en hierdie afname-tendens te probeer teenwerk. Enkele van hierdie inisiatiewe sluit onder andere in die Wêreldberaad van Liggaamlike Opvoeding in November 1999 in Berlyn, Duitsland (Berlynse Agenda) – hierdie aspek word later breedvoerig bespreek; die MINEPS III konferensie in Punta del Este in Desember 1999; die UNESCO rondetafel gesprek in Parys in Januarie 2003; die VN se taakspan vir Sport vir Ontwikkeling en Vrede; die Wêreldgesondheidorganisasie (WGO) se wêreldwye Strategie oor Dieet, Fisieke Aktiwiteit en Gesondheid; die rol van Liggaamlike Opvoeding en Sport in Onderwys-navorsingsprojek (SpinEd); die MINEPS IV konferensie in Athene in Desember 2004; asook die VN se Internasionale Jaar vir Sport en Liggaamlike Opvoeding in 2005 (Pühse & Gerber, 2005:11). Op 7 Julie 2009 is hierdie inisiatiewe om Liggaamlike Opvoeding wêreldwyd in skole uit te bou en te versterk tydens ICSSPE se konferensie in Brisbane, Australië voortgesit. (Pühse & Gerber, 2005:11)

Doll-Tepper (2005) wys daarop dat huidige navorsing toon dat daar baie min verandering is ten opsigte van die stand van Liggaamlike Opvoeding in minder ontwikkelde asook ontwikkelende lande, en gemengde welslae in ontwikkelde lande voorkom. Soos aangedui in die kort literatuuroorsig in Hoofstuk 1 en soos verder in hierdie hoofstuk bespreek, is daar beslis voorbeelde van goeie praktyk rakende Liggaamlike Opvoeding in skole in sekere lande, en veral in lande wat erns maak met hul prestasies in wêreldsport. Die verantwoordelikheid om toe te sien dat Liggaamlike Opvoeding sy noodsaaklike, regmatige plek in ʼn land se skoolkurrikulum beklee, berus uitsluitlik op regeringsvlak en op die vlak van die Departement van Nasionale Onderwys. Dit is dié Departement wat

verantwoordelik is vir die saamstel van skoolkurrikulums, maar terselfdertyd ook verantwoordelik is vir die gesondheid en sportprestasies van die spesifieke land. Volgens die Wêreldforum vir Fisieke Aktiwiteit en Sport wat in 1995 in Québec gehou is (ICSSPE, 1999), word kinders en jongmense wat aangemoedig word om aan fisieke aktiwiteit deel te neem, bevoordeel in die sin dat hulle goeie gesondheidsgewoontes aanleer en gevaarlike gewoontes soos rook en dwelmmisbruik afleer. Die verbetering van hul selfbeeld asook positiewe tydsbenutting deur middel van fisieke aktiwiteit kan selfs klaskamerprestasies verbeter (ICSSPE, 1999). Navorsing wat in 2007 gedoen is om die effek van ʼn grootspierontwikkelingsprogram op die motoriese vaardighede en selfbeeld van direk geaffekteerde MIV/VIGS-leerders te bepaal, het getoon dat fisieke aktiwiteit wel ʼn verbetering op die selfbeeld van hierdie spesifieke groep kinders gehad het (Van der Merwe, 2007). Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) stel die volgende uitkomste vir Liggaamlike Opvoeding in skole (ICSSPE, 1999:125):

1) Dit vorm die grondslag vir ʼn lewenslange aktiewe leefstyl;

2) Dit ontwikkel en bevorder die gesondheid van kinders en jongmense; 3) Dit verskaf genot, vermaak asook goeie sosiale interaksie; en

4) Dit help voorkom en verminder toekomstige gesondheidsprobleme.

Die oorgrote meerderheid skole in baie lande kan nie hierdie uitkomste bereik nie as gevolg van onvoldoende tyd in die kurrikulum asook onvoldoende menslike en materiële hulpbronne vir Liggaamlike Opvoeding (ICSSPE, 1999:125). Die vernaamste rede hiervoor is die traak-my-nieagtige houding teenoor die absolute noodsaaklikheid van Liggaamlike Opvoeding en fisieke aktiwiteit vir kinders en jongmense. Hierdie ingesteldheid van beleidmakers, onderwysers, professionele persone, ouers asook ander bekommerde groepe kan volgens ICSSPE (1999) toegeskryf word aan ʼn gebrek aan kennis oor die belangrikheid van Liggaamlike Opvoeding en fisieke aktiwiteit asook die voordele daarvan vir jongmense en kinders.

Hardman (2005) stem hiermee saam en ondersteun Doll-Tepper (2005) ten opsigte van die stand en status van Liggaamlike Opvoeding wêreldwyd (Pühse & Gerber, 2005:12-18). Hy verduidelik breedvoerig die wêreldwye ondersoek oor die stand en status van Liggaamlike Opvoeding en gee terugvoering oor Liggaamlike Opvoeding vanaf die VSA, regoor Europa, die Midde- en Verre Ooste, Australië en Nieu-Seeland asook Afrika-lande. Hardman verwys ook na die verandering in die status van die vak in Suid-Afrika tot deel

van die leerarea Lewensoriëntering (Hardman, 2005:15). Hierdie aspek word aan die einde van hierdie hoofstuk in besonderhede bespreek.

Samevattend is dit dus duidelik dat daar wel goeie praktyke in Liggaamlike Opvoeding in sekere lande soos byvoorbeeld Engeland en Australië (Hardman, 2005) voorkom, maar dat die vak oor die algemeen swaarkry en selfs agteruitgaan as gevolg van ʼn gebrek aan finansies vir fasiliteite en toerusting en ook omdat vakke soos Wiskunde en Wetenskap as belangriker beskou word en voorkeur kry in die skoolkurrikulum.

In die volgende gedeelte word baie kortliks gekyk na die hedendaagse stand en status van Liggaamlike Opvoeding in Suid-Afrika. Hierdie is net ʼn kort aansluiting by die res van die wêreld. Liggaamlike Opvoeding in Suid-Afrika word later in hierdie hoofstuk meer volledig bespreek.

2.5

Hedendaagse stand van Liggaamlike Opvoeding