• No results found

HOOFSTUK 2: LITERATUUROORSIG

2.6 Bedryf van Liggaamlike Opvoeding in skole in enkele

2.7.1 China

Status van Liggaamlike Opvoeding

Liggaamlike Opvoeding in China kan nagespoor word tot so ver terug as 2000 voor Christus. Die instelling van gimnastiek in skole in 1903 word beskou as die amptelike

vestiging van moderne Liggaamlike Opvoeding in China (Kang, 2000). Onder ‟n sterk Japannese militêre invloed was Liggaamlike Opvoeding in China op daardie stadium dan ook ʼn militaristiese vorm van gimnastiek en dril.

Volgens Kang (2000) het Liggaamlike Opvoeding in China die Verenigde State van Amerika en Europa se sportbenadering begin volg as fisieke aktiwiteit met gimnastiek, baan- en veldatletiek, balspele en swem as deel van die kurrikulum.

In die moderne Chinese gemeenskap het Liggaamlike Opvoeding ‟n onontbeerlike deel van die skoolkurrikulum geword as ʼn belangrike komponent in die bevordering van mense se totale ontwikkeling. Mense se gesondheid is al meer bedreig deur moderne, sedentêre lewenstyle, en daarom het die Chinese regering in 1999 “Health First” as riglyn vir skole ingestel. In 2000 is Liggaamlike Opvoeding verander na “Sports and Health” (Li, 2002). Die doel is om kinders en jongmense se fisieke en geestelike gesondheid te verbeter en daarom het die fokus van Liggaamlike Opvoeding verskuif, van die strewe na fisieke ontwikkeling en sportvaardighede na fisieke en verstandelike welstand asook sosiale vermoëns.

As gevolg van hierdie fokus op gesondheid en welstand het Liggaamlike Opvoeding in China ʼn redelik hoë status. Liggaamlike Opvoeding in skole ressorteer volledig onder die sentrale regering en is ʼn wetlik verpligte vak op alle vlakke. Ander skoolvakke in die kurrikulum het egter ʼn duidelik hoër status as Liggaamlike Opvoeding, wat baie maklik afgestel word vir vakke soos Letterkunde en Wiskunde in die plek daarvan. Navorsing oor die Chinese skoolkurrikulum toon aan dat meer as die helfte van die vakrigtings in China wel volgens die nasionale voorgeskrewe riglyne aangebied word – heelwat beter as die gemiddelde Asiatiese syfer van ongeveer een derde van alle vakke wat voldoen aan die voorgeskrewe riglyne (Lei & Jichun, 2005:176). Hierdie laer status van Liggaamlike Opvoeding is dus nie ooreenkomstig die onontbeerlike posisie wat die Nasionale Regering aan die vak toegeken het nie.

Daar is ʼn duidelike gaping in die opvoedkundige doelstellings en die implementering van Liggaamlike Opvoeding in China, en dit is as gevolg van die onvoldoende apparaat en fasiliteite, ʼn gebrek aan belangstelling in die vak by sekere skole asook te min en swak opgeleide onderwysers (Lei & Jichun, 2005:176). ʼn Verdere rede vir hierdie gaping is omdat ouers in China eerder graag hul kinders professioneel beter gekwalifiseerd wil sien – ‟n strewe wat gepaard gaan met voorspoed en rykdom. As gevolg van hierdie standpunt kry die akademiese vakke groter ondersteuning en word daar amper neergesien op Liggaamlike Opvoeding (Ma, 2002).

Verdere faktore wat die aanbied van Liggaamlike Opvoeding in skole in China bemoeilik en die status van die vak negatief beïnvloed, is onder andere baie groot klasse, ʼn tekort aan spesifieke leerinhoude of die onvermoë van die onderwysers om leerinhoude te implementeer, asook onduidelike standaarde vir kontroledoeleindes. Die instelling van die “Health First”-riglyn vir onderwys het beslis die geregverdigde, wettige posisie van Liggaamlike Opvoeding in China geweldig versterk, maar weens genoemde redes beleef die vak ʼn duidelike verskuiwing ten opsigte van status van belangrikheid (Chinese National Education Ministry, 2001).

Onderrigtyd

Volgens eenvormige nasionale wetgewing in China is dit verpligtend dat alle kinders en jongmense in skole in China minstens twee Liggaamlike Opvoeding-periodes per week moet ontvang. In 2001 het die Chinese regering bepaal dat alle kinders in Graad 1 tot 2 vier periodes Liggaamlike Opvoeding per week moet ontvang, kinders en jongmense in Graad 3 tot 9 drie periodes per week, en alle ander kinders en jongmense in Graad 10 en hoër twee periodes per week (Lei & Jichun, 2005:178).

Navorsing wat deur Lei en Jichun (2005) onderneem is nadat die veranderde vereistes vir Liggaamlike Opvoeding in skole in China ingestel is, dui daarop dat bykans 90% van laerskole in sekere streke meer tyd en periodes aan Liggaamlike Opvoeding vir kinders en jongmense toegeken het. Sommige skole in die middel-skoolfase het ook meer tyd toegeken aan Liggaamlike Opvoeding, maar ongelukkig het die meerderheid van skole in hierdie fase minder tyd aan die vak toegeken (Lei & Jichun, 2005:178). ʼn Moontlike rede vir hierdie vermindering van onderrigtyd vir Liggaamlike Opvoeding is die groot druk wat die hoërskole en universiteite se toelatingseksamens op kinders en jongmense plaas om beter te presteer in akademiese vakke (Pühse & Gerber, 2005).

Befondsing

Soos reeds genoem, veroorsaak die gebrek aan fasiliteite en apparaat dat daar ʼn aansienlike verskil is tussen dit wat as doelwitte gestel word vir Liggaamlike Opvoeding in China en dit wat werklik bereik word. Verdere probleme is dat die klasse te groot is vir die effektiewe aanbieding van die vak en dat daar ʼn tekort is aan goed opgeleide en gekwalifiseerde onderwysers. Liggaamlike Opvoeding in skole in China word dus nie bo ander skoolvakke bevoordeel met befondsing nie (Ma, 2002).

Een aspek waar Liggaamlike Opvoeding in China wel voordeel trek uit befondsing is met die oplei van Liggaamlike Opvoeding-onderwysers. Hierdie onderwysers werk direk met

die “Health First”-riglyn wat deur die Chinese regering daargestel is vir onderwys. Liggaamlike Opvoeding-onderwysers is verantwoordelik vir “Sports and Health”, daarom word daar intensief aandag gegee aan die vaardighede van hierdie onderwysers om kinders en jongmense bewus te maak van maar ook so goed as moontlik te bemagtig ten opsigte van gesondheid asook sportvaardighede en fisieke fiksheid (Ma, 2002). Vroeër jare het Liggaamlike Opvoeding-onderwysers in China basiese kennis oor fisieke fiksheid nie as belangrik beskou nie, en net gekonsentreer op die aktiwiteit en oefeninge. Met die nuwe fokus op gesondheid het die klem verskuif na lewenslange fisieke aktiwiteit en sport, en daarom word daar ook heelwat aandag gegee aan die teorie en praktyk van sport, higiëne en gesondheid (Yao, 2004). Om behoorlik aan al hierdie fasette aandag te gee word daar meer aandag, tyd en geld bestee aan die opleiding van Liggaamlike Opvoeding- onderwysers in China (Pühse & Gerber, 2005).

Die hoë premie wat op sport en sportdeelname in China geplaas word, hou ook ʼn voordeel in vir Liggaamlike Opvoeding en die befondsing daarvan. Groot bedrae geld word belê in die oprig en onderhoud van sportfasiliteite in China in hul strewe om internasionaal kompeterend te wees, soos duidelik geblyk het in die sukses wat China behaal het by die Olimpiese spele in 2007. Liggaamlike Opvoeding-onderwysers maak gebruik van hierdie fasiliteite in die aanbied van balspele, gimnastiek, swem en atletiek tydens Liggaamlike Opvoeding-periodes. Alle skole moet sorg dat kinders en jongmense minstens een uur buitekurrikulêre sport elke middag van die week kan beoefen. Hierdie buitekurrikulêre sport word aangebied in verskillende vorme van oefeninge, kompetisies en sportdae. Geskikte fasiliteite en apparaat is nodig vir die aanbied van hierdie aktiwiteite. Liggaamlike Opvoeding word direk bevoordeel deur die befondsing van hierdie fasiliteite (Yang, 2000). Met die verbetering van lewenstandaarde in China is daar ʼn toenemende belangstelling in rekreasie- en massa-sporte, wat ook baie gewild is onder kinders en jongmense. Hierdie sogenaamde “nuwe” sporte, byvoorbeeld rolskaats, aërobiese oefening, touspring en klim- aktiwiteite word bygevoeg tot Liggaamlike Opvoeding, en dra by tot befondsing en die skepping van nuwe fasiliteite (Yao, 2004.)

Assessering

Assessering in Liggaamlike Opvoeding in China behels twee komponente: eerstens die evaluering van die Liggaamlike Opvoeding-onderwyser, en tweedens die assessering van kinders en jongmense se bereiking van die uitkomste in Liggaamlike Opvoeding. Onderwyser-evaluering kyk spesifiek na vier uitkomste (Lei & Jichun, 2005:179):

Onderwysers moet kinders en jongmense se leeromstandighede ken asook die uitkomsvlakke wat hulle behoort te bereik – nie net hulle fisieke toestand en sportvaardighede nie, maar ook die verstaan van hul gedrag gedurende leeraktiwiteite; en dat alle leerders nie dieselfde vlak of standaard kan bereik nie, maar daar ook ruimte is vir persoonlike prestasies;

Onderwysers moet in staat wees om tekortkominge wat voorkom tydens aanbiedings te identifiseer en kinders en jongmense help om die redes daarvoor te ontleed; vind gesamentlik antwoorde vir die tekortkominge in vermoëns, gedrag, gesindheid en kommunikasie;

Onderwysers moet geleenthede skep vir kinders en jongmense om hul vermoëns en karaktereienskappe ten toon te stel; moedig kinders en jongmense aan om vinnige individuele vordering te probeer maak; om deur behoorlike klas-evaluering geluk en sukses te ervaar en daardeur selfvertroue te ontwikkel;

Onderwysers moet kinders en jongmense se vermoë tot self-identifisering en selfonderrig ontwikkel; hierdeur kry hulle ‟n duideliker beeld van hul eie fisieke vermoëns, gesindheid, gedrag en kommunikasiestyl.

Onderwyser-evaluering kyk ook na die professionele kwaliteite van die onderwysers, onder andere na die onderrigwaardes en -vermoëns asook navorsingsvaardighede. Onderwyser- evaluering probeer ook vasstel wat die onderwyser se invloed op kinders en jongmense is tydens die onderrigproses (Yao, 2004).

Die evaluering van hierdie kwaliteite is daarop gemik om beter geleenthede vir kinders en jongmense in Liggaamlike Opvoeding daar te stel, asook die professionele verbetering van die onderwysers self.

Studente-evaluering sluit ook vier uitkomste in wat kinders en jongmense moet probeer bereik (Lei & Jichun, 2005:180):

Fisieke vermoë sluit die vyf basiese komponente van fiksheid in: kardiorespiratoriese uithouvermoë, soepelheid, spierkrag en -uithouvermoë asook liggaamsamestelling;

Kennis en vaardighede as basis vir die begrip en verstaan van die belangrikheid van sport vir die gesondheid van individue en die gemeenskap;

Gesindheid ten opsigte van leeraktiwiteite in Liggaamlike Opvoeding-klasse deur middel van deelname en betrokkenheid;

Gees van samewerking en gemoedstoestand in die toepassing van sport in die beïnvloed van gemoedstoestand, begrip en respek vir onderwysers en klasmaats.

Die evaluering en assessering van kinders en jongmense in Liggaamlike Opvoeding in China kyk nie bloot na resultate nie, maar ook na die leerproses en die verstaan en gebruik van kennis teenoor die blote memorisering van ʼn klomp feite (Yao, 2004). Portuur- en self-evaluering en -assessering word sterk aangemoedig in assessering in Liggaamlike Opvoeding in China (Yao, 2004).

Liggaamlike Opvoeding-assessering is ten volle ingesluit in die graderingstelsel in China. Kinders en jongmense met swak punte vir Liggaamlike Opvoeding kom nie in aanmerking vir toppresteerder-posisies in skole in China nie (Yao, 2004). Ten spyte van die feit dat ouers en onderwysers wat akademiese vakke aanbied, Liggaamlike Opvoeding as ʼn minderwaardige vak beskou, is daar tans eksamens ingestel vir Liggaamlike Opvoeding vir die bevordering na senior hoërskool. Liggaamlike Opvoeding in China is dus gelykwaardig in status aan ander akademiese vakke wat betref kredietwaardigheid as toelatingsvak vir senior hoërskool (Yao, 2004).

Hierdie beleid is gemik op die bevordering van die waarde van sport en Liggaamlike Opvoeding in Chinese skole, gesinne en die gemeenskap, asook die bevordering van ʼn positiewe gesindheid teenoor fisieke aktiwiteit en sport onder kinders en jongmense. Om te verhinder dat die hoërskooleksamen in Liggaamlike Opvoeding in China beperkings plaas op dit wat getoets word, is dit noodsaaklik dat die eksamineringinhoude en -metodes aangepas word om kinders en jongmense se belangstelling in vryetyds- fisieke aktiwiteit te bevorder (Pühse & Gerber, 2005).

Die assesseringspraktyke in Liggaamlike Opvoeding in China kan ʼn belangrike rol speel in die assessering van Liggaamlike Opvoeding in Suid-Afrikaanse skole. Gepaste assessering kan bydra tot die bevordering van die status en aansien van die vak in Suid- Afrika in die algemeen.

Uitkomste en inhoude

Liggaamlike Opvoeding in skole in China fokus op vier uitkomste (Lei & Jichun, 2005:178): “Health First” fokus op gesondheidsbewustheid en beter oefengewoontes;

Sportbelangstelling fokus op lewenslange aktiewe sportdeelname; Leerderbehoeftes fokus op kreatiwiteit en leervermoëns;

Leerderverskille en vereistes fokus op die bevoordeling van elkeen.

Die Chinese regering lê sterk klem op die verbetering van kinders en jongmense se fisieke fiksheid en gesondheid. Nasionale riglyne vir Liggaamlike Opvoeding in China beklemtoon die feit dat die verbetering van fisieke fiksheid van kinders en jongmense die basiese doelwit of uitkoms van die vak is. Volgens Yang (2000) is die verbetering van kinders en jongmense se fisieke fiksheid en voorkoms die belangrikste meetinstrument vir die vordering en prestasie in Chinese skole in Liggaamlike Opvoeding. Die veranderende lewensomstandighede in die Chinese gemeenskap dra baie by tot die verandering in mense se persepsies oor lewenstyl en gedrag. Talle Chinese raak betrokke by lewenslange deelname aan sport en fisieke aktiwiteit, en Liggaamlike Opvoeding en skoolsport speel ʼn uiters belangrike rol in die vestiging van kennis, vaardighede, sportbelangstelling en ʼn gesonde lewenswyse (Li, 2002).

Die 2001-kurrikulum in China het wegbeweeg van ʼn enkel doelwit van gesondheids verbetering in Liggaamlike Opvoeding na ʼn meer komplekse doelwit van gesondheid, lewenslange sportontwikkeling asook sosiale ontwikkeling van kinders en jongmense. Die kurrikulum fokus op die positiewe ontwikkeling van kinders en jongmense op vyf terreine (Ji, 2001):

die verbetering van fisieke vermoëns; die verbetering van sportbelangstelling;

die verbetering van psigologiese eienskappe soos kommunikasie en samewerking;

die verbetering van verantwoordelikheidsin teenoor eie en gemeenskapsgesondheid;

die verbetering van goeie sportmanskap.

Die klem in die Liggaamlike Opvoeding-Kurrikulum in China val dus baie sterk op die ontwikkeling van kinders en jongmense en nie noodwendig op prestasie nie.

Ondersteuning

Ten spyte van die feit dat baie ouers en ook onderwysers wat verantwoordelik is vir akademiese vakke, neersien op Liggaamlike Opvoeding in China omdat hulle kinders en jongmense eerder beter akademies en professioneel wil kwalifiseer, word Liggaamlike Opvoeding goed ondersteun van regeringskant af. Die instelling van die “Health First”- riglyn vir onderwys in China asook die belangrikheid van sport en sportprestasies op internasionale vlak, het die status en stand van Liggaamlike Opvoeding in China aansienlik versterk (Li, 2002).

In die laaste tien jaar is daar aansienlike vordering gemaak in Liggaamlike Opvoeding in China as gevolg van positiewe veranderings in die kurrikulum. ʼn Goeie bestuurstelsel asook wetlike ondersteuning is nou in plek vir Liggaamlike Opvoeding in die Chinese skoolkurrikulum. Daar is heelwat meer goed gekwalifiseerde Liggaamlike Opvoeding- onderwysers wat die vak aanbied, en die doel en funksie van die vak kom duidelik na vore. Werklike aktiewe sportgeleenthede is nou aan die orde van die dag en kinders en jongmense word fisiek al hoe beter toegerus (Chinese National Education Ministry, 2001). Al word Liggaamlike Opvoeding in China goed ondersteun en toon die vak goeie vooruitgang oor die laaste paar jaar, is daar nogtans probleem-areas waaraan aandag gegee moet word (Lei & Jichun, 2005:187). Liggaamlike Opvoeding kry nie die nodige erkenning as skoolvak in China nie en beleef ʼn laer status as ander skooleksamenvakke. Daar is nog steeds ʼn tekort aan goed gekwalifiseerde Liggaamlike Opvoeding- onderwysers en onvoldoende vakinhoude, swak aanbiedingsmetodes en onwetenskaplike assesseringskriteria, wat teenproduktief is vir die algemene ondersteuning van Liggaamlike Opvoeding in China (Lei & Jichun, 2005:187).

Die toekoms

In die toekoms sal Liggaamlike Opvoeding in China baie sterk klem moet plaas op gesondheid, lewenslange deelname aan sport asook karakterontwikkeling by kinders en jongmense. Kinders en jongmense sal geleer moet word om beheer uit te oefen oor hulle persoonlike eetgewoontes en ʼn meer aktiewe lewenstyl te volg. Liggaamlike Opvoeding- onderwysers sal kinders en jongmense moet leer dat hulle beter lewenskwaliteit kan handhaaf deur volhoudend en lewenslank aan fisieke aktiwiteit en sport deel te neem. Verder moet hulle leer om ander mense te respekteer as deel van hul persoonlike ontwikkeling, hul betrokkenheid by sport asook hul spesifieke sportbelangstelling. Hierdie aspekte kan ʼn groot bydrae maak in die positiewe gesindheid en entoesiasme waarmee

kinders en jongmense aan Liggaamlike Opvoedings-programme sal deelneem (Zhao, 2002).

Yang (2000) beklemtoon ses belangrike areas waaraan aandag gegee moet word in die toekoms en wat ʼn groot verskil kan maak aan die status en stand van Liggaamlike Opvoeding in China:

Meer publisiteit vir die werk wat in Liggaamlike Opvoeding gedoen word; Liggaamlike Opvoeding vir almal;

Goed gekwalifiseerde Liggaamlike Opvoeding-onderwysers; Volgehoue vernuwing en verbetering in Liggaamlike Opvoeding;

Ondersteun Liggaamlike Opvoeding met ʼn verskeidenheid kwaliteit buitekurrikulêre aktiwiteite; en

Verbeterde begroting vir ʼn meer doeltreffende befondsing van Liggaamlike Opvoeding en fasiliteite.

Indien hierdie ses areas van belang in Liggaamlike Opvoeding in Suid-Afrika aangespreek word, behoort dit beslis ʼn reuse verskil aan die status en stand van die vak in ons land te maak.