• No results found

Navorsing oor die effektiwiteit van behandeling

INLEIDING EN ORIËNTERING

Hoofstuk 7 is ‘n Bespreking van Resultate en bevindinge word met literatuur vergelyk.

2.7. DIE ROL VAN DIE ARBEIDSTERAPEUT

2.8.1 Navorsing oor die effektiwiteit van behandeling

Een navorsingsprojek wat Martin en medenavorsers (2008:82) as ‘n effektiwiteitstudie beskou, is deur Stensrud en Lushbough (1988:1-15) uitgevoer. Die studie lewer bewyse oor die waarde van kuns en handwerk (kunsvlyt) in substansrehabilitasieprogramme.

‘n Meer onlangse studie wat deur McQueen en medenavorsers (2006:327-333) uitgevoer is, fokus ook op die effektiwiteit van behandeling. Die navorsers (McQueen et al., 327-330) het op die effektiwiteit van ‘n kort motiverende behandelingbenadering gefokus en die motiveringstrategie “FRAMES” bestudeer (vgl. Figuur 2.1:42). Deelnemers aan McQueen en medenavorsers (2006:327) se studie, is in algemene mediese sale opgeneem en het gevaarlike of skadelike gewoontes van alkoholgebruik getoon. Deelnemers is nog nie tevore vir hierdie onderliggende probleem behandel nie; met ander woorde die studie het op primêre gesondheidsorg, voorkoming van substansafhanklikheid en bevordering van gesondheid gefokus (McQueen et al., 2006:329-331). Gebaseer op die studie se bevindinge, beveel McQueen en medenavorsers (2006:331) aan dat arbeidsterapeute werksaam in mediese sale, siftingevaluasies vir substansmisbruik en die volg van kort behandelingsbenaderings implementeer. Verdere navorsing oor die effektiwiteit van kort behandelingsbenaderings word ook aangemoedig (McQueen et al., 2006:331).

Geen ander arbeidsterapiestudie oor die volg van ‘n kort behandelingbenadering met substansmisbruikers is gevind nie. Meeste studies het arbeidsterapie rehabilitasieprogramme in psigiatriese hospitale, rehabilitasiesentrums of nasorgfasiliteite ondersoek.

Martin en medenavorsers (2008:81-87) het die veranderinge in “occupational performance”, selfbeeld en lewensgehalte ondersoek by pasiënte wat deel was van ‘n substansafhanklikheidsherstelprogram (“halfway house”). Die herstelprogram het pasiënte vier tot ses maande geneem om te voltooi en het onder andere arbeidsterapiesessies ingesluit. Die arbeidsterapiebehandeling het op

die bevordering van pasiënte se lewensvaardighede gefokus. Resultate toon dat pasiënte se “occupational performance”, selfbeeld en lewensgehalte merkwaardig verbeter het vanaf opname tot ontslag. Alhoewel Martin en medenavorsers (2008:86) nie vordering direk aan die gegewe arbeidsterapiebehandeling kon koppel nie (as gevolg van die studieontwerp), was dit moontlik om aan te dui dat die geëvalueerde konsepte wel spesifiek tot die aspekte van die arbeidsterapieprogram was.

Martin en medenavorsers (2008:86) het gepoog om al die deelnemers aan hul studie drie maande en ses maande na ontslag op te volg. Ongelukkig kon die navorsers (Martin et al., 2008:86) net ‘n beperkte aantal deelnemers vir die herevaluering van hul “oocupational performance”, selfbeeld en lewensgehalte opspoor. Hierdie deelnemers se funksionering het in al drie van die bogenoemde areas afgeneem drie maande na ontslag. Ses maande na ontslag het hierdie deelnemers se funksionering (in al drie areas) weer toegeneem tot ten minste dieselfde vlak as wat hul met ontslag getoon het.

Ander arbeidsterapienavorsers (Corvinelli, 2005:8-10; Stevens, Redfearn & Tse, 2003:170-173; Tayar, 2004:164-165; Von Deusen, 1989:388) het net soos die bogenoemdes (Martin et al., 2008:86; McQueen et al., 2006:327-333), slegs voorstelle gemaak oor arbeidsterapiebehandelingsuitkomste in substansrehabilitasie- programme. Beperkinge wat veralgemening van arbeidsterapiestudies se resultate verhoed is onder andere, te klein studiepopulasies, insluiting van slegs een instansie/sentrum, onsuksesvolle opsporings van deelnemers, asook etiese oorwegings oor waarskynlikheidsteekproeftrekking by behandelingsentrums (Martin et

al., 2008:86, McQueen et al., 2006:328; Stoffel & Moyers, 2004:573-

Binne die substansrehabilitasieveld is daar dus ‘n behoefte aan fondse, tyd en ondersteuning vir grootskaalse arbeidsterapienavorsing. Ten spyte van ‘n tekort aan empiriese bewyse, het Stoffel en Moyers (2004:580) nogtans ‘n bewysgebaseerde arbeidsterapieperspektief vir die behandeling van substansmisbruikers saamgestel. Die navorsers (Stoffel & Moyers, 2004:580) het ‘n wyer benadering gevolg en fokus op die toepassing van interdissiplinêre navorsingsbevindinge, eerder as om

net arbeidsterapienavorsingsresultate te gebruik. Vanuit die interdissiplinêre literatuurondersoek is vier effektiewe

behandelingbenaderings geïdentifiseer (Stoffel & Moyers, 2004:580- 582).

Die arbeidsterapeut sal die benaderings in verskillende fases van substansmisbruikers se behandeling kan toepas. Die benaderings, naamlik kort behandelingbenaderings, motiveringstrategieë, kognitief- gedragsterapie en twaalfstapbehandelingsprogramme word afsonderlik uit Stoffel en Moyers (2004:572, 580-582) se werk opgesom:

• Kort behandelingbenaderings

Kort behandelingbenaderings is van toepassing gewoonlik buite die substansrehabilitasie-opset, waar die pasiënt behandeling ontvang vir moontlike substansverwante mediese of psigososiale probleme.

Hierdie behandeling poog om die pasiënt te motiveer om sy of haar potensiële substansmisbruikprobleem te identifiseer en verantwoordelikheid vir die verandering daarvan te aanvaar. Met aanmoediging van die arbeidsterapeut kan pasiënte meer bewus raak van die negatiewe impak van hul substansmisbruik. Terugvoering oor die persoon se substansmisbruik, uiteensetting van die betrokke

risiko’s, besprekings rakende die voordele om substansmisbruik te staak, asook gepaste raad en verwysings na substansrehabilitasiespesialiste, word gesien as deel van die kort behandelingbenadering. Arbeidsterapeute kan verdere bewuswording bevorder deur pasiënte aan te moedig om werk- en dagboeke te voltooi. Die gebruik van kort behandelingbenaderings word ook voorgestel vir substansmisbruikers wat op dieselfde tyd fisiese rehabilitasie ontvang.

Bewyse is gelewer dat die volg van kort behandelingbenaderings substansmisbruikers se bewustheid oor hul probleem bevorder en dat dit hul houding teenoor verandering positief beïnvloed. Dus kan arbeidsterapeute, ongeag hul spesialiteitsveld, nie pasiënte se probleme met substansmisbruik onbehandeld laat nie (Stoffel & Moyers, 2004:572,580).

• Motiverende strategieë

Motiverende strategieë het as ‘n groep behandelingstegnieke vanuit die transteoretiese model vir gedragsverandering ontwikkel. Die model het die fases van gedragsverandering voorgestel en het dit in die volgende vlakke van gereedheid verdeel: voor-oorweging, oorweging, voorbereiding, aksie, handhawing en terugval.

Gesien binne hierdie perspektief sal die arbeidsterapeut eers ‘n pasiënt se gereedheidsvlak vir verandering bepaal om sodoende ‘n gepaste motiveringstrategie te selekteer. Motiveringstrategieë fokus daarop om die natuurlike proses van gedragsverandering te ondersteun. ‘n Pasiënt sal aangemoedig word om self te reflekteer, te beplan en aksie te neem. Hantering en voorkoming van terugvalle kan ook deur die gebruik van motiveringstrategieë benader word. Pasiënte

kan tydens sessies selfmotivering aanleer, wat hul sal help om nie na substansmisbruik terug te keer nie. Motiveringstrategieë sluit volgens Stoffel en Moyers (2004:572) die volgende in: motiverende onderhoudsvoering, opweeg van keuses (“decisional balancing”), “MET” (“motivational enhancement therapy”) en “FRAMES” (akroniem vir ‘n kort behandelingstegniek).

o Motiverende onderhoudvoering: Tydens hierdie behandeling sal ‘n kliëntgesentreerde onderhoudvoeringstyl gevolg word. Die styl word beskryf as uiters empaties en sonder konfrontasie. Die doel is om die pasiënt se intrinsieke motivering vir gedragsverandering te bevorder. Die arbeidsterapeut sal tydens behandeling die pasiënt lei om sy eie ambivalensies oor gedragsverandering te identifiseer en op te los (Stoffel & Moyers, 2004:572).

o Opweging van keuses: Hierdie strategie behels die gebruik van spesifieke besluitnemingsoefeninge. Pasiënte word aangemoedig om die voordele en nadele van substansmisbruik teenoor mekaar op te weeg. Hierdeur besef die pasiënte mettertyd self dat dit voordelig is om die misbruik van substanse te staak (Stoffel & Moyers, 2004:572).

o MET (“Motivational Enhancement Therapy”): Die behandelingstegniek word beskou as ‘n onafhanklike (“stand- alone”) protokol wat fokus op die verbetering van ‘n pasiënt se motivering om sodoende verandering te kan oorweeg. Verder word die protokol gebruik om die pasiënt se motivering gedurende die proses van gedragsverandering te versterk (Stoffel & Moyers, 2004:572).

o FRAMES: Die motiveringstrategie word gewoonlik toegepas as ‘n kort behandelingsbenadering gevolg word. Die woord “FRAMES” is ontwikkel as ‘n akroniem wat elke aspek van die behandeling verteenwoordig (Stoffel & Moyers, 2004:572). Figuur 2.1 verskaf die uiteensetting van die strategie.

F - (“Feedback) Terugvoering oor eie beperkinge en/of risiko’s. R - (“Responsibility) Om persoonlike verantwoordelikheid vir

verandering te neem.

A - (“Advice”) Raad te gee om substansmisbruik te staak. M - (“Menu”) Bied van alternatiewe opsies en stel van gesamentlike doelwitte vir verandering.

E - (“Empathic interviewing”) Reflektering en eksplorasie van opsies, soos pasiënt die situasie sien.

S - (“Self-efficacy”) ‘n Onderhoudstyl wat geloof in eie vermoëns om te kan verander, versterk.

Figuur 2.1: Uiteensetting van FRAMES (Uit “Brief motivational

Counselling for Alcohol abusers admitted to Medical Wards deur McQueen et al., 2006:8.)

• Kognitief-gedragsterapie

Die kognitief-gedragsbenadering is van pas wanneer pasiënte reeds gemotiveerd is vir rehabilitasie. Die benadering is vanuit ‘n kombinasie kognitief– en gedragsterapiebeginsels opgestel.

Die arbeidsterapeut sal met die gebruik van hierdie benadering die pasiënt help om nuwe lewensvaardighede te ontwikkel. Pasiënte word gelei om hoë risikosituasies vir substansgebruik te ontleed, ten opsigte van hul eie gedagtes, emosies, reaksies en vorige gebeure. Hierdie inligting vorm ‘n basis vir die pasiënt en arbeidsterapeut om ‘n variasie van nuwe gedagte– en gedragspatrone te oorweeg, te selekteer en in te oefen. Met die opbou van hul nuwe vaardighede word pasiënte bemagtig om hul lewensrolle en –take meer suksesvol uit te leef (Stoffel & Moyers, 2004:572,580).

• Twaalfstapbehandelingsprogramme

Met hierdie behandelingbenadering het Stoffel en Moyers (2004:572,581) verwys na ondersteunings- of selfhelpgroepe soos die AA (“Alkoholiste Anoniem”) en NA (“Narkotika Anoniem”).

Arbeidsterapeute kan hul pasiënte lei om die waarde van ‘n ondersteuningsgroep te besef, asook die pasiënt aanmoedig om ‘n groep te vind om by in te skakel. Die waarde vir die pasiënt is om ‘n nuwe sosiale netwerk te vorm wat ondersteunend is in die handhawing van ‘n geestelik gesonde en nugter lewenstyl. Die arbeidsterapeut kan die pasiënt aanmoedig en ondersteun om die twaalfstapprogram se beginsels prakties in sy of haar daaglikse lewe toe te pas.

Die volgende is kenmerkend van ‘n twaalfstapprogram: om jouself as ’n verslaafde te identifiseer, groepsondersteuning van mense met dieselfde probleem te ontvang, kameraadskap (“fellowship”) te ervaar, spiritualiteit te bevorder, die lewe “een dag op ‘n slag te neem”, die waarde van gereelde bywoning te besef en ‘n verhouding te onwikkel met iemand wat as persoonlike ondersteuner (“sponsor”) optree (Stoffel & Moyers, 2004:572,581).

Alhoewel daar nog bewyse vanuit navorsing ontbreek, is daar wel genoegsame voorstelle oor arbeidsterapiebehandeling in substansrehabilitasieprogramme.

2.8.2 Voorgestelde arbeidsterapiebehandelingsuitkomste

Die oorhoofse doel van arbeidsterapiebehandeling wat deel is van substansrehabilitasie, poog om substansmisbruikers se lewensvaardighede te bevorder, sodat hulle gebalanseerde lewens kan handhaaf en stressore toepaslik kan hanteer (Stoffel & Moyers, 2004:581). Die volgende arbeidsterapiebehandelingsuitkomste vir individuele of groepsterapie word aanbeveel:

• Bevordering van voorberoeps- en werksvaardighede (Busuttil 1989:477; Clarey & Felstead, 1990:86; Crouch, 2005:531; Martin et

al., 2008:83; Stevens et al., 2003:168; Wegner, 2005:545-546).

• Bevordering van konstruktiewe vryetydsbesteding en streshanteringsvaardighede (Buijsse et al., 1999:305; Clarey & Fulstead, 1990:87; Crouch, 2005:531; Gutman 2006:18-19; Martin

et al., 2008:83; Stevens et al., 2003:168; Wegner, 2005:545-546).

• Verbetering van sosiale vaardighede, selfgelding en konflikhantering (Crouch, 2005:530; Davies, 2006:576; Gutman 2006:19-20; Martin et al., 2008:83; Wegner, 2005:546-547).

• Bevordering van ouerskapvaardighede (Knis-Matthews, 2007:15- 16; Martin et al., 2008:83).

• Bevordering van woedehanteringsvaardighede (Crouch, 2005:530; Martin et al. 2008:83;).

• Die bevordering van spesifieke aktiwiteitsverrigtingskomponente, soos spirituele, fisiese, affektiewe of kognitiewe aspekte. Die behandeling sluit selfkennisgroepe, gebruik van projektiewe en psigodramategnieke, asook bywoning van ondersteuningsgroepe in (Busuttil, 1989:478; Clarey & Felstead, 1990:86; Crouch, 2005:530).

• Quadling et al. (1999:11) maak egter ‘n unieke voorstel en moedig

arbeidsterapeute aan om substansmisbruikers se sensoriese modulasie te bepaal en indien nodig te behandel. Hierdie navorsers (Quadling et al., 1999:11) het die prevalensie van sensoriese modulasieversteuring in ‘n klein populasie substansmisbruikers ondersoek. Tagtig persent (80%) van die studiepopulasie toon een of meer vorme van sensoriese modulasieversteuring. Quadling en medenavorsers (1999:13) beskou bevordering van die pasiënt se bewustheid en kennis oor die modulasieversteuring as deel van behandeling, aangesien dit ondersteunend is in die ontwikkeling van kognitiewe kontrole oor die modulasieprobleem. Na aanleiding van die sensoriese modulasiebepaling se resultate sal die arbeidsterapeut meer geskikte aktiwiteite vir die pasiënt kan aanbeveel. Verder word die gebruik van sensoriese integrasietegnieke ook aangemoedig (Quadling et al., 1999:13).

2.9. SAMEVATTING

Alhoewel daar reeds ‘n magdom navorsing oor substansmisbruikers bestaan, is daar steeds ‘n groot behoefte vir navorsing wat na die ontwikkeling van meer effektiewe behandelingsmetodes kan lei (Martin

et al., 2008:87; Wong & Schumann, 2008:3213;). Die behoefte

bestaan binne die farmaseutiese sowel as psigososiale beroepsvelde (Gutman, 2006:13). Die literatuurondersoek toon dat ontwikkeling van substansmisbruikversteurings, sowel as behandeling daarvan, amper alle aspekte van menslike funksionering betrek. Dit kan moontlik verklaar waarom die bogenoemde navorsingbehoeftes nog bestaan. Volgens Martin en medenavorsers (2008:87) is arbeidsterapie die ideale dissipline om die bevordering van substansmisbruikers se lewensvaardighede na te vors.

Crouch (2005:521) dui aan dat arbeidsterapeute unieke opleiding het om tydens evaluering en behandeling van pasiënte alle aspekte van menslike funksionering in ag te neem. Met toepassing van bogenoemde vaardighede in navorsingstudies behoort arbeidsterapeute juis waardevolle inligting te kan lewer oor die funksionering en behandeling van substansmisbruikers, ongeag of die navorsing sou fokus op lewensrolle, aktiwiteitsreekse, woedehantering of sensoriese prosessering.

In die volgende hoofstuk word sensoriese prosessering bespreek ten opsigte van die arbeidsterapieliteratuur oor Dunn (1997:23-35) se Model vir Sensoriese Prosessering en ander verwante konsepte.

HOOFSTUK 3