• No results found

Die gemoedstemming-persoonlikheidstrekteorie

PROBLEMATIESE WOEDE

4.3 DIE BESTUDERING VAN WOEDE

4.3.1 Die gemoedstemming-persoonlikheidstrekteorie

Vir Spielberger en medenavorsers (Spielberger et al., 1983:112; Spielberger et al., 1985:5; Spielberger et al., 1988:108) was dit nodig om eers die belewing van woede te definieer, alvorens hulle metinginstrumente vir woede kon ontwikkel. Hierdie navorsers stel die gemoedstemming-persoonlikheidstrekteorie (“state-trait personality theory”) voor as ‘n raamwerk om die verskillende aspekte van woedebelewing te beskryf.

Die belewing van woede, binne die bogenoemde teorie, word eerstens voorgestel as ‘n gemoedstemming (“state-anger”). Die belewing van woede as ‘n gemoedstemming word gedefinieer as ‘n tydelike, verbygaangde emosionele toestand wat bestaan uit die ervaring van subjektiewe emosies en fisiologiese aktivering. Volgens die navorsers (Spielberger et al., 1983:112; Spielberger et al., 1985:5; Spielberger et

al., 1988:108) kom hierdie emosionele ervaringe en fisiologiese

aktivering op ‘n kontinuum voor. Die kontinuum vir emosionele ervaringe strek vanaf geen of minimale ervaring van woede, tot meer gematigde emosies soos geïrriteerdheid en frustrasie en eindig met sterk emosies soos woede en wraak. Die kontinuum vir fisiologiese aktivering strek vanaf geen fisiologiese opwekking tot die aktivering van die simpatiese senuweestelsel en die afskeiding van adrenalien. Woede, as ‘n gemoedstemming, word dus beskou as die onmiddellike, emosionele en fisiologiese reaksie op ‘n huidige situasie wat in intensiteit kan varieer en oor ‘n kort periode kan fluktueer.

Tweedens word die ervaring van woede, as ‘n persoonlikheidstrek (“trait-anger”) voorgestel. Woede as ‘n persoonlikheidstrek verwys na die geneigdheid om woede as ‘n gemoedstemming te ervaar. Met ander woorde, persone met dié persoonlikheidstrek sal meer gereelde,

intense en langdurige woede-episodes ervaar as persone sonder die persoonlikheidstrek (Spielberger et al., 1983:112; Spielberger et al., 1985:5; Spielberger et al., 1988:108).

Spielberger en medenavorsers (1988:108) stel verder voor dat mense hul woede basies op twee maniere hanteer:

• Woede-uitdrukking: om woede te eksternaliseer en op mense of objekte in die omgewing te rig (“anger-out”).

• Woede-onderdrukking: om nie woede te wys nie en dus te internaliseer (“anger-in”).

Die werk van Spielberger en medenavorsers (Spielberger et al., 1983:112; Spielberger et al., 1985:5; Spielberger et al., 1988:108) maak ‘n blywende impak op die navorsing van woede. Hul voorstelling van woedehantering (woede-onderdrukking of woede-uitdrukking), asook die woedemetinginstrumente wat hul ontwikkel het, word tans nog in navorsingstudies gebruik (Burns Holly, Quartane, Wolf, Gray & Bruehl, 2007:154; Foley, Hartman, Dunn, Smith, 2002:364; Koh & Park, 2008:46; Reilly & Shopshire, 2000:165; Shay & Knutson, 2008:39; Stimmel, Rayburg, Waring & Raffeld:2005:112; Terasaki et

al., 2009:1; Wilkowski & Robinson, 2008:3).

Deffenbacher en medenavorsers (1996:131) is die volgende groep navorsers wat ‘n groot bydrae tot die toepassing van die gemoedstemming-persoonlikheidstrekteorie op woede lewer. Hulle het sielkundestudente gewerf om aan die studies deel te neem. Die fokus van hul navorsing was om die belewing van woede as ‘n persoonlikheidstrek (“trait-anger”) te ondersoek ten opsigte van die geneigdheid om: makliker en vinniger kwaad te word, meer intense

woedereaksies te ervaar, meer gereeld woede op ‘n negatiewe wyse uit te druk en te onderdruk, minder gereeld woede konstruktief te hanteer en meer negatiewe gevolge verwant aan woedegedrag te ervaar. Meeste van die studies se bevindinge het bogenoemde hipotese ondersteun en bewys dat die belewing van woede as persoonlikheidstrek, ‘n relatiewe en unieke emosionele dimensie van ‘n mens se persoonlikheid is (Deffenbacher et al., 1996:145-147).

Twee bevindinge ondersteun egter nie die navorsers se hipotese nie (Deffenbacher et al., 1996:146). Deelnemers se harttempo’s is gemeet direk na blootstelling aan ‘n woede-ontlokkende eksperiment. Geen verskille is egter tussen die harttempo’s van deelnemers met ‘n hoë geneigdheid tot woede en deelnemers met ‘n lae geneigdheid tot woede gevind nie. Die navorsers (Deffenbacher et al., 1996:146) vermoed dat deelnemers die woede-ontlokkende eksperimente nie intens of ernstig genoeg beskou het nie en dus het dit nie genoegsame fisiologiese veranderinge by hulle ontlok nie. Die bepaling van harttempo’s alleenlik was moontlik ook nie sensitief genoeg nie. Deffenbacher en medenavorsers (1996:146) stel voor dat as fisiologiese aktivering tydens navorsing oor woede ondersoek wil word, meting eerder verskillende fisiologiese response moet insluit.

Die tweede bevinding toon dat daar ‘n sterker verband voorkom tussen woede-onderdrukking en die belewing van angs as ‘n persoonlikheidstrek (“trait anxiety”), as met die belewing van woede as ‘n persoonlikheidstrek (Deffenbacher et al., 1996:146).

Deffenbacher en medenavorsers (1996:132) se werk oor die gemoedstemming-persoonlikheidstrekteorie skep vir navorsers ‘n platform om woede verder binne dié teorie te bestudeer. Onlangse navorsingstudies waarin die teorie gebruik is sluit die volgende in: die

verband tussen woede as gemoedstemming en die risiko vir beserings (Vinson & Areli, 2006:63), woede as persoonlikheidstrek en depressie tydens swangerskap as risiko-faktore vir oormatige toepassing van fisiese dissipline (Shay & Knutson, 2008:39), die kognitiewe basis van woede as persoonlikheidstrek en aggressie (Wilkowski & Robinson, 2008:3), die impak van woede as persoonlikheidstrek op die effekte van woede-regulering in pasiënte met kroniese rugpyn (Burns et al., 2007:154), die verband tussen woede-onderdrukking, woede as persoonlikheidstrek en psigopatologie (Stimmel et al., 2005:112).

Tafrate, Kassinove en Dundin (2002:1573) bou verder voort op Deffenbacer en medenavorsers (1996:132) se werk. Tafrate en medenavorsers identifiseer ‘n behoefte aan inligting oor die woede- belewinge van volwassenes uit die breër gemeenskap (nie studente nie) wat ‘n hoë geneigdheid tot woede toon. Volgens Tafrate en medenavorsers (2002:1573) is hierdie data uiters noodsaaklik vir die wetenskaplike vordering in diagnosering en behandeling van problematiese woede.

Die navorsers (Tafrate et al., 2002:1575) het volwassenes met ‘n hoë geneigdheid tot woede en volwassenes met ‘n lae geneigdheid tot woede vir hul studie geselekteer. Albei die groepe deelnemers het ‘n vraelys voltooi wat inligting oor ‘n enkele woede-episode ingesamel het. Vergelykende resultate tussen die twee groepe toon dat deelnemers met ‘n hoë geneigdheid tot woede meer gereeld woede- episodes ervaar, hul woede-episodes meer intens is en langer duur, hul meer irrasionele denke tydens ‘n woede-episode ervaar, hul meer gereeld alkohol of dwelmmiddels misbruik as hul woede ervaar, hul meer negatiewe, kort– en langtermyngevolge na ‘n woede-episode ervaar en dat hul meer gereeld negatiewe emosies soos

skuldgevoelens, depressie en afsku tydens ‘n woede-episode ervaar (Tafrate et al., 2002:1584).

Die resultate toon verder dat die groep deelnemers met ‘n hoë geneigdheid tot woede tydens ‘n woede-episode meer gereeld fisiese simptome verwant aan die gesig en kop (soos hoofpyne en duiseligheid) ervaar, hul meer gereeld woede op ‘n negatiewe verbale wyse uitdruk (byvoorbeeld: skree, argumenteer, dreig, gebruik van sarkastiese en afbrekende opmerkings) en meer gereeld fisies aggressief optree as hul woede ervaar.

Een uit elke vyf van hierdie groep deelnemers dui aan dat hul fisies aggressief optree. Dit is aansienlik hoër as wat die navorsers (Tafrate

et al., 2002:1584) verwag het. In vorige studies met nie-kliniese

populasies het slegs ‘n klein persentasie deelnemers fisiese aggressiwiteit aangemeld. Die groep deelnemers met ‘n hoë geneigdheid tot woede ervaar ook meer gereeld dat hul verhouding met die betrokke persoon verswak en dat hul aansienlik minder tyd saam met die persoon deurbring. Die groep met ‘n lae geneigdheid tot woede dui aan dat die verhouding met die betrokke persoon na die woede-episode nie verander nie en dat dieselfde hoeveelheid tyd nog saam met die persoon bestee word (Tafrate et al., 2002:1584).

Tafrate en medenavorsers (2002:1586) het ook ooreenkomste gevind tussen die groep deelnemers met ‘n hoë geneigdheid – en die groep met ‘n lae geneigdheid tot woede se woedebelewinge. Die ooreenkomste word kortliks in Tabel 4.1 opgesom.

Tabel 4.1: Ooreenkomste tussen die woedebelewinge van deelnemers met ‘n hoë en lae geneigdheid tot woede (Uit “Anger

Episodes in High- and Low-Trait-Anger Community Adults”, deur Tafrate et al., 2002:1586.)

Ooreenkomste Beskrywing

Patrone van woede-ontlokking

Ontlok deur dade van iemand anders, teiken van woede is geliefde of vriend/in, woede kom meestal voor by die huis, weeksaande, laatmiddag of vroegaand.

Kognisie Verwyte en veroordeling.

Liggaamstaal Staar, rol van oë, frons en om arms te vou. Verhouding met

betrokke persoon

Verbrokkeling van verhouding vind eers na vele episodes plaas.

Vir verdere ondersoeke na die identifisering van diagnostiese kriteria vir woedeprobleme, stel Tafrate en medenavorsers (2002:1588) voor dat Spielberger en kollegas (1988:108) se beskrywing van woedehantering, naamlik woede-onderdrukking/woede-uitdrukking (“anger-in/anger-out”) ingesluit word.

Miller, Jenkins, Kaplan en Salonen (1995:1142), asook Riley en Treiber (1989:397), beskou egter Spielberger en medenavorsers (1988:108) se beskrywing “anger-in/anger-out” as te eng. Volgens Riley en Treiber (1989:397) is daar drie faktore van belang in woedebeheer: vyandigheid as deel van woedebelewing, verbaal- aangepaste uitdrukking van woede en wanaangepaste fisiese uitdrukking van woede. Miller en medenavorsers (1995:1142) het agt faktore in hantering van woede geïdentifiseer: vyandige uitdrukking van woede, oortuiging van eie vermoëns om woede te kan beheer, frekwensie van woede-ervaringe, hoe maklik woede ontlok kan word, oorpeinsing, vyandige oortuiginge, sinisme en somberheid. Linden, Hogan, Rutledge, Chawla, Lenz en Leung (2003:13) is ook van mening dat daar meer wyses van woedehantering voorkom.

Gebaseer op die sosialekonflikmodel het bogenoemde navorsers (Linden et al., 2003:14) die BARQ-metinginstrument (“Behavioral Anger Response Questionnaire”) vir woedehanteringstyle ontwikkel. Uitkomste van Linden en medenavorsers (2002:25) se bevindinge word vervolgens bespreek.

4.3.2 Die sosialekonflikmodel en die BARQ (“Behavioral Anger