• No results found

BESPREKING VAN VERWANTE KONSEPTE: SELFREGULERING, SENSORIESE INTELLIGENSIE EN

SENSORIESE PROSESSERING

3.4. BESPREKING VAN VERWANTE KONSEPTE: SELFREGULERING, SENSORIESE INTELLIGENSIE EN

SENSORIESE REGULERING.

Selfregulering word deur Lombaard (2007:132) beskryf as ‘n voortdurende proses, waartydens ‘n mens gebruik maak van verskillende sintuie om ‘n optimale vlak van opwekking in die senuweestelsel te handhaaf. Die handhawing van ‘n optimale opwekkingsvlak word beskou as ‘n proses wat dikwels onbewus plaasvind (Lombaard, 2007:132). Shellenberger en Williams het in 1996 die “Alert Program” vir selfregulasie voorgestel (The Alert Program, 2009:1). Alhoewel die program aanvanklik ontwikkel was vir kinders tussen die ouderdom van agt en twaalf met aandag- en leerprobleme, is dit aangepas vir die gebruik by voorskoolse kinders regdeur tot volwassenes. Die “Alert Program” ondersteun kinders en volwassens om gepaste strategieë te selekteer vir die behoud van ‘n toepaslike vlak van opwekking. Deel van die “Alert Program” is die “Sensory-Motor Preference Cheklist for Adults” wat gebruik word om volwassens bewus te maak van hul spesifieke selfreguleringsgedrag, soos dit outomaties in hul daaglikse roetines voorkom (The Alert Program, 2009:1).

Soos Shellenberger en Williams (The Alert Program, 2009:1), verwys Lombaard (2001:131-133) in haar beskrywing oor selfregulering na kalmerende en stimulerende selfreguleringsgedrag. Kalmerende selfreguleringsgedrag vind plaas wanneer ‘n mens se senuweestelsel poog om ‘n verhoogde vlak van opwekking te verlaag. Wanneer ‘n

mens se vlak van opwekking te hoog raak word spanning, angs of frustrasie ervaar. Die teenoorgestelde gebeur as die senuweestelsel se vlak van opwekking afneem. ‘n Mens sal dan stimulerende selfreguleringsgedrag toepas om verveeldheid, moegheid of lusteloosheid teen te werk en sodoende ‘n verhoging in die senuweestelsel se vlak van opwekking bewerkstellig.

Dit is duidelik uit die bogenoemde dat selfreguleringsgedrag ‘n belangrike bydrae lewer tot ‘n mens se vermoë om toepaslik op te tree (Lombaard, 2007:131-133).

Soos vroeër in die hoofstuk bespreek is (vgl. 3.3), toon mense unieke sensoriese prosesseringspatrone wat daarop dui dat mense verskillende sensoriese stimuli opmerk, geniet of as irriterend ervaar. Met ander woorde, dieselfde sensoriese stimuli kan ‘n verhoging in een persoon se vlak van opwekking veroorsaak, terwyl dit tot ‘n afname in ‘n ander persoon se opwekkingsvlak kan lei. Dit is dus te verstane waarom Lombaard (2007:139) voorhou dat sensoriese prosessering ‘n rol speel in selfreguleringsgedrag.

Cheng en Boggert-Carsjens (2005:44) dui deur middel van ‘n gevallestudie aan hoe die onvermoë om te kan selfreguleer, ‘n negejarige seun se lewe beïnvloed het. Die seun het daagliks ernstige woede-uitbarstings ervaar. Ten spyte van vele psigofarmakologiese behandelings, sowel as psigoterapie, berading en woedehanteringsprogramme, het die seun nie vordering getoon nie. Toestande soos bipolêre gemoedsversteuring, aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit, gedragsversteuring en nie-verbale leergestremdheid is gediagnoseer. Na nog ‘n ondersoek by ‘n tesiêre kliniek, is hy verwys na ‘n arbeidsterapeut met opleiding in sensoriese prosessering (Cheng & Boggert-Carsjens, 2005:44-45).

Volgens die arbeidsterapeut se bepaling het die seun op ‘n gereelde basis sensoriese oorbelading ervaar. Die sensoriese oorbelading het elke keer tot die aktivering van die senuweestelsel se simpatiese respons, ook bekend as die “veg-en-vlugreaksie”, gelei. Die seun se woede-uitbarstings is dus gesien as deel van die “vegreaksie”, terwyl sy onttrekkingsgedrag deel was van die “vlugreaksie”. Dit het ook verduidelik waarom verskillende ervaringe en situasies die woede- uitbarstings kon ontlok: “…it was more the accumlation of sensory input that exceeded his threshold, with the final trigger (sensory input) being the ‘straw that broke the camel’s back’ ” (Cheng & Boggert- Carsjens, 2005:45).

Die seun se arbeidsterapiebehandeling het op vermindering van sensoriese oorbelading gefokus, asook om sy senuweestelsel te ondersteun in die regulering van sensoriese insette. Sy familie, versorgers en onderwysers is almal mettertyd by die intervensie betrek. Binne ‘n paar weke was die seun terug in ’n hoofstroomskool se klaskamer, waar dit vir hom moontlik was om kalm te bly, sy aandag te behou en stres te hanteer. Hy het sy graad gemaklik geslaag en het twee jaar na ontslag nog steeds goed gefunksioneer (Cheng & Boggert-Carsjens, 2005:45).

Die outeurs (Cheng & Boggert-Carsjens, 2005:48) verwys na die groot aanvraag na meer wetenkskaplike bewyse oor die bestaan en behandeling van versteurings in sensoriese prosessering. Volgens hulle (Cheng & Boggert-Carsjens, 2005:48) stel voorlopige bewyse voor dat versteurings in sensoriese prosessering ‘n groot rol speel by kinders en adolessente met emosionele reguleringsprobleme. Dunn se Model (1997:23-25) vir Sensoriese Prosessering hou voor dat sensoriese prosesseringsgedrag stabiel bly oor ‘n mens se leeftyd. Dus behoort die rol van sensoriese prosessering by volwassenes met

emosionele reguleringsprobleme, soos problematiese woede, ook oorweeg te word.

Selfregulering, soos dit hierbo uiteengesit is, word egter nie net binne die sensoriese-integrasieteorie beskryf nie. Selfregulering word ook as ‘n funksie van Emosionele Intelligensie beskou en word beskryf as ‘n proses waar die innerlike verwerking van emosies lei tot die bereiking van ‘n gebalanseerde gemoed (Johnson, 2003:1). Volgens Johnson (2003:1) word selfregulering onder andere gebaseer op ‘n mens se selfreflekteringsvermoë. Le Roux en de Klerk (2001:10) is van mening dat Emosionele Intelligensie die volgende aspekte insluit:

• Emosionele bewustheid: die vermoë om ‘n mens se eie gevoelens en die van ander te herken en verstaan, asook om daarop te reageer.

• Emosionele geletterdheid: die vermoë om tussen verskillende gevoelens te kan onderskei en dit te kan benoem.

• Emosionele beheer: die vermoë om gevoelens toepaslik te kan beheer en kommunikeer.

• Die vermoë om die bogenoemde inligting te gebruik in die rig van ‘n mens se gedagtes, gedrag en innerlike motivering.

Volgens Lombaard (2007:27) toon mense ook sensoriese intelligensie en sal bevordering hiervan die volgende behels:

• Verkryging van kennis en insig oor ‘n mens se eie sensoriese prosesseringsgedrag.

• Verkryging van kennis en insig oor ander mense se sensoriese prosesseringsgedrag.

• Verbetering van ‘n persoon se vaardighede om sintuie te moduleer en dus meer effektief te kan aanpas by sy omgewing en ander mense.

• Verbetering van ‘n persoon se vaardighede om sy omgewing aan te pas by sy of haar unieke sensoriese prosesseringsgedrag.

• Toepassing van die bogenoemde inligting om meer doeltreffend te funsksioneer by die werk, in verhoudings en onder stresvolle omstandighede.

Volgens Lombaard (2007:6) is sensoriese intelligensie net so belangrik vir optimale funksionering as ‘n mens se Intelligensiekwosiënt en Emosionele Intelligensie.

Wiliamson en Anzalane het in 1996 vyf interafhanklike komponente geïdentifiseer om sensoriese integrasie te beskryf: sensoriese registrasie, oriëntasie, interpretasie, organisering van 'n respons en uitvoering van ‘n respons (Brown, 2009:22-26). Sensoriese registrasie verwys na die oomblik wat ‘n mens bewus raak van ‘n sensoriese ervaring, as gevolg van die intensiteit of drempel wat die spesifieke sensoriese stimuli bereik het. Volgens bogenoemde outeurs varieër ‘n mens se drempel afhangende van vorige sensoriese of emosionele ervaringe, asook ‘n mens se vlak van spanning en verwagtinge. Oriëntasie vind plaas deur sensoriese modulasie, wat dit moontlik maak om aandag te skenk aan nuwe sensoriese ervaringe, asook om te bepaal watter sensoriese inligting meer aandag verlang en watter

geïgnoreer kan word. As sensoriese inligting geïnterpreteer word, word die nuwe sensoriese ervaring met voriges vergelyk; die brein se taal, geheue en emosie areas word dus by die interpreteringsproses betrek. Die vermoë om sensoriese inligting te interpreteer bied die geleentheid om te bepaal waar teenoor die persoon moet reageer en of dit bedreigend is (moontlike aktivering van die liggaam se “veg-en- vlugreaksies”). Na interpretasie bepaal die brein of ‘n respons op die die sensoriese stimuli nodig is en die persoon kies om te reageer: fisies, emosioneel of kognitief. Die uitvoering van die gekose respons word beskou as die finale fase van sensoriese integrasie. As die repsons motories is, word ‘n nuwe sensoriese stimuli egter geskep en begin die sensoriese integrasie proses dus weer van vooraf.

Reeves (2001:89) glo dat sensoriese regulasie en die verbande wat dit met die behoud van aandag en optimale vlak van opwekking toon, die essensiële komponent vir suksevolle sensoriese integrasie is. Reeves (2001:105) stel voor dat mense se gedrag eerder van hul sensoriese reguleringsproses afhang, as van hul sensoriese prosessering en selfregulering. Volgens Reeves (2001:89) is dit die brein se vermoë om aanhoudend sensoriese inligting te organiseer, terwyl dit tegelyketyd ook response van die sentrale senuweestel koördineer, wat ‘n belangrike rol in mense se reaksies op sensoriese stimuli speel. Dit is hierdie vermoë van die brein wat Reeves (2001:103) as sensoriese regulering voorstel.

Reeves (2001:103) beskryf sensoriese regulering as ‘n proses wat op verskeie vlakke van die senuweestelsel plaasvind. Die volgende neuro-anatomiese areas is spesifiek geïdentifiseer as areas waar sensoriese regulering plaasvind: die breinstam, hipotalamus, dele van die limbiese sisteem (naamlik: amigdala, septikale area, hipokampus, limbiese verbindings met frontale korteks en geheuevorming) en dele

van die serebrum (naamlik regter hemisfeer, prefrontale korteks en orbitofrontale korteks) (Reeves, 2001:96).

Reeves (2001:89) dui aan dat die volgende fasette deel is van die reguleringsproses: neurale regulering, homeostase, selfregulering en modulasie. Die konsepte word soos volg deur Reeves (2001:89-90) bespreek:

• Neurale regulering

‘n Proses waar die sentrale senuweestelsel die tydsberekening en volgorde van die vuur van neurone beheer, terwyl interne en eksterne gebeure gemonitor word. Konstante beheer oor die neurone en monitor van gebeure vind plaas om die interne stabiliteit van die senuweestelsel te handhaaf. Die handhawing van interne stabiliteit vorm die basis vir toepaslike gedragsaanpassings. Die brein streef konstant na die behoud van balans en orde in die senuweestelsel. Die harmonieuse interaksie tussen die verskeie gedeeltes van die senuweestelsel vorm inherent deel van die neurale reguleringsproses (Reeves, 2001:89).

• Homeostase

Homeostase word verky deur neurale regulering en verwys na die handhawing van die senuweestelsel se interne stabiliteit. Die handhawing van homeostase vind plaas binne alle orgaansisteme en behels die koördinasie van veelvoudige fisiologiese en neuronale prosesse (Reeves, 2001:90).

• Selfregulering

Selfregulering word beskou as die vermoë om deur middel van interne prosesse gedrag te ervaar wat ‘n persoon ondersteun om by veranderende situasies aan te pas. Selfreguleringsgedrag vind dus plaas om homeostase en optimale vlakke van opwekking in die senuweestelsel te handhaaf. Selfreguleringsgedrag behels eerstens die gedrag wat mense toepas om verhoogde stresvlakke (opwekkingsvlakke) te verlaag, soos om aan aerobiese oefeninge, joga of meditasie deel te neem. Tweedens sluit selfreguleringsgedrag ook die gedrag in wat mense gebruik om hul vlakke van opwekking te verhoog. ‘n Voorbeeld hiervan is wanneer persone sukkel om wakker te bly terwyl hul werk en dan hul vlakke van opwekking verhoog deur na harde en ritmiese musiek te luister (Reeves, 2001:90).

• Modulasie

Modulasie reflekteer ‘n onbewuste senuweestelselproses waar die prikkelbaarheid en reaktiwiteit van neuronbane aangepas word om te verseker dat ’n mens sy aandag slegs op die belangrikste stimuli behou. Modulering van neuronresponse verhoed dus dat onbelangrike stimuli ‘n mens se aandag aflei en word as noodsaaklik beskou vir die handhawing van homeostase (Reeves, 2001:90).

Daar is verskille opgemerk tussen Reeves (2001:89-103) en Dunn (1997:23-35) se beskouing oor watter onderliggende komponente ‘n belangrike rol speel in mense se reaksies op sensoriese stimuli. Reeves (2001:89-103) dui aan dat die invloed van sensoriese stimuli op regulering, sowel as mense se gedragsaanpassings in veranderende en/of stresvolle situasies, die belangrike onderliggende komponente is. Dunn (1997:23-35) hou voor dat dit mense se unieke

sensoriese prosesseringsgedrag is wat hul reaksies op sensoriese stimuli beïnvloed.

Alhoewel sensoriese regulering, soos Reeves dit beskryf, waarskynlik ook ‘n rol in mense se reaksies op sensoriese stimuli speel, het Dunn (1997:23-35) se Model vir Sensoriese Prosessering meer empiriese ondersteuning ontvang (Brown et al., 2002:190-195; Brown et al., 2001:75; Dunn & Brown, 1997:494). Verdere navorsing oor Dunn (1997:23-35) se Model het aanleiding gegee tot die ontwikkeling van die “Adolescent/Adult Sensory Profile”.

Die “Adolescent/Adult Sensory Profile” is ‘n gestandaardiseerde metinginstrument wat dit vir arbeidsterapeute moontlik maak om adolessente en volwassenes se sensoriese prosesseringspatrone te ondersoek (Brown & Dunn, 2002:2).