• No results found

PROBLEMATIESE WOEDE

4.5. BENADERINGS, MODELLE EN TEORIEË OOR DIE BEHANDELING VAN WOEDE

4.5.4 Die kognitief-gedragsbenadering

Die kognitief-gedragsbenadering se konseptualisering van woede is direk van toepassing op hierdie studie. Dus, word dit in detail bespreek.

Volgens die kognitief-gedragsbenadering verbeter ‘n mens se vermoë om die intensiteit van woede te verlaag as ‘n mens aanleer om konstruktiewe hanteringsvaardighede te inisieer, terwyl ‘n realistiese bewustheid van self en dit wat woede ontlok gehandhaaf word. Die konstruktiewe hanteringsvaardighede tree dus tussenbeide as situasies woede ontlok en beïnvloed ‘n mens se woede-ervaringe en – gedrag.

Alhoewel vele teorieë oor woede binne die kognitief- gedragsbenadering voorkom is Cox en Harrison (2007:5) van mening dat die “appraisal theory”, tans hierdie literatuur oorheers. Volgens die “appraisal theory” hang dit van hoër kognitiewe prosesse af of woede ervaar sal word (Kuppens, Van Mechelen, Smits & De Boeck, 2003:254). Cox en Harrison (2007:5) dui aan dat bogenoemde kognitiewe prosesse gebaseer is op die persoon se beskouing van die situasie, die interaksie tussen verskillende woede-ontlokkende gebeurtenisse, die persoon se geestestoestand en persoonlikheidstrekke. Deffenbacher (1999:295) se model oor woede, wat gebaseer is op die kognitief-gedragsbenadering, toon waarskynlik die meeste empiriese ondersteuning (DiGuiseppe & Tafrate, 2007:9). Aspekte van die “appraisal theory” is ook in Deffenbacher (1999:297) se model geïntegreer.

Deffenbacher (1999:296) definieer woede as ‘n innerlike belewenis wat uit emosionele, fisiologiese en kognitiewe komponente bestaan.

enkele verskynsel ervaar. Volgens Deffenbacher (1999:298) varieer die emosionele ervaring van woede in intensiteit en kom dit op ‘n kontinuum voor wat strek vanaf ‘n matige irritasie tot frustrasie, kwaad, woede tot by wraak. Die fisiologiese komponent in Deffenbacher (1999:298) se model fokus op die simpatiese respons van die outonome senuweestelsel.

Aktivering van die simpatiese respons staan ook bekend as die “veg- en-vlugreaksie” (Stein & Cutler, 2002:447). Wanneer ‘n persoon spanning ervaar of baie emosioneel is, oorheers die simpatiese respons die funksionering van ‘n mens se visserale organe (Stein & Cutler, 2002:447). As die simpatiese respons geaktiveer word vermeerder die afskeiding van adrenergiese neuro-oordragstowwe. Die vermeerdering van adrenergiese neuro-oordragstowwe veroorsaak onmiddellik ‘n verhoogde metaboliese tempo, hartklop, bloeddruk en bloedtoevoer na die brein en spiere. Verder veroorsaak die simpatiese respons ook verhoogde sweetafskeiding, dilatasie van die pupille, verminderde gastro-intestinale werking en verhoogde glukosevlakke. Die parasimpatiese respons van die outonome senuweestelsel oorheers die visserale organe se funksionering wanneer ‘n persoon rustig verkeer, ‘n matige gemoed ervaar en dus nie onder druk is nie. ‘n Mens ervaar dan ‘n normale hartklop, bloeddruk, gastro-intestinale werking en bloedglukosevlakke (Stein & Cutler, 2002:447).

Die kognitiewe komponent van Deffenbacher (1999:296) se model sluit die prosessering van gedagtes rondom aspekte soos minagting van persoonlike regte, vergelding, wraak, beskuldiging, minimalisering van die bron van woede en oorveralgemening in.

Deffenbacher (1999:295) dui aan dat woede ontwikkel as gevolg van die interaksies tussen die volgende drie komponente: een of meer

emosionele toestand wat tydelike ervaringe (soos hongerte, pyn, moegheid) en permanente eienskappe insluit, asook ‘n individu se oortuiginge oor eie vermoëns, gebeurtenisse en beskikbare hulpbronne. Binne Deffenbacher (1999:296) se model word gebeurtenisse wat woede ontlok in drie groepe verdeel:

• Eksterne gebeurtenisse

Eksterne gebeurtenisse word veroorsaak deur spesifieke insidente (byvoorbeeld om in ‘n ry te wag wat stadig vorder), ander se gedrag, objekte (byvoorbeeld ‘n onklaar motor) en ‘n mens se eie gedrag en eienskappe (byvoorbeeld om te verslaap, ‘n vergadering te mis of oorgewig te wees).

• ‘n Kombinasie tussen eksterne gebeurtenisse en herinneringe van ‘n vorige woede-episode

Die volgende voorbeeld bied ‘n verduideliking: ‘n persoon ervaar intense woede omdat sy of haar eggenoot met ‘n persoon van die ander geslag lag en gesels. Hierdie eksterne gebeurtenis ontlok herinneringe van ‘n ouer se buite-egtelike verhoudings en versterk die persoon se vrese dat dit ook in sy of haar huwelik kan gebeur.

• Interne stimuli

Interne stimuli word beskou as voorafgaande gedagtes (byvoorbeeld om aanhoudend aan negatiewe terugvoering of ‘n mislukte verhouding te dink) en emosies (byvoorbeeld die ervaring van angs of verwerping) wat woede kan ontlok. ‘n Voorbeeld hiervan is as iemand vrese het oor verwerping of kritiek en dit dan hanteer deur woedend te raak.

Die laaste aspek van Deffenbacher (1999:298) se model behels woedegedrag en beskryf die wyses waarop mense hul woede hanteer en uitdruk. Deffenbacher (1999:298) beskou vaardighede soos selfhandhawing, probleemoplossing en toepaslike onttrekking van die situasie as funksionele woedegedrag. Wanaangepaste woedegedrag word gesien as passiewe, verbale en fisiese aggressie, asook gedrag soos om roekeloos te bestuur of substanse te misbruik.

Deffenbacher (1999:298) beskryf behandeling wat op sy model gebaseer is as terapie wat op verandering fokus. Die behandeling is dus geskik vir persone wat reeds aanvaar dat hul probleme met woedehantering het en dit wil verander. Behandeling in dié opsig sal die verskillende komponente in woede-ontlokking aanspreek deur byvoorbeeld te fokus op ontspanningstegnieke, rasionele gedagteprosesse, effektiewe kommunikasie en selfgelding.

Vir pasiënte met problematiese woede, wat nog nie gereed is vir verandering nie, stel Deffenbacher (1999:298) voor dat terapeute hul kontrak aanpas ooreenkomstig met die pasiënt se vlak van gereedheid. Met ander woorde die toon van empatie en begrip vir die persoon se persepsies, emosies en gedrag, asook motivering vir verandering van woedegedrag sal belangrik wees. In die geval toon Deffenbacher (1999:298) se behandelingvoorstel ‘n duidelike ooreenkoms met wat die emosiegefokusde en Boeddhistiese benadering oor die toon van empatie, voorhou.

DiGuiseppe en Tafrate (2001:262) het soortgelyke ooreenkomste in die literatuur opgemerk met die opstel van hul omvattende behandelingsmodel vir woedeprobleme. Die model word onder andere in die volgende gedeelte bespreek.