• No results found

HOOFSTUK 2 SONOP SE ONTSTAANSJARE IN BREËR PERSPEKTIEF

2.2 Moeilike finansiële omstandighede landswyd

Buiten die besorgdheid oor die geestelike welstand van die studerende jeug, soos hierbo beskryf, was dit ook die landswye armoede waarin baie Afrikaanssprekendes geleef het wat die Kerk laat besluit het om studentelosies sover moontlik bekostigbaar te maak.

Die eerste Sonoppers wat in Maart 1917 hul intrek in die koshuis geneem het, kan met reg “oorlogskinders” genoem word. Nie alleen is hulle tydens die Anglo- Boereoorlog (1899 – 1902) gebore nie, maar was die wêreld ook tydens hul vroeë

11 Maria Kloppers (1868 – 1950) het op 17 Desember 1893 van die Kaap in Johannesburg aangekom nadat ds AP Kriel van die NGK Witwatersrand-Wes haar per brief versoek het om by hom te kom aansluit. Die twee pioniers se name is in die geskiedenis verewig deur die kinderinrigtings wat na hulle vernoem is: Abraham Kriel Kinderhuis en Maria Kloppers Kinderhawe (Van der Watt, 1987:296,297).

10

jare by die TUC in ’n staat van oorlog met die Eerste Wêreldoorlog (1914 – 1918). Buiten die twee oorloë, het die Afrikanerrebellie (1914 – 1915) nie net tweedrag onder die Afrikanervolk gebring nie, maar verder grootskaalse armoede veroorsaak.

Hierdie armoede het gelei tot die stigting van drie organisasies in 1918 vir die ekonomiese mobilisering van die Afrikanergemeenskap: Ons Eerste Volksbond (Handels- en Spaarbank), Santam (Versekeringsmaatskappy) en Sanlam (Beleggings- en lewensdekkingmaatskappy). Ook is die Helpmekaarfonds, wat in 1917 gestig is om die boetes van veroordeelde rebelle te help betaal, ’n gevolg van die naoorlogse armoede (Grobler, 2007:199).

In hierdie landswye poging om die armoede onder die Afrikanervolk te help verlig en, waar moontlik, hulp te verleen, het die Ned.Geref. Kerk ook sterk na vore getree. Hiervan is die stigting van Sonop ʼn duidelike bewys.

In sy feesboodskap, Sonop ’n ligbaken vir baie, tydens Sonop se vyftigste verjaardagvieringe, som oudSonopper minister Daan de Wet Nel12 die rol wat die Ned.Geref. Kerk se Sonoptehuis vir jong Afrikanerstudente vanaf sy ontstaan in 1916 vervul het, soos volg op: OudSonoppers kyk met dankbaarheid terug op die

mooi werk van vyftig worsteljare. Sonop was méér as ’n koshuis. Vir baie jong

Afrikaners was dit die anker van hoop en redding in tye van armoede, moedeloosheid en geestelike verwarring (Sonop 50 Gedenkblad:2)

Sonop was vanaf stigting tot vandag toe nie daarop ingestel om wins te maak nie, maar om studente met bekostigbare huisvesting te ondersteun.

In die koopakte,13 toe Sonop, met die oog op uitbreiding deur die Ned.Geref. Gemeente Pretoria-Oos “tydelik” aan die TUC oorgedra is (sien hoofstuk 4), word hierdie niewinsgewende en ondersteunende gesindheid aan studente vasgelê:

wanneer een batig saldo bestaat zal dat door de Kerk moeten worden aangewend tot dekking van fondsen benodigde voor:

uitbreiding van het Tehuis, of

12 Michiel Daniel Christiaan de Wet Nel was vir die tydperk 1924 – 1927 in Sonop, HK-voorsitter in 1926 en 1958 – 1966 Minister van die destydse Departement van Bantoe-administrasie en -ontwikkeling, asook Bantoe-onderwys (Sonop Argief). 13 Hierdie koopkontrak is op 14 Maart 1921 tussen die 2 partye onderteken (NGK Pretoria-Oos, 07/04/1921).

11

voor beurzen aan studenten, of

voor enig ander opvoedkundig doel in verband met het Kollege, of

anders in het belang van het Tehuis (Koopakte, 1921:1)

Aansluitend by die finansieel-ondersteunende gesindheid aan studente in die koopakte, pleit ’n kerkraadskommissie van die Ned.Geref. Gemeente Pretoria-Oos vir behoud van die koshuis deur die Kerk, in plaas van oorgawe aan die TUC, juis sodat hierdie finansieel-ondersteunende gesindheid van die Kerk nie verlore sal gaan nie.

Op ’n kerkraadsvergadering, gehou 9 Januarie 1930, moes daar byvoorbeeld besluit word of Sonop die eiendom van die Kerk sou bly of eerder aan die TUC oorgedra word. Duidelik is die boodskap van die kerkraadskommissie dat, sou Sonop aan die TUC oorgedra word, sal die geleentheid wat die Kerk nou het om aan verdienstelike behoeftige jongmanne hulp te verleen grotendeels wegval (NGK Pretoria-Oos, 09/01/1930).

Wanneer prof AN Pelzer in die Sonop 40 Gedenkblad in sy artikel Opponente in die dertigerjare die twee oudste manskoshuise op kampus vergelyk, noem hy eksplisiet dat die studente wat dit nie te breed gehad het nie, voorkeur aan Sonop gegee het, terwyl die manne met ’n sak vol geld en mooi klere in Kollege geland het (Sonop 40 Gedenkblad:45).

Hierdie omgee van die Kerk vir die Sonoppers het nie ongesiens by die studente verbygegaan nie.

Op ’n besondere wyse dra die Huisvoorsitter14

van 1951, DR de Villiers, die inwoners se dankbaarheid in ’n skrywe gedateer 16 November 1951 aan die voorsitter van die Sonopraad, mnr Sydney Martin,15 oor.

Einde 1951 het die Universiteit van Pretoria, as gevolg van hoë lewenskoste, dit noodsaaklik geag om sy losiesgelde vir 1952 van die universiteitskoshuise van

14 Hierna word ook verwys na die huisvoorsitter van Sonoptehuis as “die Huisvoorsitter”. 15 Sydney Martin was voorsitter van die Sonopraad vanaf 1948 tot 1956 (Sonop Argief).

12

daardie tyd – Dameskoshuis, Kollege, Voortrekker en Onderstepoort – na £90 per jaar te verhoog, terwyl Sonop se losiesgelde die volgende jaar slegs £85 sou wees,

In die lig van die £5 goedkoper losies as die universiteitskoshuise, skryf DR de Villiers dan op 16 November 1951:

Ek wens u mee te deel dat die inwoners van Sonop die houding wat die raad ingeneem het t.o.v. die losiesgelde van 1952 ten seerste waardeer. Ek is dan ook versoek om ’n mosie van dank en waardering vir die wyse waarop die raad nog steeds die belange van Sonop behartig, en wat eenparig aangeneem is, aan u oor te dra.

Hierdie gesindheid van uitreik na die studerende jeug van die Kerk onder moeilike omstandighede in 1916 en daarna, strook met die gevolgtrekking waartoe Robert Vosloo in sy artikel The Dutch Reformed Church and the poor white problem in the

wake of the first Carnegie: some church-historical and theological observation16 kom,

as hy noem dat die Ned.Geref. Kerk sedert die 1880’s uitgereik het na lidmate met bepaalde behoeftes (Vosloo, 2011:3).

Hierdie omgee vir Sonoppers, deur sover moontlik bekostigbare behuising aan te bied, het deur die 100 jaar van Sonop se bestaan nóóit verlore gegaan nie, selfs nie nadat Sonop in 1999 deur die Ned.Geref. Kerk aan die Bond van OudSonoppers verkoop is nie. Sonop is as Sonop Christelike Tehuis NPC17 – ’n Artikel 21- maatskappy sonder winsbejag – geregistreer.

Die Memorandum of Incorporation (MOI),18 wat statutêr die vorige Akte van Oprigting vervang en wat so onlangs as 3 Augustus 2015 opgestel is, bevestig hierdie eeu-oue strewe van bekostigbare behuising op ʼn niewinsgewende basis. In die MOI word dit uitdruklik bepaal dat die maatskappy (Sonop) sy besigheid op ’n niewinsgewende basis bedryf met ’n onderliggende altruïstiese en filantropiese motief. Juis daarom word dit ook gestipuleer dat géén direksielid (Sonopraadslid) direk of indirek enige finansiële voordeel uit sy betrokkenheid by Sonop mag ontvang nie (MOI, 2015:9).

16 Die Carnegie-Armblankekommissie beslaan 5 dele en het in 1932 verskyn (Grobler, 199).

17 Sonop is amptelik as ’n “non-profit organisation” (niewinsgewende organisasie) geregistreer (NPO-nommer 106–938, 19/11/2012).

18 Die Memorandum of Incorporation (MOI) het kragtens die nuwe Maatskappywet (Nr. 71,2008) in die plek van die oorspronklike Akte van Oprigting en Statute gekom (MOI, 03/08/2015).

13

Vanaf 1937 tot 1999, terwyl die Sinode van Transvaal en later die Sinode van Noord- Transvaal in beheer van Sonop se bestuur was, het die Sinode die Sonopraadslede aangewys, wat hoofsaaklik predikante of ander kerklike ampsdraers was. Hierdie persone se Sonopverpligtinge is gesien as ʼn verlengstuk van hulle ampswerk, waaraan geen ekstra vergoeding gekoppel is nie.

Met die verkoop van Sonop in 199919 het die stelsel verander en word die Sonopraad kragtens die Bond van OudSonoppers se konstitusie elke vyf jaar deur oudSonoppers tydens die Sonopfees verkies. Slegs oudSonoppers dien op die Sonopraad.

Met die Sonopraad wat na 1999 in alle opsigte onafhanklik van die Kerk die verantwoordelikheid vir die bestuur van die tehuis neem, is ’n meer diverse Sonopraad wat kundigheid betref, nodig.

Die ses Sonopraadslede word in die lig van bogenoemde dus op grond van hul professionele agtergrond verkies. So dien daar dan sedert 1999 onder andere professore, ingenieurs, ouditeure, prokureurs, bedryfsielkundiges en sakemanne op die Sonopraad en dien hulle Sonop met ’n liefde vir en lojaliteit teenoor hul alma mater – sonder enige vergoeding!

2.3 Universiteitsomstandighede