• No results found

HOOFSTUK 4 SONOP ONDER EIENAARSKAP VAN DIE NED.GEREF.

4.5 Sonop se huisvaders

4.5.1 Prof WP de Villiers – Sonop se eerste huisvader

4.5.1.10 Buitepartye tree toe tot die stryd

Twee buitepartye het nou tot die stryd toegetree – die OudSonoppers Studenteliggaam, tesame met die Buitemuurse Studente Verteenwoordigende Raad. Beide hierdie partye het hulle nie tot die Sonopbestuur of die Ned.Geref. Gemeente Pretoria-Oos se Kerkraad gewend nie, maar direk tot die Senaat van die Universiteit.

In ’n skrywe gedateer 25 Maart 1935 spel oudSonopper PS de Vos, as sekretaris van die Oudstudente van Sonop, dit duidelik uit dat hulle hul juis tot die Senaat wend omdat hulle van mening is dat nóg die Sonopbestuur, nóg die kerkraad van die Ned.Geref. Gemeente Pretoria-Oos onpartydig in die hele saak staan.

Die groot ongelukkigheid by hierdie groep oudSonoppers, asook die inwoners van 1934, is dat die Sonopbestuur nie die verwagte versoening tussen die inwoners en

56 In ’n skrywe gedateer 24 April 1935 word daar deur die Universiteitsraad na die pos van huisvader as “buitebedrywighede” verwys waaroor die Universiteitsraad moet toesig hou (Skrywe, 24/04/1935).

57 Daan Verwoerd is die seun van dr HF Verwoerd, destydse Eerste Minister van Suid-Afrika en het die geskiedenis van Sonop se eerste 4 dekades in die Sonop Eeufees Gedenkboek geskryf (Sonop Eeufees Gedenkboek:14).

58 Alhoewel die woord “woed” baie sterk voorkom, is dit in konteks gesien beskrywend van die atmosfeer op daardie stadium (persoonlike mening). In ’n skrywe van 9 November 1934 aan die Sonopbestuur verwys die skriba van NGK Pretoria-Oos na die onmin onder die studente as “onluste”.

45

die huisvader bewerk het nie, maar inteendeel dat hulle by die Kerkraad aanbeveel het dat prof De Villiers die pos van huisvader behou.

Meer onlangse beskuldigings as van die vorige klagtes van 12 Oktober 1934 word nou uitgespel en word daar by van die sewe beskuldigings ook ’n verduideliking gevra:

 Die Sonopbestuur word daarvan beskuldig dat hulle geen poging aangewend het om die beloofde versoening tussen De Villiers en die huislede te probeer bewerk nie, maar bly onverskrokke by hul standpunt dat De Villiers moet aanbly. Vir hierdie optrede word daar ’n verklaring gevra.

 In die tussentyd het mnr LJ Rautenbach, ʼn oudSonopper,59

onder protes van beide die Sonopbestuur en die Universiteitsraad bedank. Die ondergetekendes vereis ’n noukeurige uiteensetting van die motiewe vir dié bedanking.

 Sterk beswaar word aangeteken teen SJ Henrico,60

een van die twee studente wat sy naam van die eerste klagstaat teen De Villiers verwyder het. Tydens sy getuienis voor die Sonopbestuur het hy die ware toedrag van sake verswyg en daardeur die inwoners in ’n swak lig gestel. Die Senaat word versoek om Henrico te daag om voor die inwoners verantwoording te doen van sy verraderlike optrede.

 Dr DF du Toit Malherbe, een van die stigterslede van Sonop, word verkwalik vir sy ongevraagde artikel in Die Kerkbode61 waarin hy die onmin in die koshuis aan die inwoners wat aan die Hervormde Kerk behoort, toedig. Die studente neem verder ook aanstoot dat Malherbe hierdie onmin, wat bloot huishoudelik is, deur genoemde artikel openbaar gemaak het. Hy word gedaag om voor die studente verantwoording te kom doen.

59 Mnr LJ Rautenbach het in Junie 1920 die eerste studenteverteenwoordiger op die Sonopbestuur geword (NGK Pretoria, 2/06/1920; Sonop 40 Gedenkblad:7).

60 SJ Henrico het sy teologiese opleiding by die Teologiese Fakulteit van die NHKA deurloop en was die eerste sodanige student wat hom vir die NGK beroepbaar gestel het en by die nuutgestigte Teologiese Fakulteit in Pretoria aangemeld het vir colloquim doctum (Human & Van der Merwe, 2013:46).

46

 De Villiers self word in die skrywe kwalik geneem vir sy onaanvaarbare gedrag teenoor van die inwoners tydens die Desembervakansie van 1934. Hy het na bewering van die studente se kaste oopgebreek en items op ander plekke gaan stoor. Inwoners wat tydens die vakansie pos gaan afhaal het, is op onbeleefde wyse deur hom hanteer. De Villiers word gedaag om hom teen die klagtes te kom verweer.

 In bogenoemde artikel van Du Toit in die Kerkbode het hy melding gemaak van ’n £150 wins wat die Sonopbestuur in 1934 sou maak. Volgens De Villiers se Koöperasiestelsel sou alle inwoners mededelers daarin wees, sou die koshuis aan die einde van die jaar ʼn batige saldo toon. ’n Onmiddellike verslag in dié verband word van De Villiers verwag.

 Die inwoners van die Ned.Geref. Kerk, asook van die ander Kerkgenootskappe, versoek ʼn geleentheid waartydens hulle bewys kan lewer dat die Hervormde Kerk-inwoners géén leidende rol in die aanleiding tot die kerkistiese gevoel gehad het, soos beweer word nie.

Na bogenoemde klagtes een vir een deur die OudSonoppers Studenteliggaam en die inwoners van 1934 uitgespel is, sluit die ondergetekendes die skrywe aan die Senaat af met die woorde: Hopende dat hierdie saak u goedwillige aandag sal geniet (Skrywe, 25/03/1935).

Dat hierdie skrywe wel – soos versoek is – die Senaat se goedwillige aandag geniet het, sal weldra duidelik word.

Op 24 April 1935 versoek die sekretaris van die Universiteitsraad ʼn ontmoeting met ’n kommissie van die kerkraad van die Ned.Geref. Gemeente Pretoria-Oos om oor die buitebedrywighede van die huisvader in gesprek te tree. Volgens die Universiteitsraad is hierdie buitebedrywighede (Sonop se huisvaderpos) nie in die beste belang van die Universiteit nie. Dit is ’n rede om De Villiers se termyn te laat beëindig (Universiteitsraad, 24/05/1935).

47

Tydens die gesprek tussen die twee partye stel die Universiteitsraad dit onomwonde aan die Kerkraad dat die verlof wat die Universiteitsraad aan De Villiers verleen het om sy buitebedrywighede (Sonop se huisvaderpos) te beoefen, teruggetrek word en dat sy termyn in effek op 31 Augustus 1935 ten einde loop (NGK Pretoria-Oos, 15/06/1935).

Soos wat verwag kon word, was De Villiers geensins met hierdie afdanking deur die Universiteitsraad tevrede nie en wend hy hom tot die reg. Op 22 Junie 1935 ontvang die Universiteitsraad ’n skrywe van die prokureursfirma De Villiers en Pickard, waarin gesê word dat De Villiers nie kans sien om hom aan die besluit van die Universiteitsraad insake die neerlegging van sy betrekking as huisvader van Sonop te onderwerp nie. Die rede vir sy standpunt is dat hy die bevoegdheid van die Universiteitsraad om só besluit te neem, ten sterkste ontken (De Villiers & Pickard, 22/06/1935).

Binne enkele dae kry die Universiteit die wind van voor toe die Buitemuurse Studente Verteenwoordigende Raad62 ’n skerp bewoorde skrywe aan die Senaat rig. Waar die OudSonopper Studenteliggaam volkome solidariteit met die beswaarde inwoners gehad het, het die Buitemuurse Studente Verteenwoordigende Raad sterk standpunt ter ondersteuning van De Villiers ingeneem. Hulle betreur in geen onduidelike taal nie die optrede van die Universiteitsraad om De Villiers af te dank en rig ’n dringende versoek aan die Universiteitsraad om sy besluit in heroorweging te neem. As motivering vir bogenoemde versoek noem hulle dat die aantygings teen De Villiers onbewese beskuldigings is en verder ook die Universiteit nie in ʼn goeie lig stel nie (Buitemuurse Studente Verteenwoordigende Raad, 08/07/1935).