• No results found

HOOFSTUK 4 SONOP ONDER EIENAARSKAP VAN DIE NED.GEREF.

5.2 Afstigting word onafwendbaar

Deur die toegewyde bediening van die leraars, dr DJ Keet, dr PFD Weiss, dr W Nicol, dr BJ Marais, dr HA du Toit, ds JF du Toit, ds JR Luckhoff, dr CFB Beyers, dr FE O’B Geldenhuys en ds JE Potgieter, asook die seën van die Here op hul werk, het die tyd na 38 jaar vanaf gemeentestigting egter aangebreek om, ter wille van groter effektiwiteit, met erns na te dink oor die pad vorentoe met dié geseënde studentebediening.

Ds Kobus Potgieter se sesmaandelikse verslag oor sy bediening as studenteleraar (010/1/1958 – 30/06/1958) by die Kerkraadsvergadering van 25 Augustus 1958 was die begin van die noodsaaklike nadenke. In sy verslag het hy daarop gewys dat die Ooskerk96 te klein geword het vir die aanddienste en dat hy toestemming by die Universiteitsowerhede gekry het om op ’n proefbasis afsonderlike aanddienste vir die studente in die AE du Toit Ouditorium te hou. Die eerste aanddiens is deur homself op 30 Maart 1958 gelei en 573 studente het dit bygewoon.

Hy het egter sy kommer uitgespreek dat, alhoewel hierdie aparte aanddiens vir die studente ’n oplossing bied vir die Ooskerk wat te klein is, dit die gevaar inhou dat die studente op hierdie wyse as sodanig van die gemeentelewe losgemaak kan word. Vir hom as studenteleraar was dit ’n groot beginsel om prys te gee en het hy daarom die Kerkraad versoek om ’n kommissie saam te stel wat verder dringende aandag aan die saak moes gee (NG Gemeente Pretoria-Oos, 25/08/1958).

Malan spreek in sy boek Jeugbediening – ’n Inklusiewe gemeentelike benadering juis Potgieter se kommer aan dat die jeug met bogenoemde aparte aandienste op die kampus los van die gemeente sal raak. Sy inklusiwiteit lê daarin dat die gemeente van Christus tot eer van Christus opgebou word, terwyl die wat rééds bely en die wat nog nié bely nie, bereik word.

Binne die gemeente van Christus word élke ouderdomsgroep by hierdie opbou ingeskakel. Kindwees en jonkwees diskwalifiseer niemand as opbouer van en in die

74

gemeente nie. Ouderdom is nie die kwalifikasie nie, maar belydenis dat Jesus Christus die Here is, is die kwalifikasie.

Malan stel dit baie duidelik dat die jeug in geen opsig ’n groep is wat elders – los van die gemeente se bediening – opgebou word en dan later as addendum tot die geheel toegevoeg word nie. Hy is verder van mening dat talle buitekerklike en interkerklike organisasies nooit sou bestaan het as gemeentes nie gewillig was om te verander en hul roeping met ’n inklusiewe gemeentelike benadering vervul het nie (Malan, 1998:178).

Drie maande nadat Potgieter sy verslag voorgehou en sy kommer uitgespreek het, met die spesiale kommissie se verslag later, op 24 November 1958, dien die spesiale kommissie se verslag by die kerkraadsvergadering en word die volgende voorstelle aan die Kerkraad voorgelê:

 Daar word ’n tweede kerkgebou in die nabye omgewing van die Universiteit opgerig.

 ʼn Spesiale Kerkboufonds word geskep waarop alle bydraes vir die tweede kerkgebou gekrediteer sal word.

 Dit is die kommissie se oortuiging dat die huidige toestande daarop wys dat afstigting binne afsienbare tyd buite rekening gelaat moet word, en dat afstigting nie oorweeg moet word alvorens die tweede kerkgebou afbetaal is nie.

 Die Utiliteitsmaatskappy van die kerk moet ondersoek instel na die moontlikheid van ’n studentesentrum in die omgewing van die Universiteit.  Die Eiendomskommissie ontvang opdrag om omsigtelik en vertroulik ’n

geskikte perseel te identifiseer.

Die Kerkraad aanvaar die voorstelle in die verslag en op hiérdie stadium is daar dus géén sprake van afstigting nie, maar net die oprig van ’n tweede kerkgebou.

Terwyl die Eiendomskommissie in 1959 die eiendom waar die Ned.Geref. Gemeente Universiteitsoord vandag staan (H/v Duxburyweg en Harlodstraat) identifiseer, en met goedkeuring van die Kerkraad teen ₤12 500 aankoop, het die studentebediening

75

in Ned.Geref. Gemeente Pretoria-Oos van krag tot krag gegaan, die studentelidmaattal het gegroei en die erediensbywoning by veral die aanddienste het die hoogte ingeskiet.

Volgens statistiek was daar op Sondag 15 Februarie 1959 by die oggenddiens 831 erediensgangers en by die aanddiens 1 044. Die volgende Sondag op 22 Februarie 1959 was daar by die oggenddiens 952 lidmate in die erediens en die aand 1 270 (NGK Pretoria-Oos 50 Gedenkblad:28).

Hierdie drastiese groei in erediensbywoning van studentelidmate by die Ooskerk, asook die aankoop van die geskikte perseel deur die Kerkraad met die oog op die bou van ’n tweede kerkgebou vir studente, word ook aan die breër kerkpubliek bekendgemaak (Voorligter, Mei 1959:21).

’n Jaar na die besluit dat daar vir eers net ’n tweede kerkgebou opgerig sal word en afstiging hoegenaamd nie ’n opsie is nie, dien daar ’n Memorandum insake die toekoms van Pretoria-Oos op die kerkraadsvergadering van 2 November 1959 met ’n beroep op afstigting.

In dié memorandum word die sluier gelig oor twee andersdenkende groepe binne die gemeente wat die bou van ’n tweede kerkgebou, volgens die kerkraadsbesluit van 24 November 1958, se entoesiasme demp:

 Die westelike deel97

van die lidmate het die gevoel dat hulle eintlik geen direkte belang by ’n kerkgebou in die oostelike deel het nie, aangesien daardie deel tog later tot ’n selfstandige gemeente sal ontwikkel.

 Die oostelike deel98

weer sal tot veel groter inspanning en ywer besiel kan word as hulle voel dat dit werklik hulle kerkgebou is wat gebou word.

Die realiteit van hierdie twee andersdenkende groepe onder die lidmate van Ooskerk het finaal die weg gebaan vir afstigting.

97 Met die kerkgebou op die hoek van Kirknessstraat en Lynnwoodweg dui die westelike deel van die gemeente op lidmate wat wes van die kerkgebou woon tot by die vasgestelde westelike gemeentegrens, naamlik die Apiesrivier (NGK Pretoria: 10/05/1919).

98 Die oostelike deel van die gemeente dui op lidmate wat oos van die kerkgebou woon tot by die vasgestelde gemeentelike grense van toe reeds bestaande gemeentes in die ooste van Pretoria, soos die Ned.Geref. Gemeente Hartbeesspruit en die Ned.Geref. Gemeente Suid-Oos Pretoria, beide in 1947 gestig (NGK Pretoria-Oos: 20/06/1960).

76

Op 29 Vrydag Julie 1960 vergader bykans 100 gemeentelede saam met di. DA Louw (voorsitter), JJ Human, JE Potgieter, JH Louw en dr FE O’B Geldenhuys en word ʼn nuwe gemeente met toestemming van die Ring gestig.

In die notule van die afstigtingsvergadering word die stigting van die Ned.Geref. Gemeente Universiteitsoord tot op die minuut aangedui:

Op voorstel van prof dr Ben Marais, gesekondeer deur broer CL Jooste, word om 8.35 nm besluit dat ’n gemeente met die voorgestelde grense en volgens die voorwaardes waartoe ooreengekom is, gestig word. Hierdie besluit is eenparig aangeneem. (Stigtingsvergadering, 29 Julie 1960)

So kom die gemeente verantwoordelik vir die Sonoppers se geestelike versorging tot op die spreekwoordelike voorstoep99 van die tehuis. Eers was dit die Ned.Geref. Gemeente Pretoria (1916 – 1920), toe die Ned.Geref. Gemeente Pretoria-Oos (1920 – 1960) en voortaan die Ned.Geref. Gemeente Universiteitsoord (1960 – ).

Nie net het die Ned.Geref. Gemeente Pretoria-Oos hiermee tientalle van sy studentelidmate asook ’n aantal residensiële lidmate verloor nie, maar in dr FE O’B Geldenhuys en ds JE Potgieter ook twee geliefde leraars. Op 4 September 1960 word dr Geldenhuys as gemeenteleraar en ds Potgieter as studenteleraar in die nuwe gemeente bevestig (Cilliers, 2010:6).

5.3 Ned.Geref. Gemeente Pretoria-Oos se hartklop en ywer vir die jeug