• No results found

HOOFSTUK 4 SONOP ONDER EIENAARSKAP VAN DIE NED.GEREF.

4.5 Sonop se huisvaders

4.5.1 Prof WP de Villiers – Sonop se eerste huisvader

4.5.1.4 Kollegeraad tree toe

Hierdie saak van afdanking van die Sonophuisvader deur die Kerkraad het, soos vroeër genoem, nie net binne kerklike kringe gebly nie, maar ook op die tafel van die Kollegeraad van die TUK beland (vanaf 1929/1930 word daar nou van die TUK gepraat).

So ontvang die kerkraad van die Ned.Geref. Kerk Pretoria-Oos op 9 Oktober 1929 ’n skrywe van die rektor van die TUK, prof AE du Toit,48 waarin die Kollegeraad, wat die prosedure betref, hom ondubbelsinnig aan die kant van De Villiers skaar.

47 Prof WP de Villiers het na ’n lang stryd van by die 6 jaar op 1 November 1935 sy bedanking as huisvader ingedien (De Villiers, 1 November 1935).

48 Prof AE du Toit was die derde rektor van UP vanaf 1927 tot 1934. Ook was hy die groot kampvegter vir Afrikaans op die kampus. Die bekende AE du Toit-ouditorium op die kampus is na hom vernoem en Sonoppers, as lidmate van die NGK Universiteitsoord, het in die vroeë 1960’s daar eredienste bygewoon (Van der Watt, 2003).

37

Die Kollegeraad wys die Kerkraad daarop dat De Villiers korrek in sy skrywe is as hy noem dat nie die Kerkraad nie, maar alleen die Sonopbestuur, waarop die Kollegeraad ook verteenwoordiging het, oor die bevoegdheid beskik om die huisvader af te dank. Verder spreek die Kollegeraad die behoefte uit om met die Kerkraad hieroor in gesprek te tree en vra die Kerkraad om ’n kommissie vir sodanige gesprek aan te wys. Op hierdie versoek vanaf die Kollegeraad se kant het die Kerkraad positief reageer en ’n kommissie aangewys, bestaande uit AC Vlok, WH Hofmeyr en S Martin (Skrywe NG Gemeente Pretoria-Oos, 23/10/1929).

Hierdie beoogde gesprek het egter nie die Kerkraad van plan laat afsien vir die aanstel van ’n nuwe huisvader nie. Hulle het wel besef dat 1929 vinnig ten einde spoed en dat die aanstelling van ’n nuwe huisvader – in die lig van komende samesprekings – met ingang 1 Januarie 1930 ’n al skraler moontlikheid is. In die lig hiervan word De Villiers ingelig dat die aanstelling met een maand na 1 Februarie 1930 aangeskuif word (NGK Pretoria-Oos, 22/11/1929).

As bewys dat die Kerkraad beoog om te volhard met die aanstelling van ’n nuwe huisvader, rig die skriba van die Kerkraad op dieselfde datum ’n skrywe aan die Sonopbestuur met die versoek dat ’n advertensie vir die vakante pos vanaf 1 Februarie 1930 opgestel moet word. Dit moet dan aan die skriba gestuur word, wat verantwoordelikheid sal neem vir die plasing daarvan. Verder moet die Sonopbestuur die aansoeke hanteer en ’n aanbeveling aan die Kerkraad maak vir goedkeuring en bekragtiging op die kerkraadsvergadering van 9 Januarie 1930 (NGK Pretoria-Oos, 22/11/1939). Aanstons sou dit blyk dat beide die advertensie en beoogde bekragtiging, soos hierbo genoem, voortydig was. Die hele huisvaderkwessie sou nie so maklik en nie so spoedig soos die Kerkraad gedink het, afgehandel kon word nie.

Na die gesprek tussen die afgevaardigde kommissie van die Kerkraad en die Kollegeraad van die TUK – en terwyl 1929 vinnig ten einde spoed – rig die skriba van die Kerkraad op 4 Desember 1929 ’n skrywe aan die Kollegeraad waarin dit weereens duidelik gestel word dat die Kerkraad nie van hul besluit om ’n nuwe huisvader aan te stel, afstand gaan doen nie.

38

Alhoewel die Kerkraad toegee dat dit beter sou wees as die Sonopbestuur – waarop TUK ook verteenwoordiging het – die afdanking hanteer het, bly hulle by hul standpunt dat hulle oor die volle beheer van Sonop beskik en dus geregtig was om die afdanking te hanteer. In elke geval, so skryf die Kerkraad, is die saak nou te vêr gevorder om weer van vooraf op die saak in te gaan.

Bogenoemde skrywe van die Kerkraad het die Kollegeraad geensins welgeval nie en die Raad reageer nog dieselfde dag. Twee sake word pertinent in die Kollegeraad se skrywe uitgelig:

 Die Kerkraad word versoek om die redes vir De Villiers se afdanking voor te lê.

 Die Kerkraad moet kennis neem dat dit die gebruik van die Kollegeraad is om persone as huisvaders aan te stel wat reeds op die personeel van die TUK dien. Hierdie saak is ’n wending wat nog tot groot spanning tussen die Kerkraad en die Kollegeraad sou lei (Kollegeraad, 04/12/1929).

Met die kronologiese lees van die korrespondensie tussen die Kerkraad en die Kollegeraad word dit al hoe duideliker hoe die spanning tussen dié twee partye opbou.

In ’n spoedige opvolgskrywe, gedateer 6 Desember 1929, stel die Kerkraad dit onomwonde dat hulle by hul standpunt, soos in vorige skrywes verwoord, bly en dat die afdanking van De Villiers finaal is. Die motivering vir hierdie onversetlike houding is soos volg: de Kerkraad (meen) dat aan al die eise van wellewendheid voldaan is en ag hy dit nie wenslik om verder op die saak in te gaan nie.

Bogenoemde skrywe van die Kerkraad, gedateer 6 Desember 1929, word nie sonder meer deur die Kollegeraad aanvaar nie en daar word op 14 Desember 1929 weer ’n skrywe aan die Kerkraad gerig.

In hierdie skrywe versoek die Kollegeraad die Kerkraad – wat tot nou toe nog nie aan die versoek van die Kollegeraad voldoen het om die redes vir De Villiers se afdanking aan hulle deur te gee nie – om gevraagde inligting onverwyld aan hulle

39

beskikbaar te stel. Hierdie herhaalde versoek tot inligting word versterk deur die feit dat De Villiers as dosent in diens van die TUK is en dat die Kollegeraad dus geregtig op die inligting is.