• No results found

HOOFSTUK 1: INLEIDING, PROBLEEMSTELLING EN DOEL MET DIE NAVORSING

2.2 LEIERSKAP EN BESTUUR

Om die rol wat die beginnerskoolhoof as leier en bestuurder vertolk beter te verstaan, word daar vervolgens na leierskapeienskappe en bestuursvaardighede gekyk. Devries (2008:28) wys daarop dat daar op alle vlakke van die samelewing leiers en bestuurders is. Reeds vanaf die vroegste tye word leiers genoem onder andere Joan of Arc, een van die bekendste leiers op militêre gebied wat gedurende die 14de eeu as lid by die Franse weermag aangesluit het. Haar selfvertroue en deursettingsvermoë het tot gevolg gehad dat soldate haar in absolute lojaliteit gevolg het. Onder haar leierskap is vele veldslae gewen. Sy het oor sekere eienskappe beskik wat van haar ʼn uitsonderlike leier gemaak het.

17

2.2.2 Leierskap

2.2.2.1 Eienskappe van leierskap

Daar is verskeie menings oor wat leierskap beteken, wat dit behels of watter karaktereienskappe aan die woord leierskap toegedig word. Die literatuur wat geraadpleeg is, som die menings van die skrywers soos volg op: ʼn leier is “iemand wat mense inspireer, leiding gee” (Odendal & Gouws, 2010:659), die ondersteuning en inspirasie gee om ʼn verskil te maak. Leiers moet deursigtige keuses kan maak en ʼn hiërargie van waardes skep sodat besluitneming duidelik vir almal in die stelsel is. Leierskap handel oor die visie vir die lewe, die beginsels en die vasberadenheid om dit te volvoer. Dit is ook die passie om die visie in ʼn realiteit te omskep. Leierskap word ook as ʼn “hoedanigheid en die vermoë om ʼn leier te wees” (Odendal & Gouws, 2010:659) gesien en verder bestaan dit uit vier rolle, naamlik dié van entrepreneur, motiveerder, hooffiguur en woordvoerder. (Knobel, 2010:11; Burello et al., 2005:70; Green, 2000:10; Fidler, 2002:32).

Volgens Van Deventer en Kruger (2010:140) word leierskap met woorde soos riskante besluitneming, dinamiek, kreatiwiteit, verandering en visie verbind, maar dat dit ook ʼn meer emosionele proses is. Leierskap het ʼn invloed op die funksionering van ʼn skool. ʼn Hoë vlak van leierskap kan ʼn verskil in ʼn skool se vordering en leeruitskomste maak. Van der Westhuizen (2005:3) stem saam dat die effektiewe funksionering van ʼn skool afhang van die professionele bestuur van die beginnerskoolhoof se rol as leier wanneer hy/sy nuut in die pos van skoolhoof aangestel word.

Hoe die skool bestuur word, sal van die leierskapstyl van enige skoolhoof afhang en of hy/sy ʼn doelwit of missie vir die skool het. Die tipe leierskapstyl wat deur ʼn leier aangeneem word, kan ʼn positiewe of negatiewe invloed op die bereiking van die gesamentlike doelwit vir die skool, prestasie, personeelontwikkeling en werksbevrediging hê (Van Deventer & Kruger, 2010:142– 148). Die beginnerskoolhoof moet dus besluit of hy/sy die “laissez-faire”-, outokratiese, demokratiese of situasie leierskapstyl gaan volg. Ongeag die bestuurstyl sal die suksesvolle leier van ʼn skool iemand wees wat onder andere:

 deur deeglike beplanning die gaping tussen waar die skool is, en dit graag wil wees, oorbrug

 realistiese doelwitte stel

 ʼn effektiewe besluitnemer wees  goed organiseer

18

 op die hoogte van die nuutste verwikkelinge in die onderwys wees  balans tussen taak- en mensoriëntering handhaaf

 goeie motiveerder vir personeel en leerders wees  delegeer.

Miracle (2006:93) is van mening dat ʼn goeie leier na ʼn persoon verwys wat altyd bereid is om nog te leer, oor uitstekende kommunikasievaardighede beskik, sterk in sy/haar oortuigings glo, altyd op die uitkyk vir geleenthede is waar groei kan plaasvind, om kalm te bly terwyl ander rondom hom/haar nie so kalm is nie, ʼn goeie luisteraar is, bereid is om nuwe uitdagings te aanvaar, goed te delegeer en ʼn goeie rolmodel is. Van der Westhuizen et al. (2007:282) stel dit duidelik dat personeel ʼn leier verkies wat begrip toon, ondersteunend en regverdig is asook ʼn goeie interpersoonlike verhouding tussen personeel, leerders en die ouergemeenskap handhaaf, terwyl hy/sy nog steeds sy/haar werksverpligtinge nakom. Daarbenewens moet ʼn goeie leier ook oor tegniese vaardighede en kennis beskik.

Jerabek en Day (2009:21,22) lê klem daarop dat goeie leiers die kompleksiteit van enige stelsel verstaan, maar gewillig is om hulle mening te verander solank die doelwit wat daar gestel is, bereik word. Verder bemagtig goeie leiers ander en verstaan hulle die belangrikheid om ook te kan volg. ʼn Goeie leier sal krediet aan behoorlike mentorskap gee as hy/sy sukses behaal en het vertroue in hulle vermoëns maar ook in dié van hulle ondergeskiktes. Hulle sal ook leiding in ʼn situasie neem en in gesprek met sy/haar volgelinge tree, maar ook verwag dat hulle hom/haar nie blindelings sal volg nie. ʼn Leier wat oor goeie leierseienskappe beskik, is iemand wat ʼn positiewe leeromgewing skep en opvoedkundige uitkomste aan ʼn diverse gemeenskap bewerkstellig. Verder is ʼn effektiewe leier onder andere iemand wat geloof in leerders se vermoëns tot sukses het, gemeenskappe en kulture vorm, wat strategies kan dink en met selfvertroue konflik kan hanteer. ʼn Goeie leier wat sukses wil behaal moet iemand wees wat ʼn toekomsvisie het, mense verstaan en ontwikkel en wat goeie organisatoriese en bestuursvaardighede ten opsigte van die kurrikulum het. Kortom moet die leier ʼn goeie leierskapstyl hê, oor karaktereienskappe beskik wat eie aan hom/haar is, goeie menseverhoudinge hê en ʼn persoonlike filosofie en waardes hê (Duignan & Bezzina, 2006:2; Harris & Chapman, 2002:3; Drysdale et al., 2009:698,704).

Hierdie leierseienskappe is van toepassing op alle leiers wat ʼn skool bestuur. Raihani (2008:486) is van mening dat suksesvolle leierskap in skole in Indonesië toegeskryf kan word aan die feit dat beginnerskoolhoofde ʼn duidelike visie vir die skool het, persoonlike en professionele waardes het maar wat ook ander mense se waardes respekteer, ʼn goeie kennis van die kurrikulum en goeie bestuursvaardighede het.

19

In die lig van bogenoemde is daar heelwat menings oor wat leierskap behels en oor watter leierseienskappe ʼn skoolhoof behoort te beskik om ʼn suksesvolle beginnerskoolhoof te kan wees. Sommige skrywers is van mening dat die visie en missie wat ʼn leier het ʼn belangrike rol speel. Ander skrywers voel dat bestuursvaardighede van ʼn leier weer belangrik is. Kommunikasie en interpersoonlike verhoudinge van ʼn leier teenoor sy kollegas, word ook as baie belangrik beskou. Leierseienskappe is gewoonlik nie alleen voldoende om ʼn skool doeltreffend te lei nie, maar bestuursvaardighede word ook as belangrik beskou om ʼn skool effektief te bestuur.

2.2.3 Bestuur

2.2.3.1 Eienskappe van bestuur

Aan die hoof van enige instansie is daar ʼn persoon wat die instansie na die beste van sy/haar vermoë moet bestuur. So ook is daar ʼn beginnerskoolhoof by skole wat die skool moet bestuur. Daar is reeds na die leierseienskappe waaroor ʼn beginnerskoolhoof moontlik kan beskik gekyk, maar dit is nie te sê dat hy/sy die skool kan bestuur nie. Verskeie literatuurskrywers het hulle eie menings oor die betekenis van bestuur.

Die hart van bestuur lê in die vermoë om dinge te laat gebeur met of sonder die nodige beskikbare bronne. Dit is ook om iets in ʼn bepaalde rigting te laat gaan, om te lei of om beheer oor iets te hê. Bestuur kan beplanning, organisasie, personeel, hulpbronne, monitering en kontrolering, skakeling en onderhandeling en kommunikasie insluit. Verder kan bestuur ook as ʼn interaktiewe, interverwante proses beskou word wat deur onderwysleiers gebruik word om leer en onderrig in skole te bestuur (Green, 2000:16; Odendal & Gouws, 2010:89; Fidler, 2002:32; Van Deventer & Kruger, 2010:65).

Van der Westhuizen (2005:55,39) is van mening dat bestuur ʼn sirkel van beplanning, organisasie, leiding, monitering en kontrolering is om ʼn sekere doelwit te bereik. Van Deventer en Kruger (2010:68) beweer egter dat bestuur die ontwerp en uitvoer van planne, afhandeling van werk en effektiewe interaksie met mense impliseer. Wanneer daar na die aspekte van bestuur gekyk word, kan daar verskillende areas geïdentifiseer word naamlik, leerlingaangeleenthede, personeelsake, administratiewe sake, finansiële aangeleenthede, fasiliteite en skoolgemeenskapsake (Van Deventer & Kruger, 2010:76). Die bestuurder van ʼn skool sal dus verkillende areas moet kan bestuur. Sobehart (2009:80,89) sluit hierby aan dat ʼn bestuurder verskillende areas moet kan bestuur, maar dat daar ook van die beginnerskoolhoof verwag word om vol te hou om personeel te lei, leerders te dissiplineer, verhoudings met ouers

20

te bewerkstellig, fasiliteite te bestuur, die veiligheid van onderwysers en leerders te verseker, begrotings te bestuur, verhoudings met die gemeenskap te bou en op die hoogte van die regsimplikasies van hierdie aktiwiteite te wees. Van der Westhuizen (2005:93,94,131) glo dat die bestuurder van ʼn skool verskillende bestuursposisies moet kan vertolk naamlik, dié van hoof van die skool, leier en skakelpersoon. Die beginnerskoolhoof, as bestuurder, sal met sy/haar aanstelling nie alleen outoriteit hê nie, maar hy/sy sal ook verantwoordelik vir resultate, die onderwys en die onderrig van ʼn skool wees. Sy/haar outoriteit verleen aan hom/haar toegang tot sekere inligting en daarvolgens kan hy/sy besluite neem.

In lande buite Suid-Afrika word klem op die belangrikheid van effektiewe bestuur in skole en veral die bestuurstyl van beginnerskoolhoofde gelê. Hofman en Hofman (2011:622,624) wys daarop dat die effektiewe bestuur van ʼn skool ʼn invloed op die leerders in Nederland se leer- en sosiale omgewing het, maar dat verskillende skole se bestuurstyl deur die aantal leerders in die skool, ouers, die omgewing en waar die skool in die gemeenskap geleë is, gelei moet word. ʼn Effektiewe bestuurstyl van die beginnerskoolhoof sal ʼn beleid volg waar leerders se vordering voortdurend gemonitor word asook die optimale funksionering van die onderwysers. Professionalisme kan as ʼn instrument gebruik word om die skool op sosiale- en onderwysvlak as ʼn geheel te verbeter. ʼn Effektiewe bestuurstyl sal daarop fokus om te motiveer en ʼn samehorigheidsgevoel te skep. Hierteenoor beweer Mathis (2010:22,23) dat die Saoedi- Arabiese onderwysstelsel beginnerskoolhoofde as bestuurders oplei en bestuur word as ʼn proses wat ʼn stelsel vlot laat loop, beskou. In tye van verandering sal transformasie nie suksesvol afgehandel kan word as die bestuurder nie bevoeg is om dit te kan hanteer nie.

Bestuur speel ʼn belangrike rol by die beginnerskoolhoof veral ten opsigte van beplanning en organisasie. Die beginnerskoolhoof sal meer as een rol van bestuurder moet kan vertolk en die areas in die skool so bestuur dat ʼn skooldag vlot kan verloop.

2.2.4 Samevatting

Daar is verskeie menings oor wat bestuur is. Dit is duidelik dat die beginnerskoolhoof tog oor sekere leierseienskappe en bestuursvaardighede moet beskik om die skool effektief te kan bestuur, maar dat daar ook ander eienskappe is wat belangrik vir die effektiewe bestuur en leiding van ʼn skool is. Van der Westhuizen et al. (2007:158) is van mening dat die beginnerskoolhoof, afgesien van leierseienskappe en bestuursvaardighede ook oor die volgende eienskappe moet beskik:

21

 konsiderasie – ordentlike behandeling van onderwysers

 afstand – die afstand wat hy/sy tussen hom/haar en die personeel behou

 produktiewe oriëntasie – die manier waarop hy/sy personeel aanmoedig om harder te werk.

Beginnerskoolhoofde het die grootste invloed op die feit of onderwys deurlopend effektief of nie effektief toegepas word nie, of die moraal hoog of laag is, of die skoolklimaat positief of negatief is, of die personeel tevrede of ontevrede is, of die leerders presteer of misluk, of die ouers saamwerk of nie saamwerk nie en of daar effektiewe leierskap en bestuur is of nie wanneer hy/sy nuut by die skool aangestel word (Bowen, 2011:1).

Die skool bestaan uit verskillende areas waar die skoolhoof bestuursvaardighede en leierseienskappe sal moet inspan om die skool as geheel doeltreffend te bestuur. Alhoewel alle skoolhoofde aan al die areas in die skoolmilieu aandag moet gee, word in die volgende gedeelte drie areas, wat oorkoepelend van die ander areas is, kortliks bespreek omdat die beginnerskoolhoofde nie noodwendig aan die drie areas blootgestel is nie of die nodige ondervinding daarin het om die drie areas te bestuur nie. Die drie areas naamlik, administrasie en beplanning, finansies en fasiliteite verg baie tyd van die hoof. Dit is ook die areas waar eise en uitdagings aan die beginnerskoolhoof gestel word.

2.3 AREAS IN „N SKOOL WAT AANDAG VAN DIE BEGINNERSKOOLHOOF VERG