• No results found

Besondere eise ten opsigte van die gemeenskap, ouers, skool

HOOFSTUK 1: INLEIDING, PROBLEEMSTELLING EN DOEL MET DIE NAVORSING

2.5 DIE BEGINNERSKOOLHOOF

2.5.3 Besondere eise wat aan die beginnerskoolhoof gestel word

2.5.3.2 Besondere eise ten opsigte van die gemeenskap, ouers, skool

Dikwels word die beginnerskoolhoof aan besondere eise blootgestel wat deur die skool, ouers en gemeenskap aan hom/haar gestel word veral omdat hy/sy nuut is en nie noodwendig die gemeenskap en ouers ken nie. Volgens Goldring et al. (2008:332) is skole komplekse organisasies waar eise en soms kompeterende eise en verantwoordelikhede die aandag van die beginnerskoolhoof vereis. Fidler (2002:29) sluit hierby aan dat wanneer dit by die keuse van ʼn skool kom, die reputasie van die skool ʼn groot rol speel en dat eksamenuitslae, dissipline en die gedrag en voorkoms van leerlinge ʼn voorvereiste is. In vandag se lewe is veiligheid ʼn hoë prioriteit en die gemeenskap vereis dat daar na die veiligheid van die leerders omgesien moet word. Decker en Decker (2003:220) lê klem daarop dat ʼn veilige en ordelike skoolomgewing noodsaaklik is om ʼn hoë standaard van onderwys te handhaaf. Dit sal verseker dat leerders hulle volle potensiaal bereik. Dit is dus duidelik dat die skool se prestasie,

33

veiligheid en effektiewe onderrig van die eise is wat heel eerste aan die beginnerskoolhoof gestel word. Dit is gewoonlik die ouers wat hierdie eise aan die beginnerskoolhoof stel en daarop aandring dat daar aandag aan gegee word.

Ouers is geneig om heelwat eise aan die beginnerskoolhoof te stel wat hom/haar soms in ʼn moeilike posisie plaas. Van Wyk en Lemmer (2009:12) wys daarop dat dit vir ouers belangrik is om hulle kinders in die regte skool te plaas. Volgens hulle verwag ouers van ʼn skool:

 die beste onderrig

 gereelde, betroubare, toeganklike inligting

 inligting ten opsigte van hulle kinders se vordering, prestasies, probleme  ouers wil ernstig opgeneem word en na geluister word

 wil vinnig ingelig word as daar probleme met hulle kinders ondervind word.

Green (2000:183,184) sluit hierby aan dat, om die ouers te oortuig om hulle kinders na ʼn spesifieke skool te stuur, veral wanneer daar ʼn beginnerskoolhoof is, die beginnerskoolhoof moet sorg dat die regte inligting die ouers bereik aangesien ouers wyer toegang tot die skool deur middel van webbladsye, media en dit wat die leerders oorvertel het. Dit is dus baie belangrik dat die beginnerskoolhoof na die ouers moet luister, aandag gee aan hulle bekommernisse en hulle altyd ingelig hou veral ten opsigte van die doelwitte wat die beginnerskoolhoof vir die skool wil bereik. Inligting in verband met beleid en praktyk moet verskaf word en daar moet aan die ouers en leerders se behoeftes binne die onderwysstelsel voldoen word (Wright & Stegelin, 2003:51, 66; Davidovich et al., 2010:12).

Omdat die leerders van ʼn skool uit die ouergemeenskap kom kan die skool- en ouergemeenskap as een van die belangrikste areas waarmee die beginnerskoolhoof te doen het, beskou word. Naidu et al. (2010:129,131,132,138) wys tereg daarop dat ʼn skoolgemeenskap na al die persone in ʼn spesifieke geografiese ligging, wat belange by die skool het, verwys terwyl die ouergemeenskap na die individue en gesinne wat leerders in die skool het, verwys. Die ouergemeenskap is in vennootskap met die skool waaruit die bestuurder (die skoolhoof) en personeellede bestaan. Daarom word die eis aan die beginnerskoolhoof gestel om hierdie verhouding reg te bestuur en die ouergemeenskap toe te laat om deel te neem wanneer hulle vaardighede benodig word. Die beginnerskoolhoof moet die ouers betrokke maak, maar moet hulle welkom en waarderend behandel.

Tydens die oorgangstydperk na demokrasie in Suid-Afrika, is beginnerskoolhoofde in ʼn moeilike posisie geplaas omdat hulle moes verantwoording doen aan hulle werkgewer sowel as aan die gemeenskap tot watter mate hulle onderwys in hulle skole effektief bestuur. Baie

34

beginnerskoolhoofde word voor die eis van transformasie, onder baie moeilik omstandighede, gestel. Heelwat skole word ook as disfunksionele skole beskou en gevolglik word die vraag gevra of beginnerskoolhoofde die nodige vaardighede, kennis en leierseienskappe het om die skool effektief te bestuur. Beginnerskoolhoofde moet die doelwitte van transformasie verstaan sodat hulle dit reg kan bestuur (Naidu et al., 2010:2,3).

Cowie en Crawford (2007:130,131) sluit hierby aan dat bekommernisse oor onderpresterende skole in ʼn kompeterende wêreldwye omgewing, onderwysstandaarde onder druk geplaas het. In die laaste twee dekades moes beginnerskoolhoofde aanvaar dat daar toenemend van hulle verwag word en hulle ʼn openbare aanspreeklikheid het om presterend te bestuur veral as hulle nuutaangestel is en die skool goed presteer het. Aansluitend hierby is Naidu et al. (2010:139) van mening dat die beginnerskoolhoof die gemeenskap reg moet bestuur. Hy moet bereidwillig wees om die besighede en industrie (asook gelowige- en liefdadigheidsinstansies) geleentheid te gee om skoolaktiwiteite te ondersteun aangesien die besighede op hulle beurt weer finansiële ondersteuning bied, beurse daar stel en werksgeleenthede skep. Tog wys Van Deventer en Kruger (2010:265) daarop dat die gemeenskap se rol en grense in skoolbestuur duidelik gestel moet word en die twee partye moet mekaar verstaan sodat die deelname tot voordeel van beide die skool en die gemeenskap kan wees, veral as die beginnerskoolhoof nie die gemeenskap ken nie.

Volgens Van der Westhuizen (2005:438,442) is die skep van ʼn goeie interpersoonlike en inter- gemeenskapsverhouding een van die belangrike bestuurstake van die beginnerskoolhoof. Hy/sy moet betrokke in gemeenskapsaktiwiteite wees. Met sy/haar deelname kan hy/sy die sterk- en swakpunte van sy/haar skool vasstel. Die beginnerskoolhoof moet met die verskillende groepe en organisasie se leiers in gesprek tree om sodoende ʼn goeie skoolgemeenskapsverhouding aan te moedig. Die verbintenis met ouers wie bekommernisse en klagtes het, is nie net alleen belangrik vir die onderrig van die leerling nie, maar dit is ook ʼn goeie terugvoering tussen die skool en die gemeenskap. Wanneer die beginnerskoolhoof die klagtes positief hanteer, bou dit vertroue en word areas geïdentifiseer waar ontwikkeling aandag moet kry.

ʼn Gesonde verhouding tussen die skool, ouers en gemeenskap en die beginnerskoolhoof is belangrik aangesien die ouers, skool en gemeenskap aangewese op mekaar is om die skool ʼn presterende, funksionele skool vir die toekomstige arbeidsmarkte maak. Deur goeie kommunikasie kan eise wat in hierdie area aan die beginnerskoolhoof gestel word, doeltreffend bestuur word. Nie alleen stel die gemeenskap eise aan die beginnerskoolhoof nie, maar die personeel stel ook sekere eise aan die beginnerskoolhoof.

35