• No results found

Besondere uitdagings ten opsigte van personeel

HOOFSTUK 1: INLEIDING, PROBLEEMSTELLING EN DOEL MET DIE NAVORSING

2.5 DIE BEGINNERSKOOLHOOF

2.5.4 Besondere uitdagings wat aan die beginnerskoolhoof gestel word

2.5.4.2 Besondere uitdagings ten opsigte van personeel

ʼn Skool kan slegs funksioneer as daar leerders en ʼn personeel is om die nodige onderrig te gee. Omdat die personeel uit verskillende mense met verskillende persoonlikhede bestaan, staan die beginnerskoolhoof voor die uitdaging om hierdie personeel sensitief, oordeelkundig, maar tog ferm te hanteer. Dit is juis die personeel wat die beginnerskoolhoof deur ʼn vergrootglas dophou. Busher (2006:70) wys daarop dat om met mense te werk, hetsy dit die personeel of die beginnerskoolhoof is, is dit nodig om die aksies van mense in ʼn sekere situasie te verstaan om suksesvol saam met hulle te werk. In ʼn personeelkorps waar personeellede min of meer dieselfde opleiding en verantwoordelikhede het, verskil hulle egter ten opsigte van oortuigings, waardes, gesindhede en gewoontes.

Daarbenewens glo Ingle et al. (2011:580) dat elke personeellid wat nuut aangestel word deeglik oorweeg moet word deur die beginnerskoolhoof, want nuutaangestelde personeellede het ʼn definitiewe invloed op die leerders en die huidige personeel. Die beginnerskoolhoof moet ook die karaktertrekke en vermoëns van die huidige personeel in aanmerking neem wanneer ʼn nuwe personeellid aangestel word omdat die personeel uit die aard van die saak nou gaan saamwerk. Gesindhede en gevoelens van personeellede speel ʼn groot rol. Crawford (2009:75) beweer dat gevoelens van haat en angs tot leed aandoen en ontwrigting kan lei `en dit kan die werksomgewing heeltemal verander. Hierby sluit ʼn lae moraal aan wat deur veranderings veroorsaak word. Die werksomgewing vir die onderwyser moet ʼn omgewing word waar hulle, hulleself moet laat geld. Die daarstel van ʼn risiko-vrye omgewing vir sommige beginnerskoolhoofde moet ʼn ideaal word. Alleenlik dan kan onderwysers wat wil leer en die praktyk wil verbeter, ondersteun word (McHugh, 2002:56; Burrello et al., 2005:6).

Reyes-Gonzales (2007:2,3) glo dat die beginnerskoolhoof die onderwysers moet aanmoedig om kwaliteit onderrig te lewer, want as 'n leerder onderpresteer word die onderwyser vir die swak prestasie blameer wat weer op die beginnerskoolhoof se bevoegdheid reflekteer.

42

Sommige personeellede is nie bereid om werkswinkels by te woon of om hulleself verder te bekwaam nie. Gewoonlik is dit die onderwysers wat wel die opleiding nodig het wat nie bereid is om hierdie geleenthede aan te gryp nie. Dit is die beginnerskoolhoof se verantwoordelikheid om hierdie personeellede aan te spreek of om hulle aan te moedig om hulle beter te bekwaam.

Om personeelsake te hanteer is kompleks en uitdagend veral as personeellede laks is of nie verandering kan aanvaar nie. Sommige personeellede in skole, werk nie hard soos die res van die personeel nie. Sommiges wil nie hulle styl van klasgee verander nie, maar wil op die manier waaraan hulle gewoond is, voortgaan. Die beginnerskoolhoof moet in gedagte hou dat die personeel verandering verwag sodra hy/sy as skoolhoof begin. Hoe die personeel die beginnerskoolhoof sien, is baie belangrik want sommige sal probeer om hulle veronderstellings op die beginnerskoolhoof af te dwing. Dit is dus belangrik dat die beginnerskoolhoof sy/haar eie kultuur ontwikkel anders sal die personeel dit vir hom/haar doen. Personeel is geneig om die omgewing te wil beheer en sal nie geredelik verandering aanvaar nie. Personeel plaas druk op die beginnerskoolhoof om standpunt ten opsigte van verantwoordelikheid, waardes en verwagtinge in te neem. Verder verwag die personeel dat die beginnerskoolhoof die skool so sal bestuur dat ʼn dag sonder haakplekke sal verloop en dat die skoolhoof as buffer tussen hulle en die ouers moet optree. Die beginnerskoolhoof moet negatiewe kommentaar en besware te wagte wees wanneer hy/sy personeel gaan hanteer veral as hy/sy veranderinge gaan aanbring of ʼn nuwe bestuurstyl gaan handhaaf (Cui, 2010:149; Sackney & Walker, 2006:345).

Dit is dus belangrik vir die beginnerskoolhoof om die vertroue van die personeel te wen om sodoende spanwerk aan te moedig. Volgens Nelson et al. (2008:698) kom beginnerskoolhoofde voor die uitdaging te staan om personeel so ver te kry om deel van die span te wees, veral wanneer hy/sy nuut aangestel is. Verder beveel Sparks (2002:67,68) aan dat onderwysers aangemoedig moet word om op ʼn hoër vlak skool te hou. Deur klasbesoek te doen, leer en onderrigmetodes te bespreek en gereelde vergaderings te hou moedig die beginnerskoolhoof professionaliteit aan. Hy/sy moet hulle ook gereeld emosioneel en moreel ondersteun en sigbaar wees, aktief luister, aanmoedig en duidelike verwagtinge ten opsigte van hulle professionaliteit in die gemeenskap skep. Personeel wat hulle eerste pos in die platteland aanvaar moet daarop gewys word dat hulle professioneel en as rolmodel in die gemeenskap moet optree. Die gemeenskap verwag van die personeel om in die platteland aan te pas en deel van die gemeenskap te wees. Dit is die taak van die beginnerskoolhoof om professionaliteit onder die personeel aan te moedig (Clark, 2006:14).

Personeel moet ten alle tye professioneel optree al verskil hulle persoonlikhede. Die beginnerskoolhoof moet die verskillende persoonlikhede identifiseer en sorg dat daar ʼn

43

ontspanne atmosfeer tussen personeellede is en hulle positief motiveer om ʼn volle skooldag ten volle te benut. Omdat mense se persoonlikhede verskil is dit nie altyd maklik om hulle gelukkig te hou nie en sonder die nodige ondersteuning, kennis en gesindheid kan dit baie moeilik vir die beginnerskoolhoof raak as sy/haar personeel ongelukkig is. Daarbenewens moet die beginnerskoolhoof onthou dat die personeel met leerders werk en as die personeel ongelukkig is, sal die leerders ongelukkig wees.