• No results found

Besondere uitdagings ten opsigte van konflik

HOOFSTUK 1: INLEIDING, PROBLEEMSTELLING EN DOEL MET DIE NAVORSING

2.5 DIE BEGINNERSKOOLHOOF

2.5.4 Besondere uitdagings wat aan die beginnerskoolhoof gestel word

2.5.4.11 Besondere uitdagings ten opsigte van konflik

Daar is verskeie redes waarom die beginnerskoolhoof te doen kry met konflik. In ʼn wêreld waar magsposisies nagejaag word, armoede aan die orde van die dag is en werkloosheid ʼn universele probleem is, is konflik onafwendbaar. Te midde van hierdie probleme moet die beginnerskoolhoof konflik effektief kan bestuur of oplos.

Naidu et al. (2010:122) definieer konflik as ʼn vyandige en afbrekende geskil tussen twee of meer individue of groepe. Konflik is ʼn eerlike verskil van opinies waar ʼn keuse gemaak moet word en kan tog van waarde wees omdat alle moontlikhede in toekomstige beplanning oorweeg moet word. Decker en Decker (2003:221) voel weer dat konflik ontstaan uit verskille ten opsigte van ras, geslag, klas en fisiese en intellektuele vermoëns. In ander gevalle word beginnerskoolhoofde met besluite wat in konflik met hulle persoonlike waardes en etiese

57

beginsels staan, gekonfronteer (Daresh, 2006:12). Fidler (2002:58) sluit hierby aan en gee ʼn paar bronne wat konflik veroorsaak, naamlik:

 verskillende visies ten opsigte van ʼn situasie  onderlinge kompetisie

 onsekerheid oor die rol wat personeel speel

 verskillende interpersoonlike style (die manier hoe hulle werk)

 eksterne stresfaktore (byvoorbeeld ʼn derde party wat ʼn invloed op die personeellid se besluit kan hê).

Om spanning en moontlike konflik in skoolgemeenskappe te kan hanteer, moet die beginnerskoolhoof luister na wat die leerders, personeel, ouers en beheerliggaam te sê het. Hy/sy moet hulle belange en behoeftes raaksien en hulle toelaat om deelnemend te wees ten opsigte van kurrikulum en organisatoriese aangeleenthede. Beginnerskoolhoofde spandeer baie tyd daaraan om minder belangrike oortredinge op te los en dit word toegeskryf aan die feit dat hulle nie die nodige vaardighede het om konflik te hanteer nie (Busher, 2006:94; Moeketsi, 2004:62).

Omdat die beginnerskoolhoof nog nie die gemeenskap, personeel en leerlinge so goed ken nie, sal hy/sy heel dikwels voor die uitdaging kom om konflik sensitief te bestuur en voorbereid daarop te wees. Van Deventer en Kruger (2010:33-35) beweer dat konflik deel van ons daaglikse bestaan is en kan wissel van klein uitvalle tot volskaalse gevegte. Konflikbestuur is die oplossing van konflik en die beginnerskoolhoof kan dit op drie maniere oplos, naamlik vreedsame oplossing, skikking en probleemoplossing. Siccone (2012:84) voer aan dat wanneer probleemoplossing ter sprake kom ʼn logiese volgorde gevolg moet word, naamlik dat die probleem geïdentifiseer moet word, alternatiewe oplossings daar probeer stel, besluit watter oplossing die beste sal wees en implementeer en ontwikkel ʼn plan om die probleem op te los. Daar rus ʼn groot onus op die skouers van die beginnerskoolhoof om ʼn goeie vennootskap tussen hom/haar en die gemeenskap te bou sodat probleme vinnig uitgestryk kan word. Probleme lê in ʼn situasie en daarom moet daar nie net na probleemoplossing gekyk word nie, maar ook na hoe probleme in die toekoms vermy kan word (Middelwood & Parker, 2009:115).

Dit is baie belangrik dat die beginnerskoolhoof sy/haar verhouding met die gemeenskap, leerders en veral die personeel moet bou. Om verhoudinge te bou, is van fundamentele belang omdat dit die kultuur, etos en klimaat van ʼn skool bepaal. Daar sal altyd personeellede wees wat nie deel van die span wil wees nie, wangedrag openbaar of wat onbevoeg voel. Wanneer dit by die punt kom dat personeel gedissiplineer moet word, moet die regte prosedures gevolg word (Naidu et al., 2010:123,125; Green, 2000:142).

58

Die beginnerskoolhoof weet dikwels nie hoe om konfliksituasie te ontlont nie omdat hy/sy nog nie in die posisie was om dit te hanteer nie of omdat hy/sy nie die nodige leiding gekry het om konflik te hanteer of op te los nie. In hierdie verband beweer Van der Westhuizen (2005:315) dat die beginnerskoolhoof as leier moet besef dat geen persoon alleen ʼn konfliksituasie kan ontlont nie. Om konflik te vermy kan die leier die volgende doen:

 praat openlik en persoonlik met die betrokke persoon

 bly in kontak met individue of groepe wie se menings radikaal verskil  inisieer projekte om interdepartementele probleme op te los

 vergewis hom/haar van al die partye se menings  vermy onnodige belonings.

Van der Westhuizen (2005:325,326) wys verder daarop dat ʼn skoolhoof wat konflik wil oplos, die nodige vaardighede moet aanleer deur kennis, selfbeheersing en gereelde oefening in effektiewe konflikoplossing toe te pas. Hy/sy moet sy/haar mening duidelik, kalm en eerlik lug. Verder is daar verskeie maniere waarop die beginnerskoolhoof konflik kan bestuur, naamlik:

 deur kommunikasie  hanteer konflik dadelik

 bespreek die probleem met die persoon self  neem al die standpunte in ag

 behou ʼn sin vir humor.

Deur konsekwent op te tree, kan die beginnerskoolhoof ʼn vertrouensverhouding tussen hom, die personeel en leerders skep. Op die manier kan konflik op ʼn regverdige manier tot voordeel van al die partye hanteer word.

Daar is verskillende redes vir konflik en dit is belangrik om dit reg te hanteer. Beginnerskoolhoofde is dikwels blootgestel wanneer dit by konflikhantering kom aangesien hy/sy gou daarvan beskuldig kan word dat hy/sy kant kies veral wanneer dit by rasse- aangeleenthede, verspreiding van finansies en vergoeding kom. Omdat konflikhantering ʼn groot uitdaging vir die beginnerskoolhoof is, is dit nodig dat hy/sy die regte leiding en ondersteuning van die personeel, ouers en gemeenskap moet kry.

2.6 SAMEVATTING

Daar kan van die standpunt uitgegaan word dat die eise en uitdagings wat aan ʼn beginnerskoolhoof gestel word ook van toepassing op gevestigde skoolhoofde is, maar daar moet in gedagte gehou word dat die beginnerskoolhoof iemand is wat nog leer om iets te doen

59

en nog eksperimenteer (cf. 2.5.2). Daarom sal die eise en uitdagings wat aan hom/haar gestel word moontlik onbekend wees en dat hy/sy nog nie die nodige kundigheid en vaardigheid het om die eise en uitdagings met selfvertroue te kan hanteer nie. As individu moet hy/sy teen meer as een persoon en soms teen die hele gemeenskap opgewasse wees. In sulke tye voel die beginnerskoolhoofde professioneel geïsoleerd en alleen, terwyl hulle eise en uitdagings, soos die tradisies, praktyke en bestuurstyl van die vorige skoolhoof, hantering van meervoudige take, bestuur van tyd en prioriteit, bestuur van die skoolbegroting, hantering van onproduktiewe personeellede, implementering van nuwe regeringsinisiatiewe en die bestuur van die skoolterrein, moet hanteer (Cowie & Crawford, 2008:686). Crawford (2009:5) sluit hierby aan dat die sukses of mislukking van ʼn skool sal afhang van hoe die beginnerskoolhoof die skool gaan bestuur. Dit veroorsaak dat die beginnerskoolhoof voel asof dit alleenlik sy/haar verantwoordelikheid is om die skool suksesvol te bestuur. Schumaker en Sommers (2001:141) stem saam dat dit ʼn probleem is dat beginnerskoolhoofde soms baie alleen as gevolg van hulle posisie is. Hulle weet nie meer of hulle die kollegas kan vertrou wanneer privaatgesprekke gevoer word nie. Moorosi (2007:515,517) maak verder die stelling dat vroulike beginnerskoolhoofde se eggenotes hulle nie ondersteun nie en dat hulle nog steeds verwag dat die vrou haar volle huislike pligte moet nakom. Dit laat die vrou skuldig voel omdat sy op beide gebiede goed wil presteer.

Schumaker en Sommers (2001:142) stel voor dat daar ʼn ondersteuningstelsel of persoon moet wees wat die beginnerskoolhoof kan bystaan, maar dat dit aan sekere vereistes moet voldoen:  die persone moet betroubaar wees; wanneer aan hulle gesê word om geen inligting oor te

dra nie moet hulle dit nakom

 hulle moet geredelik beskikbaar wees – maklik om in die hande te kry en gewillig wees om te luister

 hulle moet tyd hê

 hulle moet hulle met dieselfde situasie waarin die hoof verkeer kan vereenselwig en hom kan ondersteun.

So ʼn tipe ondersteuningsbasis kan byvoorbeeld die hoof se vrou wees, ʼn persoonlik vriend of ander skoolhoofde in die omgewing, die adjunkhoof, die sekretaresse of selfs ʼn personeellid. Die probleem is egter dat dié tipe ondersteuning nie altyd beskikbaar is nie en dat die meeste van die persone huiwerig is om betrokke te raak.

Crow (2006:312) wys daarop dat dit eers heelwat later is dat die beginnerskoolhoofde gewoonlik sin maak van hulle rol as skoolhoof deurdat die onderwysers, leerders, ouers en ander bestuurders informele terugvoer oor sy/haar optrede as skoolhoof gee.

60