• No results found

Besondere eise ten opsigte van die personeel

HOOFSTUK 1: INLEIDING, PROBLEEMSTELLING EN DOEL MET DIE NAVORSING

2.5 DIE BEGINNERSKOOLHOOF

2.5.3 Besondere eise wat aan die beginnerskoolhoof gestel word

2.5.3.3 Besondere eise ten opsigte van die personeel

Een van die belangrikste aspekte van ʼn skool, wat altyd waardevol sal wees, is die personeel. In sommige gevalle is die personeel ʼn reeds gevestigde personeel en die beginnerskoolhoof ʼn nuweling. In ander gevalle was die beginnerskoolhoof eers deel van die personeel wat as beginnerskoolhoof aangestel is wat sy/haar rol verander. Nietemin moet die optrede teenoor die personeel van die oomblik wat hy/sy aangestel is, iets wees wat die beginnerskoolhoof in gedagte moet hou. In hierdie verband beweer Nieman et al. (2010:2,3,6,7) dat beginnerskoolhoofde beleefd moet optree, omgee, gereeld kommunikeer en konstant erkenning en belonings gee. Deur duidelike riglyne vas te lê en standaarde te stel, gee dit aan die personeellede vertroue in die hoof (Green, 2000:92,138). Deur sy/haar optrede kan die beginnerskoolhoof ʼn positiewe skoolklimaat skep (Hofman & Hofman, 2011:624).

Vir die personeel is dit baie belangrik hoe die beginnerskoolhoof hulle behandel. Dit stel sekere eise aan die beginnerskoolhoof want personeellede verskil van mekaar en party is meer sensitief as ander. Dit is egter uiters belangrik dat alle personeellede met respek behandel moet word en hy/sy moet hulle waardeer, oud of jonk. Dit is ook baie belangrik dat die beginnerskoolhoof die jonger personeel sal ondersteun, veral met die oog op langtermyndienslewering, aangesien hulle ʼn opvoedkundige diens aan die kinders, ouers en die gemeenskap lewer. Dit is belangrik dat hulle nie as vanselfsprekend aanvaar word nie en om dit vol te hou, is moeilik aangesien dit maande kan duur om die verhouding weer op te bou as dit eers skade gelei het. Nie alleen word van die beginnerskoolhoof vereis om die personeel met respek te behandel sodat hulle die nodige vertroue in hom/haar sal hê nie, dit word ook van die beginnerskoolhoof vereis dat hy/sy die personeel op ʼn emosionele en intellektuele vlak moet hanteer. Sonder ʼn personeel kan daar nie onderrig plaasvind nie en die beginnerskoolhoof moet verskillende persoonlikhede in ag neem wanneer sy/haar leierseienskappe en bestuursvaardighede openbaar.

In die verband is Daresh (2006:10) van mening dat beginnerskoolhoofde dikwels weet wat hulle moet doen, maar nie weet hoe om die opdragte aan personeel oor te dra nie. Green (2000:137) beveel aan dat die volgende nagekom word om elke personeellid spesiaal te laat voel:

 toon respek

 ag elke personeellid na waarde  prys en beloon wanneer nodig

 berispe en dissiplineer wanneer nodig  skenk volle aandag aan elkeen

36

 neem kennis van die fynste detail van elke personeellid en onthou dit wanneer dit nodig is

 gee personeellede spasie sodat hulle, hulle werk kan doen sonder onnodige inmenging  verwyder die gevoel van mislukking

 moenie te veel van elkeen verwag nie.

Aansluitend hierby voel Nieman et al. (2010:2,3,6,7) dat daar van die beginnerskoolhoof verwag word om die personeel se belange op die hart te dra. Deur die personeel se belange eerste te stel, sal die beginnerskoolhoof ʼn vertrouensverhouding tussen hom/haar en die personeel skep. Schumaker en Sommers (2001:23) is van mening dat vertroue en betroubaarheid absoluut noodsaaklik is as die beginnerskoolhoof ʼn effektiewe skoolhoof wil wees. Green (2000:134) wys egter daarop dat wanneer die beginnerskoolhoof ʼn personeellid se vertroue skaad, die herstelproses baie lank sal neem voordat die personeellid die hoof weer sal vertrou.

Van Deventer en Kruger (2010:16) voer aan dat ʼn beginnerskoolhoof sy personeel positief kan bestuur deur as beskermer vir hulle op te tree, hulle te ondersteun in onder meer leerlingdissipline en hulle aan te moedig om te ontwikkel. Bowen (2011:1,9) sluit hierby aan dat deur die personeel te ondersteun, motiveer, deel te laat neem en te evalueer maak dat die skool effektief funksioneer. Die beginnerskoolhoof en personeel moet betrokke by kurrikulumsake, onderrig en assessering wees. So vind hy/sy idees, insigte en kundigheid in daardie areas van die werk wat die skool sal verbeter. Wanneer die beginnerskoolhoof na die onderwyser luister, hom/haar aanmoedig om ʼn mening te lig en sy/haar persepsies te verifieer, kan hy/sy professionele besluit maak wat die onderwyser insluit. Moeketsi (2004:25) ondersteun die feit dat beginnerskoolhoofde alleenlik op die bestuursplan van die skool kan fokus as hy/sy die ondersteuning van sy/haar personeel het. Hy/sy moet toesien dat die personeel deelneem anders sal die personeel ʼn gebrek aan werksbevrediging hê en nie betrokke by die bestuursplan wees nie. Deur sy/haar leierskap moet hy/sy die personeel tot hulle volle potensiaal aanspoor sodat hulle, hulle omgewing positief ervaar. Sodoende sal die beginnerskoolhoof die ondersteuning en lojaliteit ontvang.

Dit is vir elke personeellid belangrik hoe die beginnerskoolhoofde hom/haar sien of van hom/haar as mens dink. Nieman et al. (2010:2,3,6,7) is van mening dat onderwysers hulleself deur die oë van die beginnerskoolhoof sien. Tog beweer Davidovich et al. (2010:107) dat die verwagting dat die beginnerskoolhoof opdrag gee en in beheer is, nog steeds ʼn diepgewortelde denkwyse is. Naidu et al. (2010:95) voer aan dat namate die druk op skole toeneem om te presteer, die beginnerskoolhoof voor die uitdaging staan om goedgekwalifiseerde en ervare personeel aan te stel en te behou. Om dit te vermag moet die beginnerskoolhoof ʼn strategie

37

daar stel om personeellede te ontwikkel, te ondersteun, die onderwysprofessie aanloklik te maak om sodoende die personeellede te behou. Dikwels word daar van die beginnerskoolhoof, veral by ʼn skool waar verandering plaasvind, verwag om pligte te herverdeel, te kontroleer en te assesseer wat tot onenigheid kan lei (Kwan, 2009:199). Dit is dus belangrik dat die beginnerskoolhoof ʼn goeie verhouding met die personeel moet bou.

Afgesien van die skoolhoof-onderwyserverhouding speel die verhouding tussen kollegas ʼn uiters belangrike rol in die leer en onderrig van leerders aangesien personeellede so nou met mekaar saamwerk. Dit is van belang dat die beginnerskoolhoof hierdie verhoudings met omsigtigheid moet bestuur (Naidu et al., 2010:95,114-118). Daarteenoor het die verhouding tussen onderwysers en ouers ʼn definitiewe impak om die prestasies van leerders asook die betrokkenheid van ouers by die skool positief te beïnvloed. Daarom moet die verhouding tussen die hoof, onderwyser en ouer reg bestuur word. Van Deventer en Kruger (2010:10) sluit hierby aan dat dit die beginnerskoolhoof en personeel se verantwoordelikheid is om ouerbetrokkenheid te bestuur deur effektiewe kommunikasie en ʼn uitnodigende skoolklimaat te skep. Nieman et al. (2010:2,3,6,7) is van mening dat onderwysers ʼn sekere verwagting van hulle beginnerskoolhoof se leierskap het wat ʼn duidelike invloed op die gesindheid van die personeel het. Met die groot getal onderwysers wat die onderwys verlaat moet die beginnerskoolhoof ʼn effektiewe en ordelike omgewing skep waar positiewe houdings gekweek kan word wat die skool tot sukses sal lei.

Personeelsake is nie altyd maklik nie want daar word heelwat eise aan die skoolhoof as mens, leier en bestuurder gestel. Dit is soms moeilik vir die beginnerskoolhoof om die personeel se vertroue te wen, veral as hy/sy by ʼn vorige skoolhoof oorgeneem het of as hy/sy nou as die nuwe skoolhoof nie meer ʼn personeellid is nie. Dit is egter belangrik dat personeelsake op die hart gedra moet word want ʼn gesonde personeelkorps sal positiwiteit na die leerders uitstraal wat weer na die ouers en die gemeenskap sal oorspoel. Alhoewel die personeel heelwat eise aan die beginnerskoolhoof stel en sekere vereistes van die beginnerskoolhoof verwag, is die leerders in ʼn skool ʼn faktor wat baie eise aan die beginnerskoolhoof stel.