• No results found

Eienskappe van die beginnerskoolhoof

HOOFSTUK 1: INLEIDING, PROBLEEMSTELLING EN DOEL MET DIE NAVORSING

2.5 DIE BEGINNERSKOOLHOOF

2.5.2 Eienskappe van die beginnerskoolhoof

Die eienskappe van ʼn beginnerskoolhoof verskil van dié van ʼn reeds gevestigde skoolhoof. Volgens Odendal en Gouws (2010:74,417) is ʼn beginner “iemand wat nog leer om iets te doen” terwyl ʼn skoolhoof iemand is wat gesag oor ander mense uitoefen en word ook as ʼn leier beskou. ʼn Beginnerskoolhoof is iemand wat reeds oor die kwaliteite van ʼn leier beskik, maar wat nog leer om in ʼn bestuursposie te staan. Dit is nie so maklik om ʼn skool te bestuur as die beginnerskoolhoof nog leer hoe om die skool te bestuur nie en sal hy/sy dus van die besluite wat geneem word, heroorweeg. Cowie en Crawford (2008:679) meen dat die beginnerskoolhoof se behoeftes aansienlik binne die eerste paar jaar van sy hoofskap verander en hy/sy as mens verander in ʼn baie kort tydperk. Hierdie veranderinge wat die beginnerskoolhoof ondergaan kan ook as fases beskryf word soos deur Cheung en Walker (2006:391) aangedui:

fase 0: voorbereiding tot hoofskap

fase 1: intrede en ontmoeting (eerste maande) fase 2: neem van leisels (drie tot 12 maande) fase 3: hervorming (tweede jaar)

fase 4: verfyning (drie tot vier jaar) fase 5: konsolidasie (vyf tot sewe jaar) fase 6: plato (agt jaar en langer)

Fase 1 word as die kritieke fase vir die beginnerskoolhoof beskou waar hy deel van die situasie, mense, probleme en skoolkultuur word. In fase 2 stel die beginnerskoolhoof gewoonlik veranderinge in belang van die skool bekend. Tydens dié stadium gee die personeel gewoonlik hulle samewerking. Fase 3 is gewoonlik die fase waar groot veranderinge plaasvind en waar die beginnerskoolhoof en die personeel mekaar se sterk- en swakpunte leer ken en sodoende ʼn meer realistiese verwagting van mekaar het. Na mate die veranderinge vrugte afwerp kan die beginnerskoolhoof die personeel nader vir insette oor voorgenome veranderinge.

30

Berry (2004:1,2) is ook van mening dat die beginnerskoolhoof deur fases gaan. In die eerste fase doen hy/sy ervaring op, maar eksperimenteer terselfdertyd waarin te min tyd spandeer word om sin van wat hy/sy ervaar te maak. Die tweede fase is die refleksietydperk waarin hy/sy meer sin van die skoolmilieu maak en waarin daar na die eerste fase teruggekyk word. In die derde fase is die hervorming van die twee fases waarin daar tot aksie oorgegaan word met aktiewe eksperimente en konkrete waarneming.

Hill (2009:3) voer aan dat beginnerskoolhoofde ʼn verskeidenheid van verantwoordelikhede het wat skielik op hom/haar geplaas word wanneer hy/sy as beginnerskoolhoof aangestel word. Hierdie verantwoordelikhede sluit onder andere die skep van ʼn visie en missie in, die aanduiding van die rigting waarin die kurrikulum moet beweeg en geïmplementeer moet word, die skep van ʼn gesonde, positiewe klimaat, koestering van die verhouding tussen die skool en gemeenskap en die effektiewe bestuur van die skool se finansies. Die beginnerskoolhoof is nie noodwendig onkundig om hierdie verantwoordelikhede te hanteer nie, maar dikwels ontbreek die selfvertroue en ervaring by die beginnerskoolhoof om hierdie verantwoordelikhede uit te voer en eksperimenteer hulle dan om te sien hoe hierdie verantwoordelikhede hanteer kan word.

Hierteenoor is Stevenson (2008:1) van mening dat daar van die beginnerskoolhoof verwag word om foutloos deur die dag te gaan in hulle rol as nuwe skoolhoof, maar dat hulle onvoorbereid voel om die taak van skoolhoof oor te neem. Die beginnerskoolhoof is onseker oor hoe om as bestuurders, leiers, spesiale onderwyskundiges, skakelpersoon tussen die gemeenskap en skool op te tree en probleemoplosser te wees. Hulle is onkundig op die gebied van leerlinggetalle wat toe- of afneem, skoolveiligheid, dwelmmisbruik en selfdood. Beginnerskoolhoofde voel dikwels geïsoleerd, kan nie die werkslading, toenemende verantwoordelikhede en gebrek aan tegnologiese vaardighede hanteer nie. Die uiteinde is dat die beginnerskoolhoofde spanning tussen die verwagtinge, emosies en psigologiese toestand teenoor die organisatoriese skoolmilieu ondervind (Cheung & Walker, 2006:406).

Tog glo Walker en Qian (2006:300) dat ʼn positiewe eienskap van die beginnerskoolhoofde die feit is dat hulle die geleentheid raaksien om ʼn loopbaan in die onderwys te ontwikkel, hulle persoonlike visie te implementeer en om die skool te ontwikkel en te verbeter. Hulle sien hulle rol as die van leier, dienaar, argitek, sosiale argitek, iemand wat moreel ondersteun en verhoudingskepper (Sackney & Walker, 2006:348). Die eienskappe van ʼn beginnerskoolhoof is nie noodwendig eienskappe wat ʼn mens kan definieer nie, maar dit is eienskappe wat in die rol wat hy/sy as skoolhoof vertolk gevind word. Hierdie eienskappe wissel van

31

verantwoordelikhede wat hy/sy veronderstel is om te aanvaar tot onsekerheid oor wat presies van hom/haar verwag word.

Die beginnerskoolhoof is iemand wat nog leer om die skool te bestuur en sy/haar tydperk van beginnerskoolhoof bestaan hoofsaaklik uit drie fases waarin hy/sy waarneem, reflekteer en veranderinge aanbring. Daar word ook van die beginnerskoolhoof verwag om van die begin af die leiding te neem en sy/haar bestuursvaardighede toe te pas. Verder word daar van hom/haar verwag om aan al die areas in die skoolmilieu aandag te skenk ongeag of hy/sy die nodige opleiding, voorbereiding of ondersteuning het. Schumaker en Sommers (2001:40,41) is van mening dat beginnerskoolhoofde met die tyd kundiges word, maar hulle kan nooit op alle gebiede kundiges wees nie. Hulle sal eers werklik professionele groei ervaar wanneer hulle lees, deelneem aan opleiding, neerskryf wat mense doen en met medekollegas praat oor dit wat hulle leer.

Tydens hierdie leerproses van die beginnerskoolhoof word daar verskeie eise aan hom/haar gestel en die gemeenskap, ouers en leerders verwag dat hy/sy aan hierdie eise sal voldoen. In skole buite Suid-Afrika word beginnerskoolhoofde voor groot uitdagings geplaas. Beginnerskoolhoofde word in skole in Afrikalande aangestel wat nie voldoende toegerus is nie en wat oor personeel beskik wat nie behoorlik opgelei is nie. Boonop word beginnerskoolhoofde op grond van hulle vorige onderwyservaring aangestel en nie noodwendig volgens hulle leierseienskappe nie. Daarbenewens word hulle aan demografiese, ekonomiese, hulpbrontekorte, geweld, gesondheidsprobleme en kulturele uitdagings blootgestel. Ongekwalifiseerde beginnerskoolhoofde word in skole in Amerika aangestel wat aan eise en uitdagings blootgestel word. Beginnerskoolhoofde is geneig om nie lank as skoolhoof op te tree nie en dan moet daar weer ʼn nuwe beginnerskoolhoof aangestel word (Bush & Oduro, 2006:359,360; Baker, 2009:6). In Suid-Afrika word die beginnerskoolhoof ook voor heelwat eise en uitdagings geplaas.

2.5.3 Besondere eise wat aan die beginnerskoolhoof gestel word