• No results found

Besondere uitdagings ten opsigte van ouers

HOOFSTUK 1: INLEIDING, PROBLEEMSTELLING EN DOEL MET DIE NAVORSING

2.5 DIE BEGINNERSKOOLHOOF

2.5.4 Besondere uitdagings wat aan die beginnerskoolhoof gestel word

2.5.4.7 Besondere uitdagings ten opsigte van ouers

Ouers dra dikwels tot die probleme en uitdagings waarmee die beginnerskoolhoof te doen kry by aangesien hulle dikwels hoër owerhede aanhits om sekere waardes, kennis en vaardighede te aanvaar of te verwerp (Crow, 2006:319). Min of geen samewerking tussen die beginnerskoolhoof en die ouers kan die skool negatief beïnvloed.

Wolhuter (2005:121-122) sluit hierby aan dat die beginnerskoolhoof dikwels nie voldoende ondersteuning van ouers af kry nie, ten spyte van pogings om hulle te betrek. Hulle woon nie skoolaktiwiteite en oueraande by nie, dra nie tot fondsinsamelingsprojekte by nie, teken nie afwesigheidsbriewe of huiswerk nie en sien nie toe dat hulle kinders betyds by die skool opdaag nie. Verder daag hulle nie vir afsprake rakende hulle kinders op nie. Hierdie probleem word dikwels aan gebrek aan kommunikasie tussen die beginnerskoolhoof en die ouers toegeskryf. ʼn Verdere probleem, volgens Decker en Decker (2003:82) is die verskillende tale en kulture. Ouers vir wie die skool se taal hulle tweede taal is, vind dit moeilik om te kommunikeer. Kommunikasie tussen ouers en personeel word bemoeilik en bring dus teweeg dat ouers nie aan skoolaktiwiteite wil deelneem nie. Lethoko et al. (2001:313) beweer verder dat beginnerskoolhoofde te veel bestuursverpligtinge in ʼn skool het en dus nie genoeg tyd aan kommunikasie met ouers spandeer nie. Gereelde kontak met ouers sal beteken dat daar gebruik gemaak moet word van telefoonoproepe, die beantwoording van e-posse, gereelde vergaderings deur die jaar, ope-uitnodiging en informele ontmoetings, interaksie met ouerorganisasie, die stuur van kennisgewings en nuusbriewe, bywoon van akademiese, atletiek en ander byeenkomste. Die ouergemeenskap verwag van die beginnerskoolhoof om aandag aan hulle behoeftes te gee (Reyes-Gonzales, 2007:2).

Ouers het dikwels ʼn wanpersepsie van personeel en die beginnerskoolhoof moet hierdie persepsie probeer regstel. Volgens Van Wyk en Lemmer (2009:17,18) is ouers van mening dat onderwysers op hulle neersien, onwelkom laat voel en dat ouers net deur die skool geken word as daar fondse benodig word. Burrello et al. (2005:13, 19) is weer van mening dat baie ouers nie na die skool wil kom nie as gevolg van hulle kinders se swak prestasies. Hulle is bang dat hulle in die verleentheid gebring sal word. Aansluitend hierby glo Decker en Decker (2003:79) dat daar drie redes is waarom ouers nie betrokke by die skool wil raak nie, naamlik die onderwyser se houding, die manier waarop administrasie gedoen word en die besluitnemingsproses.

Ouers speel ʼn belangrike rol in die skooldag van hulle kinders. Hulle stuur hulle kinders na ʼn spesifieke skool om te verseker dat hulle kinders eendag ʼn goeie werk sal hê. Daarom is dit vir

51

die beginnerskoolhoof ʼn groot uitdaging om ouers tevrede te hou. Nie alleen word beginnerskoolhoofde in Suid-Afrika voor hierdie uitdaging geplaas nie, maar regoor die wêreld is dit seker een van die grootste uitdagings waarvoor die beginnerskoolhoof te staan kom. Sungtong (2007:137,140,141) beweer dat ouers in Thai hoë verwagtinge van die skooladministrasie en bestuur het. Verder plaas hulle hoë verwagtinge vir die akademiese vordering van hulle kinders. Hulle wil sien dat hulle kinders goed presteer en dat hulle geletterd raak met die vooruitsig dat hulle universiteit toe kan gaan en ʼn werk na skool kan kry. Die beginnerskoolhoof staan voor die uitdaging om aan die ouers dit duidelik te maak en te verduidelik dat hoe die leerprogram daarin uitsien. Verder plaas ouers druk op die beginnerskoolhoof want hulle wil sien dat hy/sy daadwerklik optree wanneer dit kom by effektiewe administrasie en bestuur. Hulle wil effektiewe, meningsvolle en ʼn goeie aanduiding van wat administrasie aanbetref, ervaar. Verder verwag hulle ʼn plan wat in werking gestel is om die skool te ontwikkel (Sungtong, 2007:140).

Robinson en Le Fevre (2011:228,229,249) sluit hierby aan dat studies wat in New Zeeland gedoen is, bewys het dat dit belangrik is dat daar goeie interaksie tussen die beginnerskoolhoof en ouers moet wees omdat dit vertroue wen wanneer daar klagtes rakende onderwysers en leerders is. Wanneer beginnerskoolhoofde op klagtes van die ouers se kant op ʼn positiewe manier reageer, sal dit tot voordeel van die skool wees ten opsigte van verdere klagtes. Verder is dit belangrik dat die beginnerskoolhoof moet onthou dat wanneer ʼn ouer ʼn klagte teen personeel indien die personeel, ouer en leerder se kant gestel moet word en dat dit met integriteit en respek hanteer moet word. Sodoende sal al drie die partye se vertroue in die beginnerskoolhoof se oordeelsvermoë behoue bly. Die beginnerskoolhoofde moet die ouers aktief by die skool betrokke kry. Nie alleen presteer leerders beter wanneer die ouergemeenskap aktief betrokke is nie, daar is ook ʼn beter balans tussen die belange van die onderwyser en die ouers. Verder moet die beginnerskoolhoof onthou dat wanneer daar ʼn klag, konflik of grief vanaf die ouers se kant is, hy/sy die saak op so ʼn wyse moet hanteer dat dit nie verhoudings skaad nie. Beginnerskoolhoofde is geneig om hulle skool en eie reputasie teen skade wat aan die skool gedoen kan word wanneer ouers klagtes het en van die klagtes verder na ʼn hoër gesag as die van die hoofgeneem word, te beskerm.

Peterson (2007:882,883) voel dat beginnerskoolhoofde ouers moet oortuig om meer betrokke by die skool te raak aangesien leerders beter presteer as ouers meer betrokke is. Ouers van leerders met ʼn laer sosio-ekonomiese inkomste is geneig om minder betrokke by die skool te wees. Sommige ouers het ʼn sielkundige weerstand teen skole as gevolg van hulle ongelukkige skooldae, misverstande, negatiewe persepsies en in sommige gevalle, intimidasie. Die beginnerskoolhoof moet ouers die teendeel bewys. Vannapond Suttichujit (2008:35) sluit hierby

52

aan dat beginnerskoolhoof voor die uitdaging te staan kom dat wanneer leerders ʼn leerprobleem het, ouers dit nie kan aanvaar nie en dikwels die skool blameer. Dit gebeur veral wanneer die leerprobleem eers later in die leerder se skoolloopbaan geïdentifiseer word. Die uitdaging is dat die beginnerskoolhoof die rol van emosionele en akademiese berader moet vertolk en die ouers op ʼn sensitiewe manier moet benader.

Ouers speel ʼn belangrike rol in die skool. Hulle dring aan op goeie onderrig, kommunikasie en insae in die skoolbestuur. Wanneer die ouers tevrede met ʼn skool is, sal die gemeenskap tevrede met die skool wees. Die beginnerskoolhoof staan dus voor ʼn groot uitdaging om die ouergemeenskap tevrede te stel en hulle te verseker dat sy/haar skool die beste keuse vir die ouers se kinders is. Hierdie uitdaging wat aan die beginnerskoolhoof gestel word, kan bepaal of hy/sy die ondersteuning van die gemeenskap gaan hê veral met die oog op moontlike hulpbronverskaffing, finansiële bydrae en ondersteuning in die algemeen.