• No results found

2.2 Die rol van kultuur en klimaat in die vestiging en bevordering van ‘n onderrigklimaat

2.2.1 Kultuur

Volgens Gonder (1994) beskryf die term “organisatoriese kultuur” die besluitnemingsprosesse en dag-tot-dag funksionering van ‘n organisasie. ‘n Spesifieke organisatoriese kultuur word oor ‘n lang tydperk ontwikkel. Organisatoriese kultuur word beskryf as die manier waarop dinge in ‘n organisasie gedoen word. Schein (1992) beskryf drie vlakke van kultuur: artefakte, gedeelde waardes en gedeelde basiese veronderstellinge. Artefakte is sigbaar, hoorbaar en tasbare verskynsels onderliggend aan kulturele veronderstellinge soos gedragspatrone, rituele, fisiese omgewing, kleredrag, stories en mites. Gedeelde waardes verwys na norme, etiese kodes en waardes van die organisasie, wat gedragsreëls, strategieë en doelwitte insluit. Basiese veronderstellinge is onsigbaar en sluit die redes in hoekom lede van die groep waarneem, dink en voel soos hulle doen rakende eksterne oorlewing en interne operasionele kwessies, soos ‘n missie, probleemoplossing, verhoudings, tyd en ruimte, en hul verhouding met die omgewing. Volgens Schein (1992) moet die skoolbestuurspan op die derde vlak van kultuur fokus. Dit is basiese

veronderstellinge, want artefakte kan vervang word, waardes kan aangepas word deur ‘n missie en ‘n etiese kode, maar indien die basiese veronderstellinge nie aandag geniet nie, sal die kultuur van die organisasie dieselfde bly of slegs baie min verander. Daar bestaan nie ‘n een ‘regstel’ van die basiese veronderstellings vir alle organisasies nie. Die kwessie wat aandag moet geniet deur die skoolbestuurspan, is nie om die ‘korrekte’ basiese veronderstellinge te kies nie, maar om die basiese veronderstellinge te identifiseer wat die suksesvolste vertoning van die skoolbestuurspan sal verseker.

Volgens Barth (2002) verwys skoolkultuur, wat ‘n historiese nalatenskap van mag oor mense se denke en hul gedrag uitoefen, na die komplekse patroon van norme, houdings, oortuigings, gedrag, waardes, seremonies, tradisies en mites wat diep in elke aspek van die skool gesetel is. Hinde (2004) sien skoolkultuur as ‘n stel verwagtinge en veronderstellinge wat die aktiwiteite van die personeel en leerders direk beïnvloed. Volgens Robbins en Alvy (2009) het elke skool ‘n kultuur wat die produktiwiteit van die skool, professionele ontwikkeling, leierskapspraktyke en tradisies beïnvloed, wat bepaal hoe mense op mekaar reageer en wat hulle as reg of verkeerd beskou.

Elke skool het ‘n bestaande kultuur – wat onderrigleer bevorder of nie – wat sedert die ontstaan van die skool oor die jare ontwikkel het, en gevorm en ingekleur is. Volgens Leithwood et al. (2004) moet ‘n skool se kultuur eers verstaan word voordat verandering geïmplementeer kan word. Die kultuur van die organisasie begin gewoonlik by die stigter (Bush, 2003). Die kultuur word onvoorwaardelik deur die lede van die organisasie aangeneem as die korrekte manier van dink, doen en optree (Bush, 2003) en word voorgeskryf as ‘n manier om orde te handhaaf (Schein, 2010). Die krag van ‘n huidige skoolkultuur of subkultuur sal van verskeie faktore afhang: die krag van die oortuigings van die oorspronklike stigters en daaropvolgende leiers van die skool, die graad van lidmaatskap van personeellede en leierskap oor ‘n periode en die aantal en intensiteit van leerkrisisse wat die skoolbestuurspan oorleef het (Schein, 2003). ‘n Sterk kultuur bestaan uit twee veranderlikes: ‘n hoë vlak van samewerking onder die skoolbestuurspan rakende wát as waardevol geag word en die intensiteit rakende die waardes. Indien die vlak van ooreenkoms rakende wat van waarde is en

die vlak van intensiteit rakende die waardes hoog is, is die kultuur van die skoolbestuurspan sterk.

Volgens Munro (2008) fokus ‘n sterk kultuur op die betekenisvolle en verenigde doelwitte en die vertoning van die skoolbestuurspan verbeter deur energie aan die onderwysers oor te dra. ‘n Sterk kultuur versterk die vertoning van die skoolbestuurspan deur die koördinering van gedrag. Die intensiteit van die waardes en watter waardes belangrik is, berus op die oordrag van inligting en kommunikasie. Hierdie deel van inligting vereis ‘n kultuur van samehorigheid onder die skoolbestuurspanlede. ‘n Kultuur van samehorigheid sluit in, vertroue, die vrymoedigheid om menings te deel en ‘n gewilligheid om spanlede te ondersteun. Die vlak van ondersteuning hou verband met die kultuur van die span (Levi, 2014). Spankultuur beïnvloed die funksie van die span, want dit het ‘n invloed op die toegewydheid teenoor die span, die style van kommunikasie en samehorigheid en die ondersteuning wat spanlede aan mekaar gee (Levi, 2014). Vermelde waardes en norme laat die skoolbestuurspan op die prioriteite van die skool fokus en gee riglyne rakende besluitneming.

Volgens Matos et al. (2009) het skoolkultuur ‘n impak op die algemene skoolomgewing. Die belangrikste funksie van kultuur is om die skoolbestuurspan te help om die omgewing te verstaan en te bepaal hoe om teenoor die omgewing te reageer. Die doel van al die interaktiewe elemente van kultuur is om ‘n skoolomgewing daar te stel wat onderrigleer sal bevorder (Barnes, 2010). Volgens Brown (2004) sal ‘n skoolomgewing met die volgende kenmerke onderrigleer bevorder: Elkeen in die skool is besig met onderrigleer, daar is kwaliteit voorbeelde van werk en prestasies in die skoolgebou sigbaar, produktiewe verhoudings is sigbaar, prestasies van uitstaande leerders word erken en nagevolg, persone in die skool luister na mekaar en wedersydse vertroue is sigbaar.

Volgens Hinde (2004) word die omgewing waarin ‘n negatiewe skoolkultuur uitgeleef word, herken aan onderwysers en leerders wat onwillig is om te verander. Indien die skool se kultuur verander moet word, moet die skoolbestuurspan hul oortuigings rakende onderrigleer bevraagteken en deur ‘n gemeenskaplike veranderingsproses nuwe waardes (die eienskappe van die skool wat deur almal in die skoolsisteem as

belangrik beskou word om die skool se beeld uit te dra) en oortuigings (die beginsels waarop ‘n skool funksioneer, norme en aanvaarbare gedrag) ontwikkel (Fullan, 2001). Volgens Schein (1996) moet die skoolbestuurspan liewer op die effektiwiteit van die skoolbestuurspan fokus. Dit behels die uitdagings wat beleef word in die vestiging en bevordering van ‘n onderrigleerklimaat, met skoolklimaat wat die grondslag van onderrigleerpraktyke lê, die vlakke van akademiese prestasies en die algemene funksionering van die skool om positiewe leeruitkomstes te verseker, eerder as om die kultuur van die skool te verander.