• No results found

Die interaksie van die skoolbestuurspan op makrovlak in die vestiging en bevordering van ‘n

2.2 Die rol van kultuur en klimaat in die vestiging en bevordering van ‘n onderrigklimaat

2.3.3 Die interaksie op alle vlakke in die vestiging en bevordering van ‘n onderrigleerklimaat deur

2.3.3.3 Die interaksie van die skoolbestuurspan op makrovlak in die vestiging en bevordering van ‘n

‘n Noue skakeling behoort tussen die skoolbeheerliggaam en die skoolbestuurspan sigbaar te wees omdat wetgewing bepaal dat beleide wat ‘n bydrae tot die vestiging en bevordering van ‘n onderrigleerklimaat lewer, in samewerking met die beheerliggaam ontwikkel en goedgekeur moet word. Ondersteunende aktiwiteite in die vorm van beleide om die kwaliteit van onderwys te verbeter, moet gedoen word in ‘n gees van vertroue tussen die beheerliggaam en die skoolbestuurspan. Radikale aksies, soos ingryping deur die beheerliggaam om die skoolbestuurspan te nader en verduidelikings te vra hoekom die skool as ‘n onderpresterende skool deur die Hoof van die Provinsiale Onderwysdepartement geïdentifiseer word, kan dalk ‘n manier wees om die skoolbestuurspan verantwoordelik te hou vir die kwaliteit van onderwys wat by die skool plaasvind (Heystek, 2010). Beheerliggame het dus addisionele magte nodig om aksie te neem teen die skoolbestuurspan wat nie die ontwikkelingsplanne uitleef om gehalte onderrigleer te verseker nie.

2.3.3.3 Die interaksie van die skoolbestuurspan op makrovlak in die vestiging en bevordering van ‘n onderrigleerklimaat

Faktore ter ondersteuning in die vestiging en bevordering van ‘n onderrigleerklimaat, fokus op verskillende vlakke op die interaksie tussen die skoolbestuurspan en die komponente van die omgewing.

Faktore ter ondersteuning kan as ‘n uitdaging beleef word, indien dit nie ‘n positiewe bydrae tot die vestiging en bevordering van ‘n volhoubare onderrigleerklimaat lewer nie. Al die vlakke se invloede sal in aanmerking geneem word om die interaksie van die skoolbestuurspan te bepaal in die vestiging en bevordering van ‘n onderrigleerklimaat. Die makrovlak verwys na die interaksie tussen die onderwysers, skoolbestuurspan, beheerliggaam en die Nasionale Onderwysdepartement. Hierdie makrovlak bestaan uit die departementele vlakke wat net bokant die skoolbestuur in die hiërargiese ketting is, naamlik die Distrik en dan die Provinsiale Onderwysdepartement, sowel as die Nasionale Onderwysdepartement. Elkeen van die verskillende rolspelers in die makrovlak speel op verskillende maniere ʼn rol in die interaksie met die meso- en mikrovlakke. ʼn Voorbeeld van die interaksie deur die drie vlakke is byvoorbeeld die beleide vanaf die Nasionale Departement van Basiese Onderwys. Die distrikte verskaf die nodige ondersteuning aan die skole sodat die beheerliggaam en bestuurspan die nodige opleiding aan onderwysers, ter uitbreiding van die kapasiteit van die personeel, kan verskaf. Volgens die Nasionale Onderwysbeleid 1996 (Act no 27 of 1996) is die Provinsiale Onderwysdepartement en die Distrikskantoor se rol en verantwoordelikheid om Provinsiale - en Nasionale beleide na skole te bring en om met die implementering van die beleide op skoolvlak ondersteuning te verleen. Die Distrikskantoor vervul die rol om skole professionele ondersteuning te gee en te verseker dat die kurrikulum aan alle leerders bedien word. Vestiging en bevordering van ‘n volhoubare onderrigleerklimaat dui daarop dat dit blywend is en ondersteuning benodig, soos geïdentifiseer deur die skoolbestuurspan waar nodig. Daar is egter ‘n behoefte vir verandering in die bereiking van die doelwit van die Strategiese Plan in 2019 vir die vestiging en bevordering van ‘n onderrigleerklimaat deur die skoolbestuurspan.

Volgens die Spaull (2013) Centre for Development and Enterprise – verslag, kan die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel weer opgebou word met die identifisering van faktore wat die stelsel in die bereiking van doelwitte terughou, deur beleide saam te stel wat gebaseer is op objektiewe, geverifieerde, wetenskaplike bewyse, beleide te implementeer op ‘n verantwoordbare, gedissiplineerde, gekoördineerde en onderhoubare wyse, en suksesse en terugslae aan te teken om daaruit te leer.

Die vlak van effektiwiteit hang van die interaksie met die omgewing, op ‘n gereelde basis, oor ‘n verlengde tydperk, af. Die vlak van effektiwiteit gaan ondersteunend en bepalend tydens die interaksie met die nasionale Onderwysdepartement op makrovlak wees, met die bewusmaking van onderrigmateriaal wat verkeerdelik, soos benodig, of met tekorte by skole afgelewer word, of nie betyds met die aanvang van die nuwe skooljaar afgelewer is nie.

‘n Uitdaging wat skole in sekere gemeenskappe beleef, is die groot getal leerders per onderwyser en ook die leerdergetal wat op gereelde basis verander met die verhuising van ouers weens verskeie redes. Die gemeenskap gee nie gehoor aan die datum van inskrywing vir die daaropvolgende jaar wanneer leerders by ‘n skool aansluit, soos in graad 1 en in graad 8 nie. Die skoolbestuurspan het gevolglik op die eerste skooldag van die nuwe skooljaar te veel leerders om te akkommodeer. Dit gebeur sonder dat aspekte soos die onderrigleermateriaal, personeelvoorsiening van die Nasionale Onderwysdepartement vir ’n spesifieke jaar, of die ruimte van onderrig waarin onderrigleer plaasvind, aangepas is. Die ruimte moet die veranderde getal leerders per onderwyser en per ruimte waarin onderrigleer moet plaasvind, kan akkommodeer. Die bewusmaking van die toestand van die skoolgeboue en skoolgronde tydens interaksie met die Onderwysdepartement op makrovlak kan effektiwiteit bevorder, indien die Onderwysdepartement die fondse het om ondersteuning aan ‘n spesifieke skool se behoeftes, rakende die omgewing se struktuur as ‘n dimensie van skoolklimaat, te gee. Die konteks van skole, in ag genome die beskadiging van skoolgeboue en skoolgronde en die vele inbrake by skole, het ‘n invloed op die skep van ‘n positiewe leeromgewing, wat weer ‘n invloed op die skoolklimaat ter bevordering van ‘n onderrigleerklimaat het.

Die makrovlak fokus op die interaksie tussen die skoolbestuurspan en die Nasionale - en Provinsiale Onderwysdepartementvlakke. Na 1994 is onderneem om publieke onderrig vir alle leerders te sentraliseer binne ‘n uniforme onderwysstelsel, met die Nasionale Onderwysdepartement wat beleide ontwikkel om geïmplementeer te word in die nege provinsies. Die bemagtiging en ondersteuning van onderwysers word versterk en gelei deur beleide en ondersteuning vanaf die Nasionale Onderwysdepartement, wat direk aan onderwysers en indirek deur die skoolbestuurspan, gelewer word. Beleide, ontwikkel deur die Nasionale

Onderwysdepartement, fokus op die uitbreiding van kapasiteit en die neem van verantwoordelikheid.

2.3.3.3.1 Faktore op makrovlak ter ondersteuning van die vestiging en bevordering van ‘n volhoubare onderrigleerklimaat

In 2011 is drie groot inisiatiewe deur die Departement van Basiese Onderwys bekendgestel om die kwaliteit van die Onderwysstelsel te verbeter: die Nasionale Jaarlikse Assesseringstoetsing, die KABV (CAPS) en die beskikbaarstelling van Nasionale werkboeke vir Tale en Wiskunde aan alle leerders van graad 1 tot graad 9.

Volgens Van der Berg en Shepherd (2010) was daar voor 2011 geen gestandaardiseerde toetsing nie en by vele skole het interne formele assessering nie die ware vermoëns van leerders deurgegee nie. Die neem van verantwoordelikheid word met die inisiatief van die Nasionale Jaarlikse Assesseringstoetsing versterk, wat bydra tot die bewustheid dat die kernfunksie van opvoeding die akademiese prestasie is (Department of Basic Education, 2013). Volgens Van der Berg et al. (2011) is Suid- Afrika op Nasionale vlak nie op dieselfde vlak as kompeterende lande rakende die ontwikkeling van toetsing, diagnostiese instrumente en intervensieprogramme nie. Die reeds genoemde redes en die swak strukture met rolspelers wat nie op ‘n gekoördineerde wyse terugvoering aan die Nasionale Onderwysdepartement gee nie, en soms met ander doelwitte die programme aanpak, het bygedra tot die uitdagings wat in 2016 met die skryf van die Jaarlikse Nasionale Assesseringstoetsing beleef is: In sommige skole is leerders verhoed om die toetsing af te lệ.

Die Minister van Basiese Onderwys het ‘n diensleweringsooreenkoms onderteken om die volgende uitkomstes te onderneem: om die kapasiteit van onderwysers en praktyke te verbeter, om die toegang tot kwaliteit leerondersteunings-materiaal te verhoog, om die skoolbestuur te versterk, die funksionele skole te bevorder en die kapasiteit van distrikte te versterk (Department of Basic Education, 2013). Die diensleweringsooreenkoms ondersteun die versterking van die Nasionale Jaarlikse Assesseringstoetsing, waarna reeds verwys is, sodat die inisiatief die hoeksteen sal word om gehalteonderwys in Suid-Afrikaanse skole te verbeter.

Die effektiwiteit van die implementering van die beleide wat ontwikkel word deur die Nasionale en Provinsiale Onderwysdepartemente, hang af van die ondersteuning deur die Distriksamptenare o.l.v. die kringbestuurder en die direkteur, wat aan die Provinsiale Hoof van Onderwys terugvoering gee. Die medium - en langtermyn vooruitgang van Onderwys in Suid-Afrika hang af van die vennootskap en kapasiteit van die reeds- genoemde rolspelers (Department of Basic Education, 2013). Alhoewel die TIMSS - en SACMEQ - verslae aandui dat daar oor die algemeen ‘n effense verbetering sigbaar is in die gehalte van onderrigleer, is daar nie genoeg data beskikbaar om aan te dui watter beleide die gehalte van onderwys verbeter en watter beleide in ‘n minder mate ‘n invloed op die gehalte van onderwys het nie (Department of Basic Education, 2013).

Alhoewel Suid-Afrikaanse skole aansienlike vryheid beleef in die manier hoe onderrigleer kan geskied, is die neem van verantwoordelikheid, waarna reeds verwys is, en die koördinering daarvan ‘n uitdaging omdat verskillende rolspelers soos die unies, wat onderwysers verteenwoordig, distrikte en die beheerliggaam van verskillende skole, verskillende doelwitte najaag (Department of Basic Education, 2013).

Die Nasionale Onderwys Departement voorsien aan die skool ‘n sekere aantal onderwysers in verhouding met die getal leerders wat die skool bywoon, ‘n kurrikulum wat bedien moet word, ‘n begroting, bronne en ondersteuning aan skole op Distriksvlak en Nasionale vlak. ‘Bronne’ verwys na leerondersteunings-materiaal en ook die onderwysers wat o.l.v. die Nasionale Onderwysdepartement opleiding ontvang.

Die posisie en kwaliteit van ondersteuning verkry vanaf die skoolbestuurspan, verwys na die skoolbestuurspan se houding, vaardighede en kwaliteit en word uitgeleef deur interaksie met die onderwysers en die Nasionale Onderwysdepartement. Die gehalte van onderrigleer word op mikrovlak deur die skoolbestuurspan gemonitor en beskikbaar gemaak aan die beheerliggaam om die uitdagings aan te spreek. Dit word gedoen deur die vestiging van strukture, beleide en ondersteuning aan onderwysers waar die behoeftes lê. Die inligting word op ‘n kwartaallikse basis op Distriksvlak en Provinsiale vlak deurgegee om vordering te monitor en verandering teweeg te bring. Leerderprestasie - data behoort deur distriksamptenare en die Nasionale

Onderwysdepartement gebruik te word om skole volgens hul behoeftes te ondersteun en nie alle skole bloot te stel aan dieselfde intervensie nie. Volgens Van der Berg et al. (2011) kan leerderwerkboeke wat deur die Nasionale Onderwysdepartement voorsien word, terugvoering gee aan die Nasionale Onderwysdepartement rakende die kurrikulum wat gedek is en klaskamerpraktyke as ‘n vorm van monitering. Die kapasiteit op distriksvlak kan versterk word deur duidelike rolbeskrywings en deur die seleksieproses van distriksamptenare te hersien. Distrikte behoort op ‘n gereelde basis op die ontwikkeling van intervensie-instrumente in samewerking met spesialiste, te fokus. Die McKinsey-verslag (2007) dui aan dat die ondersteuning deur die distriksamptenare gefokus moet wees op geïdentifiseerde skole om hul interne praktyke te verbeter, inligting op gereelde basis met skole te deel en die deel van goeie praktyke tussen skole te fasiliteer.

In 2012 het die Departement van Basiese Onderwys ‘n aksieplan met 27 doelwitte bekend gestel (Department of Basic Education. 2010a. Action Plan to 2014. Towards the realisation of Schooling 2025. Goverment Notice, 752, 2010). Dit was ‘n inisiatief om die onderprestasie van leerders op akademiese gebied in skole aan te spreek, te verbeter en te monitor. Die doel van die aksieplan is om hierdie 27 doelwitte aan Suid- Afrikaanse skole as riglyne (wat teen 2030 bereik behoort te word), aan te bied. Die aksieplan gee dus riglyne aan die skoolbestuurspan om verandering in skole teweeg te bring. Die doelwitte van die aksieplan fokus op die ontwikkeling van professionaliteit en onderrigvaardighede, ‘n gesonde werksmag met werksbevrediging wat sigbaar is, leerders wat onderrig in alle onderwerpe ontvang en vaardighede (soos beskryf in die kurrikulum wat voorgeskryf word in Suid-Afrika) wat aangeleer word, die skoolbestuur wat ‘n gesonde bydrae tot ‘n funksionele omgewing lewer, die fisiese infrastruktuur en die omgewing van die skool om leerders te inspireer om skool toe te kom en onderrigleer te kan laat plaasvind.