• No results found

Die doel van hierdie hoofstuk is om gestalte te gee aan my navorsingsvraag: Tot watter mate is die skoolbestuurspan in staat om ‘n volhoubare onderrigleerklimaat te vestig en te bevorder?

Die fokus van hierdie navorsing is die vestiging en bevordering van ‘n volhoubare onderrigleerklimaat. Die konseptuele vraag fokus op die analisering en beskrywing van uitdagings wat deur die skoolbestuurspan in die vestiging en bevordering van ‘n onderrigleerklimaat beleef word.

Die stelselteorie veral Bronfenbrenner verwys na verskillende vlakke, vanaf makro- vlak na mikrovlak veral ten opsigte van invloed en besluitneming. In die geval van die skoolgebaseerde bestuursmodel, word die besluitnemingsvlak na die mikrovlak verskuif wat meer verantwoordelikhede op die departementshoofde en onderwysers plaas. Die stelselteoretiese perspektief verskaf dus die breër raamwerk om te verstaan hoe en hoekom die wetgewing wat verander het en meer bestuur op mikrovlak vereis, verstaan moet word. Die twee teoretiese benaderings verskaf dus die fokus om die werk van die skoolbestuurspanne beter te verstaan om in verskillende kontekste verbeterde onderrigleer te verskaf.

Hoofstuk twee verskaf dus meer detail oor die stelselteorie met Bronfenbrenner as voorbeeld terwyl hoofstuk 3 die skoolgebaseerde bestuursmodel gebruik om te verduidelik hoe die bestuur op die verskillende vlakke binne die stelsel funksioneer. Die rol en verantwoordelikhede wat sigbaar is in die praktyke van die skoolbestuurspan in die uitleef van ‘n skoolgebaseerde bestuursmodel na 1994, is sterk gekoppel aan die omgewing waarin die skool funksioneer en sluit aan by die ekologiese stelselteorie (Bronfenbrenner, 1979) wat aan die karaktertrekke van die skool erkenning gee. Die stelselteorie verskaf ‘n perspektief op die interaktiewe proses tydens die proses van verandering in die vestiging en bevordering van ‘n volhoubare onderrrigleerklimaat. Die stelselteorie voorsien ‘n beter begrip van die skoolklimaat uniek aan elke skool. Die stelselteorie verwys na die uitdagings en ontwikkeling

benodig binne die skoolgebaseerde bestuursmodel onder leiding van die skoolbestuurspan tydens interaksie op verskillende vlakke tussen die omgewing en die komponente van die omgewing. Die fokus is op die verstaan van die uitdagings wat die skoolbestuurspan en personeel tydens interaksie op mikrovlak, die skoolbestuurspan en die beheerliggaam op mesovlak en die skoolbestuurspan en die Onderwysdepartement op makrovlak in die vestiging en bevordering van ‘n onderrigleerklimaat, beleef.

Die verskillende vlakke van besluitneming en betrokkenheid by die skool as vertrekpunt is die skool en spesifiek die onderrigleer - konteks. Vanuit hierdie vertrekpunt is die mikrovlak die interaksie tussen onderwysers en die skoolbestuurspan wat potensieel die meeste invloed op die vestiging en bevordering van ‘n onderrigleerklimaat uitoefen. Die interaksie op mesovlak fokus op die verhouding tussen onderwysers, die skoolbestuurspan en die beheerliggaam, waar onder andere die voorsiening van ‘n missie en visie, waarom alle aktiwiteite draai, en die bemagtiging van onderwysers belangrik is. Die makrovlak verwys na die interaksie tussen die onderwysers, skoolbestuurspan, beheerliggaam en die Onderwysdepartement. Hierdie makrovlak bestaan uit die departementele vlakke wat net bokant die skoolbestuur in die hiërargiese ketting is, naamlik die Distrik en dan die Provinsiale - sowel as die Nasionale Departement. Elkeen van die verskillende rolspelers in die makrovlak speel op verskillende maniere ʼn rol in die interaksie met die meso- en mikrovlakke.

ʼn Voorbeeld van die interaksie tussen die drie vlakke is byvoorbeeld die beleide vanaf die Nasionale Departement van Basiese Onderwys. Die Strategiese Plan van die Departement van Basiese Onderwys het in die vooruitsig van 2030 as voorbeeld, ‘n doelwit aan skole deurgegee dat 60% van die leerders teen 2019 ‘n minimum van 50% vir Tale en Wiskunde moet behaal. Die distrikte moet volgens hierdie plan die nodige ondersteuning aan die skole verskaf sodat die beheerliggaam en bestuurspan van die skool die nodige ontwikkeling aan onderwysers kan voorsien, sodat die doelwit in die klas bereik kan word.

Die hoofstuk word op ‘n tematiese wyse benader en georganiseer en dit verskaf eerstens die konseptuele raamwerk ten opsigte van kultuur, klimaat en die stelselteorie en bespreek dan die verskillende saamvlegtings van die konsepte en

praktyke in detail. Laastens sal daar aandag gegee word aan die moontlike uitdagings wat ondervind kan word in die vestiging en bevordering van ‘n effektiewe onderrigleerklimaat. Hierdeur wil ek blootlê hoe die skoolklimaat die onderrigleerpraktyke, die vlakke van akademiese prestasie en die algemene funksionering van die skool onderlệ.

Die vestiging van ‘n skoolklimaat fokus op die interaksie met die dimensies van die omgewing wat insluit ekologie, milieu, sosiale sisteem en kultuur (die sosiale dimensie wat gemoeid is met die oortuigings, waardes, kognitiewe strukture en betekenis) op mikrovlak, mesovlak en makrovlak, wat belangrik is om die skoolklimaat te skep (Cohen et al, 2009). In die hoofstuk word die interaksie tussen die verskillende rolspelers op die verskillende vlakke van die stelsel bespreek.

MacNiel et al. (2009) se bevinding is dat die skoolklimaat gebruik kan word om aan te dui of ‘n skool effektief op die identifisering van strategiese verandering en die uitvoering daarvan reageer. Dit handel ook oor die unieke uitdagings wat die skoolbestuurspan beleef. Die skoolklimaat word deur die kompleksiteit van die omgewing waarin skole funksioneer, beïnvloed, en daarom dui Landrum et al. (2000) aan dat skole genoodsaak is om weens die kompleksiteit van skoolleierskap in ‘n veranderde en komplekse wệreld ‘n skoolbestuurspan saam te stel, wat in staat is om strategiese verandering te identifiseer en uit te voer om uitdagings aan te spreek. Die belangrike bydrae van die skoolbestuurspan in die vestiging en bevordering van ʼn effektiewe onderrigleerklimaat, word afgelei uit die verantwoordelikhede wat deur die Personnel Administrative Measures (PAM) (Departement of Basic Education 2003) aan die lede van bestuurspanne, naamlik departementshoofde, adjunkhoofde en skoolhoofde opgedra word. Die genoemde personeel is verantwoordelik om deur professionele leierskap en bestuur effektiewe onderrig aan leerders te verbeter, om ondersteuning aan die skoolhoof te bied en om die departemente effektief te lei en te bestuur. Dit sluit die verantwoordelikheid in om strategieë te identifiseer indien leerders onderpresteer en die departemente dus nie optimaal funksioneer nie. Die skoolbestuurspan se rol en funksionering in die vestiging en bevordering van ‘n onderrigleerklimaat sal in detail in Hoofstuk 3 bespreek word.