• No results found

Effektiewe skoolbestuurspan skep professionele leergemeenskap

Onderwys is besig om op ‘n globale skaal te verander, gedryf deur faktore soos die impak van tegnologie en onderwysers, leerders en die onderwyssisteem se verwagtinge.

Bewustheid van lewenslange, professionele leer en ontwikkeling vir onderwysers het dramaties oor die afgelope dekade verhoog om op hierdie verandering te kan reageer en om aan leerders die beste moontlike onderwys te voorsien (Cochran-Smith, 2016). Die potensiaal van ‘n professionele leergemeenskap ter ondersteuning van die verbetering van die kwaliteit van onderrigleer, word toenemend deur navorsers ondersteun (Vangrieken et al, 2015). Volgens Toole en Louis (2002), is professionele leergemeenskappe ‘n groep onderwysers wat hul praktyke met mekaar deel en op ‘n deurlopende, kritiese, gesamentlike, inklusiewe en leer georiënteerde wyse bevraagteken, met die doel om die kapasiteit van die personeel uit te brei. Die skoolbestuurspan behoort die verantwoordelikheid te neem om die kapasiteit van die onderwysers deur die skep en ondersteuning van professionele leergemeenskappe te verbeter.

Professionele leergemeenskappe is ʼn voorbeeld van spanwerk onder leiding van die skoolbestuurspan. Die skoolbestuurspan skep die leergemeenskappe wat soos spanne funksioneer om die doelwitte te bereik, onder andere om die onderrigleerklimaat te verander ter ondersteuning van die verbetering van die gehalte van onderwys. Die doel van ‘n professionele leergemeenskap is om onderwysers se effektiwiteit as professionele persone tot optimale voordeel van die leerders uit te brei. Ontwikkeling deur die skoolbestuurspan om verandering teweeg te bring, in die vestiging en bevordering van ‘n onderrigleerklimaat, deel in die skep van professionele leergemeenskappe die bronne en energie as ‘n oop stelsel op mikrovlak met die onderwysers. Volgens Bolam et al. (2005) het ‘n effektiewe, professionele leergemeenskap die vermoë om die leer van alle professionele persone in die

skoolgemeenskap te bevorder en te onderhou met die gesamentlike doel die om onderrigleer van leerders te bevorder.

Die skep van ‘n professionele leergemeenskap lei daartoe dat onderwysers meer effektief voel, die skoolklimaat meer positief ervaar en die verwagtinge van leerders verhoog, wat ‘n invloed op leerders se motivering, vordering en aanpassing het (Felner et al, 2007). Die ontwikkeling van ‘n oortuiging van gesamentlike effektiwiteit onder die skoolbestuurspan, het die potensiaal om die kwaliteit van onderrigleer te verbeter (Daly & Chrispeels, 2005). Gedrag wat gesamentlike effektiwiteit beïnvloed, sluit in: om vertroue en optimisme uit te spreek oor die span, om realistiese doelwitte te stel wat die geleentheid vir vroeë sukses gee, om die span te help om maniere te vind om hindernisse te oorkom en om vordering en belangrike mylpale te vier (Yukl, 2013). Volgens Ross et al. (2003) dra gedeelde doelwitte, ondersteunende strukture, deelnemende besluitneming en leierskap wat onderwysers bemagtig, by tot die gesamentlike effektiwiteit van die skoolbestuurspan en is dus ondersteunend in die uitleef van ‘n skoolgebaseerde bestuursmodel. Hoë vlakke van effektiwiteit word benodig om ‘n benadering te volg om die kwaliteit van onderwys te verbeter deur ondersoek in te stel rakende rolspelers se praktyke en oortuigings (Bryk & Schneider, 2002) in die uitleef van hul rolle en verantwoordelikhede. Indien vertroue en effektiwiteit in spanverband ontbreek, word die identifisering van ingrypingsplanne rakende die uitdagings wat skole as gevolg van die vinnige veranderde omgewing beleef, as oppervlakkig beleef, met die fokus op eksterne faktore, soos byvoorbeeld families, en bereik nooit die klaskamer nie (Cuban & Usdan, 2003).

Van Bandura (1986) kan afgelei word dat onderwysers se effektiwiteit verhoog word omdat ‘n gedeelde verantwoordelikheid teenoor die leerders met die ondersteuning vanuit ‘n span, ‘n professionele leergemeenskap, uitgeleef word.

Die tradisionele model vir die professionele ontwikkeling van onderwysers fokus op opleiding wat losstaande van die lewens en werk van onderwysers is (Clarke & Hollingsworth, 2002). Die idee dat onderwysers van mekaar in die werksplek kan leer, het geleidelik meer ondersteuning oor die afgelope dekades verkry (McLaughlin & Talbert, 2007). Volgens Sjoer en Meirink (2016) word samewerkende ondersteuning deur onderwysers as wyd verspreid ervaar, as ‘n magtige instrument vir professionele

ontwikkeling, verhoogde leer onder leerders en skoolverbetering in die algemeen. Volgens DuFour (2004) is verskonings soos ‘n gebrek aan tyd en die behoefte aan opleiding ongegrond om samewerkende ondersteuning nie in ‘n professionele leergemeenskap aan onderwysers beskikbaar te maak nie. Skoolklimaat, beskryf as die omgewing van die skool (Tajasom & Ahmad, 2011), word daargestel deur die aksies van die personeellede onder leiding van die skoolbestuurspan, wat dus leergemeenskappe insluit. Die kern van ‘n professionele leergemeenskap lê in ‘n samewerkende werkskultuur gekenmerk deur sistemiese samewerking en ondersteunende interaksie (Stoll et al, 2006) in die skep en bevordering van ‘n volhoubare onderrigleerklimaat. Die doel van ‘n professionele leergemeenskap is om die tekortkominge wat geassosieer word met professionele ontwikkeling in afsondering te oorkom (Webster-Wright, 2009).

Daar is verskeie maniere waarop die professionele leergemeenskappe kan funksioneer. Wahlstrom en Louis (2008) dui aan dat reflektiewe dialoog as interpersoonlike karaktertrek van ‘n professionele leergemeenskap impliseer dat onderwysers in ‘n reflektiewe en diep gesprek gaan rakende onderwyskwessies soos die kurrikulum, onderrigleer en leerderprestasies. Goeie praktyke word met mekaar gedeel binne die konteks van ‘n graad of vak ter ontwikkeling, uitdagings word aangespreek in die bereiking van doelwitte en intervensie ter ondersteuning van onderrigleer in die verbetering van leerderprestasies, word uitgelig. Die behoeftes van leerders en onderwysers word uitgewys waar ontwikkeling en ondersteuning benodig word. Onderwysers se self-effektiwiteit en spanne se gesamentlike effektiwiteit verhoog. In spanverband, as ‘n professionele leergemeenskap, word effektiewe besluitneming rakende onderwyskwessies ter bereiking van doelwitte uitgeleef. Volgens Printy (2008) veronderstel professionele leergemeenskappe dat onderwysers verantwoordelikheid vir die algemene onderrigleerpraktyke en die bereiking van positiewe uitkomstes aanvaar, eerder as om dit oor te laat aan die verantwoordelikheid van slegs die skoolbestuurspan.

Volgens Watson (2014) beklemtoon ‘n professionele leergemeenskap samewerkende, ondersteunende ontwikkeling, gekoppel aan die konteks waarin die praktyke van die skoolbestuurspan uitgeleef word. Die praktyke van die skoolbestuurspan verwys na die interaksie tussen die skoolbestuurspan en die komponente van die omgewing op verskillende vlakke. Die verskillende vlakke

waarna reeds verwys is, het verskillende invloede op die skool, alhoewel dit met dieselfde doelwitte ter verbetering van die kwaliteit van onderwys in die skep en bevordering van ‘n onderrigleerklimaat gebeur.

Volgens Moloi (2002) reflekteer ‘n professionele leerorganisasie op ‘n gereelde basis op die praktyke van die skoolbestuurspan in die uitleef van hul rolle en verantwoordelikheid deur ’n skoolverbeteringsprogram, met die doel om verandering teweeg te bring in die bereiking van positiewe leeruitkomstes. Skoolbestuurspanne se kwartaalprogram behoort gereelde geleenthede in te sluit om geleentheid te gee om op die skoolverbeteringsplan te reflekteer, met strategieë wat geïmplementeer is. Die effektiwiteit word geëvalueer om te bepaal of doelwitte bereik is en die nodige stappe in plek te sit vir die volgende sirkel van aksieleer, met interaksie tussen die skoolbestuurspan en die komponente van die omgewing tot heelskoolontwikkeling. Volgens Stoll et al. (2006) is daar geen twyfel in die literatuur dat leierskap noodsaaklik is vir die suksesvolle ontwikkeling van ‘n professionele leergemeenskap nie. Deelnemende leierskap voorsien ‘n bruikbare lens om sin te maak van leierskap in ‘n spanwerkkonteks (Belbin, 2000). Die deelnemende leierskap wat dus in spanwerk beklemtoon word, moet dus deel van professionele leergemeenskappe se funksionering wees.

Skole wat fokus op deelnemende leierskap as ‘n gesamentlike aksie tot gemeenskaplike doelwitte, fokus op ‘n sirkel van navrae. Skole wat ‘n hoë vlak van navrae bereik het, het sterk professionele leergemeenskappe ontwikkel wat op ‘n voortdurende basis verbetering najaag. Mayrowetz (2008) bevestig dat deelnemende leierskap as ‘n strategie ter uitbreiding van kapasiteit, soortgelyk is aan ‘n professionele leergemeenskap met ‘n sterk verbintenis tot skoolverbetering.

HOOFSTUK 4

Navorsingsbenadering en -metodologie

4.1 Inleiding

Uit die voorafgaande hoofstukke is dit duidelik dat die skoolbestuurspan uitdagings beleef in die vestiging en bevordering van ‘n volhoubare onderrigleerklimaat. Die skoolbestuurspan se belewenis, interpretasie en hul perspektief van die uitdagings is geanaliseer, geïnterpreteer en beskryf. Spanwerk is ‘n belangrike komponent van die skoolbestuurspan se funksionering wat ondersoek word.

Die primêre doel van hierdie studie is om te verstaan tot watter mate die skoolbestuurspan in staat is om ‘n volhoubare onderrigleerklimaat te vestig en te bevorder. Om die navorsingsvraag te kan beantwoord, moes daar ‘n stel riglyne en instruksies gevolg word (Mouton, 1996). Hierdie stel riglyne en instruksies staan as die navorsingsontwerp bekend en word in hierdie hoofstuk bespreek.

Hierdie hoofstuk verskaf ‘n oorsig van die navorsingsmetodologie en die navorsingsontwerp van die studie. Volgens Babbie en Mouton (2001) fokus ‘n navorsingsontwerp op die aard van die eindproduk, terwyl die navorsingsmetodologie op die proses en soort middele en prosedures wat gebruik word, fokus. Vervolgens word daar aan die navorsingsontwerp, die omskrywing van die steekproef, dataversamelingstegnieke, die rol van die navorser, kwaliteitskriteria en etiese oorwegings aandag gegee.

Die skoolbestuurspan se belewenisse, interpretasie en hul perspektief van die uitdagings om 'n onderrigleerklimaat te vestig en te bevorder, sal geanaliseer en beskryf word. Die pligte en verantwoordelikhede van die skoolbestuurspan en die gepaardgaande uitdagings, sal verken word. Die onderwysers se persepsies waarom die skoolbestuurspan uitdagings beleef in die vestiging en bevordering van 'n onderrigleerklimaat teen die agtergrond van die skool konteks, sal interpreteer word. Die skoolbestuurspan se ervaring van spanwerk tydens die gebeure wat die vestiging en bevordering van 'n effektiewe onderrigleerklimaat onderlệ, sal verklaar word. Die

probleem sal aan die hand van die skoolbestuurspan en onderwysers se persoonlike ervarings en opinies ondersoek word.