• No results found

Geloofwaardigheid, oordraagbaarheid, geldigheid, bevestigbaarheid en betroubaarheid in

4.4 Dataprosessering en analise

4.4.2 Geloofwaardigheid, oordraagbaarheid, geldigheid, bevestigbaarheid en betroubaarheid in

Volgens Cohen et al. (2003) word die geldigheid en betroubaarheid rondom kwalitatiewe navorsing dikwels bevraagteken.

Die objektiwiteit, geldigheid en betroubaarheid word dikwels in twyfel getrek, aangesien kwalitatiewe navorsing as oop, buigbaar en sonder streng riglyne gesien word. Dit is moontlik weens die feit dat kwalitatiewe navorsers die

navorsingsprobleem bestudeer soos wat dit deur die deelnemer self beleef word. Die onderhoud op sigself is dus nie net ‘n situasie waarin data versamel word nie, maar ook ‘n sosiale situasie. Die geldigheid van ‘n kwalitatiewe studie kan volgens Cohen et al. (2006) aangespreek word deur die eerlikheid, diepte, omvang, rykdom van die data ingesamel, die keuse van deelnemers en objektiwiteit van die navorser. Daarom het kwalitatiewe navorsers ‘n stel kriteria ontwikkel waaraan ‘n studie moet voldoen, alvorens dit as van goeie gehalte gereken kan word. Vir Punch (2005) verwys interne geldigheid na die interne logika en konsekwentheid van die navorsing. Volgens Denzin en Lincoln (1994) dien die volgende as kriteria: geloofwaardigheid, oordraagbaarheid, betroubaarheid en bevestigbaarheid. Volgens Babbie en Mouton (2001) moet die navorser altyd na objektiwiteit streef alhoewel jy baie meer subjektief betrokke is, want jy beweeg in die leefwêreld van die deelnemer in.

4.4.2.1 Geloofwaardigheid

Geloofwaardigheid word deur Golafshani (2003) as die bepaling van die navorser se sekerheid oor die waarheid van die bevindings, gebaseer op die navorsingsontwerp, inligting en konteks gesien.

Geloofwaardigheid is met ander woorde, ‘n evaluasie of die navorsingsbevindinge ‘n geloofwaardige, konseptuele interpretasie is van die data wat oorspronklik van die deelnemers verkry is. Geloofwaardigheid dui op die mate waarin die navorser en ander belangstellendes in die navorsingsontwerp sowel as die navorsingsresultate glo en vertrou (Toma, 2006). Willig (2001) meen dat die geloofwaardigheid van tekste verseker kan word deur dit herhaaldelik te lees. In hierdie navorsing is daar gepoog om geloofwaardigheid te verkry deur weer te gee hoe die deelnemers die uitdagings wat beleef word om ‘n volhoubare onderrigleerklimaat te vestig en te onderhou, beleef en interpreteer.

4.4.2.2 Oordraagbaarheid

Volgens Babbie en Mouton (2001) word oordraagbaarheid bepaal deur vas te stel of die bevindinge van ‘n studie in ‘n ander konteks of omgewing toegepas kan word. ‘n Deeglike kwalitatiewe beskrywing van die navorsingsproses moet gegee word ten einde oordraagbaarheid moontlik te maak. Om dit moontlik te maak, gaan daar gepoog word om die verloop van die navorsing so volledig moontlik te beskryf.

4.4.2.3 Geldigheid en betroubaarheid

Betroubaarheid is ‘n noodsaaklikheid vir geldigheid. Dit is belangrik om betroubaarheid en geldigheid te integreer om die kwaliteit te verhoog (Trohim, 2006). Geldigheid en betroubaarheid bepaal die geloofwaardigheid van die navorsing. Uit bostaande definisies kan afgelei word dat betroubaarheid op dupliseerbaarheid en geldigheid, op die akkuraatheid en veralgemeenbaarheid van die bevindings, fokus. Betroubaarheid verwys na die mate waarin die studie en die verkreë resultate herhaal kan word (Toma, 2006). Die leser moet kan sien dat die onderhoude geldig en betroubaar saamgestel is en dat die gevolgtrekkings geloofwaardig klink en gebaseer is op data wat uit hierdie onderhoude verkry is. Volgens Krefting (1991) is ‘n kwalitatiewe studie geldig wanneer dit ‘n akkurate beskrywing of interpretasie van menslike ervaring sodanig weergee dat persone wat die ervaring deel, onmiddellik met die beskrywing sal identifiseer. Die geldigheid van resultate lê, volgens Burnett (2009), daarin opgesluit dat die instrumente wat gebruik is vir die ondersoek, gebruikersvriendelik moet wees en weer vir dieselfde doel aangewend kan word. Met kwalitatiewe navorsing word die leser dus breedvoerig genoeg ingelig om te toon dat die gevolgtrekkings sin maak. Die manier waarop aandag gegee word aan aspekte soos konseptualisering, datagenerering, -verwerking en -interpretasie, sowel as die manier waarop hierdie bevindinge aangebied word, oortuig die leser uiteindelik van die geldigheid en betroubaarheid van die navorsing (Merriam, 1998).

Merriam (1998) verwys na die mate waartoe ‘n ondersoek se weergawe van resultate wel dit verteenwoordig waarna dit verwys, as interne geldigheid, wat handel oor die ooreenstemming tussen navorsingsresultate en die werklikheid. Kwalitatiewe navorsers moet ook bewys dat hulle resultate wel op ‘n kritiese ondersoek van al hul data berus en nie net op welverkose ‘voorbeelde’ nie.

Daar is met hierdie ondersoek probeer om geldigheid te verseker deur nie te veel te sny aan die response van die deelnemers nie, sodat die mening van elke deelnemer in geheel duidelik en in konteks van die gesprek kon bly. In hierdie studie het ek gebruik gemaak van semi-gestruktureerde onderhoude met die skoolhoof, adjunkhoof, departementshoof en onderwysers op verskillende posvlakke, wat my studie dus meer geldig en geloofwaardig maak. Ek het ook daarteen gewaak om

‘perfekte’ antwoorde te probeer vind en het eerder met deelnemers bevestig dat hulle wel ‘n respons bedoel het soos ek dit geïnterpreteer het (Merriam, 1998).

Betroubaarheid word deur Silverman (2000) gesien as die mate van konsekwentheid waartoe tot dieselfde gevolgtrekking gekom word, na die bestudering van die resultate van die verskillende deelnemers en verskillende onderhoude. Dit behels ook die konsekwentheid waarmee response tot dieselfde kategorieë by verskillende geleenthede toegeken is.

In kwalitatiewe navorsing kan verskillende interpretasies van dieselfde data gemaak word, maar dit is belangrik dat die leser verstaan hoekom ek die bepaalde prosedures gevolg het, en dat die resultate van die ondersoek wel konsekwent is met die data wat gegenereer is (Merriam, 1998).

Ouditering deur middel van noukeurige dokumentasie van data, metodes, besluite wat geneem is en die finale produk, is ‘n poging om die betroubaarheid van die studie te bevorder (Seale, 2001). Morse et al. (2002) en Cohen et al. (2003) stel sekere strategieë voor om geldigheid en betroubaarheid te verseker en die invloed van die navorser se vooroordele te beperk. Om die genoemde aspekte van geldigheid en betroubaarheid na te kom, is van die volgende strategieë gebruik gemaak:

 Kriteria vir die geskiktheid van data wat toegepas word – dit verwys na die hoeveelheid data wat in die studie ingesamel gaan word.

 ‘n Bandopname en transkripsies van onderhoude sal gebruik word.

 Die studieleier kan die data deur middel van ‘n ouditproeflopie kontroleer om te verseker dat die navorsingsvrae beantwoord is en dat die interpretasie korrek is. In kwalitatiewe navorsing kan betroubaarheid en geldigheid gesien word as dit wat navorsers aangeteken het en dit wat werklik deur deelnemers weergegee word. Daar is dus ‘n graad van akkuraatheid.

4.4.2.4 Bevestigbaarheid

Wanneer die geloofwaardigheid, oordraagbaarheid en betroubaarheid van data hoog is, sal die bevestigbaarheid daarvan ook hoog wees.

Volgens Toma (2006) dui bevestigbaarheid op die mate waarop ‘n buitestaander data en bevindings kan bevestig. Bevestigbaarheid dui ook op die neutraliteit van data (Davis, 2004). Volgens Lincoln en Guba (1985) is bevestigbaarheid ‘n maatstaf van hoe goed die bevindinge van die navorsingstaak deur die data wat versamel is, gesteun word. Dit beteken dat die navorser tydens die navorsingsproses neutraal moet wees. Die persoonlike waarnemings en gevoelens van die navorser moet op die agtergrond wees en die data moenie gebruik word voordat dit geverifieer is nie. Op dié manier kan voorkom word dat data verkeerd geïnterpreteer word.

4.5 Die rol van die onderhoudvoerder

‘n Navorser word deur sy/haar rol toegerus om in samewerking met die deelnemers, data te versamel en dit dan te ontleed met die doel om die verskynsel wat bestudeer word, beter te verstaan. Deel van interpretatiewe navorsing is die rol wat die navorser as die interpreteerder van data speel (Oliver, 2003). Die navorser moet ook ‘n sensitiewe waarnemer wees en die verskynsels so noukeurig as moontlik aanteken (Jansen, 2007).

Ek was in die posisie om voortdurend voordeel te trek uit die leer en ontwikkeling wat deel van so ‘n proses uitmaak. Ek het probeer om ten alle tye sensitief te wees vir hoe my subjektiwiteit en moontlike bevooroordeeldheid die resultate kon beïnvloed, maar om my persoonlike kwaliteite (soos kommunikasievaardighede en empatie vir die onderwyser), persoonlike ervaring in die onderwys en teoretiese sensitiwiteit tot voordeel van die datagenerering te gebruik (Merriam, 1998).

Die navorser voer onderhoude met die geïdentifiseerde deelnemers. In die ondersoek sal die navorser die rol van onderhoudvoerder, transkribeerder en data-ontleder wees. Die deelnemers was ingelig oor watter posisie die navorser beklee teenoor die data wat ingesamel was. Tydens die onderhoude het ek in die hoedanigheid as ‘n navorser van die studie wat ek onderneem, opgetree en die aard van my werk as departementele amptenaar het nie die onderhoudsproses en die insameling van data beïnvloed nie.

Die navorser se posisie het die deelnemers met die analisering en ontleding van die data tot voordeel gestrek omdat die navorser die beroep van die deelnemers beoefen

het en sy hulle tans in haar huidige posisie as departementele amptenaar deur ontwikkeling en oriëntering ondersteun.

Die navorser sal ook te alle tye ingedagte hou dat sy die dataversamelingsinstrument is en daarom verseker dat haar eie oordeel, mening en nuuskierigheid nie haar eie gedrag beïnvloed nie (Nieuwenhuis, 2007).