• No results found

Kennishonger, kennismanie en towery

Ensiklopedie en ensiklopediese romans

3.2 Die uitvinding van die drukpers en die eerste ensiklopedieë

3.2.3 Kennishonger, kennismanie en towery

Rabelais en Burton se ekskresie-metafoor gaan gepaard met die invloedryke wyse waarop kennis in vroegmoderne ensiklopediese romans as kos en drank uitgebeeld is; en eet en drink as metafore van intellektuele nuuskierigheid gebruik is (op soortgelyke wyse as in Memorandum en Agaat). Die enorme honger en dors van Rabelais se twee reuse, Gargantua en Pantagruel, hou verband met die gretigheid waarmee hulle buitengewone groot kennisporsies verslind. ’n Lang lys boeke wat Gargantua as kind gelees het, eindig met die opmerking dat hy tot barstens toe vol kennis was, so styfgestop soos ’n eendlewer: “[…] as full of matter as any goose liver ever crammed!” (Rabelais 1944:47). Ook Pantagruel vul homself met soveel as moontlik kennis. In Parys studeer hy totdat “sy geheue so vol is soos twaalf vate vol olywe” (1944:190). Rabelais verwag nie net van sy karakters om kennis na die beste van hul vermoë in te drink nie. Hy moedig ook sy lesers aan om op energieke wyse sy “smaaklike roman” (“novel savor”, 5) te verorber. Hulle moet die “murg van betekenis” uit die “geurige volumes” (“full-flavoured volumes”) suig soos wat ’n hond met ’n been sou doen:

Modelling yourself upon the dog, you should be wise to scent, to feel and to prize these fine, full-flavored volumes. You should be fleet in your pursuit of them, resolute in your attack. Then, by diligent reading and prolonged meditation, you should break the bone of my symbols to suck out the marrow of my meaning (1944:5).

Burton vergelyk biblioteke vol boeke met borde vol vleis en reken dit sou ’n fout wees om nie daaraan te smul nie:

86

We have thousands of authors of all sorts, many great libraries full well furnished, like so many dishes of meat, served out for several palates; and he is a very block that is affected with none of them (1965:198).

Sy eie studie, skryf hy, behels al jare lank ’n poging om van elke dis te proe en uit elke beker te drink:

I had a great desire […] not to be a slave of one science or dwell altogether in one subject, as most do, but to […] taste of every dish and sip of every cup (1965:5).

Bogenoemde voorbeelde wentel om karakters en lesers wat kennis najaag. Dit is geskryf deur skrywers wat hulle daarop roem dat hulle kennis gretig indrink en verslind. In die proses vestig hulle die ensiklopediese romangenre as honger en selfs vraatsig. Wood (1999:58) noem Melville en Flaubert skrywers wat die roman wou omskep in ’n genre wat alle ander kon verorber en al hul funksies kon oorneem, ’n reusagtige maag waarin alles wat letterkunde ooit was en sou kon wees, verswelg word: “a genre that could consume all others and then perform all their functions at once – a stomach of genres, digesting satire, poetry, epic, the historical novel, realism, and fable”. Dit is na my mening ook waar van vroegmoderne ensiklopediese romansiers en van hul romans.

Die betreklik positiewe en produktiewe assosiasie tussen kennis, kos en drank wat tot dusver bespreek is, moet opgeweeg word teen die voorkoms van beelde van onverteerbaarheid en (oor)versadiging om meer negatiewe reaksies op die vroegmoderne kennisontploffing te verbeeld. As voorbeeld hiervan noem Blair (2010:55) die skrywer en filosoof Erasmus se siening dat die “massa” beskikbare boeke studie belemmer deurdat dit versadiging veroorsaak: “Even, if taken out one at a time, they offered something worth knowing, the very mass of them would be a serious impediment to learning from satiety”. Murphy (2011) wys in Fictions of knowledge daarop dat inligting sedert die Verligting as onverteerbaar beleef is, omdat dit te veel en te disparaat geraak het om in ’n sinvolle geheel saam te voeg; en Yeo (2001:10) noem die voorbeeld van Bacon wat sy onvoltooide Sylva Sylvarum (1626) in die voorwoord beskryf het as ’n “onverteerde hoop besonderhede”: “an Indigested Heap of Particulars”.33

33 Iets van Claude Lévi-Strauss se latere onderskeid tussen inligting as rou en kennis as gekook, klink moontlik

87

Reaksies soos bogenoemde dien as herinnering dat negatiewe reaksies op die oorvloed aan boeke en kennis ’n ewe belangrike invloed op die ensiklopediese roman was as opwinding oor dié kenniswinste. Waarskynlik die beroemdste vroegmoderne uitbeelding van kennis as oorweldigend en onheilspellend is Christopher Marlowe se drama Doktor Faustus (Doctor Faustus), wat tussen 1591 en 1593 geskryf en opgevoer is. In dié drama word Faustus se ondergang bewerkstellig deur sy onvermoë om te aanvaar dat hy nié alle kennis kan verwerf en alle boeke kan lees nie. Rabelais, Cervantes en Burton tematiseer eweneens die probleme van kennisverwerwing in hul leeftyd. In Gargantua en Pantagruel bieg Gargantua teenoor sy seun dat dit moeilik is om tred te hou met nuwe kennis:

I see such improvements that nowadays I should have difficulty in getting a place among little schoolboys, in the lowest class, I who in my youth was reputed, with some justification, to be the most learned man of the century (Rabelais, 1944:204).

Burton betreur die vooruitsig dat ’n onstuitbare stroom boeke tot al meer chaos, verwarring en uitputting sal lei:

As already, we shall have a vast chaos and confusion of books; we are oppressed with them, our eyes ake with reading, our fingers with turning (Burton, 1965:12).

Soos Faust sy siel verloor omdat hy deur die talrykheid van boeke oorweldig word; en Gargantua sy reputasie as die mees geleerde man van sy samelewing omdat hy nie met nuwe kennis kan tred hou nie; verloor Don Quixote weens ’n verslawing aan boeke sy verstand. In die eerste hoofstuk van Cervantes se roman lees ons dat die edelman se verleentheidswekkende verbeeldingsvlugte herlei kan word na sy onversadigbare leeslus (benewens die feit dat hy hom oorgee aan die “verkeerde” soort leesstof):

In short, our gentleman became so caught up in reading that he spent his nights reading from dusk till dawn and his days reading from sunrise to sunset, and so with too little sleep and too much reading his brains dried up, causing him to lose his mind (Cervantes, 2004:21).

Sterne se Tristram Shandy bied waarskynlik die mees negatiewe uitbeelding van die futiliteit van kennishonger en pogings om kennis te beskryf. Tristram se oom, Uncle Toby, ontdek tot sy ontsteltenis dat die dors na kennis nooit volledig geles kan word nie: “[T]he desire of

88

knowledge, like the thirst of rices, increases ever with the acquisition of it” (Sterne, 1996:62). Tristram se vader, Walter, is ’n aspirant-ensiklopedis wat al die kennis waaroor hy beskik, in sy sogenaamde Tristrapaedia probeer opteken, maar nie kan tredhou met die vinnige pas waarteen kennis uitbrei en verander nie. Tristram sluit sy vertelling hieroor soos volg af:

This is the best account I am determined to give of the slow progress my father made in his Tristrapaedia; at which (as I said) he was three years, and something […] [and] by the very delay, the first part of the work, upon which my father had spent

the most of his pains, was rendered entirely useless; — every day a page or two

became of no consequence (Sterne, 1996:264).

Bogenoemde voorbeelde getuig almal daarvan dat ensiklopediese fiksie die bestudering en beskrywing van kennis by geleentheid as uitputtend, futiel of gevaarlik uitgebeeld het. Die ensiklopediese roman problematiseer egter ook van meet af aan sy eie kritiek op die kennisuitbreidings van sy era. Don Quixote staan byvoorbeeld in komplekse verhouding tot die ridderverhale wat dit as satiriese teiken neem. Die roman kan gelees word as ’n ensiklopedie van ridderverhale, aangesien die edelman (en heelwat ander karakters) met groot ywer die verhale oorvertel, parafraseer, opsom en op talle ander maniere byhaal, dikwels met verwysing na die titels van die werklike blitsverkopers uit Cervantes se tyd. Rasula (1999b:144) reken dit wat oënskynlik verwerp en afgesweer word, word terselfdertyd aangegryp en ingesluit in ’n gebaar wat hy beskryf as: “a simultaneous gesture of embrace and renunciation”. Burton se Anatomie verwoord ewe teenstrydige impulse jeens sy era se oorvloed aan lees- en studiemateriaal. Burton reken ’n liefde vir geleerdheid en oormatige studie (“Love of learning, or overmuch study”) is een van die vernaamste oorsake van melancholie (1965:103). Op paradoksale wyse beveel hy egter ook die lees van “uitvoerige verhandelings” (“elaborate treatises”) en “lywige boekdele” (“great tomes”) aan as ’n kuur vir melancholie. Hierdie ambivalensie van die vroegmoderne ensiklopediste vestig die ensiklopediese roman as ’n genre wat ensiklopediese projekte soms satiriseer, maar dit terselfdertyd neem as model vir omvangryke fiksie met swaar feitelike ladings.

As bibliomanie-lyer is Cervantes die voorouer van ’n uitgebreide stamboom karakters wat deur lees en studie betrek word in komplekse onderhandelings met die bedreiging van manie (Johannes Wiid in Memorandum is een van hulle). In die vroegmoderne fiksionaliserings van die problematiek van kennisoorvloed wat hierbo bespreek is, vind ons ook die oorsprong van ’n invloedryke assosiasie tussen diaboliese toorkrag en kennis, boeke, skrywers en lesers. In

89

Marlowe se Doktor Faustus, ’n verhaal waarmee al drie bogenoemde romans in gesprek tree, ontvang Faustus kennis en toorkrag van Mefistofeles. Ook in Don Quixote het boeke diaboliese mag of towerkrag. Don Quixote se huishoudster glo dat “towenaars” skuil in die meer as honderd boeke in sy biblioteek (2004:45).34 Sy sê later vir Don Quixote dat die duiwel al sy boeke weggeneem het (Cervantes, 2004:54). Die verteller van die verhaal reken die duiwel het Don Quixote gehelp om die boeke wat hy gelees het, in soveel besonderhede te onthou: “[O]ne cannot help but think that the the devil made Don Quixote recall stories” (2004:42). Don Quixote sien self ook ’n verband tussen die boek en toorkuns. Wanneer hy hoor dat sy avonture in ’n boek beskryf is, dink hy aan die proses waardeur die boek tot stand gekom het, as toorkuns: “Even so, he imagined that some wise man, either a friend or an enemy, by the arts of enchantment had printed them” (Cervantes, 2004:473).

Die uitbeelding van Treppie as ’n duiwel in Triomf; van Milla en Agaat as towenaars, waarsegsters en hekse in Agaat; en van Johannes Wiid as ’n kok in X en Y se towenaarskombuis in Memorandum, gaan terug op hierdie tradisie: die uitbeelding van kennis as bonatuurlik, boos of – in ’n meer positiewe interpretasie – betowerend. Die Faustus-verhaal en die nosie van die towenaarsleerling is eweneens van sentrale belang in Van Niekerk se verkenning van temas wat, in die skadu van die ensiklopedie, ook deur vroegmoderne romansiers soos Rabelais, Burton en Cervantes aangedurf is.