• No results found

Teoretiese Uiteensetting

2.2. Eksklusiewe kategorie

Mendelson baken “ensiklopediese narratief” af as ’n hoogs eksklusiewe genre. Hy beskou dit trouens as die mees eksklusiewe van alle literêre genres, met slegs sewe tekste wat die paal haal: Dante Alighieri se Divina Commedia, François Rabelais se Gargantua et Pantagruel, Miguel de Cervantes se Don Quixote, Johann von Goethe se Faust, Herman Melville se Moby Dick, James Joyce se Ulysses en Thomas Pynchon se Gravity’s rainbow.

Mendelson se keuse van tekste getuig daarvan dat “ensiklopediese narratief” volgens hom nie beperk is tot ’n sekere genre (byvoorbeeld die romankuns) nie. Anders as Frye, vir wie ensiklopediese vorme volstrek nie oor dieselfde kam geskeer kan word as romans nie (sien bladsy 14), laat Mendelson hom egter nie uit oor die ooreenkomste en/of verskille tussen ensiklopediese vorme en ander genres nie. Die problematiese onderskeid tussen ensiklopediese en epiese fiksie word eweneens nie aangeraak nie.13 Sy keuse verklap dat ensiklopediese narratief vir hom ook nie tot ’n sekere taal of tot ’n sekere tydvak beperk is nie. Nogtans is Mendelson se gebruik van ’n aantal vasgestelde en baie spesifieke kriteria om te bepaal watter tekste as ensiklopediese narratief kwalifiseer en watter nié, asook sy gepaardgaande aandrang dat slegs sewe werke deur die eeue heen aan hierdie vereistes voldoen het, is ’n uiters problematiese aspek van sy bydrae. “Mendelson’s view does not take into account the great number of works that we sense to be encyclopaedic in nature,” protesteer Hilary Clark (1990:v) in The fictional encyclopaedia, ’n baanbrekersteks in die herkonsepsualisering van ensiklopediese fiksie.

13 Sien afdeling 2.7 vir ’n bespreking van die meningsverskil oor die onderskeid tussen epiese en ensiklopediese

fiksie, asook vir meer oor die wyse waarop ensiklopediese romans die grens tussen epiek en roman in gedrang bring.

49

Hoewel Mendelson se benadering redelik algemeen as veels te selektief en beperkend beskou word, bestaan daar uiteenlopende houdings oor hoe produktief die genre ensiklopediese fiksie dan wel sou wees. Sommige ondersoekers wat dit oneens is met die kriteria wat Mendelson stipuleer en/of met sy keuse van ’n klein en geslote korpus tekste as enigste voorbeelde van ensiklopediese narratief, handhaaf nietemin sy siening dat ensiklopediese fiksie ’n hoogs eksklusiewe genre is. Attell (2003:8) beperk dit tot “only a very small handful of texts” en Moretti (1993:4) tot “only a few works”.

Teenoor standpunte dat slegs ’n handvol tekste as ensiklopediese fiksie kwalifiseer, staan meer inklusiewe werkwyses soos dié van Clark (1990:v), wat aanvoer dat ’n groot aantal werke (“a great number of works”) ensiklopedies is. ’n Gewilde benadering onder voorstanders van meer omvattende en soepeler toepassings van die term “ensiklopedies” in literatuurteoretiese ondersoeke, is die verkenning van ensiklopediese fiksie as ’n vrugbare en hibriede genre wat vatbaar is vir lokale variasies.

Teenoor studies wat slegs die ensiklopediese romans van Noord-Amerikaanse skrywers in oorweging neem (LeClair, 1989; Karl, 1985; Weisenburger, 1995), beskou Mark Anderson (2003:60) byvoorbeeld die ensiklopediese roman as soortgelyk aan die sogenaamde “novela totalizadora” (“total novel”), ’n term wat sedert die 1960’s in die Spaans-Amerikaanse letterkunde gebruik word met verwysing na die werk van skrywers soos Alejo Carpentier, Julio Cortázar, Carlos Fuentes, Mario Vargas Llosa en Gabriel García Márquez14. Day en Derks (1999) se opinie dat ensiklopediese fiksie in Maleisiese en Indonesiese literatuur manifesteer en Frank (2010) se beoordeling van die Indiese skrywer Salman Rushdie se Midnight’s children as ’n postkoloniale, ensiklopediese roman is nog enkele voorbeelde van vele besprekings wat die ledetal van die fiksionele ensiklopedie meer divers en talryk voorstel as wat Mendelson (1976b:161) in gedagte gehad het toe hy dit as “this most exclusive of literary categories” bestempel het.

Toepassings wat Mendelson se rigiede afbakening bevraagteken, getuig van die veranderde opvatting dat hierdie studieveld enige tekste behels waarin ensiklopediese elemente prominent of dominant is (hoewel sommige ondersoekers dink dat sulke tekste dun gesaai is

14 Ook Fiddian (1989:33) se definisie van die “totale roman” (“total novel”) oorvleuel met algemene sienings

oor die ensiklopediese roman: “The total novel aspires to represent an inexhaustible reality, and cultivates an encyclopedic range of references towards that end”.

50

en ander dit as ’n meer algemene fenomeen sien). Ondanks graadverskille of wisselende aksente, is daar in die algemeen sprake van ’n reörientasie, wat meegebring het dat die grense van die genre minder duidelik bepaal word en dat die behandelde stof veel omvangryker geword het.

2.3 Eenheidswerke

Die mees polemiese element van Mendelson se raamwerk, selfs meer bestrede as die eksklusiwiteit daarvan, is sy aanname dat ensiklopediese narratiewe die disparaatheid van die talryke aanhalings, feitelike verwysings, dokumentêre data en erudiete inhoud wat in hul informasiedigte strukture ingevoeg word, tot ’n sinvolle en koherente eenheid moet orden en verenig. Mendelson (1976b:162) diskwalifiseer naamlik Laurence Sterne se roman Tristram Shandy as ensiklopediese narratief aangesien dit volgens hom oorrompel word deur die omvangrykheid en ordeloosheid van die materiaal wat dit byhaal: “[I]t collapses under the weight of data too numerous and disparate for its organizing mechanisms to bear”.

Deur te veronderstel dat ensiklopediese narratief die informasie wat dit op obsessiewe wyse versamel in ’n samehangende geheel sou kon saamsnoer, gaan Mendelson selfs verder as Swigger (1975:352), wat die ensiklopediese impuls in fiksie definieer as ’n nostalgiese verlange om totale begrip van die wêreld in sy geheel saam te vat en volledig te verwoord: “a nostalgic desire to comprehend and articulate a unified and total vision of the world”.

Swigger impliseer dat fiksie se nostalgiese verlange na sintese gewortel is in die traumatiese besef dat die kennisoorvloed oorweldigend is, maar Mendelson stel dit as ’n voorvereiste dat ensiklopediese narratief die inligting wat daarin opgeneem word, moet orden en in bedwang moet hou. Swigger skep die indruk van ’n oorambisieuse genre wat anachronistiese strewes koester sonder om dit noodwendig te verwesenlik, maar Mendelson impliseer dat tekste suksesvol moet wees (en suksesvol sou kon wees) in hul strewe na ensiklopediese kennisrepresentering en -ordening.

Mendelson (1976b:161) se aandrang op “unified encyclopedic narratives” beweeg in teen die grein van Bakhtin (1984a) se waardevolle insigte oor die radikale onversoenbaarheid van

51

uiteenlopende diskoerse in polifoniese romans. Bakhtin se formulerings oor die dissonansie, dialogisme en diskontinuïteit van polifoniese romans vind reeds dekades lank weerklank in literêr-teoretiese werk wat ensiklopediese romans onder die soeklig plaas. Mendelson se siening dat die “ordeningsmeganismes” (“organizing mechanisms”) van ensiklopediese narratiewe hul eie veelvoudigheid en uiteenlopendheid as’t ware binne perke moet hou, is egter sedert die publikasie van sy 1976-artikels volledig ondergrawe deur die impak van post- strukturalistiese en postmoderne beskouings oor die politieke en ideologiese implikasies van die verskillende maniere waarop koherensie en eenheid in diskoers bewerkstellig word.

In La Dissémination (in Engels vertaal as Dissemination) analiseer Jacques Derrida (1981:35- 40) die ideaal van die perfekte ensiklopedie, oftewel die verlange na ’n boek waarin alle kennis volledig vervat en georden word. Hy wys daarop dat die ensiklopedie, ondanks die strewe na allesomvattendheid, nooit daarin slaag om alle kennis dig te omsluit nie, want daar is altyd restante, sogenaamde “leftovers or extras”. Selfs wanneer sulke restante in die vorm van addendums tot die oorspronklike ensiklopedie bygevoeg word (Derrida noem die voorbeeld van heruitgawes van ensiklopedieë met bygewerkte inligting, of die druk van addendums wat saam met die oorspronklike uitgawe gelees moet word), transformeer dit die ensiklopedie van ’n voltooide projek wat alle kennis dig omsluit tot iets wat van tekortkomings getuig en wat altyd daarop wag om voltooi of aangevul te word. Die restant of supplement se absolute uiterlikheid, oneweredigheid en heterogeniteit bied boonop weerstand teen soomlose assimilering in die geheel en bly resoluut ’n merker van onversoenbare andersoortigheid (sien ook Descombes, 1978:56).15

Met verwysing na Mendelson se definisie van ensiklopediese narratief as ’n eenheid, waarsku House (2000:34) tereg dat pogings om alle dokumentêre data in ’n ensiklopediese roman te probeer assimileer in die groter geheel, in die aangesig van post-strukturalistiese skeptisisme ’n aanvegbare strategie sou wees. Dit sou naamlik gevaar staan om geïnterpreteer te word as ’n koloniserende inlywing van bedreigende, afwykende tekselemente. Die konstruksie van wat Mendelson “unified encyclopedic narratives” noem, is immers presies waarteen Jean-

15Vir Derrida (1981:35) verteenwoordig die ensiklopediese droom die mens se verlange na “a book of absolute

knowledge that digested, recited, and substantially ordered all books, going through the whole cycle of knowledge”. Dit word ondermyn deur die weiering van “the wholly other, the other incommensurate with the whole” (Derrida, 1981:41) om deur die ensiklopedie omvat te word.

52

Francois Lyotard (1984:82) soos volg in sy beroemde La condition postmoderne (The postmodern condition) protesteer het:

We have paid a high enough price for the nostalgia of the whole and the one, for the reconciliation of the concept and the sensible, of the transparent and the communicable experience. [. . .] The answer is: Let us wage a war on totality; let us be witnesses to the unpresentable; let us activate the differences and save the honor of the name.

Linda Hutcheon (1988 en 1989) en Fredric Jameson (1991) het voortgebou op Lyotard se destabilisering van meesternarratiewe en sy insigte oor hoe “objektiewe” waarhede geproduseer om die illusie van konsensus te skep. Hutcheon (1989:62) stel Mendelson se “unified narratives” by implikasie gelyk aan pogings tot oorheersing wanneer sy “totalization” definieer as die kunsmatige teweegbring van koherensie, kontinuïteit en eenheid, oftewel “the process by which writers of history, fiction, or even theory render their material coherent, continuous, unified”.

In die kielsog van teoretiese bydraes soos dié van Derrida, Lyotard, Hutcheon en Jameson, fiksionaliseer talle ensiklopediese romans van die laat-20ste en vroeg-21ste eeu, byvoorbeeld Richard Powers se The gold bug variations (1991) en William Gaddis se Agapē Agape (2002), die ineenstorting van die ideaal van sintese en die steeds meer akute besef dat totalitiserende strewes gedoem is. Hierdie soort postmoderne ensiklopediese romans word op eksplisiete wyse uitmekaargeskeur deur die kompeterende diskoerse wat dit insluit. Meer nog: sulke romans besin op metafiksionele wyse oor die feit dat hulle, in die taal van Mendelson, onder die gewig van hul eie feitelike lading swig.16 Romans wat hulle op dié wyse aan ’n era van informasie-oorvloed spieël, gee klaarblyklik te kenne dat die teks oneffektiewe verweer bied teen die vinnige pas waarteen inligting bly vermeerder.

16 Athenot (2002:76) gaan op hierdie punt in wanneer hy The gold bug variations bespreek as ’n roman waarvan

die soomloosheid bedrieglik is omdat “frantic efforts to build bridges and make it all cohere” spruit uit die besef van taal en kuns se beperkings in ’n roman, “free of any hopelessly nostalgic notion of totality”. Burn (2007:58- 59) is van mening dat William Gaddis se Agapé Agape ’n uitbeelding is van “the apparent collapse of the encyclopedic ideal under the weight of its own data” en kom tot die slotsom dat die roman ’n merker is van “the point where the mass of data exceeded the synthesizing powers of even his [Gaddis’s] encyclopedic grasp”. Ook House (2000:40-41) bespreek die tendens in 20ste-eeuse romans “to confront us with the complexity of cultural systems without trying to resolve itself into an outopoietic unity”.

53

Om Mendelson se sienings oor eenheid in ensiklopediese fiksie deur die bril van meer kontemporêre literêre teorieë te beskou, bring heelparty teenstrydighede na vore. Vir sommige kritici ontstaan die vraag of die soort ensiklopediese narratief waaraan Mendelson oorweging geskenk het, deur die poststrukturalisme en postmodernisme verdoem is tot “argeologiese kuriositeit” (“archaeological curiosity”), ’n beeld wat Steven Weisenburger (1995:204) in sy beoordeling van ensiklopediese narratief gebruik (sien ook Herman en Van Ewijk, 2009:169).

Pleks van te redeneer dat die poststrukturalisme en postmodernisme die ensiklopediese roman as tipiese inkarnasie van positivistiese magstaktieke ontmasker het, is ’n ander algemene bevinding dat Mendelson se definisie van ensiklopediese fiksie as ’n koherente projek nie ’n getroue weerspieëling van die genre is nie. Só gesien adem die doelbewuste gefragmenteerdheid van ensiklopediese fiksie ’n ander mentaliteit as dié waarvoor Mendelson voorsiening maak. Die wyse waarop postmoderne ensiklopediese romans oopstaan vir destabiliserende, nie-fiksionele tekselemente, sou byvoorbeeld gebruik kon word ter stawing van ’n verweer soos dié van Walter Moser (1981:111), wat fragmentasie in ensiklopediese fiksie karakteriseer as ’n potensieel betekenisvolle weerstandsgebaar indien dit teen die gediskrediteerde strategie van totalisering gekant is (“opposed to the act of totalizing”).

Die gevaar van formulerings wat op sodanige wyse op postmoderne bemoeienisse inspeel, is dat dit die wanindruk kan skep dat die dwarsboming van sinvolle samehang en narratiewe sluiting endemies is aan postmoderne of kontemporêre ensiklopediese fiksie. Eintlik blyk dit dat ook vroeëre voorbeelde van ensiklopediese fiksie op eksplisiete maniere feitelike materiaal insluit sonder om dit in ’n soomlose geheel te assimileer. Die destabiliserende gebruik van lyste, katalogusse en langdradige uitweidings om tekseenheid te ondermyn en om die verhaalgang van Rabelais se Gargantua et Pantagruel te ontwrig, kan as eksemplariese voorbeeld dien.

In sy dissertasie oor Rabelais, wat later in boekvorm verskyn het as Tvorchestvo Fransua Rable (Rabelais and his world), skep Bakhtin (1965) ’n misleidende presedent deur Gargantua et Pantagruel as ’n roman te bestempel, maar dit is raadsaam om te onthou dat hierdie episodiese, onewe teks bestaan uit vyf volumes of boeke van losse samehang wat oor baie jare geskryf en afsonderlik gepubliseer is. Dit is eers eeue na Rabelais se dood onder die

54

huidige titel saamgevoeg. Die verskillende volumes is voorheen op die titelblad as die “werke” of “oeuvre” van Rabelais beskryf (Greene, 1970:8). Dit is om hierdie rede dat Mendelson (1976a:1267) verwys na “Rabelais’ five books of Gargantua and Pantagruel”.

Elkeen van die Rabelais-boeke is ’n karnavaleske, kakofoniese warboel waarin spreekwoorde, idiome, grappe, vloekwoorde en vulgariteite naas gespesialiseerde woordeskat uit die mediese, maritieme en natuurwetenskappe, krygskunde, numismatiek en seevaartkunde versamel en opgestapel word. Die verhaalgang word telkens tot stilstand gedwing deur die invoeging van lang katalogusse en lyste wat volgens Eco (2009:249) getuig van Rabelais se algehele “contempt for the requirements of order”. Ook volgens Frye (1957:235) triomfeer “oproerige chaos” (“riotous chaos”) strykdeur in hierdie werk(e) en lei dit tot die verbrokkeling van narratiewe samehang.

Opsetlike, ingrypende gefragmenteerdheid in ensiklopediese fiksie is met ander woorde nie ingegee of gedikteer deur postmoderne klemplasinge nie, aangesien die wyse waarop ensiklopediese fiksie sintese ondermyn, oor ’n langer tydperk manifesteer en terugstrek tot by die vroegste antesedente. Gargantua et Pantagruel, ironies genoeg deur Mendelson genoem as een van die tekste wat aan al sy gestelde vereistes vir ensiklopediese narratief voldoen, is een van die mees radikale voorbeelde. Dit is onbevredigend dat Rabelais se tekste deur Mendelson kwytgeskeld word van die eise wat hy aan Tristram Shandy stel, aangesien Rabelais se chaotiese literêre ensiklopedie onmoontlik as eenheidswerk bestempel kan word.

’n Moontlike verduideliking vir die skynbare teenstrydigheid vind ons in Steven Weisenburger (1995) se Fables of subversion, ’n interessante, maar aanvegbare analise van die verband tussen satire en ensiklopediese fiksie. Volgens Weisenburger (1995:202) verraai Mendelson se besluit om Tristram Shandy as ensiklopediese narratief te diskwalifiseer, asook Frye se beoordeling van Rabelais, hul gedeelde gebrekkige begrip van die satiriese tekste wat hulle nie ten volle as ensiklopediese fiksie wil erken nie. Volgens sy uitgebreide beredenering is ensiklopediese satire, wat hy bestempel as “the kind of nontotalizing, disruptive fiction that Frye and his followers never fully admitted to the class of encyclopedic texts” (Weisenburger, 1995:205), onversoenbaar met die soort tekste wat Mendelson definieer as pogings om die volle reikwydte van ’n nasionale kultuur se kollektiewe kennis te vergestalt.

55

Opponerende sienings oor die rol van satire in ensiklopediese fiksie, ’n debat wat ook die ontologiese status van feitelike kennis en die funksionaliteit van feitelike materiaal betrek, word vervolgens in meer besonderhede bespreek.