• No results found

Die Encyclopedia Brittanica en die anatomieboeke

Ensiklopediese trekke in Triomf (1994)

4.2 Treppie (Marthinus) Benade: nar, duiwel, filosoof, leermeester en skrywer

4.2.1 Die Encyclopedia Brittanica en die anatomieboeke

Die Encyclopedia Brittanica wat Treppie en Lambert soms bestudeer, het tot aan die einde van die twintigste eeu, toe dit deur die aanlyn-ensiklopedie Wikipedia onttroon is, die septer geswaai as waarskynlik die wêreld se bekendste ensiklopedie. McArthur (1986:107) sonder dit uit as die “home university kit par excellence” en Platt (2009:107) noem dit “a text exemplifying the very idea of the encyclopedia”.

Die assosiasies wat dit by Treppie oproep, bring die ensiklopedie se ontstaansgeskiedenis as produk van die (Skotse) Verligting ter sprake. Die eerste van vyftien uitgawes het naamlik tussen 1768 en 1771 in drie volumes verskyn onder die titel Encyclopaedie Britannica, or a dictionary of Arts and Sciences, compiled upon a New Plan. Luidens die voorwoord van die eerste uitgawe, wat as Engelstalige ekwivalent van Diderot se Encyclopédie geposisioneer is, was dié ensiklopedie daarop gemik om alle bestaande kennis binne bereik te bring van lesers uit verskillende “klasse”: “to bring all extant knowledge within the reach of every class of readers” (aangehaal in Platt, 2009:108).

Bogenoemde aanspraak op allesomvattendheid en die ideaal van vrye toegang tot kennis vir almal is tekenend van kennisambisies wat as tipies van die Verligtingsera beskou word. Dieselfde geld die aanname dat kennis onweerlegbaar kan wees wat geïnsinueer word deurdat die Encyclopedia Brittanica in die voorwoord beskryf word as ’n betroubare gids tot grondige kennis: “a trustworthy guide to sound knowledge”. Verwysings in die voorwoord na die ontdekking van nuwe kennis deur die “beskaafde wêreld” (“civilized world”) dui voorts op die belangrike rol wat ontdekkingsreise en imperiale gebiedsuitbreiding in die intellektuele geskiedenis van Europa en die totstandkoming van ensiklopedieë gespeel het (en wat reeds in hoofstuk drie aangeraak is).

103

Treppie satiriseer bogenoemde ideale en aannames in die toneel wat afskop met sy aandrang dat hy en Lambert die Encyclopedia Brittanica raadpleeg omdat hulle nie van brood alleen kan leef nie. Hy noem dit ook ’n manier om Lambert se horisonne te verbreed:

Dan sê Treppie [. . .] daar’s nie Brittanicas in keffies nie, hy wil nie net aanmekaar prentjies kyk nie, hy wil iets leer ok en dieselfde met Lambert, hy kan mos ok nie van brood alleen wil lewe nie, en of sy wat Mol is dan nie ok wil hê Lambert moet sy horisonne verbreed nie (171).

Die register waarin Treppie hier praat, kontrasteer skerp met die groot belesenheid en gesofistikeerde verwysingsraamwerk waarvan sy woorde getuig. Hy gebruik twee metafore wat sedert die vroegmoderniteit in feitelike ensiklopedieë en ensiklopediese romans opklink: kennis as voedsel of drank waarna die mens honger of dors het, en kennisverwerwing as ’n intellektuele ontdekkingsreis. Hoewel hy teenoor Mol voorgee dat hy dit met hierdie tradisionele kennisbeskouings eens is, is die opmerkings wat hierbo aangehaal is, allermins onskuldig. In die daaropvolgende toneel verwoord hy fel kritiek teen ensiklopediese werkwyses en pretensies aan die hand van al twee die verwysingswerke wat hy en Lambert in die biblioteek bestudeer: die Encyclopedia Brittanica en die naslaanboek “net vir volwassenes” .

Tydens sy bestudering van die anatomieboek word Treppie gekonfronteer met “skaamdele wat van so naby beskryf is lat jy heeltemal jou perspektief op die geheel verloor” (173). Hy vind dus dat die wetenskaplike aanslag van dié boek die werklikheid dekontekstualiseer en fragmenteer. Die geslagsorgane word as “dele” van die “geheel” bestudeer, en boonop word gefokus op “al die dele” van dié dele. Die wyse waarop die porno-tydskrif Scope ’n blik op geslagsdele as onderdeel van ’n groter geheel bied, lyk vir hom verkieslik, want “ten minste is daar dan lywe met gesigte by lat mens kan sien wat gaan vir wat en wie is wie” (173). Treppie merk ook op dat die werklikheid vanuit ’n ongewone hoek benader word waar die geslagsdele die onderwerp van wetenskaplike beskrywing word: “Meantime is al die dele se ins and outs so beskrywe lat jy sweer daai skrywer het vir hulle bekyk van onder af en bo af in ’n spieël deur ’n vergrootglas” (173).

Hierdie waarnemings van Treppie klink baie soos Roland Barthes (1982) s’n in die artikel getiteld “Plate van die ensiklopedie” (“Plates of the Encyclopedia”), wat oor die ensiklopedie

104

in die algemeen en die illustrasies in Diderot se Encyclopedié in besonder handel. Soos Treppie, sien Barthes (1982:234) fragmentasie as ’n kenmerkende strategie van die ensiklopedie en karakteriseer hy wetenskaplike analise en beskrywing as ’n daad van dekonstekstualisering: “[. . .] isolating the elements from their practical context”. Selfs Treppie se vermoede dat die navorser geslagsdele “van onder af en bo af” en “deur ’n vergrootglas” bestudeer het, kan gelees word as ’n herverwoording van Barthes se stelling dat die ensiklopedie ’n geboeidheid met “verkeerde” of “verkeerdom” aansigte en invalshoeke vertoon:

In a general way, the Encyclopedia is fascinated, at reason’s instance, by the wrong side of things: it cross-sections, it amputates, it turns inside out, it tries to get behind Nature” (Barthes, 1982:234).

Nog ’n aspek van die naslaanwerke wat Treppie dwars in die krop steek, is die gebruik van “geleerde name” vir geslagsdele pleks van die platvloerse woorde wat hý daarvoor gebruik. Treppie se irritasie met “grand name vir gewone goed” word op die spits gedryf tydens die daaropvolgende gesprek tussen hom en Lambert. Wetenskaplike benoeming word voorts met wetenskaplike klassifisering in verband gebring wanneer Lambert, na aanleiding van wat hy in die Encyclopedia Brittanica gelees het, vertel dat wolke nie net “geleerde name” het nie, maar ook in klasse onderverdeel word.

Beide kennistradisies ontlok verbitterde reaksies van Treppie. Hy gebruik die klassifisering van wolke om die draak te steek met die onderskeid tussen verskillende klasse mense, naamlik “die lae klasse” (soos die Benades) en “die hoës” (soos akademici en kerkleiers). Ons het reeds gesien dat dié onderskeid deel uitmaak van die ontstaansgeskiedenis van die Encyclopedia Brittanica. Treppie se skeptiese reaksie op Lambert se mededeling dat wolke name het, impliseer dat hy oortuig is nóg benoemings nóg die aard van dit wat benoem word, staan vas: “It’s all in the mind, die ins and outs van dinge, dit hang net af watter name jy dinge gee”.

Met bogenoemde opmerkings bevind Treppie hom steeds op die terrein wat in bogenoemde artikel van Barthes geteoretiseer word. Op soortgelyke wyse as wat Foucault dit later in Die orde van dinge (Les Mots et les choses) sou doen, bespreek Barthes in “Die plate van die ensiklopedie” fragmentasie, ordening en benoeming as strategieë waardeur die ensiklopedie

105

die wêreld probeer begryp en beskryf. Vir my bespreking oor Treppie se houding teenoor die werkwyses van die ensiklopedie is dit relevant dat Barthes die Bybelse gelykenis van Noag se ark gebruik as gelykenis van ’n wêreld waarvan die volledige inhoud opgedeel, gesorteer en benoem is om dit te tem: “separated, [. . .] divided, named, domesticated” (Barthes, 1982:222). Die wyse waarop Treppie die ark in Triomf herverbeel, staan in skrille kontras met die prentjie wat Barthes teken, en getuig van die insig dat die wêreld sigself nie maklik laat kompartementaliseer nie. Kort nadat hy ’n koerantberig gelees het oor ’n bruidegom wat hom aan bestialiteit met ’n hond skuldig maak, dink Treppie soos volg oor die ark:

Want so gaan dit maar in die wêreld. In-uit, aan-af, hier-daar, vuil-skoon, hond-hond. Twee-twee van elke soort in die ark. Een aanmekaar two-stroke activity. En so neuk almal maar aan, living it up, killing time. Van die Israeliete se tyd af al (299).

Met die uitsondering van “hond-hond” bevat Treppie se lys nie voorbeelde van pare van dieselfde soort nie. Die woorde wat hy met koppeltekens saamvoeg, is oënskynlik teenoorgesteldes. Dat die onderskeid tussen opponerende konsepte soos “hemel” en “hel”, “duiwel” en “engel” in Triomf vervaag, skep egter die alternatiewe moontlikheid dat dit hier nie oor die handhawing van verskille gaan nie, maar oor die wyse waarop verskille tot eenselwigheid verslyt.

Treppie se lys voorbeelde word verder gekompliseer deurdat “hond-hond” afwyk van die patroon wat deur die ander voorbeelde ingegee word. Hier het ons oënskynlik wel ’n paar van dieselfde soort, soos in die ark waaroor die Bybelse gelykenis handel, maar in die konteks waarbinne Treppie dit gebruik, is die eenvoud van die kombinasie “hond-hond” bedrieglik. Omdat dit voorafgegaan is deur die verhaal oor die bruidegom en die boerboel, gaan dit moontlik hier nie net oor die paring van hond en hond nie, maar ook van mens en hond.Woodward (2001), Libin (2009) en Jackson (2011) wys almal uit dat die identiteite van honde en mense ook in ander tonele in Triomf oorvleuel en versmelt. Woodward (2001:123) gebruik die term “intersubjektiewe verhoudings” (“intersubjective relationships”), Libin (2009:43) praat van die Benades as “hibriede subjekte” (“hybrid subjects”) en “diere-in- wording” (“becoming-animals”) en Jackson (2011:351) sê dat die oorvleueling van mens en

106

hond in Triomf tegelykertyd menswees tot dierlikheid reduseer én die dierlikheid van honde destabliseer43.

Treppie se lys maak dit onduidelik in watter verhouding die woorde weerskante van die koppeltekens tot mekaar staan. Die kombinasie van die frases “living it up” en “killing time” is ’n voortsetting van Treppie se hebbelikheid om die tref van onderskeide te problematiseer. Hoewel dit klink asof hierdie uitdrukkings met die teenoorgestellde konsepte van “lewe” enersyds en “dood” of “moord” andersyds te make het, is beide ’n strategie wat deur mense bedink word as verweer teen die tirannie van “tyd en niks” (152, Lambert se woorde).

Die betekenislading van die dinge wat Treppie as pare langs mekaar plaas, kan nie maklik uitgepluis word nie. Klassifisering en sortering word belemmer en die name van die dinge wat Treppie opnoem, help ons nie om tot ’n besluit oor hul “ware” aard te kom nie.44 In die

ark wat Treppie visualiseer, is daar boonop plek vir verbasterde diere van die verbeelding, diere soos die “rooikat-ratel-aardvark” wat op geen amptelike spesielys voorkom nie en dus onklassifiseerbaar is: “Rooikat-ratel-aardvark, almal saam in die ark” (309). Die wyse waarop Treppie konvensionele indelings omverwerp en vertroude woordbetekenisse destabiliseer of omkeer wanneer hy aan die ark dink, is kenmerkend van hom. “Alles moet altyd dubbeld onderstebo voor hy tevrede is,” sê Lambert (154).

Die beeld van die geordende ark, wat volgens Barthes (1982) die ensiklopediese ideale versinnebeeld, word in Treppie se gedagtes vervang deur ’n chaotiese “losgemaal” van “goed” wat nie deur benoeming in toom gehou kan word nie:

43 Woodward (2001:123) se analise van die “intersubjektiewe verhoudings” (“intersubjective relationships”)

tussen honde en mense in Triomf is veral gemoeid met etiese en sorgsame verhoudings binne die raamwerk van studies oor diereregte. Libin (2009:43) plaas die klem heelwat anders in sy artikel oor hoe die Benades se uitbeelding as hibriede subjekte (“hybrid subjects”) en “diere-in-wording” (“becoming-animals”) hul tekortkomings beklemtoon: “The Benades are measured against their counter-parts and found wanting.” Ook Jackson (2011:351) lees die versmelting van mense en honde se identiteite as ’n manier om die Benades se agterlikheid te beklemtoon: “What is more, the Benades’ crude interactions with other people share the trait of reducing the Benades themselves to a kind of animality, destabilizing the comparative and essential ‘animality’ of real dogs.”

44 In ’n bespreking oor die ooreenkomste tussen die gebruik van lyste in Rabelais en Joyce, wys Tribout-Joseph

(2008:121) tereg daarop dat literêre lyste chaos kan genereer: “Lists, these ordered words as innocuous as they might seem, can be powerful generators of disorder within a text.”

107

Legio soos die varke van Gadara is die name van goed, en hulle moer by die troppe aanmekaar bo-op mekaar af in daai put. ’n Losgemaal in die dieptes. Nie die asem werd wat hulle mee gesê word nie, never mind die papier waarop hulle geskryf is! (309)

Treppie se minagtende reaksie op die Latynse benoemings in die anatomieboek en die wetenskaplike name vir verskillende soorte wolke in die Encyclopedia Brittanica kan saamgelees word met ander tonele waarin sy kritiese ingesteldheid teenoor die kennistradisies van benoeming en klassifisering belig word. Die politieke verwikkelings in die aanloop tot die 1994-verkiesing bied baie stof vir Treppie se tirades oor die onbetroubaarheid van name of “labels”: die “many-branded Buthelezi” en die NP se aandrang dat hulle naamsverandering na die Nuwe Nasionale Party groot veranderings in die party weerspieël, is enkele van die voorbeelde wat hy gebruik ter stawing van sy siening dat name “lieg” (428, 54, 307). Hy beskou ook die wyse waarop Sophiatown na Triomf herdoop is, as ’n skreiende poging om “die platstotery van kaffergemors” as ’n “skitterende oorwinning” te probeer voordoen (86,131). Triomf se naam blyk “donners ver uit” (106), reken hy.

In nóg ’n toneel waarin die Encyclopedia Brittanica sy verskyning maak, noop Treppie se misnoeë oor die feit dat sy eie naam en dié van sy gesinslede wanbenoemings of “misnomers” is, hom om die naam “Sophia” van “Sophiatown” in die ensiklopedie na te slaan. Dit lei hom na ’n inskrywing oor die “Holy Sophia” (die Hagia Sophia) in Turkye en laat hom opnuut besef dat “elke ding mos ’n naam het wat eintlik ’n ander ding se naam is” (308). Die besef dat name nie dit wat hulle benoem op betroubare wyse beskryf nie, en dat elke naam deel uitmaak van ’n oneindige netwerk assosiasies en verwysings, word soos volg deur Treppie verwoord:

For shitting through an icing tube, waar moet dit eindig? Die hele wêreld is net name en niks is wat dit is nie en alles is wat dit nié is nie, it’s all in the mind! En die mind is ’n bottomless pit (309).

Treppie beleef eerstehands die verraderlikheid van die benoemde wêreld waaroor Barthes (1986:234) waarsku: “The named world is never certain”. Die Benades se “Wilde Weste”, ’n wêreld van “wilde kaffers” (4), “wilde honde” (17) en wilde heuning gemaak uit wilde “stinkafrikaners” (17), staan as ’n wildernis van verskuiwende betekenisse en identiteite

108

teenoor die ensiklopedie, een van die maniere waarop die mens, in Foucault (1970:xv) se woorde, probeer om die wêreld en alles daarin deur sortering en benoeming te tem: “to tame the wild profusion of existing things”. Soos die “doodmak” Lambert wat altyd weer “wild” en “woes” raak (372, 441, 8), word niks in Triomf vir lank in bedwang gebring nie, allermins deur sortering of benoeming. Selfs Mol verstaan dat benoeming nie ’n gesaghebbende definisie of durende verankering van betekenisse waarborg nie: “A rose is a rose is a rose, [. . .] maar [. . .] vandag, is sy seker, sal 'n roos weer iets anders wees” (393).

Treppie dra kennelik heelwat kennis van die tradisie waarbinne die Encyclopedia Brittanica en ander Verligtingsera-ensiklopedieë tot stand gekom het. Die karakterisering van kennis as ’n manier om “nuwe wêrelde” te ontdek, die gewaande gesaghebbendheid van die ensiklopedie, die ensiklopedie se beheptheid met klassifisering en die siening van die ensiklopedie as ’n manier om die “lae klasse” deur opvoeding op te hef, beland alles as teikens in sy visier. Sy reaksie wanneer Lambert nie die wetenskaplike name van die wolke waaroor hy gelees het kan onthou nie, onderstreep hierdie siniese en oneerbiedige houding teenoor die ensiklopedie. Met sy voorstel dat Lambert ’n nuwe wolknaam uitdink, probeer Treppie vir Lambert aanmoedig om kreatief eerder as slaafs om te gaan met die kennis wat in die ensiklopedie vervat is. Lambert word tot vindingrykheid gedwing omdat hy nie die wolk se wetenskaplike naam kan onthou nie, maar vir Treppie is die uitdink van ’n nuwe naam kennelik ’n beter opsie as om verlief te neem met die “grand name” wat deur ander uitgedink is:

Want as die lae klasse nuwe wêrelde kan ontdek en hul hande in onskuld kan was, dan is hy doodtevrede en hy skat dis meer as wat die hoës van hulleself kan sê wat met stralekranse om hulle koppe in kerke en universiteite sit en dink die son skyn uit hulle gatte uit net oor hulle grand name het vir gewone goed (174).

Om kennis op passiewe wyse in ontvangs te neem, is volgens Treppie nié hoe mens “nuwe wêrelde” ontdek terwyl jy in Ontdekkersweg van die biblioteek na Triomf ry nie. Self gebruik hy die Encyclopedia Brittanica by voorkeur as inspirasie vir die menigte wolhaarstories wat hy vir Mol vertel. Hy buit haar liggelowigheid verder uit deur die ensiklopedie te gebruik om die geloofwaardigheid van sy staaltjies te “waarborg”. Anders as Mol, wat “alles wholesale op[vreet]” (107), wil Treppie nie ’n papegaai wees wat “geforce- feed” word nie (109). Dit is juis omdat hy teen ’n onkritiese ingesteldheid waak dat hy die

109

legitimiteit en outoriteit van die ensiklopedie en naslaanboek betwyfel. Mol het dit mis as sy beweer dat Treppie alles wat hy lees uit sy kop leer, of dat hy op sy fotografiese geheue staatmaak (15, 166). Hy mag wel ’n outodidak wees (die woord wat Lambert in gedagte het as hy sy oom ’n “auto-addict” noem, 373), maar vir Treppie is kennis hoogstens ’n middel tot ’n doel. Sy gebruik van kennis as die bron waaruit hy kuns probeer skep, word vervolgens binne die konteks van ensiklopedisme en die ensiklopediese roman bespreek.