• No results found

Agaat: Papegaai/sangvoël, klavier/komponis, spons/klip

Ensiklopediese trekke in Agaat (2004)

5.4 Agaat: Papegaai/sangvoël, klavier/komponis, spons/klip

Die manier waarop Milla die opvoeding van Agaat aanpak, laat van meet af aan min ruimte vir selfstandigheid en vindingrykheid aan die kant van haar leerling. Wanneer Milla vir Jak konfonteer omdat hy volgens haar “op kinders skiet asof hulle bobbejane is”, kap hy terug met die beskuldiging dat Milla “hulle die alfabet leer asof hulle papegaaie is” (142). Hy verwys met ’n ompad na Agaat, vir wie Milla in daardie stadium leer lees en skryf. Uit Milla se dagboekinskrywings is dit duidelik dat Agaat aanvanklik, kort na haar aankoms op Grootmoedersdrift, inderdaad soos ’n papegaai optree. Sy vra jellie deur ’n aangeleerde frase woordeliks te herhaal: “Woord vir woord, agter my aangesê op die inasem, gefluister, oë afgewend” (542). Milla berispe haar: “Jellie is vir selfstandige mense, nie vir papegaaie nie, sê ek” (542). Milla is egter meer besorg oor Agaat se verkeerde asemhaling terwyl sy praat as oor die kind se huiwering om met haar eie formulerings vorendag te kom. “Het maar laat begaan,” skryf sy wanneer Agaat se woorde twee dae later steeds “na napraat” klink (543). Algaande blyk dit dat sy dit moontlik sou verkies het dat Agaat haar bly “napraat”. Sy reageer fel negatief op aanduidings dat Agaat “bekkig” begin raak, onafhanklik begin “rym” en met “woordspeletjies” vorendag kom:

Pont, vont, stront, ek moet net keer, sy raak nou alte bekkig, maar ek het haar self leer rym en daar het ek dit nou! Ek skrop jou tong vir jou af met Sunlightseep, waarsku ek. Regtig nie ’n goeie neiging dié woordspeletjies te pas en te onpas nie. (590)

Agaat se gebruik van die platvloerse woord “stront” is nie die enigste ding wat Milla laat voel sy moet “keer” nie. Soos met Treppie in Triomf, hou Agaat se vermoë om te “rym” die belofte in van kreatiewe skrywerskap. Die woord “stront” sinspeel ook op die assosiasie tussen ekskresie en kreatiwiteit (in samehang met die vermoë om te rym) in Triomf. Op die dag waarop Agaat saam met Milla die Breërivier met die pont oorsteek, toon sy nie net dat sy die drumpel na selfstandige taalbeheersing oorgesteek het nie, maar eksperimenteer sy ook op vrye en speelse wyse met woorde. Dat dit gebeur by die mond van die rivier, en dat Milla oplet “die mond was stormagtig”, hou daarmee verband dat dit hier gaan om ’n ontwaking wat taal en woorde betrek. Agaat vorder hierna tot op die punt waar sy onafhanklik van Milla haar eie stories uitdink. “A. het nou ’n hele dans van hr eie uitgedink n.a.v. die songroet wat sy nog elke oggend doen,” skryf Milla vier jaar later in haar dagboek. Sy skryf die storie van die dans, wat Agaat aan haar “verduidelik” het, in haar dagboek oor en wonder dan “waar sy

198

[Agaat] dit alles vandaan haal” (656). Hierdie insident, tesame met Agaat se “bekkigheid” by die riviermond, dien as aanloop vir nóg ’n simboliese oorgang en geboorte: haar gebruik van “die taal van die vroue” in ’n liriese praatvers met gesofistikeerde beeldgebruik en stilistiese beheer terwyl sy Milla tydens Jakkie se geboorte bemoedig.74

Kort voor die geboorte, terwyl die vroue nog in die motor is, dwing Milla se optrede Agaat voorlopig terug in die posisie van ’n naprater met wankelende selfvertroue. Milla laat haar ’n kinderrympie opsê en Agaat se stem bewe:

My mamma het ’n bokkie, het jy begin opsê, want jy het nie bedoel om só kwaai te klink nie, My mamma het ’n bokkie, sy wil hom laat beslaan. Toe, Agaat, hoe verder? Een twee drie vier vyf ses sewe, het Agaat gesê, haar stem het gebewe, maar sy weet nie hoeveel spykers in sy kloutjies in sal gaan. (187)

Nadat hulle stilgehou het, sing Agaat vir Milla. Sy begin “vals”, maar later is haar stem “vas” (187). Dit lei tot ’n verdere deurbraak, want volgens Milla het Agaat kort hierna “mooigepraat” in “die taal van vroue” (189). Die woorde wat Agaat “gepraat” het, word in die vorm van ’n gedig in die roman opgeneem (189). Daar is egter, soos elders, sprake van ’n vervlegting van Agaat se stem en verbeelding met dié van Milla. Milla onthou egter dat haar stem “in” dié van Agaat was en dat sy haarself kon hoor terwyl Agaat gepraat het (soos trouens ook dié van haar pa):

Agaat het mooigepraat. Saggies, vinnig, dringend, die taal wat jy met die Simmentalers gepraat het wat so moeilik gekalf het. Jy het jou pa gehoor met die diere, toe jy klein was, toe jy langs hom gestaan het in die ou stal op Grootmoedersdrift, die taal van die vroue wat hy beter kon praat as jou ma. (189)

Milla onthou dat sy “geblaas” het terwyl Agaat “gesing” het: “Haar stem het gestyg, jy het geblaas” (188). Dit sluit nie kreatiewe deelneming deur Milla uit nie, want die woord “blaas” word op verskeie maniere in die roman met die skep van kuns en poësie geassosieer. Dit gebeur onder meer deurdat die blaasbalk waarmee Agaat en Milla vure maak en stories uitdink as “blasende boek” uitgebeeld word; asook deur die gebruik van die Deense gedig oor

74 Dié gedig verskyn in die roman lank vóór Milla se inskrywing oor die gebeure by die pont, maar in die

199

blasende asem as kreatiewe krag in die epiloog (545, 718). Die liriese gedig in die taal van die vroue kan met ander woorde nie noodwendig aan Agaat alleen toegedig word nie, maar selfs indien dit gelees word as iets wat as’t ware in ’n koor van stemme opklink, is Agaat se rol dié van aktiewe en kreatiewe mededigter. Haar skeppende aandeel bevestig dat sy reeds as jong kind oor die vermoë beskik om taal kreatief te gebruik, selfs indien dit nie heeltemal selfstandig gebeur nie.

Milla begin ná Jakkie se geboorte bedreig voel deur aanduidings dat Agaat se kunstenaarskap al meer selfstandig raak. Sy loer Agaat af as sy vir Jakkie stories vertel en probeer haarself oortuig dat Agaat bloot oorvertel wat sy by Milla gehoor het. In haar dagboek maak sy ’n lys van stories wat sy vir Agaat vertel het, en wensdink dan: “Ek weet voor my siel dis maar al wat Agaat hom vertel” (307). Sy probeer dit ook inklee as die oorlewering van kennis eerder as blyke van kreatiwiteit: “Wat kan ek sê? My pa het my geleer en ek het A. geleer” (307). Tog erken sy dat sy bewus is van ’n “energie” by Agaat wat haar “bang” maak (307). Sy bieg dat sy moontlik “afguns” ervaar, maar huiwer om te sê waaroor (310). In konteks van die res van die inskrywing is dit duidelik dat dit nie net om die intimiteit tussen Agaat en Jakkie gaan nie, maar ook om Agaat se rol as storievertelster en Milla se onsekerheid oor wát Agaat vir Jakkie vertel:

Daar spring Jakkie uit die vliegtuig af in A. se arms & […] hy hou sy hand agter sy oortjie & sy fluister ’n hele lang storie daarin & sy oë trek oop van verbasing & sy trek haar kop weg & hy skud sy kop van nee & sy knik haar kop van ja & hy wil iets vra & sy lê hr vinger op hr lippe & hy lê sy vinger op syne. (312)

Milla se afguns maak plek vir onverbloemde woede wanneer sy vier jaar later, tydens ’n Witsand-vakansie, hoor hoe Agaat die verhaal van Hansie en Grietjie as bronstof gebruik om haar eie storie te versin terwyl sy ’n draak op ’n kussing borduur: “Vanaand na ete sien ek sy borduur ’n swart & rooi kussing & sy vertel vir Jakkie kamtig sy slaapstories daar wyk sy af van Hansie & Grietjie […]” (332). Dit is betekenisvol dat Agaat afwyk van die konvensionele verhaal. Dit, tesame met die individualiteit wat in haar grieselrige borduurwerk deurskemer, getuig gesamentlik daarvan dat Agaat nie meer skroom om die dinge wat sy van Milla geleer of by Milla gehoor het, deur kreatiewe ingrepe tot iets nuut te omvorm nie. Jak se onsimpatieke reaksie, in skreiend rassistiese taal verwoord, beklemtoon dat Agaat

200

oorgelewerde kennis en verhale as vertrekpunt gebruik vir die bewerkstelliging van onvoorspelbare mutasies:

Ek wys dit vir Jak & hy sê moenie nou by my kom kla nie jy het daardie skepsel allerhande goed ingeprent toe sy klein was ek het jou gesê oppas jy weet nie hoe broei dit eendag uit in ’n hotnoskop nie. (333)

Jak se gebruik van die woord “broei” herinner aan sy woordkeuse toe hy uitgewys het dat Milla verkeerdelik aanvaar sy kan Agaat soos ’n papegaai laat leer en dan haar geleerdheid “hokslaan” (142). Dit vorm ook deel van ’n uitgebreide netwerk verwysings na musiek en voëlgeluide in Van Niekerk se oeuvre. In Agaat skakel dit met Agaat se geleidelike vind van ’n eie stem. Dit dien ook as ’n belangrike intertekstuele skakel met veral Memorandum en is ’n belangrike element van hoe ek Agaat se toekomsmoontlikhede inskat. Dit is daarom nodig om stil te staan by wat die gebruik van voël- en musiekbeelde oor Agaat se kunstenaarskap verklap.

Voordat die jong Agaat begin sing, fluit sy. Milla skryf in haar dagboek hoe Agaat kom spog: “Ek kan fluit soos die voëls weet jy? Kokkewiet & janfiskaal & dikkop alles” (653). Die implikasie is dat Agaat besig is om van ’n papegaai in ’n sangvoël te verander, net soos Frederikus Wiid in Memorandum. Milla is egter traag om Agaat ’n eie, onafhanklike stem te gun. Sy toon eerder ’n geneigdheid om aan Agaat te dink as ’n instrument wat na willekeur deur haar bespeel kan word. Hierdie gedagte word gevestig deur ’n speletjie wat Milla bedink kort ná Agaat se aankoms op Grootmoedersdrift: “Sy is my klein bruin klavier sê ek, ek sal haar vol note speel tot sy klink soos ’n konsert” (546-547). Jare later, op haar sterfbed, dink sy steeds aan Agaat as haar “klavier”: “O, my ou klavier, ek ken haar nie, haar gesig ‘n treurende ruïne” (67).

Wanneer Milla gedwing word om te erken dat Agaat nie net ’n instrument is nie, maar ook ’n eie stem het, probeer sy verseker dat dit ondergeskik aan hare bly. Tydens hul informele musieklesse laat Milla die jong Agaat saam met haar sing, met Agaat as “die tweede stem” (655). Ook wanneer die dominee en predikant op besoek kom en daar in die voorhuis Hallelujah-liedere gesing word, “val [Agaat] in met die tweede stem” (230). By dié geleentheid gebruik Agaat egter “die tweede stem” op opstandige wyse, aangesien sy haar nie