• No results found

Genreversmeltings en die verwerking van kennis

Ensiklopedie en ensiklopediese romans

3.2 Die uitvinding van die drukpers en die eerste ensiklopedieë

3.2.2 Genreversmeltings en die verwerking van kennis

Omdat Lambert in Triomf as reus én monster uitgebeeld word, Agaat as monster en kuborg en Johannes Wiid in Memorandum as dakspuier, griffioen, Janusfiguur en monster-leser, is

81

dit nodig om daarop te wys dat die idee van reusagtigheid sedert die ontstaan van die ensiklopediese roman met dié van monsteragtigheid oorvleuel het. In ’n bespreking oor die ensiklopediese skrywer David Foster Wallace se tematiese belangstelling in monsters, argumenteer LeClair (1996) dat daar in Engels ’n etimologiese verband tussen monsteragtigheid en buitengewone kennisbeheersing is. “Prodigium”, die Latynse woord vir monster, is die etimologiese oorsprong van die Engelse woord “prodigy”, waarmee verwys word na iemand wat oor buitengewone begaafdheid of intellektuele vermoëns beskik. Die historiese assosiasie tussen buitengewone kennisbeheersing en monsteragtigheid vind na my mening neerslag in Burton (1965:27) se paragraaf oor sy skatpligtigheid aan ander skrywers.

Hy beskryf ’n skrywer, denker of geleerde wat oor ensiklopediese kennis beskik as ’n reus én ’n monster, oftewel as “Oseaan, Feniks, Atlas, monster, monster van ’n man, museum van die hele wêreld, die kroon van die menslike natuur, die eggenoot van die natuur” (“Oceanus, Phoenix, Atlas, monstrum, portentum hominis, orbis universi musaeum, ultimus humanae naturae conatus, naturae maritus”).31 Die oorvleueling van reus en monster onderlê ook die

steeds voortslepende ambivalensie waarmee beskrywings van ensiklopediese romans as enorm lank en/of enorm ingewikkeld dikwels afgewissel word met beskrywings van ensiklopediese romans as monsters. Anderson (2003:60) se beskrywing van Carlos Fuentes se Terra Nostra as ’n “uitgestrekte, ensiklopediese monster” (“sprawling, encyclopedic monster”) en Barrenechea (2004:7) se stelling dat ensiklopediese romans “monsteragtige smorgasborde” (“monstrous smorgasbords”) is, tel as enkele uit ’n menigte moontlike voorbeelde.

Frye (1957:313) let op hoe algemeen dit voorkom in reaksies op James Joyce se Ulysses en Finnegans Wake en verklaar: “[D]escribing Joyce’s books as monstrous has become a nervous tic”. Volgens Frye (1957:313) is dit ’n manier om die ensiklopediese fiksie van “wanordelike gedrag” (“disorderly conduct”) te beskuldig. Met Joyce se werk as voorbeeld, kom hy tot die gevolgtrekking dat die beskrywing “monsteragtig” gebruik word vir fiksie wat nie volgens bekende prosabeginsels georganiseer is nie (daardie werke wat hy “ensiklopediese vorme” noem). Frye impliseer dat die ensiklopediese romans van Joyce as “monsteragtig” beskryf word omdat dit nie strook met lesers en kritici se verwagtingshorisonne vir fiksie nie. Mens sou dieselfde kon aanvoer oor Douglas Bush

82

(1962:296) se karakterisering van die fiksionele ensiklopedis Burton as ’n “dakspuier” (“gargoyle”) en die geleerdes Francis Bacon en Thomas Hobbes as kerktorings (“ the two spires of the cathedral of English scientific thought”). Ook relevant is Williams (2011:594- 599) se analise van die maniere waarop Burton feitelike materiaal “vermink” in ’n teks wat deur disparaatheid en fiksionalisering doelbewus ’n “epistemologiese aberrasie” (“epistemological aberration”, 594) en “monsteragtige komposisie” (“monstrous composition”, 599) wil wees. Die Anatomie is volgens hom “not a body of knowledge but […] a monster of knowledge” (Williams, 2001:600).

Mendelson (1976b:165) noem dat die oud-Latynse woord “monstra” na onheilstekens verwys het en argumenteer dan dat ensiklopediese romans monsteragtig is omdat hulle met verandering geassosieer word: “Like the giants whose histories they include, all encyclopedias are monstrous (as they are monstra in the oldest Latin sense – omens of dire change)”. Uit al die reaksies wat ek hierbo aanhaal, wil dit egter voorkom asof die vermeende monsteragtigheid van ensiklopediese romans ook in hul hibriditeit setel (dit is trouens Williams se argument in bogenoemde artikel oor Burton se Anatomie). Die hibriditeit van die ensiklopediese roman is ’n direkte gevolg van die tegniek wat Frye (1957:311) die “kreatiewe hantering van allesomvattende erudisie” (“creative treatment of exhaustive erudition”) noem. Dit is daarom insiggewend dat vroegmoderne ensiklopediese romans op gesofistikeerde wyse hul tussenbestaan in die liminale ruimte tussen feit en fiksie bevoorgrond – en skynbaar hul kreatiewe ingrepe op die dokumentêre materiaal beklemtoon.

Rabelais skryf in die voorwoord tot sy eerste boek dat hy die verhale van Gargantua en Pantagruel grond op ’n reeds-bestaande werk wat in ’n weiveld gevind is. Wat die leser lees, is volgens hom ’n vertaling van ’n verhandeling wat deel uitgemaak het van dié manuskrip. Hy ondergrawe egter hierdie aansprake deur by te voeg dat die bronteks op die bas van ’n iepeboom geskryf was en so verweer dat weinig meer as drie opeenvolgende letters leesbaar was. Rotte en wesels het boonop die begin van die verhandeling opgevreet. Hoewel dit volg dat Rabelais se boeke werke van die verbeelding is, noem hy die skryfproses’n “vertalingsproses”: “As you may see, I translated it” (Rabelais, 1944:8). Daar is ook ander aanduidings dat Rabelais sy fiksie allermins op eenduidige wyse as geleier van feitelike materiaal benader. Soos die bibliograwe van sy tyd, probeer hy tred hou met belangrike publikasies in die gedrukte domein deur die opstel van uitgebreide bibliografieë. Gedetailleerde beskrywings van die opvoeding wat Gargantua as jong kind van sy

83

onderwysers en later as student aan die Sorbonne ontvang het, tesame met lang lyste van alles wat hy onder leiding van sy leermeester Ponokrates gelees het, maak deel uit van die eerste boek van Gargantua en Pantagruel (sien onder meer hoofstukke XIV, XV, XXI, XXII en XXIII). Die titels van talle grammatikaboeke, kommentare, woordeboeke, ekserpteboeke, bloemlesings en ander Latynstalige verwysingswerke uit die werklike lewe vorm deel van hierdie lyste. Actius Donatus se Ars Grammatica en Plinius se Naturalis Historia is twee voorbeelde van werklike titels wat ek in hierdie lyste herken (1944:46-47, 185-194). Soos in die lys titels van boeke op Milla se rak in die roman Agaat, word werklike titels in Gargantua en Pantagruel met humoristiese duimsuigtitels vermeng, waaruit afgelei kan word dat Rabelais se lyste en katalogusse van wisselende erns getuig. Wasserman (1975:136) wys tereg uit dat dit nie dieselfde dokumentêre rol speel as ensiklopediese lyste nie.

Burton handhaaf ’n ewe ambivalente posisie teenoor die feitelike materiaal waarvan die Anatomie volgens hom ’n amalgamasie wil wees. Hoewel hy dit karakteriseer as ’n samevoeging van feitelike kennis uit verskeie bronne, beskryf hy sy werk ook as die resultaat van ’n kreatiewe proses. Om sy werkwyse te verduidelik, gebruik hy dieselfde beeld waaraan Nani Mirabelli se 1503-bloemlesing Baie blomme (Polyanthea) ontleen is (en wat Mirabelli op sý beurt vermoedelik uit Erasmus aangepas het):

As a good housewife out of divers fleeces weaves one piece of cloth, a bee gathers wax and honey out of many flowers and makes a new bundle of all, Floriferis ut apes

in saltibus omnia libant [as bees in field of flowers sip from all], I have laboriously

collected this cento out of diverse writers and that sine injuria” (Burton 1965:12).32

Met hierdie beeld beklemtoon Burton dat hy iets nuuts maak uit die feitelike materiaal wat hy in sy teks opneem en dat dit deur sy ingryping verander in iets anders as wat dit was:

The matter is theirs most part and yet mine; apparet unde sumptum sit [the source is evident], which Seneca approves, aliud tamen quam unde sumptum sit apparet [yet it becomes something different from what it was]. (Burton 1965:12)

32 In sy De Copia (1512) het Erasmus geskryf: “The student, diligent as a little bee, will flit about through all the

gardens of authors and will attack all the little flowerlets from whence he collects some honey which he carries into his own hive; and since there is so much fertility of material in these that they are not all able to be plucked off, he will select the most eccellent and adapt it to the structure of his own work” (aangehaal in Yeo, 2003:66).

84

Burton se beeld van die by wat uit die stuifmeel van baie blomme iets nuut maak, kom in gewysigde vorm in Triomf voor, ook as deel van ’n besinning oor kreatiwiteit (sien hoofstuk vier vir meer hieroor). Een van die ander metafore wat hy vir sy kreatiewe proses gebruik, herinner aan Memorandum se stadsbeplanner-karakter Johannes Wiid en dié se oortuiging dat kreatiwiteit ’n manier is om stede en ander ruimtes meer herbergsaam te maak. Vir Burton is die kreatiewe herbenutting van feitelike materiaal naamlik vergelykbaar met die skep van ’n poëtiese stad van die verbeelding:

I will yet, to satisfy myself, make an Utopia of mine own, a New Atlantis, a poetical commonwealth of mine own, in which I will freely domineer, build cities, make laws, statutes, as I list myself. And why may I not? Pictoribus atque poetic, etc. – you know what liberty poets ever had (1965:52).

In die uittreksels uit Cervantes, Rabelais en Burton hierbo vind ons vroeë weergawes van die ensiklopediese roman se kenmerkende besinning oor die waarde van kreatiwiteit teenoor kennisdokumentering, ’n tema wat van sentrale belang is in al drie Van Niekerk se romans (en veral in Memorandum). Dit is duidelik dat hierdie vroeë fiksionele ensiklopediste oor hul eie werkwyses besin en dit tematiseer. Vir die doeleindes van hierdie studie is dit verder van belang dat hulle ’n gemeenskaplike geboeidheid vertoon met die kennismutasies wat deur fiksionele prosesse teweeggebring word: “[I]t becomes something different from what it was,” skryf Burton (1965:12). Om hierdie kennismutasies te verbeeld, vergelyk Burton en Rabelais beide hul werk met ekskresie, oftewel die verwerkte produk wat hulle gevorm het uit die kennis wat hulle vooraf ingeneem het. Volgens Rabelais (1944:5) is sy boek ontlasting wat deur lesers geëet en gedrink word:

I may add that in composing this masterpiece I have not spent or wasted more leisure than is required for my bodily refection – food and drink to you.

Soos Rabelais, beskryf Burton (1965:12-13) sy Anatomie as dit wat hy uitskei ná ’n proses van inkorporering, vertering en assimilering:

Which nature doth with the aliment of our bodies, incorporate, digest, assimilate; I do

concoquere quod hausi [digest what I have swallowed], dispose of what I take.

Kennis en feite word soos kos en drank ingeneem en die boek word as die verwerkte produk daarvan geproduseer. Burton en Rabelais is dit skynbaar eens met Treppie, wat in Triomf

85

besluit “kak” en “kuns” is een en dieselfde ding. Trouens: In Van Niekerk se oeuvre word variasies van hierdie gedagte aangetref in al die tonele in Triomf waar Treppie op die toilet sit; in die sogenaamde purgasietoneel in Agaat wanneer Milla se hardlywigheid tot ’n einde kom; en in Memorandum, wat handel oor ’n pasiënt wat weens kanker van die dermkanaal nie normaal kan eet of ontlas nie en boonop sukkel om ’n uitlaatklep vir sy opgedamde kreatiwiteit te vind.