• No results found

Teoretiese Uiteensetting

2.6 Alternatiewe terme

Dit blyk dit dat Mendelson se standpunte oor eenheid in ensiklopediese narratief, asook die noue verband wat hy tussen ontluikende nasionalisme en ensiklopediese narratief trek, in kontemporêre literatuurkritiek slegs aangehaal word deur skrywers wat dit duidelik wil maak hoe hul invalshoek van syne verskil. In die proses gebeur dit meermale dat daar nie volgehou word met die terminologie wat hy help vestig het nie en gevolglik duik ensiklopediese fiksie, wat volgens Mendelson (1976b:161)identifiseerbaar is as ’n “single genre”, onder verskeie name en in vele ander monderings in literatuurteoretiese besprekings op.21

65

In sy gesaghebbende studie Modern epic (1996) gee Moretti voorkeur aan die term “moderne epiek” (“modern epic”) bo “ensiklopediese roman”, hoewel hy die begrippe so te sê as uitruilbare sinonieme gebruik. Soos reeds genoem, word studies oor die ensiklopediese fiksie van skrywers soos Julio Cortazar, Carlos Fuentes, Mario Vargas Llosa en Gabriel Garcia Márquez aangepak onder die term “novela totalizadora” of “total novel”, wat volgens Anderson (2003:60-62) ’n sinoniem vir die ensiklopediese roman is. William Gaddis se The recognitions, wat allerweë as ensiklopediese roman beskou word, en Gravity’s rainbow, waarop Mendelson sy beskrywing van ensiklopediese narratief gegrond het, word deur Friedrich Karl (1985) “mega-romans” (“mega-novels”) genoem. Stefano Ercolino (2012) betrek eweneens bekende voorbeelde van ensiklopediese romans, soos Pynchon se Gravity’s rainbow, David Foster Wallace se Infinite jest en Jonathan Franzen se The corrections, in ’n bespreking oor die “maksimalistiese roman” (“maximalist novel”). Tom LeClair (1989) verkies die term “sistemeroman” (“systems novel”) vir sý navorsing oor onder meer Gravity’s rainbow en William Gaddis se JR. Min of meer op dieselfde tydstip as LeClair diagnoseer John Johnston in Information multiplicity: American fiction in the age of media saturation (1989) die opkoms van ’n postmoderne literêre informasienarratief wat hy “the novel of information multiplicity” doop. Laasgenoemde ken hy uit aan ’n eksplisiete tematiese fokus op die multiplisiteit, heterogeniteit en vermeerdering van kennis en data in die sogenaamde informasie-eeu.

Presies hoe die sogenaamde “modern epic”, “Mega-Novel”, “maximalist novel”, “systems novel” en “novel of information multiplicities” van ensiklopediese romans sou verskil of afwyk, word in al bogenoemde gevalle onvoldoende gemotiveer. In ’n voetnoot in sy inleiding tot Modern epic verduidelik Moretti (1996:4) dat hy die woord “epies” bo “ensiklopedies” verkies vanweë eersgenoemde se “narratiewe konnotasies” (“narrative connotations”), maar die ensiklopediese aard van die tekste wat hy bespreek, waaronder ook Ulysses en Faust, beklee ’n sentrale plek in die argumente wat hy uiteensit.

Ercolino (2012:244-245) verduidelik met verwysing na Mendelson dat die maksimalistiese roman (“maximalist novel”) ongetwyfeld ensiklopedies is, maar reken ensiklopedisme is slegs een van vele betreklik onbelangrike (“relatively unimportant”) maniere waarop romans soos Ulysses en Robert Musil se Der mann ohne eigenshaften (The man without qualities) hul onlesbare dors na epiese omvang probeer stil. Ercolino (2012:242) se gebruik van die term “maximalist encyclopedism” vir die werkwyse van “maximalist authors” wat deur Gaddis

66

beïnvloed is, ondergrawe egter sy onderskeid tussen die maksimalistiese en die ensiklopediese roman.

LeClair (1989:6,15,20) se stellings dat sy studie oor die sistemeroman handel oor informasiedigte, dialogiese romans waarin die transformerende invloed van wetenskaplike en tegnologiese revolusies verreken word, verraai dat sy studieterrein in talle opsigte met die ensiklopediese roman oorvleuel. LeClair (1989:31) posisioneer die sistemeroman boonop as deel van die literêre tradisie waartoe Moby Dick, een van die bekendste beliggamings van die ensiklopediese roman, behoort (hy herbenoem dié tradisie “the art of excess”). Wat Johnston (1998) se “novels of information multiplicities” betref, argumenteer House (2000:41) oortuigend dat die werkwyse en generiese kwaliteite wat Johnston beskryf, min verskil van Mendelson se ensiklopediese narratief.

’n Mens kry die indruk dat, met die uitsondering van Moretti, die terme “ensiklopediese narratief” en “ensiklopediese roman” nie deur hierdie kritici met ander terme vervang word omdat nuwe konsepsuele terrein gedek word nie, maar eerder omdat die fokus verskraal word. Karl (1985) en LeClair (1989) beperk hulle tot na-oorlogse Noord-Amerikaanse romans, Johnston (1998) fokus op postmoderne Amerikaanse romans en Ercolino (2012) betrek slegs tekste wat in die tydperk van net meer as drie dekades sedert die publikasie van Gravity’s rainbow (1973) verskyn het.

Sodanige benaderings bied ’n verskraalde en verarmde blik op die wyse waarop ensiklopediese fiksie taal- en kultuurverskille transendeer, die roman in die wydste moontlike konteks bevrug en op volgehoue wyse weerstand bied teen pogings om dit aan die mentaliteit van ’n spesifieke era te koppel, want in weerwil van teoretici soos Karl (1985), LeClair (1989) en Ercolino (2012) se pogings om die genre histories te plaas as ’n na-oorlogse fenomeen, reik die wydvertakte stamboom van die ensiklopediese roman veel verder terug.

Flaubert is waarskynlik die belangrikste stamvader, hoewel hy op sý beurt gevolg het in die voetspore van Francois Rabelais, vir wie hy ’n groot bewondering gehad het as een van daardie skrywers wat, soos Homeros, “ensiklopedieë van hul tyd” was (aangehaal in Burn, 2007:47). Cervantes se Don Quixote (1605), Burton se Anatomy of melancholy (1621), Swift se Gulliver’s travels (1726) en Sterne se Tristram Shandy (1767) was almal belangrike antesedente vir die groot ensiklopediese romans van die 19de eeu: Moby Dick (1851) en

67

Bouvard et Pécuchet (1881), waarvan laasgenoemde volgens Calvino (1988:113) bo sy soortgenote uittroon as “the most encyclopedic novel ever written”.

Selfs ondersoekers wat na vore tree as eksponente van die Mendelson-benadering en wat hulle aan sy terminologie hou, struikel wanneer hulle die temporele wydreikendheid van ensiklopediese fiksie uit die oog verloor. Om soos Natasha Moore (2013:398-421) te beweer dat fiksionele ensiklopedisme by uitstek in die mid-Victoriaanse era tuishoort, om dit binne die Britse literatuur te situeer en om dit te bestempel as “a peculiarly Victorian solution” vir “the fragmentation and miscellaneousness of the modern world” (Moore 2013:421), is verkeerd. Daar was weliswaar ’n vrugbare wisselwerking tussen wetenskap en kultuur in die Britse Victoriaanse roman (circa 1837-1901), maar ondersoeke na ensiklopediese romans fokus meer spesifiek op romans waarvan die verhaalgang so ingrypend deur die eksplisiete en drastiese inlywing van feitelike materiaal ontwrig word dat dit ’n diskursiewe ruimte skep vir filosofiese spekulasie oor die aard van kennis en pogings om kennis te beheers.

In vergelyking met die betreklik versluierde intellektuele inhoud en ingetoë inlywing van feitelike materiaal in ’n Britse Victoriaanse ideëroman (“novel of ideas”) soos George Eliot se Middlemarch, waarin die akkumulasie van kennis en die begrensdheid van kennishorisonne inderdaad aan bod kom, is die oordadige ensiklopediese romans van Herman Melville se Moby Dick (1851) en Flaubert se Bouvard et Pécuchet (1881), asook Jules Verne se Franstalige roman Vingt mille lieues sous les mers (Twenty thousand leagues under the sea, 1870), meer verteenwoordigende en boeiender voorbeelde van dié era se ensiklopediese roman.22 Ook met hierdie voorbeeldmateriaal moet egter katvoet geloop word. Hoewel

Melville en Flaubert se bydraes oënskynlik daarvan getuig dat die 19de eeu ’n vrugbare bakermat was vir fiksie wat met die impak van tegniese en kognitiewe transformasies op epistemologiese raamwerke geworstel het, sou dit problematies wees om die 19de eeu as bloeitydperk van ensiklopediese romans te isoleer of uit te sonder.

Die invloed van die 19de-eeuse ensiklopediste het tot diep in die 20ste eeu stukrag aan die ensiklopediese roman verleen. Ezra Pound (1922:403) se bevinding dat James Joyce se Ulysses (1922) die voorsetting was van “a process begun in Bouvard et Pécuchet”, is gesteun

22 Kaptein Nemo se duikboot is toegerus met ’n ensiklopediese biblioteek en museum, die verteller is ’n

natuurkundige werksaam by ’n museum, die teks vertoon ’n obsessiewe belangstelling in taksonomiese oordaad en bestaan plek-plek uit lang indekse.

68

deur Joyce (in Ellman 1975:271) se beskrywing van Ulysses as “a kind of encyclopedia” en beaam deur Wood (1999:63) se beskrywing van Flaubert as “Joyce’s father”.

Joyce en sy tydgenoot Borges sou op húl beurt ’n groot invloed uitoefen op die modernistiese ensiklopediste Julio Cortázar, Robert Musil, Ezra Pound, John dos Passos en Georges Perec. Ensiklopedisme figureer so algemeen in die werk van modernistiese skrywers dat dit as een van die kenmerkende eienskappe van die modernistiese roman beskou word (Bernstein 1998:5, Calvino 1988:113 en Huyssen 1986:54), maar dit is ’n ewe sterk neiging in die postmodernistiese romans van John Barth, Thomas Pynchon, William Gaddis en Don Delillo. Richard Powers se Plowing the dark (2000), Mark Z. Danielwski se House of leaves (2000), Jonathan Franzen se The corrections (2001), Andrew Crumey se Mr Mee (2002) en John Foster Wallace se The pale king (2011) is voorts vroeë aanduidings dat die ensiklopediese roman ook in die 21ste-eeu gedy en nie noodwendig tipies was van die 20ste eeu nie, soos wat Clark (1990:vii) en Calvino (1992:105) te kenne gee.

Uit bogenoemde oorsig kan mens aflei dat Mendelson (1976a:1270) gelyk gehad het toe hy gewaarsku het dat ’n generiese analise van ensiklopediese narratief minder duidelike resultate oplewer as wat die geval met enige andere genre sou wees. Dit word nie deur taal-, tyd- of geografiese grense ingeperk nie, duik in verskillende gedaantes op, word onder verskillende name bespreek en vertoon ’n inherente onstabiliteit en kwiksilwer-kwaliteit wat beskrywing en duidelike omlyning kompliseer. Sommige van die faktore wat tot die genre se kenmerkende diffuusheid bydra, die probleme waartoe dit lei asook moontlike oplossings word onder die volgende hofie bespreek.

2.7 Terreinafbakening

Omdat ensiklopediese romans die konvensies van ’n groot aantal ander genres opneem en naboots, vertoon dit volgens Mendelson (1976a:1270) ’n rare en eiesoortige vormlike onbestendigheid (“peculiar indeterminacy of form”). Die ensiklopediese roman is ook ’n stilistiese verkleurmannetjie, aangesien dit ’n mêlée van literêre style saambondel in “an encyclopedia of literary styles” (Mendelson 1976a:1271). Dit kan nie aan ’n spesifiek soort plot of struktuur uitgeken word nie, maar slegs deur ’n kombinasie van ’n groot aantal kwaliteite:

69

Encyclopedic narrative identifies itself not by a single plot or structure, but by encompassing a broad set of qualities.

So ’n breed opgesette teorie loop die gevaar dat dit te min reliëf gee aan die tekste wat dit na vore wil bring. Die groot hoeveelheid uiteenlopende, idiosinkratiese vertolkings van wat die term “ensiklopedies” in literatuurstudies sou behels, dra by tot die risiko dat die terme “ensiklopediese fiksie” of “ensiklopediese roman” soveel aan presisie inboet dat dit betekenisloos raak. Moretti (1996) en Clark (1990) is enkele van die stemme wat maan teen ’n te vae, losse benadering in die gebruik van die term “ensiklopedies”. Clark (1990:v) som die dilemma soos volg op:

The term encyclopaedic should not be so broad that it loses prescriptive precision; however, it should not be so narrow, as in Mendelson’s “genre”, that it excludes many eligible works.

Clark (1990:4) se kritiek op Mendelson se poging om ensiklopediese narratief as ’n genre te omlyn, berus gedeeltelik op haar beperkte siening van genres as statiese, reëlgebonde en onveranderlike kategorieë.23 In aansluiting by Derrida (1980:65) se opvatting dat elke teks aan ’n genre of genres deelneem, maar nie ten volle daartoe behoort nie, definieer Devitt (1992:186) genre eerder as ’n dinamiese raamwerk wat aangepas, herinterpreteer en ontwrig word deur die tekste wat daarmee in gesprek tree. Veranderde sienings oor genre as aanpasbare en dinamiese raamwerk bring egter nie groter duidelikheid oor hoe om paal en perk te stel aan wat met ensiklopediese fiksie bedoel word nie. Afbakening van die ensiklopediese roman blyk ’n probleemterrein te wees.

Dit word in die eerste plek geproblematiseer deur meningsverskil oor die onderskeid (of ooreenkoms) tussen ensiklopediese en epiese fiksie. In weerwil van 20ste-eeuse teoretici soos Ian Watt (1957), Georg Lukács (1977) en Mikhail Bakhtin (1984b) se posisionering van epiese letterkunde as teenhanger van die roman, bring ensiklopediese romans die grens tussen epiek en roman in gedrang. Vir Bakhtin (1984b:14,15,35) is epiek die monologiese (“monologic”), gestolde (“congealed”) en geslote uitdrukking van ’n verenigde uitkyk op die wêreld (“unified world view”). Hy sien die “dialogiese” (“dialogic”) roman as die verkieslike teenpool daarvan. Ook vir Lukács (1990:56) word klassieke epiek in die moderne wêreld

70

vervang deur die roman, wat hy sien as die dominante vorm van ’n era wat ondanks komplikasies nog nie die ideaal van allesomvattendheid laat vaar het nie:

The novel is the epic of an age in which the extensive totality of life is no longer directly given, in which the immanence of meaning in life has become a problem, yet which still thinks in terms of totality.

Dat die strewe na ensiklopediese omvattendheid ’n wesenskenmerk van epiese werke is, soos Dentith (2006:106, 110) en Moretti (1996:37-38) aantoon, en dat ensiklopediese fiksie op soortgelyke wyse gesien word as ’n strewe na epiese omvattendheid (Ercolino 2013:245), bring mee dat epiek en ensiklopediese roman nie op volhoubare wyse as afsonderlike genres beskou kan word nie24. Daarom gebruik Moretti in sy Modern epic die terme “moderne epos”

(“modern epic”) en “ensiklopediese roman” as uitruilbare sinonieme en noem Calvino (1992:115) Flaubert se Bouvard et Pécuchet ’n “ensiklopediese epos” (“encyclopedic epic”). Clark (1990:vii en 11) reken egter epiese fiksie is slegs een van baie vorme wat deur die ensiklopediese fiksie nageboots word en dat dit moontlik en wenslik is om onderskeid te tref:

The fictional encyclopaedia may have epic traits; nonetheless, it has special concerns, arising from its base in the encyclopaedia, which are not concerns of the epic.

Attell (2003:13) skaar hom by Clark en argumenteer die ensiklopediese genre “contains the epic as a subset”, maar vir Attell beweeg ensiklopediese fiksie op die terrein wat voorheen beset is deur groot epiese en godsdienstige tekste (sien ook Moore, 2013: 409-415). Afbakening van die ensiklopediese roman word nog ingrypender geproblematiseer deur kritici wat reken dat álle fiksie ensiklopedies is. Vincent Descombes (1978:54) beweer dat die konsep “ensiklopediese fiksie” toutologies is aangesien alle boeke daarna streef om ensiklopedies te wees:

Any book aspires to be encyclopaedic, i.e., to go around its subject so as to be equal to that subject (to say everything, all that must be said).

24 Moretti (1993:37-38) argumenteer dat epiese fiksie sedert Homerus ensiklopedies was aangesien dit opgetree

het as die kollektiewe bewaarplek vir ’n ganse samelewing se kennis en kultuur, asook dat ensiklopediese ambisies voortleef in moderne epiese werke (“modern epics”), selfs waar dit met parodie, satire of ironie gepaard gaan (Moretti, 1993:37-38). Dentith, in navolging van Hegel, beklemtoon “the category of totality as the distinguishing formal feature of epic as a genre” (Dentith, 2006:106). Sien ook Moore (2013: 409-41) vir ’n bespreking oor hoe die onderskeid tussen die roman en epiese poësie vervaag het.

71

Dieselfde gedagte vind ons by Georg Lukacs (1990:56), wat alle romans sien as pogings om die werklikheid volledig weer te gee, en by Bakhtin, oor wie Herman en Van Ewijk (2009:171) opmerk: “For Bakhtin, every novel exhibits a certain degree of encyclopedism that it cannot quite structure into a unified whole”. Hauser (1963:237) gooi die net heelwat wyer deur te beweer dat nie net literatuur nie, maar moderne kuns in die algemeen met ensiklopediese volledigheid behep is.

Dit bring ons terug by die vraag wat dit is wat daartoe lei dat sekere romans as ensiklopedies beleef word. Nuttige werk wat in hierdie verband gedoen word, is literêr-teoretiese ondersoeke wat fokus op die algemene filosofiese kontoere van die estetiese en filosofiese projek wat ensiklopediese fiksie tot uitvoer bring. Attell (2003), Barrenechea (2004) en Moretti (1996) se benaderings getuig byvoorbeeld van die uitgangspunt dat ’n formalistiese benadering tot die kenmerke van ensiklopediese fiksie hulle minder interesseer as die filosofiese onderbou daarvan25. Heelparty kontemporêre besprekings gee ook groter aandag aan die nie-fiksionele ensiklopedie as konsepsuele model, artistieke bron en tematiese leitmotief vir ensiklopediese fiksie (Burn 2007, Gutierrez-Jones 2011, Clark 1990). Gutierrez-Jones (2011:19) identifiseer dit tereg as ’n leemte in Mendelson se oorspronklike benadering dat laasgenoemde in gebreke bly om die ensiklopediese narratief voldoende te kontekstualiseer met verwysing na die implikasies wat die nie-fiksionele ensiklopedie vir die vorm en die inhoud van die moderne roman het.

Hierdie studie gaan daarmee akkoord dat die verwantskap tussen ensiklopediese fiksie en die nie-fiksionele ensiklopedie (asook kennispraktyke verwant aan laasgenoemde, soos die museum, woordeboek en argief) ’n sinvolle oriënteringsraamwerk bied om groter houvas te kry op ’n genre gemoeid met die sosiale, kulturele en politieke aspekte van kennis. Klem op die nie-fiksionele ensiklopedie as die skering en inslag (en soms satiriese teiken) van ensiklopediese romans, maak dit moontlik om die term “ensiklopedies” te gebruik as ’n beskrywende term met ruim, maar nogtans presiese betekenisse. Die ensiklopediese roman en

25 Volgens Attell (2003:5) kies James Joyce, William Gaddis en Thomas Pynchon om in die ensiklopediese

modus te skryf omdat hulle gedeelde estetiese en filosofiese belange het: “[T]hey all three sense that this is the literary form in which they can carry out a particular aesthetic and philosophical project they more or less share”. Barrenechea (2004) fokus op soortgelyke wyse op die estetiese en politieke redes waarom Carlos Fuentes, Herman Melville en Thomas Pynchon ensiklopediese fiksie betrek.

72

die nie-fiksionele ensiklopedie word vervolgens in groter besonderhede bespreek as verskillende, maar verwante vorme van ensiklopediese diskoers.

73

HOOFSTUK 3