• No results found

DIE IDENTITEIT VAN DIE GEMEENTE

HOOFSTUK 4: PRINSIPIëLE BESINNING OOR DIE GEMEENTE

4.2 DIE IDENTITEIT VAN DIE GEMEENTE

Die vraag na die identiteit van die gemeente lui: Aan wie behoort die

gemeente? Dit is ‘n vraag na die wese of die oorsprong van die gemeente. Die antwoord moet in die gemeente se verhouding met God gesoek word. Heyns (1977:67-85) wys in dié verband daarop dat die kerk, en die gemeente, in die volgende verhouding tot God Drie-enig staan:

• In verhouding tot die Vader. Alles wat bestaan, bestaan het, en nog sal bestaan – dus ook die kerk – het hulle diepste, voortydelik oorsprong in die ewige Raad van God. “Die gemeente is gewil, verkies, geroep en versamel deur God die Vader.” (Heyns 1977:69).

• In verhouding tot die Seun. Jesus gee aan die kerk sy oorsprong. Tot die kerk behoort jy nie deur afstamming of prestasie nie, maar deur bekering. Jesus gee aan die kerk sy belydenis, sy Hoof en ook sy boodskap.

• In verhouding tot die Heilige Gees. Die arbeid van die Heilige Gees is die “subjektiewe” grondslag en bestaanvoorwaarde vir die kerk.. Hy verbind die mens met Jesus, met die koninkryk van God, met die ander mense, met die wêreld (die missio ecclesiae word opgeroep deur en opgeneem in die missio Dei, ‘n missionêre gemeenskap) en met die toekoms (‘n

eskatologiese gemeenskap).

Dit beteken dat die oorsprong van die gemeente alleen in die gemeente se verhouding met die drie-enige God gevind kan word. “Die kerk kan sonder die Gees, die Seun en die Vader nie bestaan nie en nog minder verstaan word. Dit is die eerste en ook wortelverhouding waarin die kerk staan.” (Heyns 1977:85). Daar kom ‘n verbond tussen God Drie-enig en sy gemeente tot stand. Die verhouding tussen God en gemeente is ‘n verbondsverhouding.

Die vraag na die identiteit van ‘n gemeente is ook ‘n wesensvraag, met ander woorde ‘n ontologiese vraag. Die gereformeerde tradisie beantwoord die

vraag deur ‘n onderskeid tussen die kenmerke en eienskappe van die kerk of die gemeente te maak. Elke gemeente beskik daarom oor ‘n konfessionele identiteit. Vir die meeste gemeentes is hulle konfessionele agtergrond deel van hulle identiteit (Burger 1999:70).

Dit is nodig om na die kenmerke en eienskappe van die kerk te kyk. Beide die kenmerke en eienskappe is ook op die gemeente van toepassing. Die

kenmerke van die kerk is voorwaardes vir kerkwees. Die Reformasie het daarop gewys dat die kerk uitwendig aan die eienskappe kan beantwoord – formeel altans – en tog nie die ware kerk is nie. Die empiriese kerk is nie vanselfsprekend die ware kerk nie en daarom het die reformatore ‘n kritiese maatstaf ingevoer wat as die notae eccleciae bekendstaan. By Rome het die eienskappe die korrigerende funksie van die notae vervul, bv wie nie met die kerk van Rome een was nie, was nie deel van die ware kerk nie. Die

empiriese Rooms-Katolieke kerk is dus as die ware kerk beskou (Heyns 1977:109-110). Die kenmerke van die kerk word gebruik om tussen die ware en die valse kerk te onderskei (Jonker 1994:75).

Die Reformasie dui as notae ecclesiae die suiwere en by name die amptelike bediening van die Woord, die sakramente en die tug aan (NGB Art. 29). • Die Woord: Die Woord is die siel van die kerk en alle diens in die kerk is

diens van die Woord. God gee sy Woord aan die kerk en die kerk neem dit aan, bely, bewaar , onderrig en verkondig dit – voor God, mekaar en die wêreld (Heyns 1977:110).

• Sakramente: Die hoorbare Woord word opgevolg deur die sigbare Woord, by wyse van die bediening van die sakramente. Die rol van die

sakramente is om geloof te versterk (HK vr 67).

• Tug: Die kerk is ‘n belydeniskerk, d.w.s. gelowiges is in woord en daad nie vry om te glo en te doen wat hulle wil nie. Hulle is aan die belydenis van die kerk – waaraan hulle hulleself vrywillig onderwerp het – gebonde (Heyns 1977:111).

Die kerk is nie in sy suiwer gestalte in die wêreld te vinde nie. Juis daarom is dit die taak van die kerk om voortdurend in die lig van die eise van die Woord te reformeer. “Eintlik het die ware kerk maar een kenmerk, en dit is of die Woord daarin heers, terwyl die vals kerk die Woord op allerlei maniere minag en aan homself en sy eie besluite meer gesag toeskryf.” (Jonker 1994:75). Dit is vir gemeente-wees belangrik, aangesien dit beteken dat ‘n gemeente altyd selfondersoekend besig moet wees om toenemend in gehoorsaamheid aan die Woord te lewe. ‘n Gemeente binne die gereformeerde tradisie sal altyd die

notae ecclesiae as deel van sy belydenisgrondslag moet verreken.

Die uitwys van die kenmerke van die kerk is belangrik vir die verstaan van gemeente-wees. ‘n Gemeente is nooit “klaar” as gemeente nie. Die verbond moet bewaar word. De Klerk (1985:73) spreek die kritiek uit dat in baie van die gemeentebouprogramme en –aksies ‘n behoorlike plek aan die opsig en tug ontbreek. “Die bewaring van die verbondsooreenkoms deur diegene wat kragtens hulle doop en belydenis daarby betrokke is, is ‘n saak waarby die heilige reg van die Koning van die hemele betrokke is.” (De Klerk 1985:73).

As daar dus analities na ‘n gemeente gekyk word, moet die kenmerke van die kerk, vanuit die gereformeerde belydenis, ook ten opsigte van die spesifieke gemeente, verreken word.

Die notae ecclesiae is voorwaarde vir die kerk, daarom is dit ook voorwaarde vir die eienskappe van die kerk. “Nou as die notae ecclesiae ook voorwaarde vir die eienskappe van die kerk is, kan die eenheid van die kerk, sy heiligheid, algemeenheid en apostolisiteit alleen gevind word daar waar ‘n suiwere bediening van die Woord, sakramente en tug aangetref word.” (Heyns 1977:113). Indien aan die bepaalde voorwaardes voldoen word, ontstaan ‘n kerk met bepaalde eienskappe. Die uitwys van die eienskappe van die kerk is belangrik vir die bepaling van die gemeente se identiteit (kyk o.a. Breytenbach en Pieterse 1992:102).

In die Geloofsbelydenis van Nicea en die Apostoliese Geloofsbelydenis word vier eienskappe van die kerk bely: sy eenheid, heiligheid, algemeenheid en

apostolisiteit. “Die eienskappe is deur God aan die kerk as gawe geskenk om daardeur die wyse van die kerk se bestaan in die wêreld aan te dui; die

eienskappe is egter ook as opdrag deur God aan die kerk gegee om daardeur die taak van die kerk in die wêreld aan te dui; en die eienskappe is ook as

belofte deur God aan die kerk gegee om daardeur die kerk steeds op die

volheid in die toekoms gerig te bly hou.” (Heyns 1981:377).

• Eenheid: Die kerk is nie twee nie, maar een. Die kerk het een God, die Vader, een Heiland, een Hoof, een Voorspraak en een Voleinder (Ef. 4:) (Heyns 1977:116).

• Heiligheid: “Heiligheid as ‘n gegewe status aan die kerk is nie ‘n fase van ontwikkeling wat die kerk in die proses van ‘n etiese evolusie verwerf nie, maar ‘n eienskap wat met die ontstaan van die kerk gegee is” (Heyns 1977:130).

• Algemeenheid: Die woord katoliek word vir die eerste keer deur die apostoliese vader Ignatius van Antiochië vir die kerk gebruik. Teenoor die afskeiding van ketters word die begrip op twee maniere gebruik: die aantasting van die Bybelse openbaringswaarheid en die geslote karakter wat die eie groep ontvang (Heyns 1977:137). Heyns verkies om eerder van die begrip volheid gebruik te maak. “Die volheid van God se

versoenende dade is in die kerk gekonsentreer en deur middel van die kerk wil Hy die volheid die ganse wêreld indra.” (Heyns 1977:139). (…God

alles in almal sal wees (1 Kor. 15:28).

• Apostolisiteit: Die Geloofsbelydenis van Nicea wil met apostolisiteit ‘n historiese verbintenis tussen die kerk en die apostels lê en met name die boodskap en die taak van die kerk in hulle besondere en onherhaalbare arbeid begrond (Heyns 1977:147). Apostolisiteit lê nie op dieselfde vlak as die ander drie eienskappe (eenheid, heiligheid en algemeenheid) nie. Laasgenoemde drie is heilshistoriese bepalings van ‘n universele en permanente karakter wat ook van die Koninkryk gesê sou kon word.

Apostolisiteit dui eerder op die weg en modus waardeur die kerk die genoemde drie eienskappe kan verwerklik. Die begrip apostolisiteit sou ook met “Bybels” of “Skriftuurlik” vervang kon word. Apostolisiteit wil die historiese kontinuïteit van die kerk m.b.t. die kerk se oorsprong, boodskap en taak aandui (Heyns 1977:148).

Barth maak die volgende insiggewende opmerking oor die rol van die

belydenis van die vier eienskappe in die gemeente: “Credo ecclesiam means that I believe that the congregation to which I belong, in which I have been called to faith and am responsible for my faith, in which I have my service, is the one, holy, universal Church. If I do not believe this here, I do not believe it at all.” (1949:144). Die belydenis bind lidmate aan die gemeente.

Burger (1999:55-63) trek die volgende riglyne ten opsigte van teologiese perspektiewe op die identiteit van gemeentes:

• Gemeentes se identiteit lê in hul verhouding met God: ons behoort aan God. God is ons Vader, Hy is Koning, Hy is die Wingerdstok. God Drie- enig het ‘n verbond met elke gelowige, en daarom ook met die gemeente, gesluit.

• Die gemeente se verhouding met die Here is ‘n baie eksklusiewe

verhouding. Die Eerste Gebod wys daarop dat ‘n gemeente nie twee Here mag dien nie, maar alleen aan die lewende God verbind moet wees. • Die Here het die reg op hierdie eksklusiewe verhouding met sy volk omdat

Hy hulle gered het. Die inisiatief lê by God en daarom word sondaars as sy kinders aangeneem. Dit lei tot gemeenskap tussen God en sy

gemeente.

• Die Here se reg op die volk word gekwalifiseer deur die feit dat Hy hulle liefhet en dat Hy wil hê hulle moet Hom liefhê. Metafore wat in hierdie verband gebruik word, is: ouer-kind, nuwe familie en huisgesin. Die Here Jesus het sy dissipels lief en verwag dat hulle Hom in gehoorsaamheid sal volg.

• Die gemeente bewys hulle liefde vir die Here deur sy wil te doen en sigbaar aan Hom gehoorsaam te wees. Die liefdesgebod, die Wet van

God en liefde wat sigbaar word, bevestig ‘n geloofsverhouding met Jesus Christus. “Identiteit waarvan niks sigbaar word nie, is min werd.” (Burger 1999:61).

• Die gemeente word opgeroep om met God te leef, soos wat Hy Hom aan hulle bekendmaak. Die Tweede Gebod vra dat Hy gedien moet word soos wat Hy verwag om gedien te word.

• Die vier eienskappe van die kerk (eenheid, heiligheid , algemeenheid en apostolisiteit) kan as aanduiders van identiteit van ‘n gemeente gebruik word. Die vraag sou tereg gevra kon word: Hoe kom die eienskappe in die gemeente tereg?

• Saam hiermee geld die vraag na die spesifieke kenmerke van die kerk, juis dit behoort van ‘n gereformeerde gemeente te geld.

Jan Hendriks (1994a:113) verstaan onder identiteit die selfdefinisie van die gemeente. Hy verkies om van die gemeente se identiteitskonsepsie te praat. Die “notae ecclesiae” lê op die vlak van die wese van die kerk en vorm deel van die agtergrond en tradisie van die gemeente. Die identiteitskonsepsie is meer tyd- en konteksgebonde. Die identiteitskonsepsie word met die verloop van tyd deur ‘n proses ontwikkel.

Jan Hendriks (1994a:114) wys op die noodsaak om ‘n onderskeid tussen die “wezen van de kerk” of “notae ecclesiae” aan die eenkant, en die

identiteitskonsepsie van die gemeente aan die anderkant, te maak. Die eienskappe en wese van die kerk behoort tot die tradisie en agtergrond van die gemeente, en dit geld vir alle gemeentes, oor alle tye, op alle plekke. Die identiteitskonsepsie van die gemeente is tyd- en plekgebonde en is eie aan elke gemeente. Dit word deur ‘n proses gevorm en ontwikkel daarom

Die gemeente se verhouding met God Drie-enig en sy belydenis oor die kerk aan die eenkant, en sy verhouding met die samelewing en omgewing aan die anderkant, lei tot die ontwikkeling van die gemeente se eie en unieke

identiteit.