• No results found

Burger: Die toetsing van gemeentes

CHRISTUS WOORD

5. Die dinkskrum en swot-analise

6.3.3 Burger: Die toetsing van gemeentes

6.3.3.1 Agtergrond en probleemformulering

‘n Mens kan nie maar tevrede wees met hoe jy is nie, maar ‘n gemeente moet die kritiese vraag vra: Is dit wat ons het, wel die naam kerk werd? Dit is ‘n vraag wat Burger (1999:288) met huiwering vra, en wel om die volgende redes:

• ‘n Mens behoort versigtig te wees met jou oordeel oor ander. Die gelykenis van die onkruid (Matt. 13:24-30 ) verduidelik die punt baie goed. Menslike maatstawwe is nie altyd goed nie.

• Die formulering en toepassing van sulke maatstawwe bly altyd ‘n

subjektiewe saak. ‘n Eie verstaan is nie noodwendig ‘n “regte” verstaan nie.

• Is toetsing en evaluering nie ‘n te negatiewe proses om ‘n positiewe resultaat van te verwag nie?

‘n Soeke na geloofwaardige gemeentewees dwing ‘n mens egter om die vraag na die herkenbaarheid van die gemeente te vra. Terme wat soms in die nadenke oor gemeentewees gebruik word, is: suksesvol, effektief en relevant (Burger 1999:289). Dit is terme wat nie net so op gemeentewees van

toepassing gemaak kan word nie. “Dit is nie maklik om vir die kruis en die kruisevangelie plek te maak in ‘n suksesvolle kerk nie - ook nie vir die

belangrike Bybelse motiewe soos diens, selfverloëning nie.” (Burger 1999:289).

6.3.3.2 Basiese aannames en vertrekpunte

Burger (1991a:20-21) onderskei vier prosesse wat in die dinamika van ‘n gemeente aan die werk is: ‘n gedeelde visie, ‘n vaste geloofsverbintenis, ‘n sorgende gemeenskapslewe en diens. Ten opsigte van elkeen identifiseer hy ‘n teologiese kontrolepunt vanuit die eienskappe van die kerk. Die vier

eienskappe dien in ‘n meerdere of mindere mate by elkeen as kontrolepunt, maar daar is in elke geval mintens ‘n primêre punt wat Burger uitlig. In ‘n latere werk brei Burger verder uit op die vier eienskappe van die kerk as ‘n manier om die gehoorsaamheid en outentiekheid van ‘n gemeente te toets (Burger 1999:290-299). Hy soek die antwoord na ‘n beter toets vir die gemeente se gehoorsaamheid - wat ook met die unieke aard van

gemeentewees rekening hou - by die vier eienskappe van die kerk. Die vier prosesse met hulle primêre kontrolepunte word vervolgens bespreek.

• ‘n Gedeelde visie op die Koninkryk van God. “Sonder ‘n visie wat funksioneer op die vlak van ‘n gedeelde droom kan daar nie sprake wees van ‘n lewende en effektiewe geloofsgemeenskap nie.”(Burger 1991a:37). Die primêre kontrolepunt ten opsigte van die visie van die

geloofsgemeenskap is die Christelikheid of apostolisiteit van die kerk. Die waarheid van die Evangelie word op hierdie punt gekontroleer. Die vraag is: “Is dit werklik in sy wese ‘n Christelike visie op die wêreld? (Burger 1991a:67). Die Skrif is die finale maatstaf en bron van waarheid vir die kerk. Die Skrif word deur kerk ernstig opgeneem en word as riglyn vir die kerklike lewe aanvaar. Dit beteken ook dat die tradisie van die kerk ernstig opgeneem word. Die gemeente word deur twee vrae gekonfronteer Burger 1999:299):

→ Glo die gemeente in die apostolisiteit van die kerk?

→ Word genoeg van die gemeente se energie aan die apostolisiteit van die kerk gespandeer?

• ‘n Vaste geloofsverbintenis (“commitment”) aan die visie: ‘n Lewende en effektieffunksionerende geloofsgemeenskap is afhanklik van die lede se vaste, kontroleerbare geloofsverbintenis aan die visie van die gemeente (Burger 1991a:73). Die heiligheid van die kerk is in dié verband die primêre kontrolepunt van die geloofsverbintenis. Word die

geloofsgemeenskap herken as mense wat aan Christus behoort en so lewe? (Burger 1991a:94). In die geval van die gemeente gaan die heiligheid van die kerk oor die gemeente se toewyding aan die taak van die kerk. Dit gaan oor die andersheid van gesindheid en lewe wat die Evangelie van die lidmaat en die gemeente vra. ‘n Lewe van liefde, ‘n lewe wat kies vir wat reg is en wat op alle lewensterreine navore kom, is hier ter sprake. Die volgende vrae kan in dié verband gevra word (Burger

1999:295):

→ Verstaan lidmaat en gemeente werklik wat ‘n lewe van heiligheid in al sy konsekwensies beteken? Lei dit tot ‘n herrangskikking en ordening van lewenswaardes en -prioriteite?

→ Met watter ywer word daar in die gemeente aan die saak gewerk? Is daar entoesiasme en vreugde vir so ‘n lewenswyse?

• ‘n Sorgende gemeenskapslewe (koinonia) waarin mense mekaar op

hierdie pad ondersteun: “Gemeenskap” verwys na ‘n diep lewens- en

lotsverbondenheid wat die Christelike geloofsgemeenskap kenmerk (Burger 1991a:99). Daar is ruimte en plek vir elkeen binne-in die

geloofsgemeenskap, daarom is die eienskap van katolisiteit die primêre kontrolepunt in dié verband (Burger 1991a:116). Werklike koinonia word eers getoets as dit by “ander-denkendes” kom. Die katolisiteit van die kerk beteken dat dissipelskap alle ander verhoudinge te bowe gaan. Alle

gelowiges deel die belydenis met mekaar. Dit behels ‘n openheid teenoor alle lewe en alles wat God geskep het. Die konsekwensies van die

eienskap is dat alle Christene in die gemeente welkom is en met vrymoedigheid ontvang word. Die katolisiteit van die kerk vra of ‘n

en anders dink as waaraan die gemeente normaalweg gewoond is. Die volgende vrae sou gevra kon word (Burger 1999:298):

→ Glo die gemeente aan die “oopheid” van die kerk?

→ Word genoeg aandag en energie aan die saak spandeer?

• ‘n Sterk georiëenteerdheid op dade en doen, in die wete dat die kern

van die christelike lewe diens is: Geloof word sigbaar deur

selfverloënende dade van diens en liefde aan God, die naaste en hele wêreld. Die kerk is ‘n diensgemeenskap en bestaan nie ter wille van homself nie (Burger 1991a:123). Diens gaan oor ‘n getuienis teenoor die hele wêreld. Indien die eenheid ‘n realiteit binne die lewe van die

geloofsgemeenskap is, sal die mense begin om mekaar te dien in die gesindheid en liefde van Christus. Die eenheid van die kerk funksioneer daarom as primêre kontrolepunt in dié verband (Burger 1991a:143). Die kerk behoort een te wees (Joh. 17 en Ef. 4). Dit gaan oor die uitleef van die liefde, en die krag van die liefde, van God. Eenheid en liefde hang ten nouste saam met, en is ‘n bevestiging van die gemeente se identiteit in Jesus Christus. Die herkenbaarheid van die eenheid van die kerk op gemeentevlak kan aan die hand van die volgende getoets word (Burger 1999:293):

→ Verstaan die gemeente dat die egtheid van die gemeente se identiteit in Christus aan die hand van die gelowiges se uitleef van liefde en eenheid teenoor ander gelowiges getoets word? Verstaan die gemeente die radikaliteit hiervan en hoe dit verhoudings

beïnvloed?

→ Dit gaan verder as net verstaan. Is die gemeente verbind tot die eenheid van die kerk en wend die gemeente ‘n betekenisvolle poging aan om dit te verwesenlik? Hoeveel ywer en dringendheid is daar vir die saak in die gemeente?

Burger (1999:299) wys daarop dat die kruis- en lydingsbereidheid van die kerk as ‘n vyfde eienskap bygevoeg kan word. Die Evangelie vra van ‘n gemeente

om vanuit ‘n kruisteologie plek te maak vir lyding en opoffering as gevolg van die gemeente se navolging van Jesus Christus.

6.3.3.3 Metodologie

Burger werk nie met ‘n uitgewerkte metodologie nie.

6.3.3.4 Evaluering

Die bydrae van Burger lê veral op die vlak van die basiese aannames en vertrekpunte waarmee hy werk. Die vier eienskappe van die kerk bied ‘n goeie invalshoek om die geloofwaardigheid van ‘n gemeente mee te analiseer. Dit is ‘n stap beter as net ‘n funksionele of organisatoriese vertrekpunt. Die vier eienskappe is egter net ‘n vertrekpunt, want gemeentewees strek wyer as net dit. Die vier bedieningsterreine behoort ook in dié proses verreken te word.

“Ongelukkig maak Burger nie genoeg van die eiesoortigheid van gemeentes, wat hy as realiteit toegee, en aantoon hoedat die eie situasie van die

gemeente die toepassing van sy insigte beïnvloed, nie” (Smuts 1995:134). Burger behoort daarom meer van die konteks en situasie van die gemeente in die proses van toetsing te maak.

Dit is jammer dat Burger nie voorstelle maak oor instrumente om gemeentes se geloofwaardigheid mee te bepaal nie, of dat hy ‘n bepaalde metodologie in hierdie verband voorstel nie.