• No results found

DIE STORIE VAN DIE GEMEENTE

DIE OPBOU-MOTIEF IN ‘N PRAKTIES-TEOLOGIESE EKKLESIOLOGIE

5.4 DIE STORIE VAN DIE GEMEENTE

Stories bied ‘n belangrike kyk op die werklikheid waarbinne ons lewe.Daar is reeds gewys op die verband tussen die gemeente se spiritualiteit en die gemeente se storie (punt 2.1.1). Stories verskaf ’n sleutel vir die beter verstaan van die werklikheid (Kellerman 1996:509). Dit is ook waar van die gemeente en sy storie. Die selfverstaan van ‘n gemeente lê primêr in ‘n narratiewe vorm. Meeste van die kommunikasie in ‘n gemeente is by wyse van stories (Hopewell1988:46). In die analise van die gemeente is dit daarom nodig om na die storie van die gemeente te kyk.

Die krag wat in die wese van stories lê om wêrelde oop te maak, waarhede oor te dra, gedagtes te deel en mense te beïnvloed, mag nooit onderskat word nie (Kellerman 1996:511). Die werklikheid kan nie volledig analities verstaan word nie, daarom is, onder andere, ook stories nodig om ‘n meer volledige prentjie van die gemeente en die situasie waarninne die gemeente bestaan, te kry.

Dit is nodig om tussen ‘n storie en ‘n verhaal te onderskei. “Storie” is die weergawe van ‘n reeks gebeurtenisse, wat chronologies en met inbegrip van kousaliteit, georden is. “Verhaal” daarenteen, is die doelbewuste artistieke ordening van ‘n storie (Kellerman 1996:512). In interaksie met die storie ontwikkel die verhaal. Dit beteken daarom dat daar in antwoord op die vraag: “Wat gebeur hier?” uit twee hoeke geantwoord kan word: aan die eenkant is daar histories-feitelike gebeure en aan die anderkant is daar die narratiewe betekenis-elemente binne die situasie. Gemeentes het daarom bepaalde stories om te vertel.

“Story is the way a community usually views, values, and talks about itself in relation to its world and heritage.” (Carroll 1990:45). Die gemeentestorie belig die gemeente op drie maniere: Dit sê

• dat ‘n gemeente is, dit gee inhoud aan die roeping van ‘n gemeente. Deur die gebruik van metafore word ‘n gemeenskaplike storie opgebou, dit is ‘n gemeentestorie wat die kenmerke en roeping van die gemeente uitlig. • wie ‘n gemeente is, dit karakteriseer ‘n gemeente. Dit vertel wat ‘n

gemeente anders as ander gemeentes maak, en dit wys op die uniekheid van ‘n gemeente.

• wat die gemeente is, dit verwoord die belydenis van die gemeente. Die storie wys op die uiteindelike doel van die gemeente, dit gee vanuit die verlede en hede hoop vir die toekoms, dit word deel van die verhaal van God se redding van die wêreld (Carroll 1990:45-46).

Elke gemeente het ‘n storie wat binne ‘n spesifieke tyd en plek afspeel. In die storie speel ‘n verskeidenheid van karakters ‘n bepaalde rol. Die storie

verloop op ‘n bepaalde manier en het ‘n “plot” wat op die einddoel van die gemeente afstuur. Dit geskied in die lig van God se storie of doel met die bepaalde gemeente. Dit is alles aspekte van die gemeente se storie.

Kellerman (1996:516-520) wys op die volgende elemente in die gemeente se storie:

• Die ruimte-element: Wat gebeur daar…? Die vraag is: Binne watter ruimte speel die gemeente se storie af? Hopewell (1988:56) wys in dié verband op die “word view” van ‘n gemeente. Die wêreldbeskouing raak die wyse waarop ‘n gemeente teenoor sy lede optree, en homself binne die

gemeenskap plaas. “Since the belief system of a parish includes not only its formal creeds but also the meanings it assigns to itself and its members as finite bodies, to learn about a church’s world view … one must listen to the church’s stories about its own body and those of the members who constitute it (Hopewell 1988:57).

Die storie van die gemeente kan binne die ruimte-element op vier maniere gelees en vertel word (Hopewell 1988:69):

• Kanonies, dui op ‘n meer outoritatiewe interpretasie van die gemeente se wêreldbeskouing. God se wil moet geleef en gedoen word. Soos in ‘n tragedie, is daar ‘n onstuitbare verval in die wêreld. Die sonde lei tot die dood. God en sy Woord, in die geval van die Protestante, en by die Rooms-Katolieke die kerklike tradisie, bied die absolute antwoord (Hopewell 1988:79).

• Gnosties, wys op ‘n intuïtiewe proses wat van disharmonie af beweeg na harmonie en eenheid toe. Die storie begin by frustrasie en wanorde, gaan deur ‘n proses van verligting en verstaan, en eindig by harmonie en vrede (Hopewell 1988:75). Die storie word positief en optimisties vertel. Hoewel dit tot die vervreemding van kanoniese strukture lei, is daar ‘n soeke na ekwilibrium in die storie.

• Charismaties, dui op die bonatuurlike wat persoonlik by die wêreld betrokke raak. Die charismatiese storie begin by ‘n ongemak met die huidige situasie en ‘n soeke na ‘n belewenis van God se mag en teenwoordigheid. In die bose wêreld soek die gelowige na ‘n God op wie hy kan vertrou. God beloon die soektog en die romantiese avontuur eindig in die oorwinning van God se liefde (Hopewell 1988:78)

• Empiries, maak staat op die werklikheid wat objektief-sintuiglik waargeneem kan word en die verwerping van die bonatuurlike. Die

waarheid is geleë in empiriese waarneming en nie in ‘n openbaring nie. Daar is ‘n soeke na ‘n reëlmatigheid in die werklikheid. Op ‘n ironiese manier word die storie eerder vanuit ‘n empiriese hoek as ‘n ingrype van die bonatuurlike vertel, “An empiric strory rejects examples of supposedly superior piety and proposes instead a reasonable loyalty to God and fellow human beings.” (Hopewell 1988:83).

Elke gemeente se storie is binne ‘n bepaalde ruimte en wêreldbeskouing uniek. Dit kan vanuit een van die vier maniere wat Hopewell aangetoon het, vertel word.

• Die tyd-element: Wat gebeur wanneer…? Die gemeente se storie speel binne ‘n bepaalde tyd af. Dit is gebeure binne die geskiedenis. Stories word deur die tydvak waarbinne dit afspeel, gekleur en geïnterpreteer.

• Die karakter-element: Wat gebeur met of deur wie…? Hopewell 1988:105. Verskillende rolspelers tree binne die gemeente op. Dit gaan oor baie meer as net wat hulle doen en sê. Dit gaan oor alles wat ‘n persoon na die storie toe bring. Elkeen het ‘n eie waardesisteem en lewensbeskouing; en ook ‘n eie geloofsverhaal. Elke gemeente ontwikkel daarom ‘n eie

gemeentekultuur, ‘n eie etos en persoonlikheid. Dit kan nie net met ‘n vraelys bepaal word nie en behoort ook op ‘n narratiewe wyse nagevors te word. ‘n Manier om dit te doen, is om die gemeentegeskiedenis na te vors, maar dan moet meer as net name en datums navgevors word. Die rykdom in die karakter van ‘n gemeente, kom op dié manier na vore (Hopewell 1988:111)

• Die “plot”-element (storielyn): Wat gebeur met watter doel of gevolg…? Die “plot” soek na wat gebeur het en wat die gevolge van die gebeure is. Die “plot” kyk na wat in die verlede gebeur het om ‘n bepaalde identiteit aan die akteurs te gee. Die plot ontvou in die hede, dit gee ‘n verklaring van wat nou aan die gebeur is. Die plot verdiep as gevolg van die spanning en stryd wat ondervind word en daar is ‘n ontknoping van die plot wat die situasie vir die “akteurs’ ten beste verander (Hopewell

1988:154). Die verlede en hede word aanmekaar gekoppel, om iets oor die toekoms te kan sê.

Watter rol speel tradisie binne die proses? Tradisie is ‘n lewende, dinamiese en historiese proses wat oor tyd verloop en nog steeds aan die primêre beelde en metafore vanuit die verlede bly vashou. In die gemeente speel die tradisie daarom ook ‘n belangrike rol. Elke gemeente het ‘n eie geloofstradisie wat vertel van die gemeente se geloofsbelewing en daarom die optrede van die gemeente beïnvloed. ‘n Gemeente se geloofsverhaal vertel die pad wat God met die gemeente geloop het Dit staan nie los van die wyer kerklike tradisie van ‘n bepaalde geloofsgemeenskap nie.

Kellerman (1996:521) maak, onder andere, die onderstaande gevolgtrekkings met die oog op die waarde van die narratiewe paradigma vir die opbou van die gemeente en in dié geval spesifiek met die oog op die analise van ‘n gemeente:

• Die narratief bied ‘n sinvolle moontlikheid waarbinne gemeentebou bedryf kan word.

• Die kenmerke van ‘n storie maak dit moontlik om die gemeente se storie te beskryf.

• Die gemeente moet binne die breër Christelike en kerklike tradisie, asook die gemeente se eie unieke tradisie, verstaan word.

• Die dimensies van verlede, hede en toekoms vorm ‘n raamwerk waarbinne die gemeente se storie geanaliseer kan word.

• ‘n Narratiewe kyk na die gemeente verbeter die verstaan van die gemeente en sy identiteit.