• No results found

Gemeentebou: ‘n Kort oorsig

3.3 GEMEENTEBOU: ‘N DEFINISIE

3.3.3 Gemeentebou: ‘n Kort oorsig

Die studie geskied binne die studieterrein van die gemeentebou en daarom is dit nodig om ‘n beskrywing te gee van wat met die konsep “gemeentebou” verstaan en bedoel word. Jan Hendriks wys in ‘n literatuuroorsig (1995:635 e.v. en

1997:582 e.v.) eerstens op strominge binne die studieterrein van gemeentebou: 1. Die evangeliese beweging: Klem word gelê op evangelisasie as doelwit en

metode vir gemeentebou. Die “Church Growth Movement” en die “Willow Creek Community Church” val binne hierdie kategorie. Groot klem word op die bereiking van buitekerklikes geplaas. Jan Hendriks plaas ook die werk van Schwarz, “Natural Church Development”, binne die evangeliese beweging.

2. Die dubbelstrategie: Dié strategie koppel meer as een vertrekpunt

aanmekaar, byvoorbeeld die behoud van lidmate (volkskerk) en die bereiking van randkerklikes in ‘n gesekulariseerde samelewing. Groener sien die kerk eerder as ‘n amfiteater, en nie as konsentriese sirkels nie.

3. Die missionêre stroming: Die missio Dei is gerig op shalom in die wêreld. Die belangrikste opdrag vir die gemeente is sy sendingopdrag. Die werk van Hoekendijk oor die apostolaat en Stoppels oor “Gastvrijheid. Het

inloopcentrum als vorm van kerklijke presentie.” kan as voorbeelde genoem word.

4. Die “conciliare” of versoenende stroming: Dit gaan oor die gemeente as versoenende gemeenskap. Die werk van Dingemans, “Een huis om in te wonen,” kan hier genoem word.

5. Die konsolidasiestroming: Geen vernuwing vind in die gemeente plaas nie, maar die ou spoor word instandgehou. Dit gaan daaroor om die bestaande beter en deegliker te doen. ‘n Voorbeeld van die stroming kom voor in die werk van Te Velde in sy “Gemeenteopbouw”-reeks.

Tweedens wys Jan Hendriks op skrywers wat meer klem op strategieë en tegnieke binne die gemeentebouproses lê. Die tendens is hier na ‘n leermodel, maar daar word ook van die werk vanuit die wêreld van die sosiale wetenskappe gebruik gemaak. In dié verband noem Jan Hendriks die werk van Callahan (“Twelve Keys to an Effective Church”), die “Handbook for congregational studies” van Carrol, Dudley en Mckinney, die “Centre for Parish Development” van Dietterich, asook sy eie bydrae “Een vitale en aantreklijke gemeente”.

As ‘n slotopmerking wys Jan Hendriks (1997:605) daarop “… dat bij alle verscheidenheid in denken de opvattingen van de missionaire stroming de dubbelstrategie en de conciliaire stroming naar elkaar toe groeien. In alle drie doemen de contouren op van een nieuw type gemeente: open en gastvrij.”

Binne die Suid-Afrikaanse konteks het gemeentebou eers die laaste paar dekades op die toneel verskyn. In die sewentigerjare, minstens binne die NG Kerk, het die klem op die individuele lidmaat en sy rol in die gemeente geval (Britz en Erasmus 1994:374). Die Jeug-tot-Jeugaksie van 1974 en die Lidmaattoerustingsprogram is voorbeelde van hierdie benaderingswyse.

In die tagtigerjare verskyn gemeentebou meer prominent op die toneel. Binne die NG Kerk verskyn ‘n Gemeenteboureeks wat in verskeie gemeentes gevolg is. Verskeie studies wat stukrag aan die gemeentebouproses gee, verskyn. Vervolgens word slegs enkeles genoem:

• Louw - (1884) Dienswerk – ‘n eietydse bedieningsmodel vir die opbou van die

gemeente

• Heyns - (1986) ‘n Prakties-teologiese ondersoek na die kerklike strukture van

die Nederduitse Gereformeerde Kerk

• Nel - (1986) Teologiese perspektiewe op gemeentebou; (1988) Fases in

gemeentebou; en (1994) Gemeentebou

• Jurgens Hendriks - (1992) Strategiese beplanning in die gemeente. Die

beginsels en praktyk van gemeentevernuwing;

• Burger - (1991) Die dinamika van ‘n Christelike geloofsgemeenskap en (1999) Gemeentes in die Kragveld van die Gees.

Die lys is nie omvattend nie, maar trek minstens die lyne wat vir die studie van belang is. Dit is nie werklik moontlik, om soos wat Jan Hendriks in sy

literatuuroorsig gedoen het, die stof te klassifiseer nie. Die werk lê minstens op twee terreine: dit werk aan die eenkant met die teologiese vertrekpunte vir gemeentebou, en aan die anderkant met strategieë vir gemeentebou.

Wat is gemeentebou? Gemeentebou is komprehensief-intensioneel (omvattend en met spesifieke bedoeling) gerig op die vernuwing van die gemeente -

vernuwing in wese, bestaan en funksionering (Nel 1994:13).

Nel (1994:13) gee die volgende opsomming vir ‘n werksformule:

• Die Vader, Seun en Heilige Gees bou die gemeente en doen dit deur die diens van mense.

• God bou sy gemeente omdat Hy deur die gemeente die koms van sy Koninkryk in hierdie wêreld laat plaasvind.

• Die bestaansdoel van die gemeente is sentraal belangrik.

• Die empiriese gemeente word op ‘n bepaalde plek en tyd begelei om te word wat hulle reeds in Christus en deur die Heilige Gees is. Die kloof tussen gedefinieerde en empiriese subjek moet vernou en oorbrug word. • Die totale gemeente in sy wese, bestaan, funksionering en strukturering

kom ter sprake. Omvattende en voortdurende vernuwing is en bly noodsaaklik.

Weverbergh (1994:275) definieer gemeentebou as: “… een empirisch georiënteerde theologische theorie over en voor de opbouw van christelijke geloofsgemeenschappen in de praxis van de moderne samenleving.” Hy lê klem

op die gemeente as ‘n apostoliese gemeenskap wat aan die opgestane Here verbind is. Hierdie geloofsgemeenskap lewe binne die konteks van die moderne samelewing.

Kellerman (1993:337-343) wys op die volgende multidimensionele uitgangspunte wat in gemeentebou verreken moet word:

Gemeentebou is

• ‘n handeling van die drie-enige God (Trinitariese dimensie). • ‘n geskenk en opdrag van God (Verbondsdimensie).

• veranker in die kruis en opstanding van Christus (Christologiese dimensie).

• God wat deur sy Gees bou (Pneumatologiese dimensie).

• God wat Hom bedien van mense wat Hy roep en stuur (Antropologiese dimensie).

• ‘n werksaamheid aan en van die gemeente as liggaam van Christus (Sistemiese dimensie).

• uniek aan elke gemeente (Kontekstuele dimensie). • gerig op die wêreld (Missionêre dimensie).

• realiseer binne stukture (Kubernetiese dimensie).

• gerig op die koms van die Koninkryk (Eskatologiese dimensie). • tot eer van God (Doksologiese dimensie).

Teen hierdie agtergrond kan met die definisie van Nel (1994:14) volstaan word: “Gemeentebou is die bediening waarbinne die gemeente opgelei en begelei word om

• sy eie wese en bestaansdoel te verstaan;

• self, as gemotiveerde gemeente, sy eie funksionering te evalueer ,

doelwitte vir sy doelgerigte funksievervulling te formuleer en op beplande wyse te bereik; en

• self, soos nodig, op ‘n voortgaande basis strukture, wat die

heilshandelinge van die Drie-enige God in kerk en wêreld dien, vir die gemeentelike funksionering te ontwikkel.” (Nel 1994:14).

Dit is belangrik om enkele opmerkings oor gemeentebou vanuit ‘n reformatoriese oogpunt te maak, aangesien daar gepoog word om vanuit ‘n reformatoriese hoek na gemeente-analise te kyk. Die belydenis: “ekklesia reformata semper

reformanda” (‘n reformatoriese gemeente reformeer altyd), geld elke gemeente wat erns maak met gemeentewees. Die lig van die Woord gee daarom leiding aan die gemeente. “Die gemeente is op grond van dit wat God uit genade

gedoen het en dit glo met geskenkte geloof” (Nel 1998:29). Dit is volgens Nel die perspektief wat gemeentebou binne ‘n reformatoriese tradisie van ander

benaderings onderskei. Gemeentebou vanuit ‘n reformatoriese vertrekpunt is daarom vir Nel (1998:35) “niks anders en meer as ‘n eerlike en verantwoordelike worsteling om die wil van God nie.”

‘n Verdere saak wat aandag verdien, is om te vra of gemeentebou nie ook vanuit ‘n narratiewe perspektief verstaan kan word nie? In die literatuur oor

gemeentebou is dit ‘n perspektief wat nie veel aandag gekry het nie. Kellerman (1991:474) definieer gemeentebou as “… die dinamiese en doelgerigte proses van opbou en uitbou waar die gemeente ten einde waarlik kerk van Jesus Christus te wees tot normale groei en vernuwing gestimuleer word tot wat God bedoel het dit in die wêreld sal wees.” In die lig van hierdie definisie stel hy (Kellerman 1996:510) dit: “Die storie met sy eie unieke struktuur en

kommunikasiekwaliteite bied ‘n ideale raamwerk vir die verstaan en

funksionering van die gemeente met die oog op sy opbou na dit wat God wil hê dit moet wees.” Dit spreek vanself dat elke gemeente ‘n eie unieke storie het. Die perspektief van ‘n eie storie as ‘n vertrekpunt vir gemeente-analise sal later vollediger behandel word. Hier kan volstaan word met die stelling dat

Gemeentebou is ‘n proses wat ‘n gemeente begelei om vanuit sy identiteit binne die gemeentelike bedieningsterreine, so gestalte aan gemeentewees te gee (vormgewing), dat die gemeente sy doel bereik.