• No results found

25 Ibid., p. 737. 26 Ibid., pp. 741-742. 27 Ibid., p. 742. 28 Menzel, p. 164. 29 Sleigh. Voorwoord.

arbeid op die buiteposte te verrig.30 Omdat hulle geen uniform gedra het nie het hulle selde nodig gehad om hulle subsidiengeld, ’n toelaag vir die onderhoud van die uniform, te trek. Daarom kon hulle vinniger as die gewone soldate hul skuld vir die passaat na die Kaap afbetaal. Sou hulle moeg raak vir die werk in die veld kon hulle na die Kasteel as gewone soldate teruggeneem word of hulle kon verplaas word na Batavia.31 Op die buiteposte kon hulle as gevolg van prestasie en goeie gedrag bevorder word na die rang van korporaal.32 Die lewe

op die buiteposte het besliste voordele gehad. As gevolg van die weersomstandighede was daar baie dae waarop weinig uitgerig kon word. Hulle het daaraan gewoond geraak en dit geniet. Dikwels het hulle jare lank op die poste gebly en het met verloop van tyd dikwels nuwe kontrakte t een beter soldy gesluit. 33

Teen hierdie agtergrond is Jan Grobler by sy aankoms aan die Kaap vir diens in die buiteposte toegewys, na alle waarskynlikheid omdat hy moontlik uit ’n Duitse boerefamilie gestam het. Vanaf 1708 tot 1712 was hy ’n houtkapper op een van die buiteposte, waarskynlik ’t Nieuwland wat die buitepos vir die voorsiening van hout was.34 Sy diens as houtkapper het begin in ’n tydperk (1708-1709) waartydens dit om ’n onbekende rede vir die hoofkwartier in Batavia moeilik geword om die retoerskepe vir die hele tuisreis van brandhout te voorsien. Daarom is daar van die Kaapse goewerneurs verwag om vir die tweede gedeelte van die reis voorsiening te maak vir die verskaffing van brandhout aan die Kaap.35 Die tekort aan brandhout het egter steeds toegeneem. Om die voorraad aan te vul, is in 1710 begin om die Overbergse bosse vir timmer- en brandhout te ontgin. Met ’n bietjie verbeelding sou ’n mens vir Jan kon voorstel in die rol van houtkapper in die Overbergse bosse. Dit was steeds nie voldoende nie en moes Batavia in 1711 al die retoerskepe van brandhout vir die reis as geheel voorsien. Die Kaap moes egter sorg vir hout gedurende die hele “lêtyd” van ten minste 16 retoerskepe aan die Kaap.36 Die VOC het op die tydstip besef dat die grootskaalse aanplanting van

geskikte bome die enigste oplossing was. Daarom het die Here Sewentien aan

30 Menzel, p. 164.

31 Ibid. 32 Ibid. 33 Ibid.

34 KAB: VC 40: Monsterrolle 1708, p. 108; Monsterrolle 1709, p. 127; Monsterrolle 1710, p. 150;

Monsterrolle 1711, p. 175; Monsterrolle 1712, p. 202.

35 Sleigh, p. 25. 36 Ibid., pp. 25-26.

die Kaapse goewerneur opdrag gegee om vryburgers wat nie ingevolge die bepalings van hulle erfgrondbriewe bome op hulle plase aanplant nie, te beboet.37

Die Politieke Raad het ook in Oktober 1711 begin om die maandelikse rantsoen van brandhout wat na die verskillende amptenare en kantore aangery is, te besnoei. Die verbruik van brandhout deur senior personeel in die Kasteel het in 1705 reeds soveel as 672 wavragte jaarliks beloop. Daarvan het die goewerneur een wavrag per dag, meer as die helfte, gekry.38 Tussen 1733 en 1742 het die

houtverskaffingsklerk, Otto Mentzel, die verbruik van brandhout aangedui as 150 wavragte per maand of 1 800 per jaar.39 Dit beteken ’n toename van amper 300% sedert 1705. Hierdie groot styging het veroorsaak dat daar naby die Kaap nog net met baie groot moeite brandhout verkrygbaar was.40

Teen hierdie agtergrond is dit duidelik dat Jan Grobler se dienstydperk as houtkapper begin het op ’n tydstip waar daar as gevolg van oorbenutting ’n relatiewe skaarste aan hout ondervind is. Pas nadat die maandelikse rantsoen van hout aan amptenare en kantore in 1711 besnoei is, is sy dienstydperk as houtkapper beëindig. Omdat daar op daardie stadium waarskynlik te veel houtkappers vir die beskikbare houtbronne was, is hy as ’n wagenrijder oorgeplaas.41 Dit kan aanvaar

word dat hy as wagenrijder onder meer ook aangewend is om in die toenemende behoefte aan hout aan die Kaap te voorsien.

Jan was vanaf 1 Augustus 1713 tot 2 April 1715 as boerkneg in diens van Christiaan Maasdorp.42 Dit verklaar hoekom hy nie op 30 Junie 1714 langer in die monsterrolle van die VOC vermeld is nie. Hy het dus reeds amptelik in 1713 uit die direkte diens van die VOC getree.43 Soldate wat as boerknegte aangewend is, het

ook geen militêre diens verrig nie en het ook geen soldy van die VOC ontvang nie. Van hulle is verwag om vir die hele neergelegde tydperk as kneg te dien.

37 Ibid. 38 Ibid. 39 Menzel, p. 179. 40 Sleigh, p. 27. 41 KAB: VC40: Monsterrolle 1713, p. 226.

42 J Hoge, Personalia of the Germans at the Cape, 1652-1806, p. 122. 43 KAB: VC 40: Monsterrolle 1714.

Hulle kon ook op kort kennisgewing opgeroep word om as soldate d iens te doen.

Wanneer ’n boer gevind het dat hy nie langer alleen oor sy plaas of plase toesig kon hou nie, kon hy by die VOC aansoek doen vir ’n toesighouer of kneg om hulp te verleen. ’n Geskikte persoon is dan tussen die lede van die garnisoen of die herstellendes in die hospitaal gesoek. Nadat die boer met ’n geskikte man ooreengekom het oor sy betaling en sy pligte, het hy by die goewerneur aansoek gedoen vir die wettige “leen” van die man. As ’n reël is so ’n aansoek nie geweier nie. Die gekontrakteerde man is dan ’n knecht genoem en was hy die vryburger se toesighouer oor die slawe en ook sy algemene plaasbestuurder.44 Hierdie “lening” van die man was onderhewig aan bepaalde voorwaardes met betrekking tot sy dienstydperk, soldy en die verlenging of beëindiging van sy kontrak:45

Simon van der Stel, goewerneur aan die Kaap vanaf 1679 tot 1699, het aan soldate wat voorheen op die buiteposte diens gedoen het, en dus ondervinding van pionier- landbou gehad het, hulp beloof as hulle vryburgers wou word.46 Deels het dit beteken dat plase aan die vryburgers beskikbaar gestel is. Teen die tyd wat Jan ’n vryburger geword het, is die eiendomstelsel ten opsigte van grondbesit egter reeds beëindig. Die gewildste vorm van grondbesit ná 1700 was die leningsplaasstelsel. Die ontwikkeling van veeboerdery het ’n steeds groeiende behoefte aan groter en meer weivelde laat ontstaan. Daarom is daar sedert 1703 weilisensies aan die boere uitgereik waarmee hulle verseker was van die gebruik van hul weiveld solank as wat hulle hul rekognisiegeld van een riksdaalder per maand betaal het. Met verloop van tyd het die boere hulle permanent op hulle weiveld gevestig en huise gebou.47

Die prosedure om ’n leningsplaas te bekom, het nie met die beslommernis van die opmeting van die grond gepaard gegaan nie. Die boer het eenvoudig sy keuse van die grond gemaak. Daarna het hy na die betaling van die vasgestelde rekognisiegeld die grond by die naaste landdros of in Kaapstad laat registreer. Die

44 Menzel, p. 164.

45 Ibid., p. 165. 46 Sleigh, p. 42.

registrasie en betaling van die rekognisiegeld het aan hom gebruikreg vir een jaar gegee.48 Die grense van ’n leningsplaas is bepaal vanaf die middelpunt. Die bakens is afgepen deur ’n halfuur in die vier windrigtings te stap. Die deursnee van die plaas was dus gelykstaande aan ’n uur se stap, op voorwaarde dat dit so afgepen word dat die boer nie sy bure daardeur benadeel nie. Teen die einde van die 18de eeu was dit gebruiklik om ’n inspeksie van die plaas te doen voordat dit in lening toegestaan is. 49 Die voordele verbonde aan die stelsel van leningsplase

lê in die grootte van hierdie tipe plase en die feit dat dit goedkoop en maklik verkry kon word. Die nadele daaraan verbonde was dat dieselfde rekognisiegeld gehef is, ongeag die bruikbaarheid daarvan. Verder was die posisie van die grense dikwels onseker en het dit veroorsaak dat baie boere op kroongrond wat tussen die plase lê, geboer het, grond wat hulle uiteraard nie toegekom het nie. 50

Graanboerdery was van die begin af suksesvol. Die eerste oes in 1680 het 400 mud graan, bestaande uit koring, rog en gars, opgelewer. Die goeie oeste in die daaropvolgende jare het waarskynlik daartoe bygedra om ander vryburgers te beweeg om hulle ook in die Stellenbosch-distrik te vestig, want in April 1684 was daar reeds 40 gesinne. 51 Die boere het hulle verder ook op veeteelt en wynbou toegelê. Om al die landbou-aktiwiteite te hanteer, het hulle baie trekdiere, veral osse, aangehou. Die swaar hande-arbeid soos ploeg, saai, oes, die bewerking van wingerde en die pars van druiwe is deur slawe verrig. 52

Die stelsel van buiteposte was egter nie immuun teen misbruik nie, veral nie van die kant van die amptenary nie. In 1684 het kommissaris Van Goens die Kaapse amptenare toegelaat om soveel grond te besit as wat hulle kon bewerk. Hiervolgens is Simon van der Stel se plaas Constantia in Julie 1685 toegeken. Kommissaris W Valckenier het die Hottentots-Hollandbuitepos met sy geboue, hokke, krale en bewerkte landerye in 1700 aan WA van der Stel gegee. Met behulp van die VOC se poshouer, posvolk en slawe, het die goewerneur sy plaas Vergelegen op die buitepos ontwikkel. Terselfdertyd het senior amptenare en raadslede soos Elsevier, Kalden, Starrenburg en Bergh ook intensief geboer. In ’n brief van 30 Oktober 1706 het die

48 Ibid. 49 Ibid. 50 Ibid. 51 Ibid., p. 178. 52 Ibid.

Here Sewentien weereens grondbesit deur alle amptenare belet. 53 Tussen 1711 en 1714 het die amptenare die verbod omseil deur hulle veetroppe op die regering se buiteposte aan te hou. Amptelik is die verbod nog streng nagekom, maar die Here Sewentien se oorspronklike opdrag van 1706 is reeds stilswyend geïgnoreer. Dié beleid was daarop gemik om te voorkom dat die amptenare vryburgers van die mark in landbouprodukte beroof. 54

Verskeie metodes is aangewend om die Here Sewentien se opdrag te omseil. So het poshouer JF Kirsten van Simons Baaij in 1765 sy plaas in sy minderjarige seun se naam geregistreer. Ook ’n houtkapper, JH Berend van die buitepos Outeniqualand, het ’n plaas in die naam van sy stiefseun geregistreer. Hoewel die letter van die wet nagekom is, is die Here Sewentien se opdrag verontagsaam op ’n wyse wat dui op knoeiery tussen die goewerneur, die administrasie en die personeel van die buiteposte. Die rede hiervoor is dat die uitvoerende amptenare aan die Kaap oor baie mag beskik het. Vandaar dat die goewerneur self die poshouers en posvolk uitgesoek het. Weens die spesiale voorregte wat hulle op die buiteposte geniet het, kon die goewerneur verseker dat hulle na sy pype dans. 55 Die moontlikheid dat Jan ook deur die goewerneur gekeur is, kan in die lig van die “keuringsproses” nie uitgesluit word nie.

Volgens die beskikbare bronne trou Jan Grobler in 1715 met Geertruijd Knoetzen, die derde kind van Cornelis Knoetzen (afkomstig van die Deense eiland Fyn) en Dirkje Helmes. In dieselfde jaar word hy ook ’n vryburger. 56 In die vryburgerlyste

(verbatim kopieë) word hy elke jaar tussen 1715 en 1735 as vryburger aangedui.57 Jan en Geertruijd vestig hulle in die Drakenstein, vermoedelik in die omgewing van die latere Malanstasie aan die westelike oewer van die Bergrivier naby Wellington.58 Wanneer die boerdery-aktiwiteite van Jan bestudeer word, moet daar

in gedagte gehou word dat 17de-eeuse en 18de-eeuse boerdery baie kwesbaar was vir periodieke droogtes, soos o.m. in 1725 en 1726. Die inboorlinge en trekboere het die uitwerking daarvan deur migrasie probeer ontduik. Die veeposte van die

53 Sleigh, pp. 56-58.

54 Ibid. 55 Ibid.

56 Grobler, pp. 7, 11.

57 KAB: VC 49: Vryburgerlys 1715, p. 334; Vryburgerlys 1718, p. 529; VC 50: Vryburgerlys 1732,

p. 26.

Vereenigde Oostindiesche Compagnie (VOC) was op so ’n wyse deur die Wes- Kaap, Waveren, Breederiviervallei en Overberg versprei dat die beste gebruik van riviere en valleiweiding gemaak is. Die grond rondom die buiteposte is aan burgers beskikbaar gestel. 59

Benewens die weersomstandighede het veesiektes die boerderysituasie bemoeilik. ’n Groot epidemie van skurfsiekte gedurende 1715 tot 1718 het met 'n droogte saamgeval. Weens die vleisskaarste en hoër vleispryse het die gevaar bestaan dat verdere stygings 'n las op die Kompanjie se finansies sou plaas. Winterkoue en reën het die vrekte van baie trekosse, veral op die roete tussen die buitepos Simons Baaij en die Kaap veroorsaak. In ’n jaar van milde reën het meer osse as gevolg van wind, reën, koue en arbeid op die swaar modderige paaie gevrek as gedurende jare van min reën en weiding. 60

Die kennis van veesiektes was gedurende die 18de eeu suiwer op ervaring gegrond. Die vryburgers het geen ervaring van plaaslike siektes gehad toe hulle met veeboerdery aan die Kaap begin het nie. ’n Nuwe en onbekende veesiekte wat in 1714 uitgebreek het, het teen 1717 die dood van 16 000 skape van die vryburgers veroorsaak. Dit het tot gevolg gehad dat vanaf 1713 tot 1717 die getal skape aan die Kaap met 55 872 gedaal het. 61 In 1722 het ’n nuwe en vreemde siekte onder die skape en beeste uitgebreek. Hulle kloue het losgeraak en afgeval en die mondvleis het swart geword, verrot en losgebreek, sodat die diere nie kon loop of vreet nie. Dit was inderdaad die vroegste beskrywing van bek-en-klouseer.62 In 1727 kom

skurfsiekte voor en is die posvolk van die Vereenigde Oostindiesche Compagnie

beveel om die veetroppe van vryburgers daarvoor te deursoek. Hoewel die aanteel van skape deur die siekte verminder is, het vrektes nie afgeneem nie. 63

Elke vryburger moes jaarliks vir belastingdoeleindes ’n opgaaf indien. Op grond daarvan is die jaarlikse belasting bepaal. Sy naam en boerderygegewens is dan in ’n opgaafrol opgeneem. Die bestudering van die opgawes wat Jan tussen 1715 en 1735 verstrek het, lewer ’n interessante bevinding. Die getal kinders wat hy

59 Sleigh, pp. 39-40. 60 Ibid. 61 Ibid., p. 37. 62 Ibid., p. 38. 63 Ibid.

jaarliks verstrek het, strook nie met die opgaafrolle vir die betrokke jare nie. Die enigste verklaring hiervoor is dat die jaartalle wat die Kaapse Argi efbewaarplek aan die verskeie opgaaflyste toegeken het, nie noodwendig korrek is nie. Die opgaaflys vir 1714 impliseer byvoorbeeld dat Jan reeds in 1714 ’n vryburger was. Dit is nie moontlik nie, want dieselfde opgaafrol toon reeds vir Johannes, die oudste seun van Jan en Geertruijd, terwyl sy doopdatum as 9 Februarie 1716 aangetoon is en Jan eers in 1715 vryburger geword het. 64

Die opgaafrolle vir 1714 tot 1720 toon dat die jaarlikse opgawe van die getal kinders daarin nie ooreenstem met die geboorte/doopdatums van die kinders soos wat Grobler dit aantoon nie. In hierdie geval moet Grobler se gegewens as korrek aanvaar word. 65 Volgens die doopdatums van Jan en Geertruijd se kinders kon bepaal word hoeveel kinders van elke geslag hulle elke jaar tussen 1716 en 1736 gedurende die opgaafperiode aan die einde van Junie, gehad het. Hierdie lys is met die opgaafrolle gekorreleer. Op hierdie manier kon die opgawes, wat veral vanaf 1716 tot 1720 probleme met betrekking tot interpretasie gelewer het, georden word, en bied dit ’n logiese weergawe van Jan se boerdery.

Volgens hierdie rangskikking van die opgawes het Jan en Geertruijd eers in die jaar 1716 ’n opgaaf gedoen. Dit stem ooreen met die feit dat hy in 1715 ‘n vryburger geword het. Gebaseer daarop dat hulle met die eerste opgaaf een seun aangedui het wat vroeg in 1716 gebore is, is dit duidelik dat die opgaaf wat in die argiefindeks vir ongeveer 1714 aangetoon word in werklikheid die opgaaf vir die jaar 1716 is. Indien dit korrek is, is dit moontlik om as beginner in die opgaaf vir 1716 ’n oes van slegs 30 mud koring aan te dui.66 Die opgaafrolle vir

die jare 1716 tot 1735 dui daarop dat Jan in 1716 drie mud koring gesaai en 30 mud geoes het, asook een mud rog gesaai en tien geoes het. Sy veestapel beslaan 200 skape, vier perde en 33 beeste.

Weens skurfsiekte en die ander onbekende siekte hierbo genoem, het hy teen 1717 en 1718 geen skape meer gehad nie. In 1719 spog hy weer met ’n kudde van 200

64 Grobler, pp. 7, 11; KAB: J188: Opgaafrol vir c. 1714. 65 Grobler, pp. 11-62.

skape, wat hy weer teen 1720 verloor het. Sy beeskudde toon in 1721 ’n rekordtal toe hy 50 beeste besit het. Dieselfde jaar het hy ook drie mud koring gesaai en 15 geoes. Hierdie swak oes, asook die bek-en-klouseer wat in 1722 onder sy skape en beeste uitgebreek het, het sekerlik daartoe bygedra dat hy besluit het om liewer wingerdstokke aan te plant en wynbou te probeer. Vandaar dat geen skape tussen 1722 en 1729 in die opgaaflys aangedui is nie. Gemeet teen 1721 se opgaaf toon hy boonop ’n verlies van 20 beeste.

In 1724 is 10 000 wingerdstokke en ’n oes van drie lêer wyn in sy opgaaf aangedui. Aangesien een 1êer gelykstaande is aan 563 liter, sou die oes dus 2 252 bottels wyn van 750 milliliter beloop het. Die getal beeste bly die volgende paar jaar jaarliks redelik konstant tussen 20 en 30. Die wisseling in die getal perde wat hy vanaf 1717 tot 1735 in die opgaaflyste verstrek het, dui daarop dat hy deurlopend perde weens siekte verloor het. In 1725 produseer hy ’n oes van vyf legger wyn, dus 3 753 bottels van 750 milliliter elk. Die droogte van 1725 en 1726 eis sy tol onder die wingerdstokke, want hy toon in hierdie jare ’n verlies van 2 000 wingerdstokke teenoor die vorige jare. Die gevolge van die gepaardgaande droogte is die waarskynlike rede vir die onvolledige opgaaf van 1727. In 1728 maak hy weer op vir die verlies aan die wingerdstokke deur ’n bykomende 12 000 stokke aan te plant en ’n verdere 20 000 stokke in sy opgaaf te vermeld.

Tussen 1728 en 1730 het sy oes egter karig gebly met twee tot drie legger wyn per jaar (vandag tussen 1 500 en 2 252 bottels van 750 milliliter elk). Dit is eienaardig dat hy in 1731 geen melding van wingerdstokke gemaak het nie, terwyl al sy ander besonderhede konstant gebly het. Tussen 1732 en 1735 verminder sy wingerdstokke na 15 000 waarmee hy vier tot vyf legger wyn wen (dus tussen 3 000 en 3 750 bottels per jaar). In 1735 behaal hy ’n rekordoes van tien legger wyn (vandag 7 500 bottels). Wat die wynbou betref, is dit duidelik dat Jan mettertyd ’n meer bedrewe wynboer geword het.

Die ontleding van hierdie opgaaflyste toon duidelik dat Jan probleme met sy veeboerdery ondervind het. Op grond daarvan kan aanvaar word dat hy juis daarom besluit het om hom hoofsaaklik op wynboerdery toe te spits. Die hoë bedryfskostes van graan- en wynbou, het sake vir Jan en die ander vryburgers

baie bemoeilik. In die notule van die Landdros en Heemrade is daar telkens verwysing na die moeilike tye wat boere moes deurmaak, hulle skuld en hul onvermoë om 'n lewensbestaan te maak. 67 Op 2 Maart 1716 vra drie oud- heemrade dat die Raad van Landdros en Heemrade die regering in die Kaap versoek om die belasting op wyn op te hef en dat die verlaagde koringprys weer verhoog moes word. As motivering voer hulle aan dat die pryse van ware wat hulle van die Kompanjie moes aankoop, asook die arbeidsloon van smede en die wamakers, daagliks styg. Dit dui op inflasie waarmee die pryse van land - bouprodukte nie tred gehou het nie. 68

Jan het dus baie moeilike boerderyomstandighede ondervind. Wanneer die eerste opgaaf in 1716 met die opgaaf van 1735 vergelyk word, val dit op dat sy omstandighede met betrekking tot vee- en saaiboerdery deurgaans feitlik onveranderd gebly het. Die enigste vooruitgang was met betrekking tot die wynbou waar hy in 1735 die hoogste opbrengs van tien lêer wyn (7 500 bottels) kon lewer teenoor die gemiddelde 3,5 lêer (2 000 bottels) van die jare sedert 1723. Die teenspoed wat hy op die gebied van graanbou en veeteelt ondervind het, moet toegeskryf word aan die periodieke droogtes en veesiektes wat tussen die jare 1715 en 1735 voorgekom het.

In die opgaafrol vir 1736 is ’n inskrywing vir die weduwee van Jan Grobbelaar