• No results found

1.4 Estetika en kuns binne ’n teologiese raamwerk

1.4.2 Estetiese teologie as locus theologicus?

1.4.2.3 Estetiese teologie as kreatiewe verbeelding

Gerardus van der Leeuw was die teoloog wat in die eerste helfte van die vorige eeu die belang van verbeelding vir ’n estetiese teologie opnuut onder ons aandag gebring het. Kortweg sou ’n mens kon sê dat jy in beide teologie en kuns – indien dit ten minste “goeie” teologie en kuns is of wil wees – die verskynsel

van kreatiewe verbeelding37 aantref, dit wil sê die uitgesproke of onuitgesproke

bedoeling om iets van die transendente op ’n innoverende wyse waar te neem en uit te druk of uit te beeld. Die soeke na sin, asook die onderskeiding van skoonheid, kan slegs via die verbeelding plaasvind. In die verbeelding verdig ’n hele aantal estetiese prosesse, onder andere die kuns van observasie,

interpretasie, antisipasie en transformasie (meer hieroor in hoofstuk 3).

thiessen wys op talle kunstenaars se merkwaardige, inherente “awareness of the intimate relationship between religion/theology and art due to the revelatory dimensions and the power of the imagination in both.” (1999: 9) In beide estetika en teologie is daar die intensie om alledaagse, dikwels verskriklike realiteite, maar ook dieperliggende (“ultimate”) realiteite in die oë te kyk en aan die lig te bring, gekoppel met die skepping, herskepping en benutting van beelde en/of metafore om hierdie proses uit te druk.38

37 John Hacking wys in ’n uitstekende artikel daarop dat die raakvlakke tussen religie en

kuns waarskynlik veral in die verbeelding en die menslike soeke na sin lê: “wie kunst zegt, zegt verbeelding. wie religie zegt, maakt beelden of spreekt van een beeldverbod. Kunst en religie hebben dus alles met elkaar te maken ... Kunst en religie zijn beide een wijze van betekenis geven ...” (2005: 4, 10) Die term verbeelding (imagination) het ’n ryke geskiedenis, en kan inderdaad uit ’n verskeidenheid van perspektiewe en wetenskaplike dissiplines beskrywe word. Vir ’n uitstekende voorbeeld, vgl. Ross-Bryant 1981:

Imagination and the life of the Spirit.

38 In die teologie word immers ook gebruik gemaak van beelde, simbole en metafore om

oor God te praat: “Both, religion and (visual) art search for truth; both do so in their exploration and use of symbols.” (thiessen 1999: 266). Daar sou trouens gevra kon word of alle taal nie metafories is nie? taal ver-beeld altyd. Veral taal wat oor God wil praat. teologiese taal ver-beeld die openbaring van God. Jaap Durand druk dit pregnant uit: “thus theology without metaphors is unimaginable. to be precise: theology itself is metaphor.” (2001: 15) Hy skryf oor die onsekerheid van sy eie teologie en teologiese metafore, en konkludeer: “there is, however, I am sure, one metaphor that cannot and will not be replaced, the cross – God’s greatest metaphor to the world, the most profound expression of the most inexpressible, God’s love for us.” (2001: 16)

Dit kan egter op ’n beter of slegter wyse gedoen word. wat nodig is – in die teologie en kuns – is goeie, kreatiewe ver-beelding,39 nie drogbeelde of

sentimentele fantasie nie. Ons word trouens in ons beeld-oorlade samelewing ook gebombardeer met “slegte” beelde, met destruktiewe metafore (vgl. Cilliers 2002a: 1 e.v; ook verder 2.3). Hier moet kuns en teologie hande vat, aangesien dit in beide tog handel, of behoort te handel, oor die soeke na die skoonheid en die sin van die lewe, en die verbeeldingryke uitdrukking daarvan.40

Met die oog op hierdie navorsing aanvaar ek, in die lig van bogenoemde drie sleutelbegrippe, die volgende: eerstens, dat daar duidelike ooreenkomste en

verbande is tussen sentrale teologiese konsepte en bepaalde estetiese prosesse;

en tweedens, dat hierdie ooreenkomste en verbande sekere voordele vir die

liturgie inhou.

Eerstens: Daar bestaan duidelike ooreenkomste en verbande tussen sentrale

teologiese konsepte en bepaalde estetiese prosesse. So korrespondeer die

teenwoordigheid van God as Skepper en Herskepper, en die onderskeidende

geloof hierin (of: die soeke na sin), byvoorbeeld met die kuns van observasie

en interpretasie; die leerstuk van die eskatologie (of: die verrekening van die

werklikheid en voorlopigheid van skoonheid) met die kuns van antisipasie; en ’n nuwe identiteit in Christus as herskape imago dei (of: die gawe van verbeelding)

39 Ek gaan van die standpunt uit dat daar definitiewe verbande is tussen verbeelding en

die estetiese prosesse van observasie, interpretasie, antisipasie en transformasie. Oor die belang van verbeelding vir antisipasie, druk thiessen haar byvoorbeeld as volg uit: “It is the unifying power of the imagination that allows and enables us to envision that nature and grace, immanence and transcendence, the sacred and the secular are distinct, yet interdependant, ultimately striving towards a dynamic whole.” (1999: 269) Meer oor hierdie verbande in hoofstuk 3.

40 talle outeurs gee aan kuns ’n belangrike, provokatiewe plek in die interpretasie van die

immanente in terme van die transendente; dit help ons as’t ware om telkens die grense tussen die immanente en die transendente te trek én te oorskry, om die sin daarin, en daartussen, te onderskei. Hacking (2005: 15-16) som die denke van vier invloedryke figure in hierdie verband op: Paul tillich: religieuse kuns is die handhawing en benadering van die andersheid van die sakrale en goddelike; George Steiner: religieuse kuns is die verwerkliking en uitvoering van ’n basiservaring, naamlik dat God bestaan – estetika is dus “vorm geworden epifanie”; Gerard Larcher: moderne kuns is die tematisering van ’n transendentale horison; Friedhelm Mennekes: religie en kuns reflekteer beide oor die sinvraag, en is as sodanig ’n vorm van refleksie oor die transendentale betrokkenheid van die mens.

onder andere met die kuns van transformasie. Ek staan in hoofstuk 3 verder stil by ’n uiteensetting van bogenoemde estetiese prosesse van observasie, interpretasie, antisipasie en transformasie, en poog dan om enkele verbande met, en praktiese implikasies vir, die liturgie uit te lig.

Tweedens: Dié interaksie tussen kuns en teologie hou inderdaad bepaalde

voordele vir die liturgie in – en waarskynlik ook omgekeerd. Die erediens is immers ’n belangrike ruimte waarbinne waarneming, verbeeldingryke interpretasie

en antisipasie, en rekonstruksie as geloofskategorieë in die spel kom. In die

erediens gaan dit onder andere oor die waarneming van God en sy wêreld, van onsself en ons medemense (Godsbeelde, wêreldbeskouings en identiteit); gaan dit oor die vertolking (verbeelding) van hierdie waarneming; ons antisipasie van alternatiewe; en uiteindelik ook ons reaksie daarop (die rekonstruksie van ons werklikheid). In die erediens handel dit by uitstek om die soeke na sin, die belewenis van (God se) skoonheid, en die verbeeldingryke vertolking en uitdrukking hiervan.

Ons het sonder twyfel baie om van die kuns te leer, veral met die oog op die prediking en liturgie. Janet walton skryf na aanleiding van haar besoek aan ’n kunsmuseum:

while standing in the line as it slowly inched forward, I wondered: why are museums, concert halls and theaters more crowded than churches? Do encounters with art change more profoundly the way people understand, and live their lives than encounters with ‘religion’? Apparantly artists have something to share with liturgists. (1988: 14; vgl ook Cilliers 2003: 20 e.v.)

wat hét kunstenaars om aan liturgiste te bied? Voorlopig moet ons sê dat dit in beide handel, of behoort te handel, om die effek van ’n ontmoeting. Kunswerke het ’n performatiewe krag, dit transformeer mense, bring hulle in beweging, laat hulle as veranderde mense die kunsmuseum (of filmteater) verlaat. Dit spreek mense aan op vlakke waar blote woorde nie alleen reik nie. Estetiese ervaring is geïntensiveerde sinlike ervarings. Dit kom tot jou deur al die sintuie, verruk jou om jouself te oorskrei, te transendeer. Presies hier lê die raakpunte met die religie, en in die besonder ook die liturgie. In die liggaamlike, sintuiglike ervaring wat ek in die liturgie opdoen, gaan effek uit, ’n effek wat selftransendering moontlik maak. Ek oorskrei myself in die rigting van die Numineuse, die Objek van my aanskouing en hunkering. My horisonne word verbreed. My hart geopen. Ek verkry ’n aanvoeling van wat dit

beteken dat alles nie net om hierdie wêreld en werklikheid handel nie. Ek word in staat gestel om myself geheel en al in die gans Andere te verloor. Die verskil tussen dié twee ervarings (esteties en liturgies) lê uiteraard in die wyses waarop dit geïnterpreteer sou kon word (vgl. Gräb s.j. 48-49; ook verder hoofstuk 3). Die voordele wat ’n sensitiwiteit vir die kuns inhou, is na my mening van wesenlike belang wanneer ons op ’n verantwoordelike wyse liturgiese vernuwing, wat meer is as modieuse kosmetiek, wil bevorder. ’n Grondige begrip van die estetika bied moontlikhede vir diepgang, teenoor die onverantwoordelike liturgiese eksperimentering41 wat blykbaar tans aan die orde van die dag is.

Hieroor meer in hoofstuk 3.

Die tyd is waarskynlik ryp dat Protestante, en dus ook Gereformeerdes, nuut moet dink oor die moontlikhede wat in estetika opgesluit lê. Ek noem vervolgens vyf redes42 wat verband hou met bogenoemde herontdekkings

en paradigmaskuiwe; vyf redes waarom hernude nadenke oor estetika na my mening inderdaad van groot belang is veral ook vir die gereformeerde liturgie.

41 Vgl. in hierdie verband RR Ganzevoort: “this revival of rituals has become the major

feature of present-day religion, overwhelmingly manifest even in mainstream Calvinism. Preachers have evolved from Verbi Divini Minister into liturgists and priests. the sermon is less proclamation and more experience or event. More and more rituals have entered the congregation, both on the collective level of worship and on the individual level of pastoral care and counselling. Some of these rituals lean heavily on the reformed tradition, others scrounge unabashed from a variety of Christian and non-Christian sources as well as from the realm of therapy. All that seems to count is the question how we can aid people in experiencing God, the divine, the supernatural, meaning, or whatever.” (2004: 152)

42 Hierdie redes sou uiteraard uitgebrei kon word. Sigurd Bergmann lys byvoorbeeld die

volgende vier redes: “First, apart from the production of texts, the history of Christianity has created a great number of pictures, sculptures and buildings through which artists have interpreted the Christian faith and worldview ... Second, visual arts represent an intuitive and rational interpretation of reality, which deserves the designation science ... third, pictorial art offers an alternative of action, which may win great importance for the fellowship of the faithful ... A fourth reason lies in the fact that since the breakthrough of modernity in the first world pictorial art in the third and fourth worlds has had a very significant meaning for art’s critical perspective on the industrialized form of life.” (2003: 113-115)

Hoofstuk 2

waarom estetiKa BelangriK

is Vir liturgiese nadenKe