• No results found

As beelddraers van die skeppende God het ons die gawe van kreatiewe verbeelding ontvang. Estetika is ten diepste ’n uitdrukking van die imago

dei. Hiermee word nie gesê dat ons skeppers op ’n gelyke voet met God is

nie, maar dat ons deur ons verbeelding, en deur die versoening heen, in staat gestel is om uitdrukking te gee aan die wesenstrekke van God se openbaring, naamlik skoonheid, waarheid en goedheid (vgl. Northcott 2005: 230-234; ook verder 3.1).

Hoewel God in geen beeld vasgevang kan word, en geen beeld genoegsaam is om sy geheimenis uit te druk nie, kán ons as mense nie anders as om by wyse van beelde hierdie beeldlose, onuitspreeklike Geheimenis te nader nie – soos Luther al tereg ingesien het. Ook die Bybelse beeldverbod staan nie kontra hierdie verbeeldingryke benadering tot God nie (vgl. 1.1). In oud-Israel, wat onder die beeldverbod geleef het, tref ons byvoorbeeld talle kreatiewe (en

ook antropomorfe) beelde en metafore van God aan. God is Koning, Herder, Vader, Moeder, Kneg, Lam, Rots Arend, Vuur, Lig, ens. Die probleem kom in wanneer een, of enkele van hierdie beelde uit hulle konteks geabstraheer en gefikseer word, asof dít die absolute en finale uitdrukking van God sou wees (vgl. Sauer 1996: 139).

Vanaf oertye druk mense hulleself esteties uit. In hierdie verband kan ook die kerkhistoriese nalatenskap nie geïgnoreer word nie. Die vroeë Christene het hulle diepste eksistensiële sinvrae onder andere ook esteties versinnebeeld – al was dit dan by wyse van eenvoudige voorstellings teen katakombemure. Deur die eeue heen het die kerk haar geloofservarings en -oortuigings beeldmatig uitgedruk, met ’n rykdom van kunswerke, argitektoniese vormgewings, musikale en poëtiese inkledings, ens. Dit sou gewoon dwaas wees om hierdie gegewene te ontken. Veel eerder moet dit op ’n verantwoordelike wyse, ook liturgies, verreken word – deurdat die dieperliggende motiewe en intensies van hierdie estetiese uitdrukkings opnuut beoordeel en vrugbaar gemaak word.

Estetika/ kuns is in elk geval oral om ons, ook in die erediens. Elkeen wat ’n erediens

binnestap, ook in ’n Gereformeerde kerkgebou, word deur hierdie gegewene gekonfronteer: ’n gebou met ’n bepaalde argitektuur, en ’n vasgestelde manier van dinge doen – ’n soort liturgiese “choreografie”, of ons dit nou wil toegee, of nie – én of ons dit nou beter of slegter inklee, of nie. Dit is nie waar dat daar geen estetika in Gereformeerde kerkgeboue is nie – eerder ’n bepaalde tipe estetika. wit mure is vol estetiese betekenis. Ruimtes – niks – is ’n vorm van kuns. In die Gereformeerde tradisie was daar – ten spyte van Zwingli – ook altyd nog musiek. wat is musiek anders as geïntensiveerde estetika, as gekompakteerde uitdrukking van woorde, as ’n vorm van waarneming (hoor) wat alle rasionele omskrywing oorskrei? Geen wonder Luther kon dit ’n troosteres (Trösterin Musika) noem nie, die grootste gawe aan ons benewens die teologie.

In Christelike kerke is daar inderdaad – ook binne die verskeidenheid van Gereformeerde kerke oor die wêreld heen – musiek en literatuur (die Bybel – by uitstek). Daar is kanselklede, doopvonte, nagmaalbekers, kandelare met kerse, soms gebrandskilderde vensters. En so sou ons kon voortgaan. Of die kerkgebou nou die Anglikaanse St George’s-katedraal in Kaapstad, of die skynbaar esteties gestroopte VGK in Guguletu is, die simboliek ís daar. Of dit nou ’n gedekoreerde altaar in ’n massiewe Europese katedraal, of ’n eenvoudige

houtkruis in ’n katakombe is, die estetiese uitdrukking van dinge wat nie nét onder woorde gebring kan of moet word nie, tref jy orals aan. trouens, dis ’n goeie vraag of die erediens nie dié plek is waar ons meer deur kuns begroet word as op enige ander plek nie.

Dis ook te verstane: ons kan nie sonder kuns leef nie, dis deel van ons mens- wees, dis deur God aan ons gegéé. Net sodra ons probeer om dit te onderdruk, duik dit weer op ’n ander plek op. Dis byvoorbeeld interessant om te let op die voorbeeld van die Puriteinse predikers. Hulle het ’n verwoede stryd gevoer teen die gebruik van enige vorm van kuns in die erediens – en toe word die meeste van hulle self woordkunstenaars. ’n Mens kan beswaarlik een van hulle preke deurlees sonder om onder die indruk te kom van die verbale versierings daarin – egter nie altyd as goeie kuns nie (vgl. die analise van Reierson 1988: 28 e.v.). Dit sou ook ’n vraag kon wees watter vorme van kuns die Gereformeerde tradisie as’t ware by die agterdeur ingevoer het om te kompenseer vir die gebrek aan estetiese uitdrukking binne-in die kerkgebou. Dalk hét dit deur die konsistoriedeur gekom, in die vorm van die talle dominee-portrette wat feitlik al wat NGK-konsistorie is, versier (vgl. die analise van Cilliers en wepener 2004: 341).

Guardini, een van die belangrike figure in die liturgiese beweging van die vorige eeu, wys daarop dat diegene wat steeds met die skeiding tussen gees en materie werk, ook liturgies bevry moet word van hulle puritanisme. Gees en materie is immers één. Só ’n hereniging van gees en materie kan lei tot ’n nuwe warmte en diepte in die liturgiese belewenis. Aan die ander kant moet diégene wat hoë waarde aan die liggaamlike en sintuiglike heg, ook besef dat die liturgie, vanweë die intrinsieke aard daarvan, altyd vry moet bly van ’n onderworpenheid aan die materie. tog kan ’n herontdekking van die liggaamlike en materiële van groot waarde vir die liturgie wees:

the people who really live by the liturgy will come to learn that the bodily movements, the actions, and the material objects which it employs are all of the highest significance. It offers great opportunities of expression, of knowledge, and of spiritual experience; it is emancipating in its action, and capable of presenting a truth far more strongly and convincingly than can the mere word of mouth. (1997: 60; vgl. verder die bespreking van Guardini se bydrae by 3.1)